Gooi weg daai vooropgestelde idee oor hoe antivaksers lyk

  • 5

Foto van die Covid-viruspartikel: Pixabay; foto van Bettina Wyngaard: Naomi Bruwer

.......

Vergeet maar A tale of two cities, dié is ’n verhaal van twee vriendinne. Twee van my vriendinne, om presies te wees.

........

Vergeet maar A tale of two cities, dié is ’n verhaal van twee vriendinne. Twee van my vriendinne, om presies te wees.

Albei is regsgeleerdes. Albei is formidabel. Een is in die akademiese wêreld, die ander in justisie. Die akademikus is een van die voorste kenners van haar veld in ons land, en selfs daarbuite. Die ander een is ’n senior landdros, en ek het haar uitsprake nog altyd goed beredeneerd en ewewigtig gevind.

Albei het sedert die begin van die pandemie moeite gedoen om hulself op hoogte te hou van gebeure. Hulle is albei opgelei om feite te oorweeg voordat hulle tot ’n besluit kom oor enigiets. Nie een is impulsief nie.

Die akademikus, kom ons noem haar L, het besluit dat sy nie net haarself gaan inent nie, sy gaan haarself en almal rondom haar beveilig deur net mense wat die entstof ontvang het in haar persoonlike ruimte toe te laat tot tyd en wyl hierdie pandemie nog nie oor is nie. Natuurlik gee sy mense genoeg tyd om te kan inent voordat sy haar huislike vaksinasiemandaat toepas. Onder andere moes haar tienerseun en sy vriende darem ten minste ook die geleentheid hê om ingeënt te word.

Dis vir my ’n logiese besluit; een wat ek ten volle onderskryf.

My eie vaksinasiemandaat is selfs strenger. Net gevaksineerde familie word in my huis toegelaat, en hulle moet hulle afstand hou, hande was en masker dra. Ek het ’n bejaarde ma met komorbiditeite. Om waaksaamheid te verslap is eenvoudig nie ’n luukse wat ek kan bekostig nie.

My vriende het almal die entstof ontvang so gou dit in hulle verskillende ouderdomskategorieë beskikbaar geword het. Die gesondheidswerkers onder hulle het selfs al gegaan vir hul opvolgdosis in die tweede fase van die Sisonke-studie.

Of só het ek gedink.

Ek moes ’n week of wat gelede in my landdros-vriendin se tuisdorp wees vir werk. Heel toevallig, tot my blydskap, was dit nie vir haar ’n hofdag nie. Ons kon gaan koffie drink, vir die eerste keer sedert die grendelstaat aangekondig is.

........

Hoe dit gebeur het dat ons oor inenting begin praat het, onthou ek nie. My skok toe ek ontdek dat sy nie die entstof ontvang het nie, en ook nie van plan is om dit te ontvang nie, vergeet ek nie maklik nie.

........

Hoe dit gebeur het dat ons oor inenting begin praat het, onthou ek nie. My skok toe ek ontdek dat sy nie die entstof ontvang het nie, en ook nie van plan is om dit te ontvang nie, vergeet ek nie maklik nie.

En daarmee saam is my vooropgestelde idees oor hoe antivaksers lyk, die nek ingeslaan. Dis nie net oningeligte mense wat hul rug op die entstof draai nie. Dis nie net liggelowiges wat elke stukkie fopnuus vir soetkoek opeet wat antivaks is nie. Dis nie net kom ons noem dit maar eksentrieke mense wat hul tyd deurbring op webwerwe wat spesialiseer in samesweringsteorieë wat nie die naald naby hulle wil hê nie.

Sommige antivaksers, soos my vriendin, is deeglik ingelig. Sy is bewus van die gevare van Covid-19. Sy moes self al twee keer (waarvan ek weet) in isolasie gaan nadat sy blootgestel was. Van haar kollegas moes sy aan die dood afstaan nadat hulle hul stryd teen Covid verloor het. Sy het haar kinders laat inent teen elke kindersiekte toe hulle klein was. Sy besef die waarde van inentings.

En iewers het sy besluit sy kan die dobbelsteen rol met Covid deur nie in te ent nie.

Haar redes maak nie vir my sin nie, maar natuurlik eerbiedig ek haar besluit om nie in te ent nie. Dis hartseer, maar sy’s groot en sy is ingelig. En natuurlik verwag ek dat sy my besluit om maar verder net elektronies met haar kontak te hou, sal eerbiedig.

Intussen is getalle van nuwe Covid-infeksies besig om stadig maar seker te styg. Ons is nog nie in die vierde vlaag nie, maar tensy daar drasties briek geslaan word, gaan die golf ons binne die volgende maand of so tref. En ons hou mos daarvan om in die Kersgety partytjie te hou en oor en weer te kuier.

Ek verjaar in Januarie. Ek wil my verjaardag kan vier met ’n bottel sjampanje en ’n paar ingeënte vriende. Hierdie jaar was dit nie moontlik nie. Alle aanduidings wys daarop dat dit volgende jaar ook nie gaan gebeur nie.

Op die oomblik word daar oor naweke inentings gedoen. Klinieke bly saans later oop om mense wat na werk wil kom spuit, te akkommodeer. In landelike gebiede gaan besoek gesondheidswerkers plase en ander werkplekke om mense in te ent. Ouetehuise word besoek om die bejaardes te spuit. Mobiele inentingsklinieke word opgestel in afgeleë gebiede om mense tegemoet te kom. Daar is selfs sprake dat daar planne gemaak word om mense op versoek by hul huise in te ent.

Daar is oorgenoeg geleenthede om mense wat wil, in te ent.

Tydens die eerste vlaag het ons nie geweet wat om te doen nie. Siektes en sterftes tóé kan mens nog, hartseer soos wat dit is, verstaan. Teen die tweede en derde vlae het ons geweet wat om te doen, maar mense het nie gehoor gegee nie. Van die sterftes was onnodig.

......

Hierdie vlaag gaan gedryf word deur mense wat doelbewus kies om nie in te ent nie. Hulle kies nie net vir hulself nie, hulle kies vir die mense om hulle.

........

Hierdie vlaag gaan gedryf word deur mense wat doelbewus kies om nie in te ent nie. Hulle kies nie net vir hulself nie, hulle kies vir die mense om hulle.

Ek hoop van harte my vriendin is versigtig en word nie siek en sterf nie. Of erger – steek iemand anders aan wat sterf. Die harde realiteit is egter dat as dit gebeur, dit die gevolg is van haar ten volle ingeligte keuse.

Dis ’n bitter pil.

Dalk het dit tyd geword dat ons, soos wat Oostenryk aanvanklik het, net dié wat nie wil inent nie, in ’n grendelstaat te plaas. Die res van ons, dié wat ons plig teenoor onsself en ons gemeenskap nagekom het, moenie saam met hulle gestraf word nie. Laat ons toe om na normaal terug te keer.

Lees ook:

Paasnaweek en die derde vlaag

COVID-19: Die jongste | The latest

Waarom ’n entstof jou lewe kan red, maar nie jou DNS kan verander nie

 

  • 5

Kommentaar

  • Jy is so reg. In baie artikels word die regses en tinfoeliehoedjies as antivaksers uitgemaak. Een joernalis het haar hele artikel gewy aan Afrikaners wat voorloop met die malligheid. Ek het te doen met mense uit verskillende etniese groepe, asook geleerdes en ongeleerdes, wat skepties staan. Wonder of dit nie is dat die politici die hele saak uit die medici se hande geneem het en mense so wantrouig maak nie.

  • Bettina is reg. Die stommiteit van nie-vaksineer takel net soos die virus enigeen sonder aansien des persoons. Selfs mens se beste, geleerde, belangrike en/of welgestelde vriende.

  • Dit is mi 'n kwessie van geloofwaardigheid.Die ANC het in die onlangse munisipale verkiesings groot terugslae ondervind want die paty se geloofwaardigheid was op die spel. Hoe oortuig jy mense na soveel onvervulde beloftes en waar jy nie eers jou eie organisasie se werkers betyds kan betaal nie en waar daar nie dienste is nie en op plekke rioolvuil deur strate en soms huise loop, dat vaksinering hul gaan beskerm teen 'n virus waarmee die beste van die bestes mee worstel om dit onder die knie te kry.

    Voeg daarby dat onder die regering SOE'S leeg geplunder is en min van die plunderaars al agter tralies sit en sommige nog steeds beskerm word, dan sal jy begryp dat woordvoerders van die regering 'n opdraande stryd voer om mense te oortuig dat jy hulle vandag moet glo dat die "jab" jou beste verskansing teen die virus is. Dat as jy siek word jou kanse om in hospitaal te beland en suurstofbehandelling te kry veel kleiner is as die wat die "jab" om 'n vele redes vermy.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top