Four-legged life lessons: the legacy of Koos Opperman of the Free Sate: ’n onderhoud met Christa Kleynhans

  • 0

Four-legged life lessons: the legacy of Koos Opperman of the Free State
Christa Kleynhans
Uitgewer: Beyond The Vale Publishing

Kindle-uitgawe: Amazon

Christa Kleynhans praat met Naomi Meyer oor haar kinderboek Four-legged life lessons: the legacy of Koos Opperman of the Free State.

Christa, die afgelope tyd duik jou naam gereeld op LitNet op as ons inligting oor die Cape Flats Stories plaas. Wie is jy en wat is jou agtergrond?

Ek is in Welkom gebore en is oorspronklik van Bultfontein in die Vrystaat. Ek het op ’n jong ouderdom begin skryf en ’n liefde vir die kunste (meer ’n waardering) van my ouers geërf. My ma was ’n eksentrieke, intelligente laerskoolonderwyseres en my pa onder andere ’n hulpsentrumbestuurder gedurende apartheid. RSG het altyd in ons huis gespeel, 24/7. My ouers het baie gelees en ’n liefde vir opera het by my vlamgevat. Trouens, ek het selfs operasanglesse geneem toe ek 12 was. My grootste vertoef was in die biblioteek. Later jare het ek egter die Caffee Lights ontdek en naweke begin werk op die ouderdom van nege.

Beide ouers het egter hul werk verloor in 1985 en ons het by my ma se ma gaan intrek op Bultfontein. Talle lewenswaarhede het hulself geopenbaar aan my gedurende die onstuimige omstandighede (en nog steeds!), onder meer ’n paadjie wat ek stap met bipolêre gemoedsversteuring.

Gedurende my omswerwinge het my voete die stof van China, Saoedi en die Verenigde Koninkryk opgegaar voordat ek dit weer in Gauteng (Pretoria/Johannesburg), op die Vrystaat-vlaktes van Theunissen, Bultfontein, Welkom en Bloemfontein, en nou die Kaap afgestof het. Ek is tans betrokke by die Cape Flats Stories-slypskool wat beoog om minderbevoorregte skrywers die kans te bied om gepubliseer te word. Ek het ’n nasionale diploma in poedingmeganika (ek spot – voedseldiensbestuur) en ’n nagraadse onderwyssertifikaat in Engels vir senior- en VOO-fase. 

........
My digkuns is ’n “slice of life”: Ek spreek sosiale kwelpunte aan, iets wat soos Marmite is, want mense kan óf versot wees daarop óf dit pleinweg haat.
........

Jy het al vantevore vir LitNet gedigte geskryf, is ek reg? Wil jy dalk iets van jou gedigte en digkuns vertel?

My digkuns is ’n “slice of life”: Ek spreek sosiale kwelpunte aan, iets wat soos Marmite is, want mense kan óf versot wees daarop óf dit pleinweg haat. My liefdesgedigte is egter iets van ’n verbygaande aard: Red in awe. Life in poetryhet ’n magdom liefdesgedigte, terwyl Spieëlbuis omtrent geen liefdesgedigte bevat nie. 

Eldoradopark” is vir LitNet ingestuur en dit is in 2016 geplaas. Ek was reeds besig met “Kaleidoskoop-afgrond” (nou Spieëlbuis) en “Eldoradopark” en “Shebeen queen” (Duiwelsbene) kom uit die spesifieke boek.

Ek het gereken dit sou iets anders wees om gedigte in visuele media uit te druk sodat dit nie eendimensioneel sou wees nie en het gevolglik ’n projek saam met Will Robbertse van Dream Design Productions aangepak om vyf van my gedigte in kortfilms te omskep. “Eldoradopark” se kortfilm is verfilm en het gedebuteer op die Silwerskerm Filmfees in 2018 en was 18 maande op Showmax. 

Digkuns bemagtig my om oor kwelpunte te besin en om sodoende perspektief te kry. 

Jy het ’n kinderboek oor ’n hond uitgegee. Waar het jou idee vandaan gekom?

Koos Opperman was ’n legende in Bultfontein en ek het my verwonder aan die dier se intelligensie. “Wat sou gebeur as ’n hond kon praat?” het altyd by my opgekom. En as hy kon praat, watter wyshede sou mens by hom kon leer? Ek het besluit om Four-legged life lessons: the legacy of Koos Opperman of the Free State te pen as lewenslesse wat ons kan toepas. 

Vertel asseblief vir ons lesers waaroor die storie gaan, sonder om te veel van die intrige te verklap.

Koos Opperman was my pa se swart brak: baie mooi, baie intelligent en in gelyke mate temperamenteel. By hom het sekere gewaarwordinge my my aksies as mens laat bevraagteken: As diere kwansuis so “dom” is, hoekom het hulle ’n hoër geestelike vibrasie en ingesteldheid om ongekunsteld te handel? Hoekom bly ’n hond so lojaal, selfs al word hy hoe sleg behandel?

Wie het die illustrasies vir jou boek gedoen en hoe het hierdie persoon jou pad gekruis?

Raksha Chabalalsing is deur Soraya Hendricks aan my voorgestel toe ek haar oor die boek raadpleeg.

Diere kan mense se vriende wees. Het jy ’n spesiale dier of diere in jou lewe?

Ongelukkig net my kêrel se eiesoortige kat, Kitty.

Vir wie het jy hierdie boek geskryf? Wie is jou teikenmark?

Vir jong lesers en ouer lesers wat die lewenslesse na waarde sal skat.

Wie is jou gunstelingskrywers en lees jy ook graag self kinderboeke?

Ingrid Jonker, Elisabeth Eybers, Diana Ferrus, Willem Fransman jnr, Elias Nel, Anzil Kulsen, om net ’n paar te noem. Ek het my ma se boeke geërf en in onderwys lees ek baie kinderboeke.

Waar kan mense hierdie boek van jou koop?

Die digitale kopie is beskikbaar op Amazon, of mense kan my elektronies kontak by kleynhans.1980@gmail.com.

Lees ook:

Cape Flats Stories – ’n slypskool op Jeugdag: terugvoer deur Christa Kleynhans

Terugvoer oor die tweede Cape Flats Stories: ’n oorsig deur Christa Kleynhans

Eldoradopark

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top