Grootouers se rolle en belewenisse as hoofversorgers van hulle kleinkinders

  • 1

Grootouers se rolle en belewenisse as hoofversorgers van hulle kleinkinders

Susan Brink en Issie Jacobs, Fokusarea: Gemeenskap Psigososiale Navorsing (COMPRES)
Vera Roos en Sandra Steyn, Navorsingseenheid: Afrika-Eenheid vir Transdissiplinêre Gesondheidsnavorsing (AUTHeR), Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus)

LitNet Akademies Jaargang 13(3)
ISSN 1995-5928

 

Opsomming

Sosiale veranderinge en die verandering in die tradisionele struktuur van gesinne en families het daartoe aanleiding gegee dat grootouers toenemend die hoofversorgers van hulle kleinkinders word. Die doel van die navorsing waarop hierdie artikel gebaseer is, is om grootouers, wat die hoofversorgingsrol van hulle kleinkinders opgeneem het, se spesifieke rolle en die belewenis wat daarmee gepaard gaan, vanuit hulle perspektief te ondersoek. Individuele, diepgaande onderhoude is gevoer met 10 deelnemers (vier manlik; ses vroulik) wat as versorgers vir hulle kleinkinders optree en die data is tematies ontleed. Daar is bevind dat grootouers met verskillende nuwe rolle, soos primêre finansiële versorger, bemiddelaar en dissiplineerder, identifiseer. Hierdie rolle veroorsaak konflik, bekommernis en spanning by grootouers wat ’n ander rol en ander aktiwiteite in gedagte gehad het vir wanneer hulle ouer word. Dit is egter die onbuigsaamheid van die skool- en gesondheidsisteem wat opval en waarteen die saamgestelde gesin, met grootouers as hoofversorgers, te staan kom. Dit is krities noodsaaklik dat beleidmakers kennis neem van die behoeftes van saamgestelde gesinne met spesifieke verwysing na die sosiale veranderinge en die bykomende druk wat dit op grootouers se psigososiale en finansiële bronne plaas. Die bevindinge kan gesondheids- en maatskaplike werkers ook rig in die beplanning van psigososiale ingrepe ten einde grootouers te ondersteun in die opname van hulle nuwe rolle of om ouerskapsvaardighede wat toepaslik is vir die rol in verhouding tot lede van ’n jonger geslag op te skerp.

Trefwoorde: bemiddelaarsrol; dissiplineringsrol; finansiëleversorgingsrol; grootouers; kleinkinders; hoofversorging; rolbelewing; rolkonflik

Abstract
The roles and experiences of grandparents who act as the primary caregivers of their grandchildren

Social change and the change in the traditional structures of families gave way to an increase in the phenomenon where grandparents act as the primary caregivers of their grandchildren. The reasons for the increase are linked to aspects such as parents’ psycho-social inability to take care of their children; the death of one or both parents; drug abuse by one or both parents; jail sentence of one or both parents; health problems such as HIV/Aids of one or both the parents; as well as aspects pertaining to the divorce of parents. Due to the increase in the phenomenon terminology has emerged over the years to refer to families where grandparents are the primary caregivers of their grandchildren. These families are referred to as “skipped-generation families” or “grandfamilies” and the grandchildren are referred to as “grandkin”.

The theoretical point of departure of the current study is role theory as put forward by Landry-Meyer and Newman (2004). The following three aspects of role theory which apply specifically to grandparents who act as the primary care givers of their grandchildren are of specific importance: the timing of the new role that grandparents have to fulfil, the ambiguity of the role, and the conflict attached to the ambiguity of the role.

It became evident from the literature review that little to no research has been done on white grandparents who act as the primary caregivers of their grandchildren in the suburban areas of South Africa. By comparison, much research has been done among grandparents who act as primary caregivers of their grandchildren in most of the other cultural groups in South Africa.

The general aim of the study on which this article is based was to qualitatively explore white grandparents’ perspectives on the specific roles they took on themselves, as well as their experiences of these roles while acting as the primary caregivers of their grandchildren.

Purposive sampling was used to select potential participants who met the following inclusion criteria: participants must belong to the white population group; they must reside in a specific town in the Free State; they must act as the primary caregivers of their grandchildren 18 years and younger; and they must be willing to participate in the study. Ten participants who met the inclusion criteria were selected to participate in the study. Four of the ten participants were male, and six were female participants. After informed consent was obtained from all the participants, they were engaged in an in-depth, one-on-one unstructured interview. The participants were asked to reflect on the following: Describe your experience of having to act as the primary caregiver of your grandchildren. Follow-up probing questions were also asked, such as: “Which specific roles were added for which you became responsible after becoming the primary caregiver of your grandchildren?” The data obtained from the interviews was analysed using the six steps as discussed by Clarke and Braun (2013).

Additional roles that grandparents acting as the primary caregivers of their grandchildren became responsible for are a financial role, a mediating role and a disciplinary role. According to the grandparents the added financial responsibility has the most profound impact on their role as the primary caregivers of their grandchildren. All of a sudden grandparents are responsible for any medical and/or school fees that their grandchildren may have. However, not being the legal guardian of their grandchildren precludes grandparents from registering their grandchildren on their medical fund. By law, grandparents can become the legal guardian of their grandchildren only if they adopt their grandchildren. For this to happen their biological parents need to sign off all their rights and responsibilities as parents. Not being able to be accepted as the legal guardian of their grandchildren causes feelings of frustration and added stress, something grandparents did not expect to have to deal with at this point in their lives. In order to provide and make ends meet, some grandparents are therefore forced to seek out new job opportunities after they had already retired.

Grandparents also take up a mediating role between their grandchildren and their biological parents as well as between them and the schooling community. In most cases the biological parents are the biological children of the grandparents, which contributes to a lot of stress and conflict between not only them and their own children, but also between them and their grandchildren. Grandparents are, however, in agreement that no matter what, they will always encourage and work towards creating an atmosphere where their grandchildren will have a positive relationship with their parents. Grandparents’ mediating role between the grandchildren and the school most of the time involves aspects pertaining to school funds and getting the school community to understand the position that they and their grandchildren find themselves in. Negative experiences with the schooling community contribute to grandparents’ not feeling at liberty to approach the school regarding any further difficulties they may experience.

Grandparents seem always to have a disciplinary role as far as their grandchildren are concerned. However, in their traditional role as grandparents their disciplinary role is supportive to that of the biological parents. Being primary caregivers changes their role to that of becoming the ones who are primarily responsible for the discipline of their grandchildren. At this point in their lives grandparents feel that they had their turn to discipline children and therefore sometimes do not discipline their grandchildren the way they should. Grandparents end up doubting their abilities to be primary caregivers and feeling ambivalent about this role they have to fulfil, seeing that they would rather want to be the ones who spoil their grandchildren.

An important aspect that came to the fore in the study is that the phenomenon where grandparents are the primary caregivers of their grandchildren is an increasing one and one which is not going to disappear. It is therefore important that all role players (school communities, social workers, healthcare workers, medical funds and members of the law community) should be made aware of this phenomenon in order to find solutions for best practices regarding how to address the psycho-social challenges posed by it.

Keywords: disciplinary role; financial provider; grandchildren; grandparents; mediating role; primary caregivers; role conflict

 

1. Inleiding

Sosiale veranderinge en die verandering in die struktuur van families het daartoe aanleiding gegee dat al hoe meer grootouers toenemend die hoofverantwoordelikheid neem vir die versorging van hulle kleinkinders (Cox 2003:127; Stern 2009:5). Grootouers wat na hulle kleinkinders omsien, is volgens Roe en Minkler (1998:25) nie ’n nuwe verskynsel nie, maar die verskynsel dat grootouers die hoofverantwoordelikheid vir die versorging van hulle kleinkinders oorneem, is aan die toeneem (Waldrop en Weber 2001:461). Die faktore wat onder andere hiertoe aanleiding gee, is ouers wat nie oor voldoende sosiale, ekonomiese en emosionele vermoëns beskik om na hulle kinders om te sien nie; die dood van ’n ouer of beide ouers; dwelmmisbruik by een of albei ouers; uitdiening van tronkstraf; gesondheidsprobleme (insluitend MIV/vigs); geestesversteurings of egskeiding (Cox 2003:127; Dolbin-MacNab 2006:564; Edwards 1998:173; Stern 2009:11). Volgens die 2000-sensus in Amerika is 6,3% van alle kinders onder die ouderdom van 18 jaar in die permanente sorg van hulle grootouers (Cox 2007:561; Hoff 2007:646). Kane-Bernman (2015:7) wys daarop dat gedurende die 2011-sensus 1,45 miljoen van alle kinders in Suid-Afrika (amper 8%) deel gevorm het van huishoudings waarvan grootouers of ander ouer familielede soos ooms of tantes die hoof van die huishouding was. Wit kinders het 27 081 of 2,7% van hierdie getal uitgemaak (Kane-Bernman 2015:8).

Gesinne waar grootouers voltyds verantwoordelik is vir die versorging van hulle kleinkinders sonder dat daar biologiese ouers teenwoordig is, staan bekend as “skipped generation”-gesinne. (Price 2005:145; Roe en Minkler 1998:25; Smith en Hancock 2010:45) of die oorgeslane generasie. Stern (2009:7) omskryf ’n gesin waar grootouers die hoofversorgers van hulle kleinkinders is as ’n “grandfamily” en die kleinkinders in hierdie gesinne staan bekend as “grandkin”.

Kropf en Wilks (2003:179) en Minkler en Roe (1996:34–5) wys daarop dat grootouers wat die hoofversorgers van hulle kleinkinders is, veral gebuk gaan onder finansiële probleme, sosiale isolasie en ’n tekort aan ondersteuning. Dit is hierdie aspekte wat waarskynlik daartoe aanleiding gee dat sulke grootouers se fisieke asook geestelike gesondheid swakker is as dié van grootouers wat nie die hoofversorgers van hulle kleinkinders is nie (Cox 2003:128). ’n Aspek wat kommerwekkend, maar ook verstaanbaar is, is die feit dat dit gewoonlik die kleinkinders is wat die spit afbyt indien grootouers nie oor genoegsame finansiële bronne beskik, addisionele inkomste kan skep of daarin kan slaag om te onderhandel vir finansiële ondersteuning soos byvoorbeeld vryskelding van skoolgelde of gratis terapie vir hulle kleinkinders nie (Backhouse 2009:100). Navorsing wat ten opsigte hiervan in Suid-Afrika gedoen is, het getoon dat 12% van alle kinders wat deur hulle grootouers versorg word, van skoolonderrig weerhou word (Cox 2007; Lunga 2009). Die oomblik wanneer grootouers dus die rol van hoofversorger van hulle kleinkinders opneem, verander die aard van die verhouding tussen hulle (Waldrop en Weber 2001) en het hierdie reëling implikasies vir die opneem van verskeie rolle deur die grootouers.

1.1 Rolverandering

Mense neem sekere rolle in sosiale kontekste op omdat die rolle deur sosiale norme geïmpliseer word en deur tradisie gerig word om persoonlike interaksies volgens die bepaalde konteks te rig (Burgess en Huston 2013; Parsons 1951; Vorster, Roos en Beukes 2013). In die Suid-Afrikaanse konteks word die sosiale konteks waarin grootouers hulle bevind, onderlê deur sosiale norme wat teenstrydig is met die opneem van primêre ouerskaprolle wat eintlik in ’n jonger lewensfase hoort (Landry-Meyer en Newman 2004:1008).

Die rolteorie bied volgens Landry-Meyer en Newman (2004:1006) die teoretiese raamwerk waarbinne die rolverandering van grootouers ondersoek kan word. Hierdie skrywers gebruik drie aspekte van die sosialerol-teorie in die konteks van grootouers wat die hoofversorgers van hulle kleinkinders is, naamlik tydsberekening, die dubbelsinnigheid van die rol en die rolkonflik wat ontstaan as gevolg van die dubbelsinnigheid van die rol.

  • Tydsberekening: Grootouers wat die hoofverantwoordelikheid van hulle kleinkinders neem, beleef ’n onderbreking in hulle normale lewensiklus wanneer hulle gekonfronteer word met ’n rol anders as die tradisionele rol wat hulle vir dié tyd in hulle lewe verwag het (Waldrop en Weber 2001:462). Tradisioneel word die rol van grootouers gesien as dié van kameraad en vriend vir hulle kleinkinders, dat hulle help met die skep en onderhouding van die familie-identiteit en ook om morele waardes aan hulle kleinkinders oor te dra (Backhouse 2009:31). Tradisioneel is grootouers ook gesien as ’n hulp om ouers met die versorging van kinders te help, maar dat dit nie hoofsaaklik die verantwoordelikheid van die grootouers was om volle verantwoordelikheid vir die versorging van hulle kleinkinders te aanvaar nie. Die tradisionele grootouerrol is dus gesien as een van “pleasure without responsibility” (Backhouse 2009:31).
  • Dubbelsinnigheid van die rol: Die grootouer as hoofversorger se rol kan omskryf word as dubbelsinnig omdat daar geen eenstemmigheid bestaan oor die norme wat toegeken word aan die rol nie. Die rol word ook gesien as buite die norm van wat die gemeenskapsverwagting van die rol van grootouers is en kan dus beskryf word as “rol-loos” (roleless) (Landry-Meyer en Newman 2004:1008). Hierdie rolloosheid gee dikwels aanleiding tot rolkonflik.
  • Rolkonflik: Rolkonflik vir grootouers ontstaan wanneer die verwagtings van wat dit moet wees om ’n grootouer te wees verskil van die uitvoering van die rol van grootouer as hoofversorger (Dolbin-MacNab 2006:566; Landry-Meyer en Newman 2004:1009). Die realiteit van ouer-wees en nie ’n “tradisionele” grootouer nie en die gepaardgaande rolkonflik lei volgens Backhouse en Graham (2011:6) en Landry-Meyer en Newman (2004:1009) tot hartseer en skuldgevoelens:  hartseer omdat hulle die grootouerrol verloor en skuldgevoelens teenoor hulle kleinkinders omdat hulle (die kleinkinders) nie ouers óf grootouers het nie. Grootouers wat die ouerrol oorneem moet aanvaar dat hulle nou die persone is wat dissipline moet toepas, die hoofversorgers is en die gesagsfigure in die ouer-kind-verhouding is.

Die meeste grootouers neem die rol as hoofversorger oor sonder enige voorbereiding, en sukkel om aan te pas by dit wat van hulle verwag word, aangesien hulle lewe radikaal verander en hulle selfs vasgevang kan voel in die nuwe rol (Backhouse en Graham 2011:6; Cox 2003:130).

1.2 Belewenisse van grootouers as hoofversorgers

Die rolverandering van grootouers na dié van hoofversorgers vind in verskillende kontekste neerslag en het bepaalde belewenisse tot gevolg. Sommige grootouers ervaar byvoorbeeld ’n gevoel van magteloosheid omdat die rolverpligting sonder ’n keuse gepaard gaan (Backhouse en Graham 2011:6; Cox 2003:130). Grootouers beleef soms ook trauma as gevolg van die redes vir die opname van die hoofversorgingsrol en hulle eie kinders se aandeel daaraan (Dunne en Kettler 2007:334). Ander grootouers beleef verleentheid aangesien hulle eie kinders se probleme en onvermoëns wat hierdie verandering tot gevolg gehad het, as ’n moontlike refleksie op hulle eie opvoeding van hulle kinders gesien kan word (Backhouse 2009:57). Verder het grootouers ook aangedui dat die opneem van hierdie rol op hierdie tydstip van hulle lewe moeilik is en dat kinderopvoeding in die huidige omstandighede meer uitdagend is as wat dit vroeër in hulle lewe die geval was (Dolbin-MacNab 2006; Landry-Meyer en Newman 2004). Navorsing in hierdie verband het bevind dat grootouers dikwels voel dat hulle gebrek aan kennis oor kinderontwikkeling hulle onbekwaam laat voel in hulle rol as die hoofversorger van hulle kleinkinders (Dolbin-MacNab 2006:564–5).

Grootouers beleef ook dat hulle beskikbare vrye tyd verminder, wat in sommige gevalle sosiale isolasie tot gevolg het (Stern 2009:6). Baie grootouers beleef spanning wat te doen het met die finansiële las om in kleinkinders se basiese behoeftes te voorsien (Grobler 2011:12; Lunga 2009:81; Van Rensburg 2006:75) of onsekerheid oor hoe hulle die verskillende rolle moet uitleef. Die feit dat grootouers se rol as die primêre versorger van hulle kleinkinders nie wetlik bekragtig word nie, veroorsaak ernstige konflik wanneer sekere take wat verband hou met die algemene versorging van kinders ter sprake is. Bachman en Chase-Landsdale 2005:478). Dit kan take behels soos om hulle kleinkinders by skole in te skryf; om hulle op mediese fondse te registreer of in aanmerking te kom vir sosiale toelaes. Dikwels bring die nuutverworwe ouerskapsrol ook konflik tussen grootouers en hulle eie kinders mee (Dunne en Kettler 2007:342) en kan daar ook huweliksprobleme tussen getroude grootouers ontstaan (Waldrop en Weber 2001:465).

1.3 Motivering vir die studie

Volgens Van Rensburg (2006:3–4) kom die verskynsel van grootouers wat hulle kleinkinders grootmaak, algemeen voor onder swart Suid-Afrikaners wat op die platteland bly. Navorsing onder ander rassegroepe waar dit voorkom, is egter beperk. Die motivering vir die huidige ondersoek is tweeledig, gekoppel aan vorige navorsingsbevindings.

Dolbin-MacNab (2006:565) meen dat in die lig daarvan dat hierdie verskynsel aan die toeneem is, daar meer navorsing gedoen moet word oor hoe die grootouers hierdie roltoekenning beleef. Nuutgevonde kennis oor hierdie verskynsel sal terapeute, beraders en maatskaplike werkers wat volgens Waldrop en Weber (2001:471) nie die ware behoeftes en probleme van die grootouers verstaan nie, kan rig om meer doeltreffende dienslewering aan hierdie populasie te bied.

In die lig van navorsingsbevindinge wat daarop dui dat grootouers meer dikwels ondersteuning aan die jonger generasies gee as wat hulle dit noodwendig van die jonger generasie ontvang (Aboderin en Hoffman 2015), en gegewe die kwesbaarheid van sommige ouerwordende mense se beperkte hulpbronne, kan hierdie navorsing ook ’n bydrae lewer om beleid te beïnvloed. Dit sou onder meer beleid behels wat grootouers wat as die hoofversorgers van hulle kleinkinders optree, beskerm teen uitbuiting deur hulle eie kinders en ook om aan hierdie grootouers groter erkenning te gee binne sosiale strukture waarin die kleinkinders in hulle sorg optree – onder meer binne skoolverband. Groter beskerming teen hulle eie kinders sou wetgewing kon behels wat die grootouers die wetlike voogde van hulle kleinkinders maak, met ’n moontlike keuse om die kleinkinders op hulle mediese fonds te kan plaas.

In die lig van bostaande bevindinge is die doel van die huidige navorsing om eerstens grootouers wat die hoofversorgingsrol van hulle kleinkinders opneem, te bestudeer in terme van die tipe rolle wat hulle nou vervul en om tweedens die belewenisse wat met die opneem van hierdie rolle gepaardgaan, te identifiseer.

 

2. Navorsingsmetodologie

Verkennende kwalitatiewe navorsing is benut om ’n breë begrip van grootouers se subjektiewe belewenis van die spesifieke rolle wat hulle opneem as die hoofversorgers van hulle kleinkinders te verkry (Durrheim 2004:40; Rofianto 2011). Die navorsing is uitgevoer in ’n dorp in die Vrystaat van Suid-Afrika waar die verskynsel dat grootouers wat na hulle kleinkinders omsien aan die toeneem is. Die meerderheid inwoners van die dorp is werksaam by die myne in en om die dorp en die wisselvalligheid in die mynbedryf, en selfs die sluiting van sommige myne, het aanleiding gegee tot ’n toename in werkloosheid en gepaardgaande armoede.

’n Beskikbaarheidsteekproef (Bless, Higson-Smith en Kagee 2008:105) is gebruik om soveel as moontlik deelnemers by die navorsing te betrek totdat dataversadiging bereik is (Mason 2010:1). Deelnemers is volgens die volgende kriteria by die navorsing ingesluit: die grootouers moes:

  • tot die wit bevolkingsgroep behoort
  • woonagtig wees in ’n spesifieke dorp in die Vrystaat
  • die hoofversorgers van hulle kleinkinders onder die ouderdom van 18 jaar wees
  • bereid wees om vrywillig aan die ondersoek deel te neem.

2.1. Prosedure en etiese aspekte

Etiese goedkeuring vir die projek is verkry van die universiteit waar die navorsing beplan en uitgevoer is. ’n Leier in die gemeenskap is versoek om as tussenganger op te tree en die doel van die navorsing aan potensiële deelnemers te verduidelik en hulle uit te nooi om aan die navorsing deel te neem.

Skriftelike ingeligte toestemming is van die deelnemers verkry nadat die doel van die ondersoek en dit wat van die deelnemers verwag word, aan hulle verduidelik is. Dit is benadruk dat deelname vrywillig is en dat die deelnemers te eniger tyd van die ondersoek mag onttrek sonder vrees vir enige nagevolge. In gevalle soos hierdie kon deelnemers ’n versoek rig dat die inligting wat hulle reeds verskaf het nie, nie gebruik mag word nie. Bogenoemde is aan elke deelnemer verduidelik en dit is ook duidelik uiteengesit in die ingeligte-toestemming-vorm. Deelnemers is ingelig dat die data vertroulik hanteer sal word en dat geen identifiseerbare inligting bekend gemaak sal word in publikasies nie. Die meeste van die onderhoude is ná ure by ’n plaaslike skool in ’n klaskamer gevoer en die oorblywende onderhoude in die wonings van die deelnemers. Die onderhoude is opgeneem en later getranskribeer. Na afloop van die onderhoude is die deelnemers bedank vir hulle deelname en die data is op ’n veilige plek gestoor. Deelnemers wat na afloop van die onderhoude ’n behoefte gehad het aan ondersteuning, het toegang gehad tot maatskaplike werkers by ’n gesinsorganisasie, of ’n maatskaplike werker in privaatpraktyk.

2.2 Data-insameling

Data is ingesamel deur middel van individuele, in-diepte-onderhoude ten einde ruimte te laat om uitvoerige beskrywings en ander tersaaklike inligting te bekom. ’n Oop vraag is geformuleer en is opgevolg met verhelderende vrae ten einde nie net te verseker dat spesifieke data ingesamel sal word nie, maar ook om ruimte te laat om enige moontlike nuwe inligting wat na vore kom te kon hanteer (Bless e.a. 2008:116). Die oop vraag is soos volg geformuleer: Beskryf u belewenis om as grootouer die hoofversorgingsrol van u kleinkind(ers) te vervul. Spesifieke verhelderingsvrae is gevra om diepte aan die data te verleen, soos byvoorbeeld: Watter spesifieke rolle het bygekom sedert u u in die hoofversorgingsrol van u kleinkinders bevind?

2.3 Data-ontleding

Die opnames van die onderhoude is getranskribeer sodat dit tematies ontleed kon word. Die stappe soos uiteengesit deur Clarke en Braun (2013) is gevolg om temas in die data te identifiseer. Eerstens is die data deurgelees om vertroud te raak daarmee. Vervolgens is aanvanklike kodes geskep en temas geïdentifiseer wat na vore gekom het. Die temas is vergelyk met die temas soos deur ’n onafhanklike kodeerder geïdentifiseer. Temas is hierna hersien, gedefinieer en benoem (Braun en Clarke 2006; Clarke en Braun 2013).

2.4 Vertrouenswaardigheid van die ondersoek

Die riglyne soos deur Guba bespreek, is gebruik om die vertrouenswaardigheid van die studie te verseker (Shenton 2004:73). Die riglyn van geloofwaardigheid is gebruik om te probeer vasstel hoe kongruent die bevindings met die werklikheid is (Shenton 2004:64). Dus kan gevra word of die ondersoek bereik het wat aanvanklik daarmee beoog was. Ten einde die geloofwaardigheid van die betrokke ondersoek te verseker is slegs deelnemers wat aan die kriteria voldoen het, ingesluit waartydens hulle die geleentheid gebied is om hulle subjektiewe persoonlike belewenisse te deel. Die beginsel van oordraagbaarheid verwys na die mate waartoe die nuutgevonde kennis na ander situasies oorgedra kan word (Shenton 2004:69). Hierdie ondersoek is tersaaklik in die lig van sosiale veranderinge en veranderinge in familiestrukture, nie net in die Suid-Afrikaanse konteks nie, maar ook wyer. Die riglyn van vertroubaarheid is gevolg om ’n ouditspoor van die ondersoek te laat waarvolgens elke stap en prosedure wat tydens die studie benut is, volledig en duidelik omskryf is. Die kriterium van bevestigbaarheid is toegepas deur die belewenisse van die deelnemers soos hulle dit sien, en sonder om enige vooropgestelde idees van ’n navorser deur te gee. Die transkripsies is ook deur ’n onafhanklike kodeerder gelees en gekodeer wat gedien het as ondersteuning tot die temas wat aanvanklik geïdentifiseer is.

 

3. Bevindinge

Die verskillende rolle wat die deelnemers geïdentifiseer het en hoe elke rol beleef is, word vervolgens bespreek. Deelnemers het aangedui dat hulle addisionele rolle moet vertolk as hoofversorgers van hulle kleinkinders, wat ’n finansiëleversorgingsrol, bemiddelaarsrol en ’n dissiplineringsrol insluit. Benewens die belewenisse wat met elke rol geassosieer word, het grootouers rolkonflik op verskillende vlakke van hulle funksionering beleef.

3.1 Belewenis van ’n finansiëleversorgingsrol

Al die deelnemende grootouers het die opneem van die rol as finansiële versorger beklemtoon as die een wat die vernaamste uitwerking op hulle as hoofversorgers het. Finansiële uitgawes wat gereeld genoem is, sluit in mediese uitgawes, skoolfonds en verwante skooluitgawes.

Die belewenis wat met die finansiëleversorgingsrol gepaardgaan, is ’n voortdurende bekommernis vir grootouers, veral omdat hulle spesifieke finansiële verpligtinge moet nakom. Verder beleef grootouers frustrasie omdat hulle nie die wettige voogde van hulle kleinkinders is nie en hulle derhalwe nie toegelaat word om hulle kleinkinders as afhanklikes op hulle mediese fondse te registreer nie. Die deelnemers beklemtoon die frustrasie wat hulle ervaar om noodgedwonge met hulle kinders, skole en mediese fondse te onderhandel om finansies te bekom om in hulle kleinkinders se behoeftes te voorsien. 

Grootouers wend soms wanhopige pogings aan om die bykomende druk op hulle finansies te verlig. In een geval is die kleinkind se van na dié van sy grootouers verander sodat hulle hom op hulle mediese fonds kon registreer: “Ons wou hom op ons medies sit, dit is hoekom sy ma sy van terug gesit het [verwysend na die nooiensvan van hulle dogter], want ons het gedink dan kan ons hom op ons medies sit.” Hierdie poging was egter onsuksesvol, aangesien die grootouers nie die wetlike voogde van die kind was nie. Die grootouers se enigste ander keuse was om hulle kleinseun wetlik aan te neem: “Al wanneer ons hom op ons medies kan sit, is wanneer sy ma hom afteken.”

Grootouers is veral bekommerd om die moontlike mediese onkostes wat die versorging van hulle kleinkinders kan meebring, te delg. In hierdie verband is deelnemers se enigste opsie om met hulle kleinkinders se biologiese ouers te onderhandel ten einde te verseker dat hulle op ’n mediese fonds geregistreer is: “Nou dis hoekom ons sy pa toe gevra het om hom op sy medies te sit. Ten minste weet jy as hy moet hospitaal toe gaan daar is darem ’n mediese fonds.”

Die voortdurende bekommernis oor finansies het sommige van die deelnemers verplig om weer die formele arbeidsmag te betree of om hulle pensioengeld te gebruik om die kleinkinders te versorg. Deelnemers is bewus daarvan en bekommerd daaroor dat hulle nooit sal kan aftree terwyl hulle nog vir hulle kleinkinders moet sorg nie.

Positiewe belewenisse wat grootouers uitgelig het binne die konteks van die finansiële rol wat hulle opgeneem het, is die finansiële ondersteuning wat hulle van ander familielede ontvang het, al het hulle nie uitdruklik daarvoor gevra nie. Een van die enkellopende grootmoeders meld in hierdie verband: “My seun het my natuurlik finansieel baie gehelp.” Twee van die deelnemers het ook genoem: “Albei my dogters help my as ek sê dit gaan nou swaar, en selfs as ek nie vra nie.”

3.2 Belewenis van ’n bemiddelaarsrol

Grootouers vervul ’n bemiddelaarsrol tussen die kleinkinders en hulle biologiese ouers (Backhouse 2009:127) en ook in verhouding tot die skool. In hierdie ondersoek het deelnemers kontak tussen die biologiese ouers en hulle kinders aangemoedig deur byvoorbeeld ’n vaste afspraak te maak vir hulle en die kleinkinders om by die biologiese ouers te gaan kuier of waar die biologiese ouers vir hulle kinders by die deelnemers gaan kuier. Die kontak het egter nie altyd die gewenste resultaat nie. Een van die deelnemers noem onder meer die volgende: “Hy [die pa] sal dalk bel en dan praat hy byvoorbeeld net met J [een kleinkind] en nie met L [ander kleinkind] nie en dan is dit ’n tranedal in die huis.” In situasies soos hierdie moet grootouers die emosionele uitwerking wat gebeure op die kleinkinders het, hanteer. Alhoewel situasies soos hierdie tot spanning by die kleinkinders en grootouers lei, bly dit die wens van die grootouers dat daar steeds ’n positiewe verhouding tussen die biologiese ouers en hulle kinders moet wees.

Grootouers het teenstrydige belewenisse gerapporteer met betrekking tot die bemiddelaarsrol wat hulle tussen hulle kleinkinders en die skool (wat in die breë verteenwoordig word deur kontak met die onderwysers of skoolhoofde) vervul. Van die deelnemers ervaar begrip en dat die onderwysers en skoolhoofde probeer om hulle besondere situasie te verstaan. Soos een deelnemer dit stel: “Ons het nog nie met een skool ’n probleem gehad nie. Die hoofde se kantore staan altyd oop.” ’n Ander deelnemer merk ook op: “[Ek] dink regtig die ondersteuning wat ons kry by die skool is baie goed. Juis vir die situasie waarin die kinders is. Ons waardeer dit baie wat die skool doen.” Hierteenoor word ’n verleentheid as ’n negatiewe belewenis uitgedruk wanneer ’n deelnemer haar ervaring met ’n skoolhoof deel nadat sy hom genader het vir vrystelling van skoolfonds en die skoolhoof haar “’n lastige ouma” genoem het. Ander deelnemers het dieselfde negatiewe belewenisse gehad, soos duidelik verwoord in die volgende aanhalings: ”Hy [die skoolhoof] verstaan nie dat ons nou al alles probeer het en dit steeds nie reg kry nie” en “Hy verstaan nie!”

Uit die aard van die saak hou die impak van hierdie negatiewe belewenisse implikasies vir die deelnemers in en ontneem dit hulle van die vrymoedigheid om weer die moontlikheid van skoolfondsvrystelling te ondersoek. Dit word soos volg deur een deelnemer verwoord: “Toe voel ek of berge val op my; dit is nou die laaste wat ek nou nodig het. Ek bedoel ek sal nooit weer die vrymoedigheid hê om hom iets te vra nie, ek belowe jou nooit.”

3.3 Belewenis van ’n dissiplineringsrol

Ongeag of grootouers as die hoofversorgers van hulle kleinkinders optree of nie, blyk dit dat hulle steeds by een of ander faset van die dissiplinering van hulle kleinkinders betrokke is. Een deelnemer merk op dat sy nog altyd deel was van die dissiplinering van haar kleinkind, maar slegs in ’n ondersteunende hoedanigheid.

Met die opneem van ’n nuwe rol word grootouers nou die hoofdissiplineerders van die kleinkinders en beleef hulle spanning omdat dit nou hulle uitsluitlike verantwoordelikheid geword het om te onderskei wanneer en hoe om hulle kleinkinders te dissiplineer. Verder tree grootouers ook nie altyd so streng op soos wat van hulle verwag word nie. Een deelnemer merk in hierdie verband op: “Jy probeer dieselfde handhaaf as wat ons toe gedoen het [met hulle eie kinders], maar dit is anders met kleinkinders as met jou eie kinders.” Grootouers beleef dus twyfel en ambivalensie in die uitvoering van die dissiplineringsrol.

Die belewenis van hierdie rol word verder bemoeilik wanneer grootouers as enkelouers besluite moet neem. Een deelnemer se beskrywing som die gevoel van ander deelnemers op wanneer sy sê: “Toe hy [haar oorlede man] nou weg is, was dit vir my gewees ek moet nou aangaan daarmee en dit is moeilik partykeer. Jy weet hy is nou nie meer daar om hom te kan vra nie, wat moet ek hier doen? Hy was daar gewees om vir my raad te gee. Vir my is dit moeilik.”

3.4 Belewenis van konflik tussen rolle

Grootouers wat as die hoofversorgers van hulle kleinkinders optree, het deurgaans konflik tussen ’n verskeie aantal rolle beleef. Hoewel die roluitvoering van grootouers ’n sosiale maaksel is, het baie deelnemers daaroor gefantaseer dat hulle rol as grootouer met minder verantwoordelikheid gepaard sou gaan en dat hulle eerder die rol van “bederwer” wou vervul (Stern 2009:5). Die rol wat hulle tans gedwonge vervul, verskil volgens hulle dus radikaal van die tradisionele rol van grootouer wees. Die deelnemers se verwagtings was almal dat hulle hulle kleinkinders op ’n “kuier”-basis sou sien; hulle “kleinkinders wou bederf”, want vir hierdie groep “is [dit] mos hoekom ’n oupa en ouma daar is”. Die verandering na hoofversorger het ’n verlies of ’n gemis gelaat, soos te sien is in die volgende aanhaling: “En daai voorreg het ons nie gehad met hierdie drie kinders nie.”

Indien grootouers ’n keuse gegun sou word, sou hulle verkies om hulle kleinkinders te “bederf en nie na hulle [te] kyk nie. Jy wil hulle spoil, dit is wat jy wil doen.” Die ingewikkeldheid om tussen die verskillende rolle te beweeg, verg dus groter aanpasbaarheid. Een van die deelnemers beaam dit as sy sê: “Ons is nou oupa en ouma sowel as ma en pa, ons is nou albei.”

Sonder twyfel ervaar al die grootouers dat hulle lewe sonder voorbereiding ingrypend verander het, soos duidelik blyk uit die volgende aanhalings: “Dit het dinge bietjie heeltemal verander” en “Weet jy, aan die begin was daar dinge wat ons gedoen het wat ons onmiddellik moes stop omdat daar nou ’n baba in die huis was. Ons lewe het oornag verander.” Hierdie veranderinge het ’n inbreuk op die grootouers se keuse van tydbesteding gemaak: “Jy [kon] nie meer gedoen het net dit wat jy wou nie.”

Konflik tussen die vroulike deelnemers se rol as ouma en as vrou is duidelik ook verskillend deur die deelnemers beleef. Sommige deelnemers het byvoorbeeld genoem dat die feit dat hulle kleinkind permanent by hulle bly, geen invloed op hulle huwelik het nie. Sy skryf dit toe aan die feit dat hulle nog jonk is en dat hulle nog altyd kinders in die huis het en sy beskou haar kleinkind as een van haar eie kinders: “C is maar dieselfde as soos met my eie kinders, so dit gaan basies maar net aan. Hy is nou amper soos ’n ou laatlammetjie.” Tog het ander deelnemers rolkonflik ervaar: “Ag jy kry mos maar die verskilletjies, soos ’n pa en ma ook. So af en toe as ouma te veel raas, sal ons vas sit.”

Ander getroude deelnemers het die feit dat hulle kleinkinders permanent by hulle bly, gebruik om die konflik in hulle huwelik te hanteer. Een deelnemer stel dit so: “Ek is geneig om die kinders te gebruik as ek en my man ’n argument het, om nie daaroor te gesels nie, sal ek dan vir die kinders sê hulle moet by ons in die kamer kom slaap. Die kinders is mal daaroor om by ons in die kamer te slaap.”

Die implikasie daarvan om as die hoofversorger van hulle kleinkinders te moet optree, dra daartoe by dat die grootouers voel dat hulle nie genoegsame kans gegun word om alleen tyd saam met hulle huweliksmaats te spandeer nie.

 

4. Bespreking

Die opneem van die hoofversorgingsrol vir hulle kleinkinders het ’n groter verantwoordelikheid vir grootouers meegebring. Die bevindinge dui aan dat spesifieke rolle geïdentifiseer is, maar dat grootouers die opneem van hierdie rolle verskillend beleef.

Die bevindinge van hierdie studie bevestig internasionale navorsingsbevindinge dat die finansiëleversorgingsrol wat grootouers opneem, by verre die grootste implikasie vir hulle het (Bundy-Fazioli, Fruhauf en Miller 2013; Cooper 2012). Finansiële verpligtinge, veral in ’n verarmde gemeenskap soos die een waarin hierdie navorsing gedoen is, laat die grootouers aan die een kant voortdurend bekommerd voel oor hoe om die spanning tussen beperkte finansiële bronne te hanteer terwyl hulle aan die ander kant genoodsaak voel om in die finansiële behoeftes van kleinkinders te voorsien.

Verder bevestig hierdie navorsing ook ander bevindinge waarvolgens die ouer generasie altyd bronne beskikbaar sal stel, of as hulle dit nie self het nie, bronne sal soek om die belange van die jonger generasie te bevorder (Aboderin en Hoffman 2015; Kagan, Micallef, Siddiquee, Fatimilehin, Hassan, Santis en Bunn 2013). Dit is daarom interessant dat alhoewel die ouer persone nie vir jonger familielede gevra het vir finansiële ondersteuning nie, hulle dit wel aanvaar het toe dit aangebied is. Verder bevestig hierdie navorsing ook dat grootouers nie as passiewe slagoffers van hulle omstandighede optree nie, maar aktief planne beraam om die primêre finansiëleversorgingsrol so effektief as moontlik te vervul (Bundy-Fazioli e.a. 2013; Cooper 2012; Purcal, Brennan, Cass en Jenkins 2014), byvoorbeeld deur hulle pensioen te gebruik of om weer tot die formele arbeidsmag toe te tree. Dit wil dus voorkom asof grootouers sekere hanteringstrategieë bedink ten einde in die beste belang van hulle kleinkinders te kan optree. Tog is Musil, Schrader en Mutikani (2000:65) van mening dat min navorsing bestaan oor die verskillende hanteringstrategieë wat grootouers aanwend in hulle rol as die hoofversorgers van hulle kleinkinders.

Dit is te verstane dat grootouers frustrasie ervaar omdat hulle vasgevang is in ’n onbuigsame regstelsel wat nie voorsiening maak vir die realiteit van veranderde gesinsvorme nie. Grootouers wat die hoofversorging van hulle kleinkinders oorneem, word byvoorbeeld verplig om sekere pligte as hoofversorgers na te kom sonder die keuse van wetlike aanneming van hulle kleinkinders. Dit terwyl die Kinderwet kinders se hoofversorgers byvoorbeeld wetlik verplig om ’n optimale omgewing vir kinders se ontwikkeling te skep (Kinderwet 2005; Ferreira en Venter 2014). Tog, wanneer grootouers hierdie rol opneem, kry hulle geen regsbevoegdheid om hierdie funksie uit te voer nie. Grootouers wend dus desperate pogings aan om bronne te ondersoek en te ontsluit om hulle kleinkinders se belange te bevorder. ’n Belangrike aspek wat na vore getree het tydens die navorsing, is die noodsaaklikheid van ondersteuning deur ander familielede, veral in ’n bron-arm gemeenskap soos die een waarin die studie onderneem is.

Grootouers neem ook die rol van bemiddelaar in. In verhouding tot hulle kleinkinders en biologiese ouers moedig grootouers die instandhouding van die verhouding aan. Tog ervaar hulle frustrasie as die biologiese ouers nie die nodige sensitiwiteit vir die nuwe gesinstelsel toon nie. Grootouers ervaar emosionele ongemak omdat hulle hulself die hele tyd in ’n “tussenspasie” bevind waarin hulle nie eintlik enige ouerskapregte het nie, maar steeds in die beste belang van hulle kleinkinders met gesag moet optree.

Grootouers tree binne die konteks van hulle versorgingsrol ook binne die skoolsisteem as bemiddelaars op. Hierdie rol van die grootouers het egter interessante bevindinge opgelewer wat spesifiek verband hou met die interaksie met skoolhoofde en hoe hulle hierdie rol van die grootouers hanteer. Sommige skoolhoofde het die nodige begrip getoon vir die situasie waarin grootouers met beperkte finansiële bronne hulle bevind, terwyl ander skoolhoofde nie net ontoeganklik was om te onderhandel vir die vrystelling van skoolfonds nie, maar in hulle optrede teenoor die grootouers gevoelens van vernedering en verleentheid geskep het. Die uitwerking van hierdie oneffektiewe interaksie was sodanig dat dit die moontlikheid vir verdere interaksie verbreek het (Grobler 2014), met verreikende gevolge vir kinders wat dan nie skoolonderrig kan ontvang nie, soos ook bevind in vorige navorsing (Cox 2007; Lunga 2009). Hierdie negatiewe interaksie het dus nie net op die grootouers as hoofversorgers ’n negatiewe uitwerking gehad nie, maar ook op hulle kleinkinders wat weerhou word van onderrig.

Grootouers se dissiplineringsrol as hoofversorgers is seker die beste illustrasie van die veranderde definisie in rolle van oupas en oumas wat bederf teenoor grootouers wat as die hoofdissiplineerders moet optree. Hierdie veranderde rol dra ook daartoe by dat grootouers nie net baie spanning en ambivalensie ervaar nie, maar ook terugval op hulle bekende verwysingsraamwerk van hoe hulle hul eie kinders gedissiplineer het. In gevalle waar ’n grootouer as “enkelouer” die hoofversorging van kleinkinders moet behartig, het hulle ook aangedui dat hulle die gemis van ’n ander persoon wat as klankbord kan optree, ervaar. Net soos in ’n studie deur De Lange, Dronkers en Wolbers (2014) het grootouers ook in hierdie ondersoek aangedui dat hulle onsekerheid ervaar oor watter optrede die effektiefste sal wees in hulle hantering van die dissipline van hulle kleinkinders.

Soos verwag kon word, gaan die opneem van die rol as die hoofversorger van hulle kleinkinders vir die grootouers dikwels met konflik gepaard – konflik in die ouer persone self; in die verskillende subsisteme van die groter familiesisteem; en in die saamgestelde gesin waarvan die grootouers nou die hoofversorgers is. Konflik in grootouers is gesetel in die teenstellende verwagtings en uitlewing van hulle rolle as grootouers teenoor wat hulle rol as ouers impliseer – naamlik om te dissiplineer, om te voorsien en te versorg. Die rolverdelings is soms in konflik met mekaar, want aan die een kant is grootouers in die psigososiale lewensfase waar hulle hul voorberei het op ’n bepaalde rol wat nie volledig verwesenlik is nie, en waar hulle weer ’n vorige afgehandelde rol moes opneem – wat meestal nie ’n vrywillige keuse is nie (Stern 2009; Luo, LaPierre, Hughes en Waite 2012). Grootouers beskryf die opneem van hulle rol as die hoofversorgers van hulle kleinkinders as dat hulle beroof voel van hulle grootouerrol omdat hulle hierdie rol nie meer onbevange sonder ouerskapsverantwoordelikhede kan uitleef nie (Backhouse en Graham 2011:6; Dolbin-MacNab 2006:566; Landry-Meyer en Newman 2004:1009). Wat egter sonder twyfel bevestig word, is dat hulle lewens onherroeplik verander word en aanpassings op alle lewensvlakke, tydsbesteding en sosiale verhoudings verg.

 

5. Implikasies van die bevindinge

Veranderende gesinsvorme is aan die toeneem en dit is noodsaaklik dat beleidmakers spesifiek kennis sal neem van die toename in grootouers binne alle rassegroepe wat as die hoofversorgers van hulle kleinkinders optree. Die bevindinge oor die verskillende rolle wat grootouers as hoofversorgers opneem en hulle belewenisse in verband hiermee is ter sake. As gevolg van die toename in armoede in sekere groepe in die Suid-Afrikaanse samelewing maak regeringorganisasies staat op uitgebreide families en meer spesifiek op grootouers om die hoofversorging van hulle kleinkinders op te neem. Die bevindinge van die navorsing beklemtoon egter dat sulke grootouers reeds ’n kwesbare groep in die gemeenskap is weens onder andere ouderdom en beperkte finansiële bronne. Die spanning tussen verantwoordelikheid en die realiteit van beperkte bronne veroorsaak spanning en konflik by die grootouers en kan kleinkinders potensieel daarvan weerhou om skoolonderrig te ontvang.

Dit is veral noodsaaklik om kennis te neem dat daar groter samewerking tussen die verskillende rolspelers moet wees waar dit die ontwikkeling en gesondheid van kinders in finansieel agtergeblewe omgewings aangaan. Dit is juis in hierdie omgewings waar die bose kringloop van armoede en ongeletterdheid verbreek moet word. Daar word derhalwe aanbeveel dat daar ’n bewustheid geskep moet word by rolspelers (skole, mediese fondse, gesondheidswerkers en maatskaplike werkers) sodat die uitdagings wat grootouers as die hoofversorgers van hulle kleinkinders beleef, op ’n toepaslike wyse hanteer kan word, sonder om die kleinkinders of die grootouers te benadeel.

Professionele persone se betrokkenheid om grootouers by te staan in onderhandelinge met skole en mediese fondse kan ook die spanning tussen die nuwe gesinsisteem en die tradisionele sisteme verlig. Gemeenskapsprogramme kan ook meer aandag gee aan die bevordering van finansiële en gesondheidstoestande van hierdie grootouers. Onderwysers en gemeenskapswerkers behoort opleiding te ontvang oor hoe om hierdie nuwe gesinsisteem te hanteer.

Aangesien hierdie studie slegs in een gemeenskap gedoen is, word daar aanbeveel dat hierdie navorsing ook in ander gemeenskappe gedoen word. Verder word dit aanbeveel dat studies gedoen word oor toepaslike maniere om grootouers wat as hoofversorgers optree beter te ondersteun.

 

6. Gevolgtrekking

Grootouers vervul verskeie rolle wanneer hulle die hoofversorging van hulle kleinkinders oorneem. Hierdie rolle sluit finansiële versorging, bemiddeling en dissiplinering in. Die opneem van hierdie rolle gaan gepaard met verskillende belewenisse, waarvan konflik waarskynlik die vernaamste belewenis is, saam met spanning en ambivalente gevoelens. Daar kan dus met reg aanvaar word dat die opneem van hierdie rolle meestal negatief beleef word. Die opneem van nuwe rolle beïnvloed egter nie net die grootouers nie, maar het soms ook ’n negatiewe uitwerking op hulle kleinkinders. Dit is dus belangrik dat verdere studies onderneem word oor hoe om hierdie groep grootouers beter te ondersteun in hulle nuwe rol as hoofversorgers van hulle kleinkinders.

 

Bibliografie

Aboderin, I. en J. Hoffman. 2015. Families, intergenerational bonds, and aging in Sub-Saharan Africa. Canadian Journal on Aging/La Revue canadienne du vieillissement, 34(3):282–9.

Bachman, H.J. en P.L. Chase-Landsdale. 2005. Custodial grandmothers’ physical, mental, and economic well-being: Comparisons of primary caregivers from low-income neighborhoods. Family Relations,54:475–87.

Backhouse, J. 2009. Grandparents raising their grandchildren: Impact of the transition from a traditional grandparent role to a grandparent as parent role. Ongepubliseerde PhD-proefskrif. Lismore: Southern Cross Universiteit.

Backhouse, J. en A. Graham. 2011. Grandparents raising grandchildren: Negotiating the complexities of role-identity conflict. Child and Family Social Work. doi:10.1111/j.1365-2206.2011.00781.x (4 Junie 2012 geraadpleeg).

Berkman, B. (red.). 2003. Social work and health care in an aging society: Education, policy, practice and research. New York: Springer.

Bless, C., C. Higson-Smith en A. Kagee. 2008. Fundamentals of social research methods: An African perspective. Kaapstad: Juta.

Borman, M. 2011. Telefoniese gesprek op 17 Junie 2011 om 10:00. 057 398 1753.

Braun, V. en V. Clarke. 2006. Using thematic analysis in psychology. Qualitative Research in Psychology, 3(2):77–101.

Brink, S. 2012. Rolervaring van grootouers as die primêre versorgers van hulle kleinkinders in Odendaalsrus. Ongepubliseerde MA-verhandeling. Noordwes-Universiteit.

Bundy-Fazioli, K., C.A. Fruhauf en J.L. Miller. 2013. Grandparents caregivers’ perceptions of emotional distress and well-being. Journal of Family Social Work, 16(5):447–62. doi: 10.1080/10522158.2013.832461.

Burgess, R.L. en T.L. Huston (reds.). 2013. Social exchange in developing relationships. Londen: Elsevier.

Clarke, V. en V. Braun. 2013. Teaching thematic analysis: Overcoming challenges and developing strategies for effective learning. The Psychologist, 26(2):120–3.

Cooper, C. 2012. Kinship families: Grandparents and other relatives as primary caregivers for children. International Journal of Childbirth Education, 27(4):27–31.

Cox, C.B. 2003. Designing interventions for grandparent caregivers: The need for an ecological perspective for practice. Families in Society: The Journal of Contemporary Human Services, 84(1):127–34. http://www.proquest.com (20 Junie 2010 geraadpleeg).

—. 2007. Grandparent-headed families: Needs and implications for social work interventions and advocacy. Families in Society: The Journal of Contemporary Human Services, 88(4):561–6.

Cox, C.B. (red.). 2000. To grandmother’s house go and stay: Perspectives on custodial grandparents. New York: Springer.

De Lange, M., J. Dronkers en M.H. Wolbers. 2014. Single-parent family forms and children’s educational performance in a comparative perspective: Effects of school’s share of single-parent families. School Effectiveness and School Improvement, 25(3):329–50.

Dolbin-MacNab, M.L. 2006. Just like raising your own? Grandmothers’ perceptions of parenting a second time around. Family Relations, 55:564–75.

Dunne, E.G. en L.J. Kettler. 2007. Grandparents raising grandchildren in Australia: Exploring psychological health and grandparents’ experience of providing kinship care. International Journal of Social Welfare, 17:333–45.

Durrheim, K. 2004. Research design. In Terre Blanche en Durrheim (reds.) 2004.

Edwards, O.W. 1998. Helping grandkin – grandchildren raised by grandparents: Expanding psychology in the schools. Psychology in the Schools, 35(2):173–81.

Ferreira, J.G. en E. Venter. 2014. Omgewingsopvoeding se rol in die integrasie van omgee vir die omgewing en menslike welstand: Oorspronklike navorsing. Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie, 33(1):1–6.

Grobler, B. 2014. Teachers’ perceptions of the utilization of emotional competence by their school leaders in Gauteng, South Africa. Educational Management, Administration & Leadership, 42(6):868–88.

Grobler, H.B. 2011. An exploration of the psychosocial experiences of coloured grandmothers in Groenheuwel who are the primary care givers of their grandchildren. Ongepubliseerde MA-verhandeling. Noordwes-Universiteit.

Hoff, A. 2007. Patterns of intergenerational support in grandparent-grandchild and parent-child relationships in Germany. Ageing & Society, 27:643–65.

Kagan, C., M. Micallef, A. Siddiquee, I. Fatimilehin, A. Hassan, C. Santis en G. Bunn. 2013. Intergenerational work, social capital and wellbeing. Global Journal Community Psychology Practice, 3(4):286–93.

Kane-Bernman, J. 2015. Born free but still in chains: South Africa’s first post-apartheid generation. Johannesburg: South African Institute of Race Relations.

Kinderwet. Sien Suid-Afrika.

Kropf, N.P. en S. Wilks. 2003. Grandparents raising grandchildren. In Berkman (red.) 2003.

Landry-Meyer, L. en B.M. Newman. 2004. An exploration of the grandparent caregiver role. Journal of Family, 25:1005–25.

Lunga, N.R. 2009. Challenges experienced by grandparents raising their grandchildren in Utrecht in KwaZulu-Natal. Ongepubliseerde MA-verhandeling. Universiteit van Zululand.

Luo, Y., T.A. LaPierre, M.E. Hughes en L.J. Waite. 2012. Grandparents providing care to grandchildren: A population-based study of continuity and change. Journal of Family Issues, 33(9):1143–67.

Mason, M. 2010. Sample size and saturation in PhD studies using qualitative interviews. http://www.qualitative-research.net/index.php/fqs/article/view/1428/3027 (15 Maart 2015 geraadpleeg).

Minkler, M. en K.M. Roe. 1996. Grandparents as surrogate parents. Generations, 20(1):34–9.

Musil, C.M., S. Schrader en J. Mutikani. 2000. Social support, stress, and special coping tasks of grandmother caregivers. In Cox (red.) 2000.

Parsons, T. 1951. Social system. Londen: Routledge.

Price, C.A. 2005. Grandparents as parents: An emerging family pattern. In Yuen (red.) 2005.

Purcal, C., D. Brennan, B. Cass en B. Jenkins. 2014. Grandparents raising grandchildren: Impacts of lifecourse stage on the experiences and costs of care. Australian Journal of Social Issues, 49(4):467–88.

Roe, K.M. en M. Minkler. 1998/9. Grandparents raising grandchildren: Challenges and responses. Generations, 22(4):25–38.

Rofianto, W. 2011. Exploratory research design. http://rofianto.files.wordpress.com/2011/04/mr_02.pdf (8 Oktober 2012 geraadpleeg).

Shenton, A.K. 2004. Strategies for ensuring trustworthiness in qualitative research projects. Education for Information,22:63–75.

Stern, L.S. 2009. Grandparents raising grandchildren: Potential for reducing parenting stress through the Step Parent Training Program. Ongepubliseerde PhD-proefskrif. Universiteit van Hartford.

Suid-Afrika. 2006. Kinderwet 38 van 2005. Die Vereniging van Regslui vir Afrikaans. http://www.vra.co.za (3 Oktober 2012 geraadpleeg).

Terre Blanche, M. en K. Durrheim (reds.). 2004. Research in practice: Applied methods for the social sciences. Kaapstad: Universiteit Kaapstad.

Van Rensburg, D.C. 2006.Die rol en ervaring van die grootmoeder as familiepleegouer. Ongepubliseerde MA-verhandeling. Universiteit Stellenbosch.

Vorster, C., V. Roos en M. Beukes. 2013. A psycho-diagnostic tool for psychotherapy: Interactional Pattern Analysis (IPA). Journal of Psychology in Africa,23(3):163–9.

Waldrop, D.P. en J.A. Weber. 2001. From grandparent to caregiver: The stress and satisfaction of raising grandchildren. Families in Society: The Journal of Contemporary Human Services,85(5):461–72. http://www.proquest.com (20 Junie 2010 geraadpleeg).

Yuen, F.K.O. (red.). 2005. Social work practice with children and families: A family health approach. New York: Haworth.


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


  • 1

Kommentaar

  • Interessante navorsingsonderwerp. Die navorsingsgroep is egter beperk (N=10, en verteenwoordig net een bevolkingsgroep). Dit is faktore wat die geldigheid en veralgemeenbaarheid van die bevindings ongelukkig benadeel.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top