Rabe versus Koorts: Wat staan ’n vrou nou te doen?

  • 0

’n Ou herinnering duik op. Iewers uit die terrible tagtigs. Annie Lennox en Aretha Franklin wat sing. “Sisters are doin’ it for themselves.”

Ek soek dit op YouTube. Kry die official video van die Eurythmics. Die sisters cut dit kwaai. En daar’s visuals ook, van ’n grotman wat sy vrou aan haar hare sleep.

Die sneller vir die herinnering is Lizette Rabe. Verlede Vrydag deel sy haar reaksie op Joan Kruger se Wieg: die verhaal van Maria du Plessis, née Marie Buisset (1679-1751), Hugenoot en vroedvrou met LitNet se lesers.

’n Gerekende akademikus, ’n joernalis van aansien.

Lees mens haar “bespreking-nie-resensie-nie”, bewonder jy haar vir hoe vlug en ferm sy skryf. Asof sy Alondra de la Parra is, of beter nog, Ariane Matiakh, met ’n volle simfonie-orkes voor haar en ’n Mahler-partituur op die stander. Sy laat daai stokkie werk. Met woorde.

Rabe begin heel liries, opgewonde. Spoedig gee sy haar leitmotief: “Hierdie Wieg is deel van ’n nuwe soort geskiedenis. Nié oor ’n man uit die Kaapse koloniale geskiedenis nie, maar een van dié wie se stemme nooit gehoor is nie. Ons ken immers die meestal wit mans se name uit daardie koloniale geskiedenis. Maar hoeveel vroue kan jy lys?”

Dan kom die tweede beweging, meer besinnend. Want: “Maar moenie ’n historiese roman rondom die verhaal van die eerste vroedvrou aan die Kaap verwag nie. Verwag ’n stuk lewende geskiedenis, en jy sal nie teleurgestel word nie.”

Haar paragrawe word dramaties korter soos sy die rieme van tydgenootlike aakligheid verbind met Maria du Plessis se tyd. Dramaties kort, en dan verlangsaam dit weer, totdat sy die leitmotief verhef tot volwaardige tema: “Joan se werk – navorsing oor twee dekades, ’n láng geboorteproses – is mikrogeskiedenis in lewende getuienis van die enkeling. Nie makrogeskiedenis nie. Nie history – his story – nie. Nee, herstory. Mikrogeskiedenis, sogenaamde “history from below”.

Ek koop dit. Rabe is onder die ban van die boek. Sy gee moed, sy gee hoop. Sy is besig om met Wieg as teksvers iets baie groters te promoveer: die herbesinning, die herskrywing van die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Om die vrou haar regmatige plek te gee. Respek te betoon waar dit waaragtig waardig is.

Ek lees haar skrywe ’n tweede keer. Dis sterk politiek dié. Sy sou ’n uitstekende spreker oor hierdie onderwerp wees, want haar volgende stap is dié van iemand wat die retoriek bemeester. Of in simfoniese terme: Sy slaan oor na ’n gans ander tempo en inslag. Keer ons gedagtes in ’n ander rigting.

Rabe tref die nuwe sleutel in ’n soort vertroulikheid, ’n fluistering waarmee sy ons inlaat op ’n nuwe gedagte. Sy verduidelik presies wat ’n mikrogeskiedenis is en waar dit vandaan kom. Elke keer herlei sy dit na Maria du Plessis.

En dan kom sy weer tot ’n fermer, meer robuuste gang. Sy voer haar argumentasie terug na haar leitmotief: “’n Dringende herskryf van geskiedenis is nodig. Of dan: Om history in her story te verander.” Wieg, kan ons aanneem, is net die begin.

Hier is ek, Lizette. Ek is met jou. As die manne dan nie verstandig genoeg met die geskiedenis kan omgaan nie, laat ons dit self doen. Vir die susters wat voor ons gekom het. En hulle wat nog moet kom, dat hulle kan wéét.

Dat die knutselbedryf van Afrikaanse boekbesprekings onverwags soveel emosies uitlok, het my half onverhoeds betrap. Twee dae nadat Rabe my bloed laat bruis het, kom Lindie Koorts in Rapport en krap my gedagtes heeltemal deurmekruis.

Ons bevind ons in die belangrikste week van die jaar, polities gesproke. Maar ek kry net nie my aandag by die ANC se doodsdans nie. Koorts se siening van Wieg is nie ’n reaksie op Rabe nie. Kan nie wees nie – dit sal enigiemand wat Rapport se saktye ken jou kan vertel.

Koorts en Rabe het ’n gemeenskaplike aanvaarding van mikrogeskiedenis as procedé, maar hulle verskil oor die manier waarop Joan Kruger dit deurgevoer het.

Rabe het die boek aanvaar sonder kritiese bevraagtekening van die dinge wat Koorts hinder. Vir Rabe is die boek hoofsaaklik lofwaardig omdat dit so pragtig aansluit by haar opvatting dat die geskiedenis herskryf moet word om history uiteindelik her story te maak. Rabie het reg waar sy praat van ‘n “bespreking-nie-resensie-nie”, maar bespreking is dit ook nie volledig nie. Dis ’n betoog, en ’n betoog duld nie altyd ’n kritiese ingesteldheid nie. Dit verg net geesdrif.

Koorts is ’n vakkundige. ’n Historikus. Sy maak dadelik die problematiek duidelik: “Lees ’n mens die agterplat, dui dit op biografie wat as kreatiewe niefiksie aangepak word.” Die omslag laat haar aan dié van ’n liefdesroman dink. Rabe het die voorblad wonderskoon gevind. Vir my gevoel is dit ’n kuise ekwivalent van die voorblad van Wilhelm Liebenberg se As die nood hoog is.

Wat skort vir Koorts? Sy sê wanneer “geskiedenis en biografie aan ’n agenda ondergeskik gestel word, hoe prysenswaardig ook al, lê die gevare van romantisering en hagiografie en wink”. Joan Kruger se doel met die boek is “om aan Maria du Plessis en die vroue van haar tyd ’n stem te gee”.

Daar is genoeg aspekte aan die publikasie wat Koorts oortuig dat sy die werk as suiwer geskiedskrywing moet benader. En dan sien sy die mankemente raak: “Op die oog af lyk haar verwysings en eindnotas indrukwekkend, maar wanneer dit noukeurig nagegaan word, tree die swakplekke binne haar andersins omvangryke navorsing na vore.”

Ek gaan nie die besonderhede van Koorts se betoog hier uiteensit nie – dit is ’n argument waarin ’n mens geen denkdwaling kan vind nie. (Vir my gevoel is dit een van die sterkste resensies wat vanjaar verskyn het.)

Sy wys hoe die geskiedskrywing ondergeskik gestel word aan die strewe om ’n aangrypende verhaal te vertel en Maria te romantiseer. Haar verbystering oor Joan Kruger se aansny van ’n pseudowetenskap lei haar uiteindelik tot die besluit dat dit maar beter sou gewees het as Kruger ’n roman geskryf het (en by implikasie nie probeer het om voor te gee dat haar werk op baie sterk bene van geskiedkundige navorsing staan nie).

Wat staan ’n vrou nou te doen?

Ek koel glad nie af oor Lizette Rabe se versugting oor die herskryf van die geskiedenis nie. En Lindie Koorts se resensie is só helder en reguit dat ’n mens haar oordeel oor die boek volledig aanvaar.

Wat oorbly, is dat mens moet nadink oor die verwagtinge wat mens het wanneer jy ’n boek begin lees. Is jou mening oor wat op jou wag dalk reeds gevorm deur die seine wat die flapteks en omslag aan jou sein? Kan ’n mens aanvaar dat geskiedskrywing romanmatig kan wees? Kan ’n roman volledig geskiedkundig verantwoord wees? Meet jy jou leeservaring aan jou verwagtings van die boek, of aan die raamwerk waarbinne die boek geplaas is? Is ons sensitief genoeg vir die slaggate van agitprop?

Ek het gaan kyk wat Peter Ackroyd gesê het oor die biografieë en historiese romans wat hy geskryf het. Hy is meer begaan oor die “spirit of a place” as oor die mense self. Die fiksie wat hy geskryf het, was uit noodsaak, omdat daar nie genoeg historiese dokumentasie beskikbaar is nie. Van sy romans sê hy: “I enjoy it, I suppose, but I never thought I'd be a novelist. I never wanted to be a novelist. I can’t bear fiction.”

Ek wou afsluit met daai gesegde oor skoenmakers, maar dis só ’n patriargale ding om te doen.

Lees ook:

’n Bespreking van Wieg deur Joan Kruger

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top