
Antjie Krog is die samesteller van Spienekelientjies, taalmusiek vir kinders. Dit is ’n splinternuwe boek propvol kinderrympies met illustrasies deur Roelien Immelman, Willem Samuel en Diek Grobler. Izak de Vries het grootoog die tekste in Spienekelientjies geniet en ’n aantal vrae aan Krog gestuur.
Ek wil tog, tong-in-die-kies, wonder wat jy sal sê as mense wonder waarom een van ons grootste digters in Afrikaans haar nou besig hou met kinderrympies. Wat sou jy antwoord?
Waarom is kinderryme, selfs onverstaanbare ryme, vir ’n kind se ontwikkeling nodig? Dis ’n fisiese rede wat deur middel van die oor in die liggaam begin en dan dwarsdeur van die onderbewussyn tot die intellek beweeg. TS Eliot leer ons “Poetry communicates before it is understood.” Dit beteken dat die mens deur middel van klank, veral ritmiese klank, en beelde emosioneel en instinktief aangespreek word, wat ’n gevoel skep dat jy ’n essensie begryp lank voordat jou brein die letterlike betekenisse, argumente, sintaksis en komplekse idees uitgepluis het. Dit klink vreemd. Want soms is die woorde van ryme nie maklik verstaanbaar nie, maar skynbaar dring ritmiese klank die onderbewussyn binne, waar iets begryp word reeds voordat die intellek oorneem.
Ek het grootgeword met Opperman se Kleuterverseboek. Wat ’n lekker verrassing is hierdie boek nie!
In Spienekelientjies word ’n jare lange droom van my bewaarheid, naamlik om deur middel van taalritme en fantasie die binne- en intellektuele wêrelde van kinders te ontsluit. Dis ’n droom wat ek al sedert die voorleesdae vir my eie kinders gekoester het, maar wat deur die jare van voorlees vir my kleinkinders al hoe dringender geword het – veral in die afwesigheid van aandag aan ryme en ritmes in radio- en veral televisiekinderprogramme. Om nie te praat van skoliere wat nie meer ryme en gedigte uit hulle kop “opsê” nie.
Maar Spienekelientjies voldoen ook aan ’n ander droom van my: Om die ou rympies van die vroeëre kleuterverseboeke te ondervang, veral die gedigte en ryme wat klassiek geword het in W Versfeld se verwerking van Engelse kleuterverse. ’n Paar van Annie MG Schmidt se kinderverse is uit Nederlands vertaal, en twee kinderryme uit die bekende Duitse Struwwelpeter is verwerk.
Die titel is afkomstig uit ’n volksliedjie wat opgeteken is deur Matilda Burden in haar 1991-PhD-proefskrif oor volksliedjies. Hoewel geen betekenis aan die woord spienekelientjies verskaf word nie, praat dit so direk tot my onderbewussyn dat dit gebruik word met die hoop dat iets daarvan ook tot al die lesers en hoorders sal spreek.
Jy sê dat jy baie vir jou kinders voorgelees het, en jy lees nou ook vir kleinkinders voor. Waarom is die “taalmusiek” van verse vir kinders so belangrik?
Die belangrikste gawe van ryme lê in die fisiese krag, want rym is ’n “ritmiese proses” wat binne-in die liggaam vibreer voordat dit volgens die filosoof en teosoof Rudolf Steiner “semigeestelik” word. Sodra ’n kind blootgestel word aan rym en ritme, begin dit bronne van innerlike krag bou wat later die kind help om morele insig en sterkte te hê. Die ritme en herhaling begin binne-in die liggaam bou aan ’n gesonde sirkulerende ruimte van asemhaling, wat die kind kalmeer en die immuunsisteem beveilig. Die hele liggaam begin ’n innerlike krag uit die plesier put.
Daar is nou ’n tweeling in my lewe, en hierdie “ere-oupa” gaan sonder twyfel Spienekelientjies vir hulle koop. Wat moet ek, en ander wat belangstel om ons kabouters te laat lees, doen of nie doen met hierdie boek nie?
Suzanne Down en ander terapeute sê: As die kind saam opsê, leer sy ook iets verstaan van eteriese (hemelse, ligte) asem. Die asem voed die kind met fisieke en emosionele asem. Die krag van die ritme en ryme en herhaling skik die innerlike chaos by die kind op ’n sellulêre vlak. Die brein protesteer nie met ek-verstaan-nie, want die rym en ritme laat toe dat die gedig deur die hele liggaam vibreer en sirkuleer, en verligting bring van angs en chaos.
Daarom is voorlees, ryme voorlees, ryme memoriseer so belangrik – dit lê die eerste fondasie van die besef van die krag en skoonheid van taal.
Die boek is in een bepaalde opsig anders as Kleuterverseboek – daar is ’n QR-kode ingebou. Wil jy meer vertel?
Die QR-kode is daar sodat ons saam kan luister na die heerlikheid van taal. Die opname daarvan was sekerlik een van die wonderlikste paar uur wat ek in my lewe gehad het.
Wêreldboekdag word op 23 April gevier. Wat is die belang van Wêreldboekdag?
Om saam te vat: Boekedag is fantasties en ongelooflik belangrik. Maar die oorgawe aan letterkunde begin by die kind wat verlief raak op taal. Ryme doen die verleiding.
*
Spienekelientjies, taalmusiek vir kinders word deur LAPA uitgegee. Die ISBN is 9780637007573.

