Tegnologie in die klaskamer: ’n onderhoud

  • 2

Die wêreld is besig om te verander. Behoort onderrigbenaderings aangepas te word om digitale boorlinge binne die klaskamer te akkommodeer?

Gesprek van Estelle Kruger met Ria Taylor oor haar LitNet Akademies (Opvoedkunde)-artikel: ’n Behoefte aan die integrering van tegnologie in die Afrikaans Huistaal-klaskamer om die ontwikkeling van 21ste-eeuse vaardighede te ondersteun: ’n gevallestudie

Wat is die agtergrond van jou studie – maw wanneer en hoe het jy begin om tegnologie in jou onderrig van Afrikaans te integreer?

Ek het van die begin van my loopbaan as onderwyser daarvan gehou om op ’n visuele en ouditiewe manier klas te gee; eers was dit die doodgewone truprojektor en CD-speler. Vandag is daar egter soveel moontlikhede en ek kon nie anders as om met die nuwe era se tegnologie te eksperimenteer nie.

Dit is dan ook die rede waarom ek die Departement Kurrikulumstudie by die Universiteit Stellenbosch  oor die moontlikheid vir verdere studie genader het. Michele van der Merwe het onmiddellik die relevansie van die onderwerp besef en sy is dan ook my studieleier en mentor tydens my PDd-navorsingsreis.

Die literatuur verwys na die kinders in die hoërskool in ons huidige tyd as digitale boorlinge en ook millenniërs – wat dink jy is die verskille en ooreenkomste tussen hierdie begrippe, indien enige?

Sjoe, Estelle, ek dink jy kan die vraag seker beter beantwoord as ek, want twee van die artikels wat ek tydens my speurtog na die gebruik van tegnologie in die Afrikaans Huistaal-klas raakgelees het, was joune!

Ek gaan tog probeer om dit raak te pen: Ek gebruik graag die term digitale boorlinge, want dit maak vir my as taalonderwyser sin, nadat Marc Prensky (2001:1) dit as volg omskryf het: “Our students today are all ’native speakers’ of the digital language of computers, video games and the Internet.” En: “They have spent their entire lives surrounded by and using computers, video games, digital music players, video cams, cell phones, and all the other toys and tools of the digital age.”

Die woorde “native speakers” het my onmiddellik getref – digitale “moedertaalsprekers”. Vir my het dit beteken dat hierdie leerders tegnologie saam met moedersmelk en -taal ingekry het. Die besef was angswekkend vir my as ’n onderwyser wat beslis nié met tegnologie grootgeword het nie en ek het besef dat die leerders vandag meestal deur onderwysers onderrig word wat nie werklik uit hul digitale lense kyk nie, maar baie vinnig behoort te verander.

Die verskil met die term millenniër ...? Die term millenniërs verwys “na tieners en adolessente in die eerste dekade van die een-en-twintigste eeu” (Kruger 2007:48). Ek dink die twee terme hou verband, want dit omskryf die verandering wat met die koms van tegnologie by die kind plaasgevind het.

Dit is belangrik dat onderwysers besef dat die wêreld verander het en dat onderrigbenaderings aangepas behoort te word om ons digitale boorlinge binne die Afrikaans Huistaal-klaskamer te akkommodeer.

Hoe sou jy die term digitale boorlinge verduidelik aan jou skoolhoof as jy vra vir ondersteuning van jou tegnologiese programme?

My skoolomgewing is ietwat makliker, want ek is geseënd met ’n bekwame skoolhoof wat reeds haar digitale hoed opgesit het. As ek egter minder “geseënd” was, dink ek behoort mens die begrip in gewone, alledaagse taalgebruik te verduidelik en dan sou ek ’n klasbesoek-afspraak maak en ’n demonstrasie in my klas hou om die leerders se vaardighede met tegnologie te demonstreer.

Kinders in jou klas weet dalk meer as jy van die kuberruim, sosiale media en digitale geletterdheid – hoe hanteer jy dit in die klaskamer?

Ek gebruik die kennis waaroor die leerders beskik tot my voordeel; ek het selfs in my klaskamer ’n tegniese assistent – as ek vasval, dan vra ek hulp en ontvang dit sonder dat hulle dink die juffrou is “dom”.

Dit is duidelik dat jou epistemologiese paradigma konstruktivisme is – hoe sou jy hierdie term in min of meer 25 woorde verduidelik aan ’n onervare onderwyser vir wie jy ’n mentor is?

In gewone, alledaagse taal is konstruktivisme die konstruksie van kennis deur die leerder self; leerders bou voort op reeds bestaande kennis en my rol as onderwyser is om die proses te fasiliteer en te begelei. Die leerder behoort self by die antwoord uit te kom en geleentheid gebied word om te reflekteer oor ’n spesifieke opdrag en ook geleentheid gebied word om self te skep (konstrueer).

As jy die skoolhoof was, hoe sou jy ’n indiensopleidingsprogram ontwerp om transformasie te bewerkstellig en onderwysers te ondersteun om tegnologie in die klaskamer te integreer?

Dit is belangrik dat die program deur almal ondersteun word. Dit behoort ’n skoolgedrewe program te wees en dan is ’n fasiliteerder nodig om “veranderingsbestuur” te hanteer, want daar is altyd diegene wat langtand is oor die integrasie van tegnologie. Die beginpunt is om seker te maak dat die infrastruktuur – die “superhoofweg” – vir die tegnologie bestaan. Dit is die “wi-fi”, die ondersteuningsnetwerk, die indiensopleidingsgeleenthede, die skep van ’n gemeenskaplike platform vir die skool, en natuurlik ’n positiewe leier wat kan voorstap. Daarna behoort elke onderwyser bemagtig te word met byvoorbeeld ’n skootrekenaar (begin ’n skootrekenaar-inisiatief) sodat elke onderwyser aan boord is.

’n Periode (20 minute) kan in die rooster ingebou word vir opleiding, sodat dit nie met die buitemuurse program bots nie. Tydens hierdie periode word demonstrasies gegee en onderwysers bring hul eie inisiatiewe tafel toe en deel met die res; buitepersone word ook genooi om insigte en vaardighede te deel en vakonderwysers word uitgedaag om hul stories te demonstreer.

’n Virtuele klaskamer vir onderwysers kan ook geskep word, byvoorbeeld ’n Google-klaskamer (as Google Classroom as platform gebruik word) en in die ruimte word vrae beantwoord en wenke deurgegee.

Dit is duidelik dat die KABV ten gunste is van die gebruik van tegnologie in Afrikaansonderrig, maar dit lyk of die toepassing daarvan nog nie in die klaskamers gebeur nie. Wat dink jy is die oorsaak hiervan?

Ek dink daar is heelwat kontekstuele faktore, soos finansies en infrastruktuur. Die eksamengerigte kurrikulum-uitgangspunt maak dit ook moeilik vir die onderwyser om met tegnologie te eksperimenteer. Die onderwysdepartement gee ook nie genoegsame erkenning aan skole wat alreeds e-leer beoefen nie, wat jammer is, want dié skole kan ’n bydrae lewer tot die ontwikkeling van e-leer op die voetsoolvlak van die onderwyser. ’n Benadering om net toestelle te voorsien is nie e-leer nie; deur net vir ’n leerder ’n tablet in die hand te plaas, is nié tegnologie-integrasie nie – daar is nog heelwat onkunde oor die integrasie van tegnologie. Die gebruik van ’n e-handboek in plaas van ’n gedrukte handboek is nie e-léér nie, dis slegs vervanging van die oue met die nuwe – soos die vervanging van die kleitablet met die gedrukte boek eeue gelede.

Dink jy daar is ’n verskil tussen die integrasie van tegnologie in die Afrikaans-klaskamer en dié van ander vakke? Verduidelik asseblief.

Die verskil bestaan in die benadering: die taalklas is die stoomenjin wat die verskillende geletterdhede behoort te dryf – die kind leer lees, skryf en krities dink. Net so behoort die taalonderwyser die 21ste-eeuse geletterdheidvaardighede (inligtingsvaardighede, kommunikasievaardighede, samewerkingsvaardighede, ens) binne die taalklaskamer te ontwikkel, sodat dit vir toepassing in die ander vakke gebruik kan word.

Digitale geletterdheid is ’n móét in die onderrig van onderwysers – hoe dink jy moet hierdie vaardighede aan toekomstige onderwysers ingeskerp word?

Studente behoort te begin by die ontleding van die KABV en daaruit moontlikhede vir tegnologie-integrering konstrueer. Skep byvoorbeeld ’n wiki of ’n blog en gebruik dit om ’n forumbespreking oor ’n spesifieke digter te doen; plaas dan ’n gedig en ontleed dit deur samewerkende leer en reflekteer krities op elkeen se bydrae – studente moet leer hoe om op mekaar se werk te reageer. Die belangrikste is dat studente bewus gemaak behoort te word van moontlikhede en dat hulle geleentheid vir eksperimentering behoort te kry.

Ek dink dis belangrik dat hulle na skole wat reeds e-leer beoefen, uitgeplaas word, sodat hulle die moontlikhede kan waarneem en omdat hulle digitale boorlinge is, kan hulle dalk ’n baie beter bydrae lewer as wat ons huidig doen.

Watter kritiek het jy in jou navorsing gekry (van kollegas of keurders)? Hoe het jy dit hanteer?

Ek kry meestal positiewe kritiek, want die onderwysers is gretig om meer te weet. Ek sou egter nie daarop wil roem dat ék baie weet nie. Ek word baie uitgenooi om my kennis te deel en doen dit graag. My navorsing het my egter laat besef dat dit wat ons weet, slegs ’n druppel in die emmer is.

Jou artikel is deel van ’n groter navorsingsprojek. Vertel asseblief vir ons daarvan sonder om jou geheime te verklap.

Sjoe, jy kan wéér sê “groter navorsingsprojek”! My navorsing is geskoei op drie gevallestudies en my eerste gevallestudie (artikel een) is klaar. Gevallestudie twee se navorsing is klaar en ek is besig om die data te ontleed; die laaste gevallestudie bestaan uit 10 onderhoude wat ek nóú, in Februarie, doen.

Ek het begin by die KABV vir Afrikaans Huistaal en ondersoek ingestel of daar werklik ’n behoefte is om tegnologie te integreer; die tweede geval is hanteer met onderwysers in die Wes-Kaap oor die gebruik van tegnologie in die Afrikaans Huistaal-klaskamer; en tydens die derde gevallestudie beweeg ek nog nader aan die onderwyser en die praktyk in die Afrikaans Huistaal-klaskamer.

Wat het jy van jouself geleer ...

in die navorsingsproses waar jy dokumente bestudeer het in verband met die integrasie van tegnologie in die onderrig van Afrikaans?

Die navorsingsproses het my geleer om selfdissipline en selfwerksaamheid tot die uiterste te beoefen. Ek het ook bewus geraak van die leemte wat bestaan oor die kennis van tegnologie-integrasie in die praktyk van die skoolklaskamer. Ek het begin besef dat daar ’n massa kennis in die hande van Suid-Afrikaanse onderwysers is wat nêrens opgeteken word nie en dat meer onderwysers oor die praktyk van die klaskamer behoort navorsing te doen. Elke onderwyser in Suid-Afrika behoort oor sy of haar “storie” te kan skryf.

in die proses om die artikel gepubliseer te kry?

Die proses om ’n artikel gepubliseer te kry is ’n reis op sigself. Die sleutel is: vasbyt. Ek weet nie of dit net ek is nie, maar ek het 13 weergawes tot en met die laaste keurderskopie! As dit nie ’n narratief op sigself is nie, dan swyg ek voortaan ...

Ek sluit af met Lien Botha se woorde in haar boek Wonderboom (2015): “Dit is die era van die ontgogelde digitale boorling en alle bronne is skaars ...”

Verwysings

Kruger, E. 2007. Die onderrig van millenniërs in die Afrikaans-klaskamer: Humormateriaal as onderrigstrategie. Tydskrif vir Taalonderrig, 41(2):47–67.

Prensky, M. 2001. Digital natives, digital immigrants. On the Horizon, 9(5):1–6.

  • 2

Kommentaar

  • André Badenhorst
    André Badenhorst

    Baie dankie vir die inisiatief en ook navorsing wat gedoen is. Is dit moontlik om die artikel – ter wille van groter toeganklikheid – op LitNet Akademies te plaas?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top