Fiksie, faksie ... of iets héél anders?

  • 1
Fiksie, faksie ... of iets héél anders? Oftewel: Waarom het jy nie liewer ’n roman geskryf nie?

Foto: Bru-nO op Pixabay

Laat ek dadelik my aandadigheid in die ope bring. Ek is die skrywer van Wieg, na die beste van my wete die eerste Afrikaanse historiografiese werk wat openlik as mikrogeskiedenis identifiseer. Maar wees gerus, dit gaan oor meer as net hierdie boek.

Ek is ook ’n onapologetiese apologeet vir mikrogeskiedskrywing, daardie vorm van geskiedskrywing wat ’n randfiguur, ’n vergete of mindere enkeling (ook plekke, klein groepe, gebeure en idees), onder ’n mikroskoop beskou, só ’n hele mikrokosmos te siene kry – die verlede voor jou oë tot lewe gewek – en dit oordra as verhaal wat aan bepaalde voorwaardes moet voldoen.

Maar voor ons daarby uitkom, eers ’n waarskuwing. Daar bestaan nie missiestellings of ’n samehangende stel praktyke, voorskrifte of riglyne vir mikrogeskiedskrywing wat sal verseker dat jy jou deurentyd op vaste (lees: veilige) grond sal bevind nie. Mikrogeskiedskrywing is nie ’n teoretiese dissipline nie, maar ’n “expository practice” (Cohen 2017: aanlynplasing). Vir hoofstroomhistorici wat sou kon aanvoer daar moet tog wel akademiese besinning oor mikrogeskiedskrywing wees, is daar nietemin troos.1

Mikrogeskiedskrywing is wel – in die wyngaard van historiografie – geënt op ’n onderstok wat diep gewortel is in grondige argivale ondersoek. Só word die nuwe variëteit teen willekeur beskerm, maar terselfdertyd gevrywaar teen die filloksera van droë feitelikheid en veilige akademiaans.

........
Mikrogeskiedenisse kan verbysterend onkonvensioneel wees as jy in die lees van makrogeskiedenisse geskool is. Hier word die leser gekonfronteer met ’n teks wat soos ’n historiese roman of faksie lees, maar dit tog nie is nie – en juis doelbewus nié.
........

Mikrogeskiedenisse kan verbysterend onkonvensioneel wees as jy in die lees van makrogeskiedenisse geskool is. Hier word die leser gekonfronteer met ’n teks wat soos ’n historiese roman of faksie lees, maar dit tog nie is nie – en juis doelbewus nié. Waar is die uitgedinkte dialoog en karakters, die verbeeldingsvlugte? Aan die ander kant: Waarom is daar ’n magdom eindnotas? Dit wil dan selfs voorkom asof die skrywer argivale navorsing gedoen het! Mens sou kon dink dis egte historiografie. Maar waarom is taal en genre dan nie streng teruggesnoei en volgens voorskrif gevleg nie? Die akkers nie mooi skoongeskoffel sodat slegs bewysbare feite oorbly nie? Hoe dan nou?

Wat wel duidelik is, is dat mikrogeskiedskrywing 50 jaar ná sy ontstaan nog volgehoue teen die klipbanke van voorskriftelikheid inbeur en dat daar deurentyd nuwe variëteite op die ou wortelstokke geënt word. Iets wat noodsaaklik is vir intellektuele groei.

Juis in mikrogeskiedskrywing se warsheid lê sy lewenskragtigheid waarskynlik opgesluit. Ek hou veral van Cohen (2017:13) se siening van die “gaily contrarian” aard van hierdie benadering. Hy skryf:

But microhistory, because marginal, institution-poor, and weakly sociable, is easily largely canon-free, mostly practice-driven, and often gaily contrarian. Meanwhile its habitual self-doubt and playful streak encourage eclecticism, wry subversion, and artful twists that can leaven the sodden conformity and routine that often weigh down scholars’ writing.

Dit was dié vryheid wat dit vir my moontlik gemaak het om Marie Buisset / Maria du Plessis se lewe onder die mikroskoop te ondersoek en dit in Wieg as verhaal te vertel. Sonder om ontrou te wees aan die grondbeginsels, of noem dit dan werkwyses, van mikrogeskiedskrywing. Met Wieg sou ek graag ’n bydrae wou lewer tot die beoefening van mikrogeskiedskrywing. En ook tot die teoretiese besinning daaroor, sonder om dit noodwendig in die boek uit te spel.

Wat hou hierdie werkwyses in?

Cuevas (2023:53) omskryf die jongste denke oor die kerneienskappe van mikrogeskiedskrywing soos volg:

[T]he main characteristics of this historiographical trend that emerged in the 1970s: a reduced scale of observation of the past that sheds light on macrohistorical contexts; a central role given to human agency; a conjectural approach to archival research; and a reliance on narrative structures.

Die ondersoek van primêre bronne, oftewel argiefstukke, lewer nie altyd ’n ryke oes op nie. Daar is min van die geringes in die vroegmoderne tyd wat egodokumente soos dagboeke of briewe nagelaat het. Wat daar is, is meestal kerkregisters, belastingopgawes, testamente, boedelinventarisse en hofstukke. Skraps. Fragmentaries.

Die groot vraag: Hoe dra jy hierdie navorsing oor?

As historiese roman, as faksie of as vertelling?

Beide faksie en historiese romans sou inhou dat lesers redelik maklik toegang tot die feite moet hê. In die geval van Hilary Mantel se historiese fiksie oor die tydperk van Henry VIII is daar tallose historiese geskrifte wat die agterdoek vorm van haar werke en waarteen dit gelees word sodat feit en fiksie ontwar kan word. Dieselfde geld faksie – historiese feite en/of persoonlikhede verweef met fiktiewe elemente. Romanskrywers kan in elk geval skryf wat hulle wil; historiograwe (wat insluit die skrywers van mikrogeskiedenisse) nié.

Boekomslag: Litera Publikasies, 2022

Ek wou met die verhaal van Marie/Maria in Wieg geen grys gebied hê waar waarheid en verdigsel mekaar ongemerk oorvleuel nie. Wat ek as feite stel, moes met argivale bronne of indertydse geskrifte ondersteun kon word.

Die begrafnis van Marie se bababroertjie wat net drie dae geleef het, móés as feit gestel word. In ’n historiese roman sou dit maklik aangesien kon word as iets wat ter wille van patos versin is. Vir lesers om te weet dit is ’n feit, sou hulle die inskrywing in die Bibliothèque Wallonne moes naspeur. Dit staan, sover ek kon vasstel, in geen ander maklik toeganklike sekondêre bron opgeteken nie.

Dieselfde geld die toneel tussen Maria en die kneg wat by haar wou weet waarom sy ’n siek slaaf saam met haar op die perd laat ry het. Dit sou aansienlike navorsing van ’n leser geverg het om dit as feit bevestig te kry. En ek wou onder geen omstandighede dat dit moes lyk ek het hierdie toneel ter wille van politieke korrektheid gefabriseer het nie.

Daarom wou ek met Wieg geen historiese fiksie, faksie of roman skryf nie, maar wou ek dit toegankliker as met ’n verhandeling maak.

Die oorgroter meerderheid resensente het Wieg as ’n verhaal, nie ’n verhandeling nie, beskou. Dit staan ook so in die subtitel, “Die verhaal van Maria du Plessis, née Marie Buisset, 1679–1751)”, en word etlike kere in die “Vooraf” herhaal.

Resensente, hoofsaaklik met literêre agtergrond, skryf dan ook dat Wieg “ten dele soos ’n populêre historiese roman” lees (Amid 2022). In ’n radioresensie (Radio Helderberg, 16 Maart 2023) sê Malene Breytenbach Wieg is “toeganklik, lees soos ’n roman ...”

Ook historici erken die bydrae van Wieg tot mikrogeskiedskrywing.

Die historikus en fiksieskrywer Dan Sleigh maak melding van ’n nuwe gebied wat Wieg op leesbare wyse bestryk:

Deur op Marie se lewe en loopbaan te fokus, word ’n lewendige beeld van die Kaapse samelewing in sy ryke verskeidenheid uitgebeeld. Daar is drama, droefheid en humor in hierdie hoogs leesbare geskiedenis, wat ’n totaal nuwe en baie interessante aspek van ons VOC-tyd aanspreek. (Sleigh 2023)

Lizette Rabe noem die boek “deel van ’n nuwe soort geskiedenis” en skryf dis “konkrete manifestasie van hoe mikrogeskiedenis éintlik die verhaal agter makrogeskiedenis is” (Rabe 2022).

Maar nie alle historici stem saam nie.

Lindie Koorts (Rapport, 11 Desember 2022) het as historikus skerp kritiek op Wieg en skryf: “Ek kon maar net die boek toeslaan, my hande in onskuld was en wens Kruger het dit eerder as ’n roman aangepak.”

Dit bring ons by die kern van die saak: die feit dat mikrogeskiedskrywing die enkelvoudige keuse tussen verhaal (roman) en verhandeling opgehef het.

........
Dit bring ons by die kern van die saak: die feit dat mikrogeskiedskrywing die enkelvoudige keuse tussen verhaal (roman) en verhandeling opgehef het.
........

Die verhaalmatige was van die begin af deel van die genetiese samestelling van mikrogeskiedskrywing.

Carlo Ginzburg, wie se vertelling van die Inkwisisieverhoor van die 16de-eeuse Italiaanse meulenaar Menocchio, Il formaggio e i vermi, vertaal as The cheese and the worms (1980), waarskynlik die goudstandaard verteenwoordig, het mikrogeskiedskrywing se narratiewe aanslag, gekombineer met argivale navorsing en gefundeerde veronderstellings, later so uiteengesit (Ginzburg 1993:24):

Thus, the hypotheses, the doubts, the uncertainties became part of the narration; the search for truth became part of the exposition of the (necessarily incomplete) truth attained. Could the result still be defined as “narrative history”? For a reader with the slightest familiarity with twentieth-century fiction, the reply was obviously yes.

Ook Giovanni Levi (2009) lê die klem op die verhaalmatige aanslag: “Microhistory needs, therefore, to be above all, an attempt: to narrate openly, without concealing the rules of the game followed by the historian.”

So was dit; so is dit steeds.

Franceska Mari (2013, aanlyn plasing), dosent in verhalende niefiksie aan Brown University in Amerika, sonder die vertelling as onderskeidende element van mikrogeskiedenis uit: “[T]he success of a microhistory is very much about storytelling, and rests on strengths not always prioritized in academia – a sensitivity to character and idiosyncratic detail ...”

Ook die akademikus Daniel Gifford (2021, aanlyn lesing) beskou die verhaalmatige aanslag as die krag van die genre, en skryf dit gee toegang tot groter narratiewe vryheid. Daarby: “It forces a historian to hone their storytelling ability.”

Thomas V Cohen skryf in ’n aanlyn plasing, “The larger uses of microhistory” (2017), dat hoofstroomgeskiedskrywing kan baat by die gemaklike verteltrant van mikrogeskiedskrywing:

[W]e microhistorians take to heart the story-teller’s art. ... Microhistory is keen to bring the past to life. Much scholarly prose these days does its best to kill the past entirely. ... Scholarese, the leprosy of academic writing! Microhistory eschews it.

Dit is historici – soos Rabe – wat self mikrogeskiedenisse geskryf het2 wat die krag van die verhaal as deel van mikrogeskiedskrywing insien en wat telkens probeer om begrip vir die genre, ook onder akademici, te kweek.

So ook prof Russel Viljoen wat in die inleiding tot sy boek Khoikhoi, Microhistory, and Colonial Characters at the Cape of Good Hope (2022: 10) skryf:

A fundamental characteristic of microhistory, is undoubtedly – the narrative – in other words, the construction of story lines and simply “telling the story”.

Maar dis ook die narratiewe, eintlik romanmatige, aard van mikrogeskiedenis wat maak dat sommige historici daarop neersien, skryf Lepore (2001:132). Die woord wat sy gebruik, is “disdain”.

Sedert die ontstaan van mikrogeskiedskrywing was daar taamlik strawwe teenkanting van hoofstroomhistorici en ander lui. Veral Germaine Greer se Shakespeare’s wife (2007), ’n biografie wat talle eienskappe van mikrogeskiedskrywing toon, het deurgeloop. Ek veroorloof my dit om daarna te verwys omdat die verontwaardiging nogal sprekend is; haar gebruik van die konjunktief kenmerkend van mikrogeskiedskrywing.

Peter Conrad (2007) vind dit onaanvaarbaar dat Greer die “onsigbare” Ann Hathaway, sigbaar probeer maak het deur middel van dokumente oor tydgenootlike vroue. Sommige van Greer se hipoteses is vir hom “wild-eyed, foamy-lipped enthusiasm” sonder bewyse: “The whole enterprise is a desperate venture into the subjunctive mood. Entire chapters are confected from guesses or hunches. So many sentences begin with the word 'if' that the book ends by seeming distinctly iffy.”

“Iffy” ofte nie, die konjunktief vorm deel van die erkende werkswyses van mikrogeskiedskrywing. Hiate in argivale bronne – in die vroegmoderne tyd dikwels skeurvalleie, dit wat Natalie Zemon Davis (2011:54–5) die “silences and gaps” noem – durf met gefundeerde hipoteses oorbrug word. Waar daar onvoldoende bewyse bestaan of hulle heeltemal ontbreek, speel kreatiewe of spekulatiewe rekonstruksies ’n onontbeerlike rol. Van randfigure in die vroegmoderne tyd het skaars meer as flardes behoue gebly – en selfs al bestudeer die mikrogeskiedskrywer die argivale bronne met obsessiewe toewyding, bly daar altyd leemtes.

........
Van randfigure in die vroegmoderne tyd het skaars meer as flardes behoue gebly – en selfs al bestudeer die mikrogeskiedskrywer die argivale bronne met obsessiewe toewyding, bly daar altyd leemtes.
........

Cuevas (2023:58) gee toe dat hoewel mikrogeskiedenis gegrond is op ’n intensiewe bestudering van argivale bronne, het die temas wat ondersoek word, nie altyd sistematies in openbare argiewe neerslag gevind nie: “However, the lacunae and missing data can sometimes be as eloquent as the documented information. It then becomes necessary to employ conjecture as a method, as Ginzburg proposed” (1980:5–36).

Ginzburg stel dit reeds in The cheese and the worms (1976:66) duidelik dat hy soms van aannames gebruik maak. Hy gebruik ook die aanvoegende wyse om dit as sodanig aan te dui. In ’n verwysing na ’n boek wat Menocchio sou kon gelees het en in ’n poging om te verduidelik (“we must also try to explain”) waar Menocchio aan sekere insigte gekom het, skryf hy:

Unfortunately, the only solution we’re able to suggest is purely conjectural, namely, that Menocchio might have had indirect knowledge of Servetus’s De Trinitatis erroribus, or had read the now lost Italian translation introduced into Italy about 1550 by Giorgio Filaletto, called Turca or Turchetto. (My beklemtoning.)

Let ook op die wyse waarop Ginzburg die leser by sy rekonstruksie van Menocchio se sienings betrek.

Ook Davis, wie se The return of Martin Guerre een van die klassieke mikrogeskiedenisse is, moes onvermydelik van afleidings gebruik maak en het die subjunktiewe wyse aangewend as retoriese strategie wat twyfel moes uitdruk.

Hieroor skryf Sudha Shastri (2015:7–8):

Reconstructing the Martin Guerre episode, Davis’s language veers towards the epistemologically unverifiable, with “[a]s best we can see” (Return, 27), “may have met” (38), “[a]s a ‘thought experiment,’ let us imagine what might have taken place” (38), “[t]his is a possible scenario” (39), “so one must surmise” (46)”, “[i]f I were to hazard a guess about the Martin Guerre case” (56), “[p]ossibly he did” (58, all emphases added).

Davis se onortodokse historiografiese benadering en haar gebruik van literêre handgrepe in die narratief het nie oral byval gevind nie. Waar Ginzburg lof gehad het vir haar kombinasie van “erudition and imagination, proof and possibility” (2012:70), het Finlay beswaar aangeteken teen haar “excess of invention” (1988:571) wat dit vir hom moeilik gemaak het om tussen historiografie en fiksie te onderskei.

In haar reaksie op Finlay skryf Davis dat sy kompleksiteite en ambivalensie oral sien. Sy is gewillig “to settle … for conjectural knowledge and possible truth" (1988:574) totdat sy iets meer afdoende vind.

Die leemtes in argivale bronne was iets wat ek ook moes verreken in my rekonstruksie van Marie/Maria se lewe in Wieg. Daar was byvoorbeeld geen primêre bronne oor haar vlug uit Sedan na Wesel nie. Ook niks oor haar seereis na die Kaap nie. Sy het geen dagboek gehou van haar werk as vroedvrou nie.

Om hierdie skeurvalleie te oorbrug, moes ek my verlaat op indertydse beskrywings van die vlug van Hugenote, reisbeskrywings van die susters Swellengrebel en Lammens oor hul reise tussen die Kaap en Nederland, en die dagboek wat ’n tydgenootlike Friese vroedvrou van bevallings gehou het.

Om aan te toon dat sekere van my aannames omtrent Maria buite bewysbare argivale bronne beweeg het, of berus het op wat ek feitelik kon vasstel van ander vrouelewens tydens die VOC-tydperk, moes ek ook van bepaalde stilistiese hulpmiddels gebruik maak. Dit het ek gedoen deur die gebruik van die aanvoegende wyse, oftewel epistemiese modale hulpwerkwoorde (“sou”, “kon”) saam met woorde soos “miskien”, “dalk” en so meer: “[D]is nie ondenkbaar nie dat Maria hierdie boek onder oë sou kon kry” (Wieg, bl 11).

Vir lesers om dit te kan dekodeer, en dit nie as feite te lees nie, moet hulle natuurlik die doel van modale hulpwerkwoorde begryp.

Die soektog, die quest, met sy suksesse en mislukkings en gebrek aan afdoende bewyse vir talle vrae wat jy het, is iets wat ook eie is aan mikrogeskiedskrywing en waarmee elke skrywer vrede moet maak. Op hierdie soektog durf jy ook lesers met jou saamneem, jou onsekerhede en vermoedens met hulle deel.

In sommige gevalle is dit juis die soektog wat as boeiende vertelling aangebied word.

Francois Verster het hom met Op soek na Jacobus Verster (2018) op die terrein van mikrogeskiedskrywing in Afrikaans begeef. Verster noem sy boek oor hierdie voorsaat van hom wat in 1732 gebore is en in 1782 gesterf het, ’n “kleingeskiedenis” oor ’n “volstrek onbelangrike persoon”. Hoewel dit nie as suiwer narratief aangebied word nie, skryf hy in sy voorwoord dat hy met dié boek ’n storie wou vertel, die “verlede lewendig” wou maak, eerder as om “droë feite” te verskaf (2018:5).

As professionele historikus het hy dit nodig gevind om sy navorsing, bronne en werkswyse te verduidelik, en as voormalige argivaris gaan hy onberispelik met sy primêre bronne om. Ook hy oorbrug die dele waaroor hy geen inligting het nie, met veronderstellings: “Ek neem aan ...” (126); “sou Jacobus seker gedink het as hy op sy stoep gesit het” (134); “Het Jacobus miskien aan sy kinders gesê ...” (134).

Verster neem die leser saam op sy soektog, in argiewe, in korrespondensie, en in fisiese verkenning van die plekke wat verband hou met Jacobus se lewe: Den Bosch (’s-Hertogenbosch) in Nederland, waar hy gebore is, en die plaas Oude Westhof teen die Tygerberg.

Die skrywer as navorser is deurentyd in die vertelling teenwoordig, en ook Verster rek die grense van die genre. Hy laat baron Pieter van Reede ’n denkbeeldige brief aan Jacobus skryf (69). Dit is niks ongehoords nie. Davis het selfs verbeelde gesprekke gevoer met die vergete vroue oor wie sy in Women on the margins geskryf het.

In Wieg laat ek Maria ’n fiktiewe vroedvrouhandboek lees om mediese sorg se oorgang van Middeleeuse wanopvattings na die moderner mediese wetenskap duidelik te maak en terselfdertyd vroedvroue se kundigheid aan te toon. Die doel met hierdie werkswyse was om inligting meer lesersvriendelik oor te dra as wat die meestal geykte praktyke van hoofstroomhistoriografie sou toelaat.

Anton Froeyman (2017:2) het dit so gestel:

Few developments in the writing of history have had such effect on both the public and the professional sphere as microhistory. Historians such as Emmanuel Le Roy Ladurie and Carlo Ginzburg not only revolutionised the way many professional historians thought about how stories of the past should be written, they also reached a surprisingly large lay audience while doing so.

Die historikus Bart de Graaff was een van dié wat hom juis op ’n breë gehoor gerig het met sy boeiende verhaal oor die lewe van ’n vergete Griekwakaptein.

De Graaff bied Barend Barends, die vergete kaptein van Danielskuil (2019) nie as mikrogeskiedskrywing aan nie, maar, soos met mikrogeskiedskrywing, val die klem op die historikus se soektog na die feite omtrent hierdie “vergete” kaptein van die Noord-Kaapse dorpie Danielskuil, wat 200 jaar gelede Barends se magsbasis was. De Graaff neem die leser saam op sy argivale soektog, deel sy “persoonlike indrukke en bespiegelinge” (9), sy opwinding oor vondste en sy teleurstelling met dit wat onnaspeurbaar is. Hy laat die leser inluister op sy gesprekke met Barends se nakomelinge. Alles naatloos deel van ’n onderhoudende vertelling oor Barends se lewe.

De Graaff sluit die vertelling van sy soektog af met:

Laatmiddag sit ek my notaboek, gunstelingpen en bandopnemer vir die laaste keer in my rooi plastieksak en stop dit in my handbagasie. Dit is tyd om na die lughawe en terug na Nederland te gaan. Dit is hoog tyd om ’n boek oor Barend Barends en die Griekwas van Danielskuil te skryf. (84)

Dit is waarskynlik presies wat Levi in gedagte gehad het met sy voorstel dat die mikrogeskiedskrywer by sy vertelling moet insluit “the procedures of research itself, the documentary limitations, techniques of persuasion and interpretative constructions” (1991:106, aangehaal deur Cuevas 2023:57).

Sue Peabody (2012: 8) vat dit só saam: “The microhistory’s great strength is the way it joins the elemental power of a good story-telling (characters, plot, description) with a postmodern commitment to revealing the architecture of historical research and exposition.”

Die navorser se gesigspunt en ervarings word dus deel van die vertelling. As skrywer speel jy oop kaarte met die leser, verklaar jy jou betrokkenheid, deel jy jou onsekerheid, verdedig jy jou gevolgtrekkings.

Dit is ánders as hoofstroomgeskiedskrywing se verslaggewing, wat gewoonlik presies en ongevaarlik is. In hierdie opsig mag hoofstroomhistorici die praktyk van mikrogeskiedskrywing dalk rommelrig vind, hul hande in die lug gooi omdat skrywers hul vertwyfelings ook met lesers deel. Maar dit is juis hierdie openlike gesprek met lesers wat die genre so leesbaar maak – die deelneem aan die soektog in die argief, aan die pynlik tydrowende ontsyfering van eeue oue dokumente in vreemde dialekte en handskrifte. Leser en skrywer staan saam en staar na ’n toegegroeide kuil op ’n afgeleë uithoek, of klouter uitasem teen Tygerberg uit.

Dis daar waar die verlede lewe kry. Weerspannig. Onvoorspelbaar. Maar met die reuk van mens.

In die lig daarvan dat mikrogeskiedskrywing so onderontgin is in Suid-Afrika (Engelbrecht 2018:1), verstaan mens waarom skrywer-historici soos Verster, Viljoen en Penn dit nodig gevind het om hul werkswyse in ’n woord vooraf te verduidelik.

Penn, met sy ontginning van randfigure, sommige uit die liminale ruimtes van die koloniale uitbreiding, durf die slotwoord hê oor die vertelling as vorm van historiografie (2003:5):

Though historical narrative may approach the truth it is not, of course, the truth. The reality of the past can only be partially represented and one of the ways to do so – perhaps the quintessentially human way – is to organise it into narrative structures. Historians, like other people, make sense out of reality by ordering it into story forms. Narrative is, indeed, an essential and defining element of history writing and I make no apologies for attempting to make stories out of the evidence I have consulted.

Ons is inderdaad maar almal mikrohistorici (Engelbrecht 2019), die vertellers van stories uit die verlede.

Daar is nog baie ander boeiende, dog vergete, verhale wat wag om vertel te word – mits die stemme van die storievertellers nie doodgesmoor word nie – en dít uit onbegrip vir mikrogeskiedskrywing, met al sy eise en eiesinnighede.

 

Bibliografie

Amid, Jonathan. 2022. Kosbare geskiedskrywing behoorlik vasgelê in dié wieg. Die Burger. 14 November 2022, bl 11.

Cohen, Thomas V. 2017. The larger uses of microhistory. http://www.microhistory.eu/index.php/2017/02/10/the-larger-uses-of-microhistory-thomas-cohen.

—. 2017. The macrohistory of microhistory. Bladsynommers stem ooreen met dié in ’n essay wat vooraf gedeel is. Daarna is dit gepubliseer in ’n spesiale uitgawe van Journal of Medieval and Early Modern Studies, 47:1(53–73).

Cohen, Thomas V, Peter Arnade, Paul Edward Dutton, Jonathan Gebhardt, Sara Petrosillo, Thomas Robisheaux en István M Szijártó. 2017. Microhistory today: a roundtable discussion. Journal of Medieval and Early Modern Studies, 47:1(7–52).

Conrad, Peter. 2007. Dr Greer on the warpath. The Guardian, 2 September. https://www.theguardian.com/books/2007/sep/02/classics.biography.

Cuevas, Efrén. 2023. New paths for exploring “history from below”: microhistorical documentaries. Panoptikum, 29(52–65). https://www.academia.edu/104296191/New_Paths_for_Exploring_History_from_Below_Microhistorical_Documentaries.

Davis, Natalie Zemon. 1988. On the lame. AHR Forum: The Return of Martin Guerre. The American Historical Review, 93:3(572–603). https://doi.org/10.2307/1868103.

—. 2011. Silences and gaps. What can the historian do with them? Fortid, 2(11):54–5. https://www.academia.edu/37223381/Natalie_Zemon_Davis_Silences_and_Gaps_what_can_historians_do_with_them_Fortid_2_11_April_2011_54_55.

De Graaff, Bart. 2019. Barend Barends. Die vergete kaptein van Danielskuil. Paternoster: Paternoster Books.

Engelbrecht, Christo. 2018. Micro-history, enviro-history and kleptocrats in South Africa. https://www.academia.edu/39452700/Micro_history_Enviro_history_and_Kleptocrats_in_South_Africa, ble 1–14.

 —. 2019. Are we not all micro-historians? Part 1. The question of size. https://www.academia.edu/39393242/Are_we_not_all_micro_historians_Part_I_The_question_of_size.

Finlay, Robert. 1988. The refashioning of Martin Guerre. The American Historical Review. 93(3):553–71.

Froeyman, Anton. 2017. Three layers of meaning in microhistory. Centre for Critical Philosophy, Universiteit van Gent. https://studylib.net/doc/8116382/layers-of-meaning-in-microhistory. In Wolfreys (red) 2017.

Gifford, Daniel. 2020. The last voyage of the whaling bark Progress. Daniel Gifford (lesing). New Bedford Whaling Museum, 4 Augustus 2020. https://www.youtube.com/watch?v=LUJaDO3U1CA.

Ginzburg, Carlo. 1980. Morelli, Freud, and Sherlock Holmes: clues and scientific method. History Workshop Journal 9:1(5–36).

—. 1991. The name and the game: unequal exchange and the historiographic marketplace. In Muir en Ruggiero (reds) 1991.

—. 1992. The cheese and the worms. The cosmos of a sixteenth-century miller. Vertaal deur John en Anne Tedeschi. Baltimore: The Johns Hopkins University Press. E-boek.

—. 1993. Microhistory: Two or three things that I know about it. Critical Inquiry, 20(1):10–35. https://www.journals.uchicago.edu/doi/abs/10.1086/448699?journalCode=ci.

—. 2012. Proofs and possibilities: postscript to Natalie Zemon Davis, The return of Martin Guerre. Threads and Traces: True False Fictive, Berkeley: University of California Press. https://www.degruyter.com/document/doi/10.1525/9780520949843-006/html?lang=en.

Ginzburg, Carlo (red). 1989. Clues: roots of an evidential paradigm. Clues, myths, and the historical record. Baltimore: Johns Hopkins University Press.

Ginzburg, Carlo en Carlo Poni. 1976. Il formaggio e i vermi. Vertaal deur John en Anne Tedeschi as The cheese and the worms. Baltimore: The Johns Hopkins University Press. 1992. E-boek.

Greer, Germaine. 2007. Shakespeare’s wife. Londen: Bloomsbury.

Grendi, Edoardo. 1977. Micro-analisi e storia sociale. Quaderni Storici, 12:35(2) (1977): pp. 506–520. In Peltonen, Matti, 2001.

Koorts, Lindie. 2022. Dié geskiedenis moes eerder ’n roman wees. Rapport Weekliks, 11 Desember 2022, bl 14.

Kruger, Joan. 2022. Wieg. Somerset-Wes: Litera Publikasies.

Lepore, Jill. 2001. Historians who love too much: reflections on microhistory and biography. Journal of American History, 88:141.

Levi, Giovanni. 2009. Biography and microhistory. Abstract, Universitat de València, “Documento Amsterdam”, unpublished discussion paper for specialized theme “Biography and Microhistory” at the 21st International Congress of Historical Sciences 2009. Onder deelnemers versprei. https://www.uv.es/retpb/docs/Florencia/Giovanni%20Levi.

Magnússen, Sigurdur Gylfi. 2003. The singularization of history: social history and microhistory within the postmodern state of knowledge. Journal of Social History, 36:3(701–35). https://www.researchgate.net/publication/249901580_The_Singularization_of_History_Social_History_and_Microhistory_within_the_Postmodern_State_of_Knowledge.

Mari, Francesca. 2013. The microhistorian. Dissent. https://www.dissentmagazine.org/article/the-microhistorian-2.

Muir, Edward en Guido Ruggiero (reds). 1991. Microhistory and the lost peoples of Europe. Quaderni Storici. Baltimore: Johns Hopkins University Press.

Peabody, Sue. 2012. Microhistory, biography, fiction. https://doi.org/10.4000/transatlantica.6184

Peltonen, Matti. Clues, margins, and monads: the micro-macro link in historical research. History and Theory, 40:3(347–59).

Penn, Nigel. 2003. Rogues, rebels and runaways. Eighteenth century Cape characters. Kaapstad: David Philip.

Rabe, Lizette. 2010. Living history – the story of Adderley Street’s flower sellers. Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Kultuurgeskiedenis, 24(1):83–104. https://core.ac.uk/download/pdf/37421066.pdf.

 —. 2012. Matriarch Julaiga and the story of a flower dynasty’s struggles. Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Kultuurgeskiedenis, 25(2):96–118. https://www.ajol.info/index.php/sajch/article/view/80815.

—. 2014. On microhistory, memoirs, memory, and the “Minnie Manuscripts”. Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Kultuurgeskiedenis, 28(2):93–115. https://hdl.handle.net/10520/EJC168474.

—. 2022a. The Augustson manuscript, microhistory, memoir, and memory. Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Kultuurgeskiedenis 36(1):35–62. https://doi.org/10.54272/sach.2022.v36n2a3.

—. 2022b. ’n Bespreking van Wieg deur Joan Kruger. ’n Lesersindruk: LitNet. https://www.litnet.co.za/n-bespreking-van-wieg-deur-joan-kruger.

Rabe, Lizette en Gillian Turner. 2008. A microhistorical record of “micromedia”: a community media journalist and her medium. Communitas, 13:57–73. https://journals.ufs.ac.za/index.php/com/article/view/932/923.

Sleigh, Dan. Generale missive, nuusbrief van die stigting VOC. VOC, 9 April 2023.

Sudha, Shastri. 2015. Modernist interventions in historiographic narratives: Natalie Zemon Davis and The Return rof Martin Guerre (1983). Referaat gelewer by die nasionale seminaar oor “Multiple modernisms”, gereël deur IRIS (Institute for Research in Interdisciplinary Studies), Jaipur, 25–27 September 2015.

Tedeschi, John en Anne. 1992. The cheese and the worms (vertaling van Ginzburg 1976). E-boek. Baltimore: The Johns Hopkins University Press.

Verster, Francois. 2018. Op soek na Jacobus Verster. Roodeplaat: Groep 7 Drukkers.

Viljoen, Russel. 2022a. Microhistory and reclaiming histories of the modest. In Viljoen 2022b.

Viljoen, Russell. 2022b. Khoikhoi, microhistory, and colonial characters at the Cape of Good Hope. Lanham: Lexington Books: Kindle-uitgawe.

Wolfreys, Julian (red.). 2017. New critical thinking. Criticism to come. E-boek,

 

Eindnotas

1 Daar kan selfs skole in die ontstaansgeskiedenis van mikrogeskiedskrywing aangedui word: die Franse Annales-skool en die Duitse Alltagsgeschichte. Nadat Italiaanse historici die term microstoria laat inslag vind het, ontwikkel konsepte soos “evidential paradigm” (Ginzburg 1980:96–125); “singularisation of history” (Magnússen 2003:19); “normal exceptional” (Edoardo Grendi 1977:506–20, in Peltonen ble 347–59); “metadiscursive strategy” (Cuevas 2023:57); en “conjecture as a method” (Ginzburg 1980:5–36 in Cuevas 2023:58).

2 Rabe, as kultuurgeskiedkundige en akademiese besinner, is ook ’n skrywer van mikrogeskiedenisse en akademiese artikels daaroor, onder meer oor Adderleystraat se blommeverkopers, wat sy een van die tot dusver vergete groepe noem (2010:7).

 

Lees ook:

’n Bespreking van Wieg deur Joan Kruger

Rabe versus Koorts: Wat staan ’n vrou nou te doen?

  • 1

Kommentaar

  • Francois Verster

    WIEG sal, soos dalk baie baanbrekerswerke, onderskat bly. Of, op 'n dag sal mense dit herontdek. Hopelik gou. Die tydperk waarin ons leef, is reg, of amper reg, vir hierdie soort skeppings. Geluk met 'n insiggewende artikel, Joan.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top