Skoolverlaters se vermoë om hul eie werk te skep: Vyf vrae aan Adri du Toit

  • 0

Lees Adri du Toit se artikel wat onlangs in LitNet Akademies (Opvoedkunde) gepubliseer is:
Entrepreneurskapspotensiaal: ’n Ontleding van die Suid-Afrikaanse Verbruikerstudiekurrikulum en -onderwyspraktyke

..........

Hallo Adri. Jy het in jou navorsing gekyk na die entrepreneurskapsinhoud in die kurrikulum vir graad 10 tot 12. Kan jy miskien kortliks vertel wat jy bevind het met betrekking tot die hoeveelheid entrepreneurskapsinhoud wat in die kurrikulum ingesluit is en watter keusevakke bevorderlik sou wees vir leerders wat kennis oor entrepreneurskap wil bekom?

Hallo Liné, en dankie vir die geleentheid om oor my passie te kan gesels!

In die huidige KABV (die sogenaamde CAPS-kurrikulum) se Verdere Onderrig en Opleidingsfase (VOO-fase), wat graad 10 tot 12 insluit, is daar tans 13 vakke wat in die bedoelde kurrikulum (maw die dokument self) na entrepreneurskap verwys. Verwysings na entrepreneurskap kom voor as deel van hierdie vakke se doel of word genoem as ’n moontlikheid onder die beroepsafdeling van die dokumente. Ongelukkig sluit slegs sewe van hierdie vakke wel onderriginhoud oor entrepreneurskap in. Die sewe vakke, tesame met die aantal weke wat vir entrepreneurskapsinhoudonderrig geoormerk is in die kurrikulumdokument vir elke vak vir die hele VOO-fase (3 jaar), is as volg: Besigheidstudie (4 weke); Ekonomie (minder as 1 week); Gasvryheidstudie (minder as 1 week); Landboubestuurpraktyk (2 weke); Landbouwetenskap (1 week); Toerisme (’n bietjie meer as 1 week); en Verbruikerstudie (16 weke, plus addisionele tyd vir praktiese toepassing). Van hierdie sewe vakke is Verbruikerstudie die vak wat die meeste entrepreneurskapsinhoud insluit, maar ook die enigste vak wat entrepreneurskapsinhoud oor al drie grade van die VOO-fase insluit.

Gelukkig is die Departement van Basiese Onderwys tans besig met ’n poging om meer entrepreneurskapsonderrig in bestaande vakke in al die fases van die skoolkurrikulum te inkorporeer. Hierdie navorsing word deur E3 (“E-cubed” uitgespreek) bestuur.

Dink jy daar is ’n wanbegrip oor wat Verbruikerstudie behels en op wie dit gemik is? Toe ek self Verbruikerstudie as vak geneem het, was daar slegs ’n paar seuns in die klas, en het baie leerders (en hul ouers) dit steeds met die destydse Huishoudkunde verwar. Wat is van die mees prominente verskille tussen die inhoud van dié twee vakke?

Vir seker, en ongelukkig is dit so. Mense wat na hierdie vak as “Pap en lap” verwys, het geen begrip watter moontlikhede die vak inhou nie. Huishoudkunde was gerig op ’n produksiemodel, waar leer en produkontwikkeling (soos geregte wat voorberei is) absoluut gerig was op die bevrediging van die behoeftes van die lede van ’n gesin. Verbruikerstudie is eerder ingestel op ’n verbruikersbenadering, waar leer, vaardigheidsontwikkeling en waardes wentel rondom beplanning en besluitneming met die doel om die behoeftes van verbruikers aan te spreek en mense se welstand te verbeter. Die vak bied feitlik onbeperkte beroepsgeleenthede in ’n wye spektrum rigtings, asook waardevolle en goedgestruktureerde entrepreneurskapsinhoud, sodat leerders wat dit verkies, selfgerig werksgeleenthede kan skep. Verbruikerstudie gee leerders insig in tientalle produkte (voedsel, kleding, meublement, en meer), asook dienste (bemarking, interieurontwerp, navorsing, en meer) wat só benader kan word.

Die idee dat Verbruikerstudie slegs vir meisies is, is verouderd en ek sien gelukkig al hoe meer seuns, en meer mansonderwysers, in die vak.

Ek wil ook byvoeg dat daar tans wêreldwyd pleidooie is vir die herinstelling van vakke soos Verbruikerstudie (Family and Consumer Sciences; Home Economics) as ’n verpligte vak vir alle leerders, aangesien al hoe meer regerings agterkom watter waardevolle leer verlore is vir hul landsburgers wanneer hul nie onderrig in hierdie vakke op skool gehad het nie.

In my eerste vraag het ek gevra oor leerders wat ’n spesifieke belangstelling in entrepreneurskap het. Is die entrepreneurskapsinhoud in ’n kurrikulum nie egter veronderstel om versprei te word sodat leerders wat ander vakke neem, of nog nie regtig oor entrepreneurskap nagedink het nie, ook in ’n sekere mate daarvan kan leer nie? Ek dink hier veral aan die Suid-Afrikaanse konteks en die hoë werkloosheidsyfers. Mense weet nie altyd hulle het kennis oor entrepreneurskap nodig tot hulle genoop word om hul eie inkomste te begin genereer nie.

Die nuutste jeugwerkloosheidsyfer (kwartaal 1 van 2020) is 59%, die hoogste wat dit nog ooit was. Dit is werklik kommerwekkend. My navorsing het getoon dat entrepreneurskapsinhoud verkieslik binne ander vakke opgeneem moet word, waar dit behoorlik toegepas kan word met lewenswerklike voorbeelde, eerder as om as ’n losstaande vak aangebied te word wat net oor entrepreneurskap handel. Buiten die gebrekkige insluiting van entrepreneurskapsinhoud in die bedoelde kurrikulum, is bitter min onderwysers opgelei om entrepreneurskap effektief te onderrig.

Die navorsing wat saam met E3 gedoen word om entrepreneurskapsinhoud binne bestaande vakke in te sluit (by die eerste vraag genoem), sal ook doelgerigte entrepreneurskapsopleiding as deel van ons onderwysersopleiding by Noordwes-Universiteit insluit. Die probleem is groot en gaan ongelukkig nie in ’n oogwink opgelos kan word nie, maar ten minste werk ons aktief daaraan.

Uit jou artikel blyk dit dat daar egter ook in Verbruikerstudie sekere struikelblokke is wat verhoed dat die inhoud van die kurrikulum effektief aan leerders oorgedra word. Sal jy asseblief hieroor uitbrei?

Die grootste struikelblok is gebrekkige opleiding van onderwysers om entrepreneurskapsinhoud effektief en met passie te implementeer. Onderwysers het dikwels nie eie ervarings van entrepreneurskap nie, of stel bloot nie daarin belang nie.

’n Paar van die ouer onderwysers (wat vir Huishoudkunde opgelei was, maar oorgeskakel het na Verbruikerstudie toe die kurrikulum verander het) is ook effens opstandig oor die entrepreneurskapsinhoud wat in die nuwe vak ingesluit is (en glad nie in Huishoudkunde was nie). As ons onderwysers kan oplei om entrepreneurskap effektief aan te bied, sal meer leerders die waarde daarvan besef en dit tot hul eie voordeel kan gebruik. Maar as onderwysers onentoesiasties of onkundig is oor hierdie inhoud, gaan leerders nie dink dis iets wat hulle in hul eie lewens wil doen nie.

Nog ’n groot hindernis is die gebrekkige onderrigleerhulpmiddels vir die Verbruikerstudie, maar veral ook vir die onderrig van entrepreneurskap in dié vak. Ons wil hê dat hierdie inhoud moet “lewe” en nie bloot teks op papier moet wees nie. Dit sou gaaf wees as ons meer hulpmiddels, soos plakkate, werkkaarte, of selfs videogrepe van Suid-Afrikaanse entrepreneurs en entrepreneurskapsuksesverhale, aan onderwysers kon uitdeel. As sulke hulpmiddels in meer as een taal beskikbaar kon wees, sou dit ook help om die taalkwessies wat leerders regoor die Suid-Afrikaanse skoollandskap ervaar te beperk.

Watter algemene aanbevelings kan jy maak ten opsigte van die suksesvolle onderrig van entrepreneurskapsinhoud?

  • Onderwysers moet genooi word om aan verdere opleidingsgeleenthede (of professionele ontwikkelingsgeleenthede) deel te neem, sodat hul ’n beter begrip sal ontwikkel van die waarde van hierdie inhoud.
  • Onderwysers moet entoesiasties en positief georiënteer wees in hul benadering tot entrepreneurskap: Hulle stel die voorbeeld vir leerders en as hulle dit met verdunde ywer benader, sal leerders waarskynlik dieselfde lae vlakke van entoesiasme daaroor handhaaf.
  • Laastens: Entrepreneurskapsonderrig moet lewe. Dit mag nie bloot teks op papier wees nie, maar behoort met lewenswerklike voorbeelde en situasies vervleg te word. Sodoende word leerders meer oortuig van die voordele en moontlikhede wat opgesluit is daarin om selfgerig werk te skep.

Lees ook:

Entrepreneurskapspotensiaal: ’n Ontleding van die Suid-Afrikaanse Verbruikerstudiekurrikulum en -onderwyspraktyke 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top