Uit die argief: Hare verskrik

  • 13

Shirmoney Rhode (foto verskaf)

  • Hierdie bydrae het oorspronklik op 13 Julie 2016 verskyn.

Almal wat op die Kaapse Vlakte groot geword het sal verstaan wat ek bedoel as ek sê: “Nee kyk hie vi hare verskrik.” Die uitdrukking “hare verskrik” word vir enige een gebruik wat óf te veel met hul hare speel óf wie dink hul hare maak hulle mooi. Dit kan ook net wees dat die persoon wie sê “jy’s hare verskrik” net plein jaloers of naar is. Maar dat gladde hare ‘n big deal in veral Kaapstad is, is geen geheim nie. Dis ‘n feit soos die bestaan van ‘n GHD. Ek kan hiervan met ondervinding getuig. My ondervinding mag dalk verskil van die volgende persoon s’n, maar ek is seker daar sal hier en daar ooreenkomste wees.

Voor ek kleuterskool toe is, het ek saam my ouma “oumensklub” geloop. Dis nou ons kerk se klub vir bejaardes. Maandag tot Donderdag. Hier sit en doen die bejaardes nou naaldwerk en maak dietjies en datjies. En so nou en dan hou hulle ‘n groot konsert en dan gebruik my ouma sommer al haar kleinkinders as props. Ek kan nie veel van my dae by die klub self onthou nie, maar ek weet dit was grootliks my ouma se werk om my aan te trek en om seker te maak my hare is reg. So jonk soos ek was, het ek dit gehaat dat my ouma my hare moes bewerk. Ek het amper elke keer met kleutertraantjies uitgebars want my ouma het nooit my hare mooi gemaak nie. Om nie eers te praat van die klere wat sy my aangetrek het nie. Mooi was plat en reguit, lelik was hare wat opstaan en paadjies wat skeef getrek is. En my ouma het haar nie aan mooi en lelik gesteur nie. Ek moes maar tjank en klaar kry.

Ek onthou baie vaagweg die eerste keer toe my fyn haartjies “gezoes” (soos my ma dit stel) moes word. Dit was vir my kleuterskool se debutantebal. Dis een van eerste geleenthede (behalwe verjaarsdae) vir mammas om met hulle kinders te spog. Ek het nie veel van my debutantebal verstaan nie, maar ek het geweet ek moet mooi lyk en ek moet smile as hulle foto’s van my neem. Behalwe die “mooi” wit rokkie met rooi linte en poef arms en wit skoentjies wat ek moes aantrek, moes ek plat tussen my ma se bene sit sodat sy my hare kon indraai. Daarna moes ek buite in die son gaan speel het tot my hare droog geword het. As kind het ek ook geleer, as jy blou rollertjies in jou kop het, moet jy maar binne bly, anders kraak die pad se rou kinders hulself oor jou hare net blou rollers kan vat. Want behalwe die feit dat jou hare glad moet wees moet dit ook lank wees. My ma het daardie dag my hare in sulke dik side locks gemaak toe dit uit die rollers kom. En ek was baie chuffed met my look. Soveel so dat ek daarna sommer Miss South Africa wou word.

By die geboorte van ‘n nuwe baba is hare die eerste ding wat na gekyk word (en waaroor daar later in die strate geskinder word). Deesdae pronk die debutantebal foto’s van kindertjies in wit rokkies en skoentjies en gedoende hare oral op sosiale media. Die rokkies al hoe smarter en die hairstyle al hoe mooier. Die rollers is oudtyds en is lankal vervang met die “gun en ghd”. Die arme kindertjies sit en trek heeltyd nek in soos skilpadjies. Ek weet ook van baie kleintjies wie se hare al sommer hier op hul derde verjaarsdag gerelax moet word, want hoe gladder die hare hoe erger die brêk. En as die kroesies weer uitkom na ‘n maand of twee, moet hulle weer Sondae-aande plat tussen Mammie se bene gaan sit dat die hare vasgevleg kan word. Asof hulle eie haartekstuur ‘n skande is. Dié Sondae-aande se hare-gevleggery kan óf smooth sailing wees óf ‘n helse storm laat losbars. Afhangende van die kind.

Gladde hare, together met Engels praat, is jou “hoe om vijou gevaalik te hou” starter pack in die Kaap. Regtigwaar. Engels praat kan ek dalk nog verstaan. Dit kan jou moontlik help in jou werksplek of tricky situations. Maar lang gladde hare? Behalwe dat jy ‘n hair model kan word, en die man van jou drome kan impress, tel dit nie veel nie. Nêrens op jou CV word daar gevra wat jou haartipe is nie. Hoekom baie mense so ‘n big deal oor hare maak weet Gladys alleen.

Laasjaar het daar ‘n “tuisgemaakte” voice-over video viral gegaan oor ‘n scene uit die geliefde sepie 7de Laan. Dié scene gaan oor Xander wie ‘n stry met Vanessa kry oor haar hare. Xander voel hierin dat Vanessa se hare lelik is en dat dit stink en dat sy eerder valse hare moet opsit. Vanessa aanvaar maar toe haar lot en die belediging van haar man want sy is kleurling en het maar nou net eenvoudig “sulke hare”. Nie te lank terug nie was daar selfs ‘n “part two” waar Vanessa moeite gaan maak het om haar hare te relax sodat haar man daarvan kan hou. Toe hy steeds nie goedkeur nie, staan sy op vir haarself deur hom te vloek. Ek het my half in ‘n papie gelag vir albei hierdie voice-over video’s want ek het gehou van die feit dat die voice-over artist hul eie kwessies vanuit hul eie ervaringe en gemeenskappe in hulle eie Afrikaans tuisgebring het daarin. Ek het meer gelag vir die Afrikaans as enige iets anders. Hoe kommen dit ook al sy. Wat ek nie van gehou het nie,  is die feit dat die grappe slegs oor mense van kleur se natuurlike hare gaan en dat ons eie mense dit as 'n grap beskou. Ek kyk nie danig 7de Laan nie, want baie keer voel ek asof ek nie met die gebeure kan relate nie. Ek het opgehou kyk want al die farewall parties word gerecycle en hulle sokkie in die club. Om in my ouma se voorhuis te sit is veel meer exciting. Daar is baie meer real life drama wat daar unfold. No offence aan diegene wat getrou 7de Laan kyk (al moet hulle ook nou laat wees vir biduur op ‘n Woensdagaand).

In elk geval. Wat die voice-over artist van die video’s dalk nie aan gedink het nie, is die feit dat dit eintlik verklap hoe insecure vroue van kleur regtig oor hul hare en hul tekstuur voel (en hier praat ek nou nie van Vanessa se karakter nie). Veral as jou hare nou bietjie strammer is as die volgende persoon s’n. Dalk wys dit ook hoe baie mans van kleur ‘n ophef maak oor gladde hare? Was daar dan ook nie een keer ‘n liedjie waarin kroes hare gespot word nie? In die eerste video is dit after all twee mans wie die voice-over werk doen. Of dalk over-analyse ek maar die situasie. Dalk is dit net ‘n grap.

Ek moet bieg, ek was self op ‘n tyd baie insecure as dit by my hare kom. My hare is fyn en wil net opstaan. My hele hoërskoolloopbaan deur het ek my hare in ‘n bybel of side-paadjie plat op my kop gedra. Juis omdat ek nie daarvan gehou het dat dit moet opstaan nie. Ek het selfs ‘n keer of wat van my ma se relaxer gesteel om my drie haartjies twee te maak. Al was my hare fyn het ek gedink relaxer sal my hare mooier maak. Toe ek ‘n extreme haircut in my matriek jaar kry was ek deur en deur “afkop” genoem. Maar toe ek daar klaar is, het ek besluit ek is klaar met relaxer en enige ander haarprodukte wat nadelig vir my hare is. Ek het toe my hare natuurlik gestyl en laat groei. Dis nie so moeilik nie. En ek hou ook baie meer van my natuurlike tekstuur. My hare is krullerig en ek glo baie ander mense van kleur se natuurlike hare is ook. Hulle moet dit net ‘n kans gee om sonder die manipulering van produkte en te veel hitte te laat groei. Suid-Afrika is myle agter as dit by produkte vir natuurlike hare kom, maar daar is wel ‘n paar produkte vir natuurlike hare op die mark. Daar is wel ‘n natural hair movement (so to speak) aan die gang in Kaapstad. En daar is nie baie haar produkte nie, maar ek ken ‘n paar lekker spots waar jy goedkoop produkte kan kry om jou natural hare te groei. Ek gaan binnekort ‘n facebook page launch waar ek al my natural hair tips en secrets deel. Moenie bang wees om vir my hulp te vra nie. In die tussentyd, gaan loer gerus na Cape Town Naturally se blad op facebook. Dit is vir my so liberating om te sien dames van kleur voel gemaklik in hulle eie vel.

Ter afsluiting: ek sien meer en meer kinders met natuurlike hare in Kaapstad. En dis vir my die oulikste ooit. As ek enige ouer advies kan gee omtrent hul kleintjies se hare sal dit wees om dit in sy natuurlike tekstuur te laat groei. Relaxers en hitte beskadig hulle hare en belemmer dus die groei daarvan. Ons hare is mooi. Net soos wat dit is. Ek het lankal opgegee om soos ander mense te probeer wees. En al gee my natuurlike hare my soms die giere, leer ek dit maniere.

Ek is #hareverskrik.

Lees ook op Voertaal en LitNet:

Clicks: Dis dié keer regtig Van Riebeeck se skuld

"Dis hartseer dat ek nie gedigte ten volle in Nama kan skryf nie"

"Ek wou die boek skryf wat ek nie as kind gehad het nie" – ’n onderhoud met Bianca Flanders

  • 13

Kommentaar

  • rehana mohamed

    O,hoe lekker om te lees! Het my trug geneem na my kinderjare ... ja,ek het net so ouma gehad! Fantasties!

  • Dit is 'n nalatenskap van die ou pencil-test in Apartheidstye. Daar is soveel shame geskep deur die ou drolle. Ek is mal oor die natuurlike look. Hair pride gaan nog 'n nuwe trend word, ek sê jou.

  • Jozeen Stevens

    Mal hieroor. Jou kommentaar is so relevant, and on point! Ek het baie laat tot die besinning gekom om my hare te appreciate in hulle natural state, en ek kannie sien hoe ek terug sal kan gaan na "gladde" hare nie. I've embraced my kroeskop!

  • Fantasties geskryf! Ek’s tans woonagtig in Cayman Islands en net voor ek die lees, het ek ’n blog gelees van ’n meisie wat van Cayman afkomstig is oor presies dieselfde onderwerp. Sy blog oor gesondheid en fiksheid. Is so Engels soos wat jy kan kry maar kan totaal dieselfde storie skryf oor hare! Dit het vir my beklemtoon dat ons almal oor die wêreld maar dieselfde "insecurities" het en dis definitief ’n verskynsel wat op die Kaapse Vlakte homself voordoen. Baie dankie vir die lekker leesstof, ek tik nou die boodskappie met ’n traan in my oog want dit het my sommer laat huis toe verlang! Daar is nie ’n plek soos die Kaap en bo dit moet ek nog ver reis om MENSE soos die Kapenaars raak te loop!

    • En toe was daar by die Cayman Islands nie eers Apartheidsdrolle of potloodtoets nie :)) Aitog die blame game ! Wonder waarom swart dames altyd haarverlengings dra terwyl die natuurlike hare so mooi is.

  • Sjoe! Die stuk is mooi geskryf, hoor? Baie gelag. Ka' ek vra of dit wa' is dat die vroume'se vanni Bo-Kaap hulle hare moet indraai om na die mall te ga' loep en shop? LOL.

  • Ja can baie relate met jou, by die skool was die Engelse kinders met gladde hare die witbroodjies. Gladde hare is nou een ding wat totaly Kaap is, dis GHD's en Brazillian, KROES is 'n VLOEKWOORD in HOOFLETTERS.

  • Hélène Lewis

    En hier is ek met my reguit hare en wou nog altyd 'n krul in my hare hê. Ai. En ek praat Afrikaans. Engels kom tweede. Maar bietjie krulle sou darem lekker wees. My skoondogter, wat ook Afrikaans praat, het 'n krullebol - en sy kla heeltyd: wil reguit hare hê. Spandeer ook elke week tyd om die krulle te ontkrul. Ag nee wat. Dit het beslis nie net met die Kaapse vlakte te doen nie. Dis maar wat ons ydelheid dink is 'in'. Wat is mode - en as vrouens ... wat sal ons mooi laat lyk vir die Adam-geslag en mense wat wil 'in' wees. Ons is meer dieselfde as wat ons dink. Ek is oortuig hierdie is iets wat oor die wêreld heen vir vrouens 'n 'issue' is. Welcome to the club soos hulle in ingils sê. Maar dit was 'n lekker les. Dankie!

  • ek kom oorspronkilik van die kaap, maar het van 6 in pretoria gebly, ek is nou al 27. ek het krullerige hare, wat ek nie kan hanteer nie. so ek straighten dit elke week sodat ek maar soos iets kan lyk, my vriende van n ander kleur, se altyd dat my natuurlike hare is so pragtig, maar dit is regtig baie werk, ek het elke youtube video gekyk, hoe om na jou natural hare te kyk en te beskerm, maar vader weet aleen, wat als jy moet doen, ek het so te se al die produkte op die mark begin koop, vanaf non sulfate shampoo, tot defining curl custard, maar die bos krulle wil ook net nie regkom nie, wat my so confuse is dat, onse mense het baie verander...african girls soek lank brazilian hare, terwyl wit en somigge van ons kleur meisies, afro's en braids wil insit, want dis maklik om te manage, maar ek dink dit gaan ook als oor wat social media en amerikaanse mense doen, ons wil ook kwaai bly, en trends volg...so ek gaan maar jou raad volg, en krulle all the way gaan, en my hairstraigtner n blaas kansie gegee, baie dankie vir jou artikel, ekt lekker gelag

  • Shirmoney (ek gaan nou Engels tik! lol) I loved this article! I'm also originally from Cape Town but moved to Gauteng, Pretoria in Grade 9 - I'm 35 yrs old now. I definitely found that, now having been natural for nearly two years, the transition is much more accepted up here than it is in the Cape. I actually applaud all of you girls in Cape Town who are going natural only because of the massive back-lash and resistance to change you receive. Ek het lekker gelag vir jou artikel - I could totally relate! Toe my ma nog gelewe het en ek huis toe gevlieg het omtrent so twee jaar terug met my af kop - toe lyk dit of sy kan huil!! Sy was rêrig na an trane oor my relaxed gladde hare wat all-gone was en die pittekop wat ek toe mee proudly sit! lol!
    I'm so happy about the change and I'm never going back! I actually had a nightmare the other night about someone relaxing my hair and woke up feeling anxious and panicked at the thought of it! Hehehe!

  • Dit was nou baie lekker om dit te lees ... maar daar is ook 'n "down-side". Ek het nie gekies vir my hare nie en gee nog minder om oor die hele hare-storie. Maar as kind en die vakansies by die ouma was 'n hell. Aunties wat jaloers is op hare wat nie my hare wil kam of borsel nie. Die borsel was so gekap in jou kop en die hare getrek dat stukke uitgeruk word. VIND DIT SAD dat baie mense nie verder kan kyk as uiterlike.

  • Nico Schamrel

    Uitstekend geskryf, dankie! Laat my so verlang na Lientjie - sy het by ons ingewoon. As 'n spierwit Afrikaner-seuntjie het ek my verkyk hoe sy haar hare bewerk het. 'n Primus, Vaseline en 'n warm staalkam. Ons het so heerlik gesels tot haar liefde opgedaag het. Nicolaas was die wonderlikste mens en hulle is uiteinde laas getroud. Lientjie verskyn in een van my boeke, Swartskaap Sondebok.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top