
Cape Flats Stories-slypskool: Bergville Primêr is al jare lank die bymekaarkomplek van die gemeenskap. (Foto: verskaf)
Christa Kleynhans berig oor hoe ’n onlangse Jeugdag-slypskool in Bishop Lavis afgeloop het en verskaf besonderhede van soortgelyke slypskole in die toekoms.
Jeugdagslypskool te Bergville Primêre Skool in Bishop Lavis het vroegdag afgeskop ten spyte van ongure weer en slaggate in die omliggende paaie. Bergville Primêr is al jare lank die bymekaarkomplek van die gemeenskap.
Sowat tien volwassenes het by die slypskool opgedaag, van wie vier op die skrywerspaneel gedien het. Hierdie vier skrywers is Hilton Thomas, wat tong-in-die-kies-gedigte skryf asook oor sy wedervaringe met kanker en depressie; Kevin Rhodes, wat stories uit sy kinderjare skryf ter bemoediging van sy suster; Nina Pannels, wat oor lewensgebeure dig; en Theolla Langenhoven, wat oor gemeenskapskwale en –kwessies skryf en dig.
Barend van der Merwe, wat letterkunde aan die UWK studeer, en Aleem Abrahams, ’n skoolhoof, was ook daar.
Cape Flats stories se paneel bestaan uit Julie Daniels (skrywer van oa “Gediggies van die Kaap”; Stanley Jacobs (skrywer van Cape Flats stories se paneel bestaan uit Julie Daniels (skrywer van “Gediggies van die Kaap” o.a), Stanley Jacobs (skrywer van “Cape Flats Love Story”, “ Cape Flats Undercover)” Shaun Warner (opgeneem in “Seisoene” – saamgestel deur Barbara Smith, “Ma’s en kinders” – Barbara Smith, en “Die Duiwel het cash vi’rrie Kaap betaal“) toneelskrywer, aktivis en digter; en Christa (Christina) Kleynhans (skrywer van “Red in Awe- Life in Poetry”, “Spieëlbuis”, “Melk en lemoensap”, “Four-legged Life Lessons – the Legacy of Koos Opperman of the Free State”, sowel as die kort film “Eldoradopark” wat in 2018 sy debuut gemaak het by Silwerskermfees. Opgeneem in “Liewe Ma, liewe vriendin” en semi-finalis by SABC2 Lentswe Poetry Project).
Die atmosfeer was baie persoonlik en intiem.
Aleem Abrahams, wat al 39 jaar betrokke is by Bergville Primêre Skool en een van die stigterslede van Bishop Lavis Action Community is, het die personeelkamer vir ons beskikbaar gestel om die slypskool te loods. Hy is ‘n ware aktivis wat dié gemeenskapsprojek na waarde skat.
Cape Flats Stories se mandaat is om minderbevoorregte skrywers die kans te bied om gepubliseer te word. Die werkswinkels se opbrengste word gebruik om die publikasiekostes te dek. Die twee boeke – ’n digbundel en ’n versameling kortverhale – sal deur NS Skrywershuis gepubliseer word.
“Digkuns en emosie”
Die keuse van die vakansiedag is ook nie blote kismet nie. Shaun Warner het in sy beweegrede aangevoer dat die rol van die digter/skrywer die waarnemer van die tyd is in sy/haar direkte omgewing. Ongerieflike waarhede is ‘n digter se kos; vrae wat die status quo omseil, is dikwels ’n digter se ammunisie.
Samevattend kan gesê word: Ons leef in ’n eeu wat dikteer wat mag geskryf en kan geskryf word in die woke- en cancel culture-era. Digters en skrywers se stemme word stilgemaak. Die rol van skrywers/digters is om die geskiedenis uit hulle perspektief neer te pen vir die nageslagte as barometer vir die samelewing se knelpunte.
Daar is afgesluit met ‘n “oop mikrofoon”-sessie, waarna verdaag is.
Opkomende werkswinkels
- 8 Julie 2023: Die evolusie van Afrikaans na Afrikaaps. Vir leerders. Besonderhede sal volg.
- 15 Julie 2023: Die evolusie van Afrikaans na Afrikaaps. Vir volwassenes. Besonderhede sal volg.
- 22 Julie 2023: Die krag van die pen. Vir leerders. Besonderhede sal volg.
- 5 Augustus 2023: Die krag van die pen. Vir volwassenes. Besonderhede sal volg.
Indien jy graag die werkswinkels sou wou bywoon, kontak Christa per e-pos by kleynhans.1980@gmail.com.
Lees ook:
Kommentaar
Dankie aan almal vir 'n merkwaardige geleentheid om kennis en 'n stem te gee aan ons mense. Krediet word gegee aan almal en besonders 'n skoolhoof, ten spyte van 'n moeilike loop om terug te ploeg in 'n gemeenskap. As digter is woorde my tuiste vir my oomblikke van hartseer, donkerte, geluk en 'n stryd om te oorleef. As skrywer ook van UWK was ons stem stil gemaak, ons geleenthede skraal om te publiseer. Ons werkstukke is uitgebrand of weggegooi, of iemand anders het dit gebruik en nou is dit weg. Waar is die werke van ons voorgangers? Soos woorde agter tralies, 'n gesig onbekend, 'n generasie van onreg, 'n vergete kind, my liefde omgekeer. Hierdie is werke wat ons uit ons gemeenskappe gekry het, vandag is dit ander se werke, maar nie van ons tyd nie. Dit maak seer dat ons nie kon luister na mekaar nie, ons beproewing kon deel, ons kultuur kon uitleef, ons stryd, ons saamstaan, ons stem is stil, toegesluit in woorde wat ons kinders selde wil lees.
My pleidooi is dat dit 'n stem moet word sodat ons liefde kan kweek vir ons gebrek aan woorde en nie 'n slapende stem wat verdwyn en stil word nie. Ons het voorheen werkstukke gestuur en dit het verdwyn, as ons hoop saai laat dit lewe gee aam 'n sterwende generasie van woorde en erkenning dat elke een 'n pad geloop het om taal lewe te gee. Dat elke werkstuk 'n verhaal is van 'n gesig wat ons selde ken. Voorspoed met my taal, my liefde, my uitroep, my hartseer, my hart se punt, my vlug, my geheim, my verlore stem. Ek is vandag 'n kind van 'n verlore tyd en geleentheid, my foute groot, my siel gebreek, my waarde bestaan nie.
Ek kan net hoop dat vorentoe nog stemme bygevoeg kan word, en nie net letterkundiges nie, maar 'n growwe diamant waar 'n pen en stuk papier die skepping is van ons Hollywood-movie.
Dankie Christa en al die ander. Ek was ook fotograaf en is baie ingenome dat my drie foto'tjies hier pryk.
Die moontlikhede vir selfpublikasie is uitstekend vandag. Die tegnologie bring dit binne bereik. Ek glo julle sal suksesvol wees en dat meer skrywers betrokke sal raak. Dit is 'n aangename vooruitsig dat hierdie skrywers se verhale vertel sal word.
David Leonard. Baie dankie vir die positiewe terugvoer. Kom loer gerus in by ons volgende slypskool en skryf daardie pen droog.