
vir Joseph Stanford
altyd by jou
in amber lamplig die arabeske mot
wanneer jy by jou lessenaar sit
geboë oor die vokalise in ambergrys genoteer
ʼn skuldbrief
aan bloederige slym
môreoggend
in ʼn wit porselein kamerpot opgehoes
die wat fyn luister
hoor soms in jou werk
op ʼn loopgang
treë
die een voet voor die ander neergesit
ʼn reis afgelê
tot hierdie staar
in Louis-Auguste Bisson se ateljee
jou hare
sorgvuldig gekrul
sakke onder die oë
geswolle gesig
die swart sykrawat
virginaal om jou nek gestrik
van onbesproke snit
in breë lapelle
jou jas van dienlike dik visgraatstof
oorskrydend naspeurbaar
ʼn druppel bouquet de Chantilly
met ʼn glasstoppertjie
op polse en in die waaie van arms gestip
jou hande
lig in jou skoot gevou
ʼn vitterige nabetragting
oor die afwerking in die fourchettes
van wit aandhandskoene
vanuit sy hoë nok
stoot die vlermuis ʼn twygwerk
vyfvingerig deur donker vlerke
dunner as voorhuid
tuimelend in skemer ontkluistering
klein flâneur
die self in sy kaatsing teruggevind
bo
die struik se skimmige koraal
vlymgrynsend
hangend tussen trillende patagia
die onteks van ontglaasde ogies
in waterklare lakwerk
die blom
in nagwit
ontfrommelend


Kommentaar
Mooiste beskrywende beelde ... so gemaklik vind selfs die vlermuis
sy plek. Dit noop my om weer 'n keer na Chopin se musiek te luister.
A beautiful poem; both poignant and enchanting. Your poetry brings me back to an era and makes me want to read more. Beautiful and eloquent words which breathe life into the page.