
Foto: Kelly Sikkema op Unsplash
Die Departement van Basiese Onderwys (DBO) oorweeg entrepreneurskapsonderrig in die Suid-Afrikaanse skoolkurrikulum. Daar is ’n onlangse akademiese artikel uit jou pen in LitNet Akademies (Opvoedkunde) hieromtrent gepubliseer. Word entrepreneurskapsonderrig oorweeg as nuwe vak vir alle Suid-Afrikaanse kinders, en vir watter ouderdomme of grade word dit beoog?
Navorsing in die literatuur dui daarop dat entrepreneurskapsonderrig meer sinvol geïmplementeer kan word wanneer dit met ander vakke geïntegreer word. Sover my kennis strek, is dit dan ook die benadering wat die DBO wil volg. Die hoop is dat entrepreneurskapsonderrig vervleg sal word met bestaande vakke, en in al die skoolfases. Presies watter vakke hiervoor geoormerk word, is nie bekend nie, maar die aanname dat “verpligte” vakke soos lewensoriëntering vir onder andere hierdie doel gebruik sal word, word gemaak. (Dus beslis nie as ’n losstaande vak nie.)
Dis maklik om krities te wees oor voorstelle wat die DBO maak, maar soos jy ook in jou artikel skryf, is dit ’n prysenswaardige voorstel in ’n land soos Suid-Afrika om kinders aan entrepreneurskap te help dink. Hoe dink jy sal die ideale aanbieding en uitkomste van so ’n vak in die Suid-Afrikaanse skoolstelsel neerslag vind? Hoe behoort hierdie vak aangebied te word?
Dit behoort nie as ’n aparte vak aangebied te word nie, maar eerder as ’n manier van dink, met vaardigheidsontwikkeling as die oorkoepelende doel. Waardeskepping, meer as net ekonomies ontwikkeling, behoort ook ’n kernuitkoms te wees. Waarde word geskep as leerders entrepreneuriese vaardighede soos probleemoplossing, kreatiewe denke en so meer toepas om probleme in hul eie lewens en omgewings te identifiseer en aan te spreek. Hierdie waarde kan ekonomies, opvoedkundig, kultureel, sosiaal of ten bate van die natuurlike omgewing wees.
........
Waarde word geskep as leerders entrepreneuriese vaardighede soos probleemoplossing, kreatiewe denke en so meer toepas om probleme in hul eie lewens en omgewings te identifiseer en aan te spreek. Hierdie waarde kan ekonomies, opvoedkundig, kultureel, sosiaal of ten bate van die natuurlike omgewing wees.
........
Wanneer entrepreneurskapsonderrig vervleg word met bestaande vakinhoud (dink byvoorbeeld aan verbruikerstudie, tegnologievakke, natuurwetenskappe of wiskunde), word die leerinhoud en vaardighede baie minder abstrak – dit word toegepas as deel van geïntegreerde leer. Leerders kan dus die kennis en vaardighede gebruik (en nie bloot ’n toets of eksamen daaroor skryf nie). Die lewenswerklikheid daarvan maak dat leerders meer waarde daaraan heg en dit dieper internaliseer as bloot "inhoud wat onthou moet word". Eksperiënsiële en probleemgebaseerde leer word verkies as onderrigbenadering, wat hierdie doelwitte verder sal steun.
Jy noem ’n paar kwessies wat aandag verdien, oa onderwysers/opvoeders wat gevra word om ’n vak te onderrig sonder dat hulle behoorlik toegerus word om dit te doen. Dink jy nie onderwysers kan self navorsing doen – entrepreneur speel, as ’t ware – en kinders ook aanmoedig om dit te doen ten einde meer van die vak te verstaan nie? Sal dit kopsere veroorsaak as dit by assessering kom? Want die kinders moet seker oor dieselfde kernkwessies geassesseer word, of hoe?
Die idee is nie dat onderwysers entrepreneurs word nie, maar eerder dat hulle self ook begin entrepreneuries dink en optree. So sal hul ’n voorbeeld vir hul leerders stel. Onthou: Die einddoel is nie slegs om werksgeleenthede en/of inkomste te skep nie. Daar is reeds ’n kortleerprogram ontwikkel om bestaande en toekomstige onderwysers op te lei hoe om selfgerigteleerstrategieë te gebruik om entrepreneuriese leer in hul eie vakke en skoolfases te ontwikkel en uit te brei. En ja. Dit is nogal moeilik om entrepreneuriese vaardighede te assesseer, veral as die onderwyser self nie regtig weet wat dit is of hoe dit manifesteer nie.
In jou artikel skryf jy oor onderwysers of studente wat gevra is wat hulle onder die nuwe entrepreneurskapsonderrig verstaan. Wat het jy bevind en raakgesien toe jy hulle gevra het?
Onderwysdosente, onderwysers en onderwysstudente het (oor die algemeen) steeds ’n noue of beperkte idee dat entrepreneuriese leer en entrepreneurskapsonderrig dieselfde is. En ook dat dit slegs daaroor gaan om leerders te leer hoe om entrepreneurs te word – klein besighede te begin. Eintlik is die baie breër doel dat alle leerders en onderwyser soos entrepreneurs sal begin dink en optree – byvoorbeeld om probleme te herken, uit foute te leer en waardetoevoeging te soek en te ontwikkel (eerder as om ’n besigheid te begin, of dan daarmee saam). ’n Groot deel van entrepreneuriese leer is nié vir ekonomiese gewin nie, maar eerder vir die waarde wat dit tot ander aspekte van die lewe toevoeg.
........
Dis nie die skoolvak soseer wat hul toerus nie, maar hul leerervarings wanneer hul die inhoud toepas in ’n projek of aktiwiteit waarin hulle self kan sien/ervaar hoe waarde geskep word.
........
Dink jy, heel persoonlik, dat skoolkinders reeds gedurende hul skooljare entrepreneurs kan wees, en sal iets so akademies soos ’n skoolvak hulle kan toerus? Kinders vanuit alle omstandighede en gemeenskappe – waar daar geld is én waar daar nie geld is nie, en ongeag of daar voorbeelde van etiese en volhoubare entrepreneurskap is binne die omgewing is wat hulle bewoon? Waarom dink jy so of dink jy nie so nie?
Ja! Beslis. In vakke soos verbruikerstudie is daar reeds verskeie voorbeelde van hoe leerders entrepreneurs geword het, of entrepreneuries opgetree het, en so verskillende uitdagings (ekonomiese en ander) oorkom of ten minste aangespreek het. Dis nie die skoolvak soseer wat hul toerus nie, maar hul leerervarings wanneer hul die inhoud toepas in ’n projek of aktiwiteit waarin hulle self kan sien/ervaar hoe waarde geskep word. Dit motiveer leerders nóg meer om entrepreneuries op te tree wanneer hul sien en ervaar dat hul (skool)werk ’n werklike verskil maak in hul eie lewens of dié van die gemeenskap.
Lees ook:
Skoolverlaters se vermoë om hul eie werk te skep: Vyf vrae aan Adri du Toit

