Festival voor het Afrikaans 2023: ’n onderhoud met Marius Coetzee

  • 0

Prente bo: https://festivalvoorhetafrikaans.nl/; onderste klavierklawers: Iguanat op Pixabay

Marius Coetzee praat met Naomi Meyer oor die Suid-Afrikaanse klassieke musiekprogram by vanjaar se Festival voor het Afrikaans.

Marius, sal jy vir ons lesers vertel wat jou agtergrond is, asseblief, en wat jou konneksie met die Festival voor het Afrikaans is vanjaar?

Naomi, ek is die Innoverings- & Ontwikkelingsbestuurder aan die Odeion Skool vir Musiek aan die Universiteit van die Vrystaat.

Meer inligting oor my is hier beskikbaar.

Ek het voorheen ’n voorstel aan die kurator Ingrid Glorie gemaak of hulle dit nie dalk sou kon oorweeg om een konsert te wy aan Suid-Afrikaanse kunsmusiek nie. Sy het my toe vroeër vanjaar genooi om ’n program saam te stel vir vanjaar se fees. Dit is weliswaar vanjaar ’n video-konsert, maar dit is my hoop dat die konsert voortaan volledig in die program opgeneem sal word on par met die ander konserte.

Die vyfde uitgawe van die Fees vir Afrikaans vind van 24 tot 26 November in die De Regentes-teater in Den Haag plaas.

Die Festival voor het Afrikaans bied vanjaar vir die eerste keer ’n konsert aan wat aan Suid-Afrikaanse klassieke/kunsmusiek gewy is. Hierdie konsert, wat vooraf opgeneem is, word op Sondag 26 November om 10:00 uitgesaai. Daar is ook op Netwerk24 hieroor geskryf.

............
Suid-Afrikaanse klassieke musiek het oor die afgelope 100 jaar ’n bloeitydperk beleef. Benewens die land se komplekse en stormagtige geskiedenis, is die kulturele diversiteit van die Suid-Afrikaanse bevolking ook deurslaggewend vir die eklektiese en unieke estetiese palet van die werk van Suid-Afrikaanse komponiste.
...............

Suid-Afrikaanse klassieke musiek het oor die afgelope 100 jaar ’n bloeitydperk beleef. Benewens die land se komplekse en stormagtige geskiedenis, is die kulturele diversiteit van die Suid-Afrikaanse bevolking ook deurslaggewend vir die eklektiese en unieke estetiese palet van die werk van Suid-Afrikaanse komponiste.

Die doelwit met die samestelling van die program is om luisteraars bekend te stel aan die wye diversiteit binne die genre. Die program is ook volledig inklusief.

Hoewel die Suid-Afrikaanse kunsmusiekkanon werklik uitstekend en divers is, word die musiek ongelukkig selde of ooit uitgevoer in ons land. Die oorblywende Suid-Afrikaanse simfonieorkeste is gefikseer op bekende romantiese strydrosse met die argument dat Suid-Afrikaanse musiek nie gehore trek nie. Dit is natuurlik waar, maar aan die ander kant as daar nooit werke van Suid-Afrikaanse komponiste ingesluit word in die repertorium nie, sal gehore nooit daaraan blootgestel word nie. Ek is van mening dat die artistieke direkteur dit sou kon oorweeg om hier en daar ’n miniatuur deur Suid-Afrikaanse komponiste in hulle programme in te sluit en sodoende gehore aan musiek deur Suid-Afrikaanse komponiste bloot te stel.

Dit is tog interessant dat Suid-Afrikaanse koorwerke gereeld en dikwels uitgevoer word en groot aanhang geniet sonder enige kompromieë.

Die Nederlandse gehore deins nie terug vir die musiek van ons tyd nie, so ek is van mening dat die Nederlandse gehore en musiekkenners ’n goeie afsetgebied vir werke van Suid-Afrikaanse komponiste kan bied.

Tydens my verblyf in Finland het ek tweejaarliks ’n konsert aangebied by ons konserwatorium met werke van SA musiek wat deur Finse musici uitgevoer is en met entoesiasme ontvang is. Van die musiek is in die repertorium van Finse musici opgeneem.

Waarna kan mense wat die Festival voor het Afrikaans bywoon, na jou mening, uitsien as hulle na vanjaar se program kyk?

Die fees is bekend vir die inhoud van Suid-Afrikaanse poësie, letterkunde, drama, asook musiek van ’n ligter trant.

Meer inligting oor die algemene feesprogram is hier beskikbaar.

Meer inligting oor die SA kunsmusiekprogram is hier.

  • Die doelwit met die samestelling van die program is om luisteraars bekend te stel aan die wye diversiteit binne die genre.
  • Die program is ook volledig inklusief.
  • Die hoofwerk op die program is die Concerto "for those who can't sleep but still dream of dancing" deur die komponiste Dizu Plaatjies en Matthijs van Dijk. Die werk word uitgevoer deur die SA Strings Foundation Festival-strykorkes met Matthijs van Dijk as dirigent, Dizu Plaatjies op die uhadi en umrhubhe en David Bester op die viool as soliste.

Kort videogrepe van die werk is hier.

  • Die opname wat u op die punt staan om te sien, is gemaak by die wêreldpremière van die South African Strings Convention 2023, wat van 17 tot 20 Maart vanjaar by die Nelson Mandela Universiteit in Gqeberha plaasgevind het. Die Concerto is in opdrag van die SA Strings Foundation en Nelson Mandela Universiteit in samewerking met Rhodes Universiteit en die Nasionale Instituut vir Geesteswetenskappe gekomponeer.
  • Ander werke op die program sluit in "Onskuld" deur Pieter van der Westhuizen (1931–2023), verwerk deur Lance Phillip en uitgevoer deur die Vrystaat Simfonieorkes, met maestro Daniel Boico as die dirigent.
  • Hierna volg twee werke van die komponis Hendrik Hofmeyr (1957): "Geen skip strand ooit teen hierdie kus nie" uit die liedsiklus "Skielik is dit aand" uit vyf gedigte van Wilhelm Knobel, wat deur die bariton André Howard uitgevoer word, asook "Orithyia en die Noordewind", uitgevoer deur die fluitspeler Liesl Stoltz.
  • Die volgende werk op die program, "Komeng" deur Mokale Koapeng (1963), word deur die Odeion-strykkwartet uitgevoer. Dit word gevolg deur "No 2 Allegro Feroce" uit die "5 Elegieë" deur Arnold van Wyk, uitgevoer deur die Camerata-orkes van die Odeion Skool vir Musiek onder leiding van Elsabé Raath.
  • Die konsert word afgesluit met die City of Roses Jazz Ensemble, met die immergroen "Mannenberg" van Abdullah Ibrahim.

Ons wortelstelsels in hierdie land is vertak. Daar is konneksies met Europa en met Afrika. Wil jy hiervan vertel en die invloede van die musiek en wat jou persoonlik hiervan interesseer?

Soos met enige kunsvorm reflekteer die Suid-Afrikaanse kunsmusiek of die musiek van ons tyd die dinamika van ons samelewing. Ek is van mening dat dit een van die hoofredes is dat die niveau van die SA kunsmusiek so ontsettend divers en interessant is.

..........
Juis met die invloede van Europa en Afrika is daar heelwat komponiste wat deur ’n tipe Afro-pean-sintese geïnspireer word. Dit is natuurlik nie uitsluitlik die geval nie, maar tog ’n interessante tendens. Van die eerste Suid-Afrikaanse komponiste wat hiermee begin het, is natuurlik Stefans Grové wat later in sy lewe geïnspireer is deur die musiek van Afrika.
..............

Juis met die invloede van Europa en Afrika is daar heelwat komponiste wat deur ’n tipe Afro-pean-sintese geïnspireer word. Dit is natuurlik nie uitsluitlik die geval nie, maar tog ’n interessante tendens. Van die eerste Suid-Afrikaanse komponiste wat hiermee begin het, is natuurlik Stefans Grové wat later in sy lewe geïnspireer is deur die musiek van Afrika. Grové het sy estetiese transisie as sy Damaskus-ervaring beskryf. Later van tyd het Hans Roosenschoon, sowel as Jeanne Zaidel-Rudolph ook inspirasie gekry by die musiek van ons kontinent. Die tendens in die tydvak was natuurlik vanuit die kader van wit komponiste. Later van tyd het swart komponiste natuurlik ook inspirasie geput uit Afrika, soos Mzilikazi Khumalo en jonger komponiste soos Mokale Koapeng en Bogani Ndodana-Breen. Dit gesê, beteken dit nie dat alle Suid-Afrikaanse komponiste hulle inspirasie uit Afrika moet neem nie. Dit is geensins die geval nie.

Lees ook:

Festival voor het Afrikaans 2023: Amanda Strydom sê "Afrikaans is springlewendig in al sy vorme"

Festival voor het Afrikaans 2023: ’n onderhoud met Frazer Barry

Festival voor het Afrikaans 2023: ’n onderhoud met Stef Bos

Programma Festival voor het Afrikaans 2023 bekend

Festival voor het Afrikaans 2023 | My broer, Gertjie: ’n filmresensie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top