Genees die tablet of gee dit kopseer? ’n Gesprek oor tegnologie by die huis en in die klas

  • 0

Onlangs het daar ’n LitNet Akademies (Opvoedkunde)-artikel rondom tegnologie in die klaskamer verskyn. Lees die artikel hier.

’n Gesprek is reeds hieroor op LitNet geplaas. Lees dit hier.

Naomi Meyer praat, uit ’n ouerlike oogpunt, nog verder met Ria Taylor, Estelle Kruger en Jean Vermeulen oor tegnologie in die klaskamer.

Naomi: Ek het twee kinders in die laerskool en dink na oor die rol van tegnologie in my kinders se lewens. Dit is so dat hulle digitale inwoners is en ons as ouers digitale immigrante, wat tegnologie minder gewoond is as hulle. My vraag is: As hulle reeds in oormaat met tegnologie gebombardeer word, waarom dit dan ook in die klaskamer gebruik?

Ria: Naomi, as ’n onderwyser fyn beplan, kan tegnologie nuttig wees; byvoorbeeld 10 minute aan die begin van ’n les om fokus te verkry deur die gebruik van Quizlet of Kahoot (spelgebaseerde leer). Die onderwyser baseer die spel op die lesdoelwit. Verder is dit nuttig vir die vervanging van gedrukte handboeke, want die leerders se tasse is ligter.

Ten einde ’n oormaat te verhoed is dit ook die taak van die ouers om seker te maak dat leerders verstaan dat tegnologie nie heeltyd beskikbaar is nie, maar dat ’n gesonde lewenstyl gevolg behoort te word.

Estelle: Ek wil saamstem – net as ouers dit sonder grense toelaat, kan kinders tuis gebombardeer word.

Jean: Elke dag op kantoor gebruik jy sekerlik tegnologie. Dit is deel van ons lewens. Daar is geen manier om dit te vermy nie. Daarom is dit ons taak as onderwysers om dit te intergreer in lesse sonder om dit te laat voel asof ons iets “ekstra” gebruik, asof dit een of ander foefie is. Tegnologie kan onderwysers, leerders en ouers se lewens vergemaklik indien dit korrek gebruik word. Andersins is dit net ’n las en skole sal die tegnologie na ’n paar jaar uitgooi omdat die integrasie daarvan nie goed beplan is nie.

Naomi: Ek wil met julle gesels oor gefokuste aandag. As volwassene besef ek hoe maklik my eie aandag van 'n aktiwiteit afgetrek word deur iets soos die sosiale media. Hoe kan 'n onderwyser die sosiale media tot sy voordeel gebruik sonder dat kinders vasgevang of verstrengel raak in die voortgaande kyk van nog meer en meer YouTube-video's? Hoe behou 'n kind sy fokus, hoe help ’n volwassene 'n kind om sy grense op die internet te stel?

Ria: Sosiale media het voordele, maar kinders behoort bewus gemaak te word van die etiek van sosiale media – hulle moet opgevoed word in die gebruik daarvan. Leerders leer soms die gevolge of nadele van sosiale media eers wanneer hulle self oortree, byvoorbeeld deur kuberboelie en die plaas van verkeerde foto’s op Instagram.

In die klaskamer kan daar ’n forumgesprek gevoer word waar leerders self die voor- en nadele bespreek. Dit is veral die taalonderwyser wat gesprekke en skryfwerk kan gebruik om kwessies aan te spreek. Tegnologie kan in die klas ingspan word om werklike-wêreld-kwessies te bespreek.

’n Vaardigheid wat in die 21ste eeu as een van die vaardighede gestel word vir sukses in jou loopbaan, is juis selfdissipline en selfgerigtheid. Dit behoort die taak van ouers en onderwysers te wees om leerders se digitale geletterdheid te ontwikkel (P21 2017). Net soos my ma my geleer het dat ek nie die heeltyd met ’n storieboek in die hand kon sit nie, net so behoort ons kinders te leer dat daar ’n tyd en plek vir tegnologie is.

Kinders behoort die etiek van tegnologie aan te leer (sogenaamde netiket) – die probleem is egter dat die digitale immigrant (dws ouer) die digitale boorling (kind) hierdie vaardighede behoort te leer, maar die ironie is dat die kind soms vaardiger as die ouer is. Dis nogal ’n dilemma, want ’n 21ste-eeuse ouer het nie die ervaring om te weet hoe om die riglyne daar te stel nie, want soms is die ouers self vasgevang en verstrengel. Ons het beslis meer navorsing in dié verband nodig!

Die oplossing lê dalk moontlik in my ma se wyse woorde: “Pasop vir enigiets wat ‘te’ is – nét ‘te voet’ en ‘te perd’ is reg” – ’n ou spreekwyse, maar dalk van pas in ons digitale eeu.

Estelle: Ria se antwoord som dit goed op. Die ouers het nodig om leiding te gee en ’n gesonde voorbeeld te stel, byvoorbeeld deur nie die televisie die heeltyd by die huis aan te laat wees nie.

Jean: Ek sien nie veel nut vir sosialemediaplatforms in die klaskamer nie. Sosialemediaplatforms is vir kinders soos wat briefskryf, dagboeke en foonoproepe was. Ouers het dit gemonitor, maar nie betrokke geraak nie. Om Instagram met ’n les te integreer is soos om vir kinders te sê hulle moet hul dagboek oopmaak en vir jou wys wat hulle geskryf het. Ons taak as onderwysers en ouers is, soos wat Ria verduidelik het, om leerders te help om die aanlyn omgewing beter te verstaan en om hulle te help om grense te stel vir hulleself en dit te respekteer. 

Die belangrikste deel van die integrasie van tegnologie in die klaskamer is klaskamerbestuur. Ria verwys daarna as netiket. Jy kan nie net ’n tablet in ’n kind se hand druk en verwag dat hulle gaan weet wat om te doen nie. Dit word aangeleer by die huis en ook as deel van ’n geheel in ’n skool.

Onderwysers kan egter sosialemediaplatforms tot hul voordeel gebruik om ’n netwerk te vorm en by mekaar te leer. Daar is verskeie onderwysergroepe op Facebook en hutsmerke op Twitter waar onderwysers daagliks interessante idees en beste praktyke deel.

Naomi: Die regering wil graag vir alle skoolkinders tablette gee. Maar wat skort met 'n handboek? Wat is die voordele van 'n tablet wat so swaar weeg dat daardie geld nie eerder gebruik kan word om meer onderwysers aan te stel, of te sorg vir skole se infrastruktuur nie?

Ria: Sjoe, hierdie saak lê na aan my hart – ek dink óók die regering behoort eers meer onderwysers aan te stel; infrastruktuur uit te brei, soos die tekort aan klaskamers aan te spreek en deur eers die onderwysers vaardighede te gee om die verband tussen tegnologie- en kurrikulum-integrasie uit te sorteer alvorens leerders tablette ontvang. Die fokus behoort die onderwyser te wees, want die onderwyser gaan die rol as fasiliteerder by e-leer vervul.

Dit is egter moeilik om onderwysmetodes te laat byhou met die spoed waarteen tegnologie verbeter en ontwikkel. Tegnologie het verander en die leerders ook, maar die kurrikulum en die onderwysopleiding het nie saam verander en gegroei nie; daar is nog geweldig navorsing oor hierdie aspek nodig.

My opinie is dat elke onderwyser eers in die klas bemagtig behoort te word in die gebruik en integrasie van tegnologie in hul vakgebied alvorens leerders dit effektief in die klaskamer kan gebruik.

’n Handboek op ’n tablet is net vervanging (Puentedura 2006) – daar is nog geen sprake van onderrig of e-leer nie. ’n Voordeel is dat die e-handboek die swaar skooltas ligter maak en leerders maak notas en opsommings direk in sekere e-handboeke.

Estelle: Ek verwys graag na Johann Burger se onlangse navorsing en sy artikel in Netwerk24[1]  waarin hy meen dat die voorbereiding van ons jeug (en ouers) vir die tegnologiese era en sogenaamde vierde nywerheidsrevolusie nie noodwendig rekenaars of tablette verg nie. Hy argumenteer dat ’n deel van die oplossing lê in iets so eenvoudig soos die kreatiewe aanwending van ruimtes by skole.

Jean: Of ’n handboek nou op ’n tablet is en of dit gedruk is, dit bly ’n handboek. E-boeke is nie e-leer nie (net soos wat Ria sê). Die hele idee van handboeke is in elk geval argaïes omdat inhoud so vinnig verander. Tablette met internettoegang verander heeltemal hoe jy onderrig. Navorsing kan daar en dan gedoen word; kinders kan aanlyn werk ontvang, aanlyn toetse skryf, saamwerk op Google Docs en beter werk skep as op papier. Interaksie met die onderwyser verbeter wanneer tablette gebruik word, en dit gee onderwysers ook meer kans om te differensieer in die klas.

Naomi: Op watter positiewe maniere kan tegnologie in die klas gebruik word?

Ria: As die onderwyser vaardig is, is daar meer positiewe as negatiewe maniere. Tegnologie kan gebruik word vir spelgebaseerde leer; tydens die omgekeerde-klaskamer-model, want sodoende kan meer kontaktyd verkry word; papierlose notas in Google-klaskamer en die plaas van visuele materiaal; die indien van werkstukke aanlyn; kommunikasie met ’n onderwyser na skool; en selfs ander klasse in jou eie skool.

Die assessering van skoolwerk deur selfnasientoetse (Quiz in Google Forms). Daar is byvoorbeeld drie Afrikaans Huistaal-klasse en die onderwysers wil graag die inhoudsbegrip van die leerders in die roman toets. Dit impliseer vir die taalonderwyser nog nasienwerk, maar deur aanlyn en selfnasientoetse kan die leerders dit aanlyn indien en binne sekondes hul punte asook die verspreiding van punte ontvang.

Leerders kan tegnologie gebruik vir toegang tot aanlyn woordeboeke; hulle kan saam op dokumente werk; hulle kan op geskikte platforms gesprekke voer en opdragte voltooi.

Estelle: Dalk kan skole iets soos “ouer en kind en tegnologie”-dae organiseer om die spanning/konflik te medieer en te help dat die verskillende generasies saamwerk op die rekenaar. Ouers kan baie by hulle kinders leer as daar so ’n positiewe ruimte geskep word.

Jean: Ria het uitstekende idees. Ek is tans by ’n laerskool en leerders moes van Google Slides (soos PowerPoint) gebruik maak om ’n afdeling van die werk oor Antieke Egipte na te vors en aan te bied aan die klas. Hulle het saamgewerk op die Slides op toestelle in die klas en het boeke (ja, boeke van die biblioteek) en aanlyn hulpmiddels gebruik vir navorsing. Dis nie die mees vernuwende manier van tegnologie-integrasie nie, maar dit was ’n selfleer-ekspedisie, waartydens leerders die geleentheid gekry het om self iets te ondersoek en aan te bied sonder om nóg ’n plakkaat te maak.

Die manier waarop kinders werk aanbied, is regtig beter. Hulle kan keuses kry oor hoe om hulle werk aan te bied, bv ’n potgooi, aanbieding, opstel, video of enige ander manier wat geskik is. Dit maak leer meer outentiek.

Jy kan alles doen wat jy nog altyd in jou klas gedoen het, maar net op ’n interessanter manier. Dis stap 1 – vervanging – maar stap 2 is wanneer jy tegnologie gebruik om dinge te doen wat jy nié voorheen kon doen nie. Soos byvoorbeeld om lesse op verskillende vlakke aan te bied, of om selfgedrewe leer meer van ’n realiteit te maak. 

Naomi: Die afgelope tyd is dit in die nuus hoeveel kinders in die sosiale media boodskappe kry om hulself te skend. Van die nuus is vals, soos die nuus rondom Momo. Maar daar is ander YouTube-video's waarop kinders per ongeluk kan afkom wat werklik bestaan en baie skadelik is. Watter sagteware kan ouers aflaai wat kinders teen hierdie soort inhoud beskerm?

Ria: Ek het die volgende internetwerwe tydens ’n soektog ontdek:            https://www.parenting.com/article/keeping-your-child-safe-on-the-internet

https://www.youtube.com/watch?v=FcGOgCb_tbQ

https://www.youtube.com/watch?v=fHUVwF80Hgg

https://www.youtube.com/watch?v=NqlTOOY9CIo.

Dit is interessant dat daar genoeg wenke vir ouers bestaan wat gebruik kan word tydens die opvoeding van die kind; ouers behoort dalk net meer bewus gemaak te word. Die kritiese en etiese denke van ’n kind behoort as ’n vaardigheid in die 21ste eeu ontwikkel te word.

Momo is ’n realiteit aanlyn; dis belangrik dat ouers met hul kinders kommunikeer as hulle bewus raak daarvan. Dis dalk waarom ouers die bostaande webwerwe behoort te besoek, want ons het almal nog so baie om te leer oor tegnologie – dis asof ons almal een stappie agter is en nooit kan voor kom nie.

Jean: Daar is verskeie instellings wat jy op jou kind se YouTube-rekening kan verander. Hulle kan ook byvoorbeeld net YouTube Kids gebruik. Jy kan ook “parental restrictions” op hulle fone sit. Installeer ’n Adblocker op jou webblaaier om ongewenste advertensies en sogenaamde click-bait van enige YouTube-video en webtuiste te verwyder.

Hier is ’n paar apps wat gebruik kan word:

https://www.tomsguide.com/us/best-parental-control-apps,review-2258.html.

Naomi: Is die tegnologie 'n beter leermeester as 'n ander alternatief, soos 'n uitstappie in die natuur byvoorbeeld?

Ria: Ek dink nie tegnologie is beter of die natuur is beter nie. Die twee aspekte is belangrik vir enige persoon en dis ons as ouers/onderwysers se plig om die balans te probeer vind. Ons kan deur albei geweldig baie leer. Ek dink ook nie tegnologie is ’n “leermeester” nie; ek weet wel as hy jou baas word, dan ly ander belangrike aspekte van jou lewe skipbreuk. Tegnologie behoort ’n voertuig na kennis of kommunikasie, ensovoorts te wees, maar nooit die leermeester nie!

Estelle: Ek dink ook dat dit nie die een of die ander hoef te wees nie – dit kan aanvullend aangewend word, met byvoorbeeld iets soos ’n skattejag, wat immer gewild is.

Jean: Estelle het ’n goeie punt beet. Dit kan aanvullend gebruik word. Juis die ander dag het ek met graad 9’s ’n digitale “ontsnapkamer” (’n tipe van skattejag) gedoen, waar hulle in groepe hulle kennis moes gebruik om uit ’n situasie te ontsnap. Hulle was aktief besig en het geleer.

Onthou ook dat uitstappies duur is en met VR (virtuele realiteit) word dit vir almal meer toeganglik. Met Google Expeditions kan kinders byvoorbeeld museums van regoor die wêreld besoek, saam met haaie swem, of die middel van die aarde besoek met slegs ’n selfoon en ’n kartonbril.

Maar: pouse moet kinders rondhardloop en speel. Ons moet kinders leer om mekaar weer in die oë te kyk en te gesels en nie net te kuberklets nie. 

Naomi: As kinders reeds daagliks so baie tyd voor skerms spandeer, is dit nie inderwaarheid ideaal om hulle vir onderrigdoeleindes eerder outyds vanuit handboeke te onderrig nie?

Ria: Daar is beslis nog navorsing oor skermtyd nodig, want dit is ’n aktuele probleem. Deur net tradisioneel te wil onderrig omdat daar nog soveel kennis oor die invloed van 21ste-eeuse tegnologie benodig word, gaan egter meer skade as goed aanrig. Die 21ste-eeuse leerders, ouers en onderwysers gebruik klaar tegnologie; diegene wat meer kennis oor dié aspek het, behoort dit te deel, en ons het meer onderwysers in die navorsingsveld nodig. Die onderwyser gaan hier ’n belangrike rol speel en behoort bemagtig te word om te kan besef watter metode die geskikste in die klaskamer gaan wees.

Ek het onlangs Gottschalk (2019:30) se navorsing oor die uitwerking of invloed van tegnologiegebruik op kinders se kognitiewe, sosio-emosionele en fisieke ontwikkeling gelees. Gottschalk beklemtoon dat meer navorsing nodig is om die impak van tegnologie op kinders beter te verstaan, want opvoeders, ouers en gesondheidspraktisyns is ook bekommerd oor tegnologieskermtyd én of skermtyd die betrokkenheid in sekere gesondheidsbevorderende gedrag soos fisieke aktiwiteite, en eet- en slaapgewoontes beïnvloed of nie.

Estelle: Daar is te veel kompetisie met media om net terug te keer na tradisionele maniere om inligting oor te dra. Weer eens – ’n kombinasie kan die oplossing wees, al is dit net ’n “oopboek”-meervoudigekeusevraag-toets oor spelreëls uit die handboek. Ook kan dit met ’n Power Point-aanbieding of Excel gebruik word waar die wenke met ’n “drag and drop” gevolg kan word. Dan is daar ook die moontlikheid van ’n blog met ’n kletskamer[2] en stimulerende vrae oor gedigte of voorgeskrewe werke.[1]

Jean: Hoe jonger, hoe minder skermtyd. Ek is nie ’n groot aanhanger van laerskole (daar is selfs graad R’e) wat die heeltyd tablette of rekenaars gebruik vir onderrig-en-leer-doeleindes nie. In ’n hoërskool is dit ’n ander saak – die basiese motoriese vaardighede is reeds vasgelê en kinders is ook meer verantwoordelik en volwasse, en minder tyd hoef dan ook afgestaan te word aan hoe om ’n toestel te gebruik.

Ria: Die volgende woorde van Christian Lous Lange som die gevaar van onkundige gebruik uitstekend op: “Technology is a useful servant but a dangerous master.” 

Bibliografie

Gottschalk, F. 2019. Impacts of technology use on children: exploring literature on the brain, cognition and well-being, Parys: OECD Education Working Paper No. 195.

P21. 2017. Framework for 21st century learning.
Beskikbaar by http://www.p21.org/our-work/p21-framework
(25 Februarie 2018 geraadpleeg).

Puentedura, R. 2006. Transformatiom, technology, and education.  
Beskikbaar by http://hippasus.com/resources/tte/part1.html.

[1] www.netwerk24.com/Stemme/Aktueel/skep-ruimtes-vir-groei-20190306

[2]  www.boekwurm13.wordpress.com

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top