Enkelvroue: ’n SêNet-brief kort anderkant Vrouedag

  • 0

Ons loop ’n paadjie deur die diep see. Alleen. As “Pappie” weg is, is oom, broer, nefie en die man op straat nie meer lus om ons te help nie. Al betaal ons ook watter bedrag, is dit heeldag verskonings op verskonings. Of “missed calls”. Ons is enkelmoeders, enkelpleegmas, oumas, vroue wat nie ’n man het of wil hê nie (groot verskil), maar veral dogtertjies van mammies "wie se daddies gaan seep koop" het. Ons het niemand wat ons kan vra nie, dan tel ons maar die swaar ding op en sit dit waar ons dit wil hê.

Op 51-jarige ouderdom begin my ma bewus voel van haar harde, manlike hande met eelte op plekke waar vroue nie harde gedeeltes behoort te hê nie. Hierdie keer het ek stilgebly, maar by myself gedink: “Hoe kan sό ‘n sterk vrou eers op 51 besef dat haar hande hard is?” Hoewel ek prokeuses is, en wil voorgee dat almal altyd keuses het, besef ek elke dag dat ek kon kies slegs omdat my ma se hande hard geword het, maar haar oë elke somersdag gefokus was op ’n leesboek.

Deesdae is ons oopkop, en gee soms voor dat ons meer as ons ouers weet.

Ons glo almal het ’n keuse, omdat ons soms nie so blootgestel is aan die harde werklikheid nie. My werklikheid was harde werk, of niks. ’n Morele waarde wat ek geërf het by my ma, wat vandag voel haar skouers is te breed vir ’n rok.

Ek wonder of my enkelmoeder (kan mens haar nog so noem as albei haar kinders reeds volwasse is?) besef dat sy nooit reg sou wees vir haar laste as haar skouers smaller was nie. Hoe staan so ‘n klomp mense op jou skouers as dit vroulik is? Soms wonder ek of my ma die woord “feminisme” ken, want sy het nog nooit in ’n universiteitsbank gesit nie.

........
Ek wonder of my enkelmoeder (kan mens haar nog so noem as albei haar kinders reeds volwasse is?) besef dat sy nooit reg sou wees vir haar laste as haar skouers smaller was nie. Hoe staan so ‘n klomp mense op jou skouers as dit vroulik is? Soms wonder ek of my ma die woord “feminisme” ken, want sy het nog nooit in ’n universiteitsbank gesit nie.
........

Nou die dag praat ons van mans met breë skouers, en die manlike gespreksgenoot wonder hardop of ek besef hoe breed my eie skouers is. Ek is my ma se oudste dogter, en ek het haar breë skouers geërf, maar nie haar besorgdheid oor haar hande en skouers nie. Dis my trots.

My ma is 51 en “hustle” nog steeds, want sy sukkel steeds om daagliks te oorleef. Wat my egter elke keer vang, is hoe daar altyd iemand is wat my ma gebruik as “stepping stone” om te kom waar hulle wil wees. Hierdie mense kyk nooit terug nie, is nooit skaam nie en lewe verder ’n lekker lewe. Terwyl my ma nog steeds op hierdie ouderdom moet hard werk om te oorleef.

Vrydagoggend, in 'n taxi, vertel 'n antie vir my dat sy op pad is werk toe. Sy brei uit dat sy 'n skoonmaker is. Soos 'n opgewonde kind begin die antie vir my haar hande wys.

........
Vrydagoggend, in 'n taxi, vertel 'n antie vir my dat sy op pad is werk toe. Sy brei uit dat sy 'n skoonmaker is. Soos 'n opgewonde kind begin die antie vir my haar hande wys.
........

In teenstelling met my ma, lyk sy trots daarop. Sy is trots op haar vingers wat ‘n bietjie dikker lyk by die kneukels, want op 65 is haar hande die enigste manier waarop sy haar kos kan verdien. Hierdie antie verduidelik ingenome aan my, 'n totale vreemdeling, hoe sy deurdruk, kos kry waar sy werk en dus kan bespaar op inkopies. Terwyl sy praat, dink ek hoe ek nog nooit voorheen iemand hoor kla het met 'n ingenome gesigsuitdrukking nie. Sy groet my met die woorde dat sy nie vandag in huise werk nie, maar ook na 'n kantoor toe stap. Eintlik is ons al twee bewus dat sy net humor in haar pyn soek, want sy gaan 'n paar tafels en 'n sink skoonmaak vir R250. Daarna moet sy weer stadig in 'n taxi klim, met haar seer knieë.

Iets wat ek deur die jare opgemerk het, is dat ons enkelvroue selde op iemand se skouers huil, want as die gesprek té ongemaklik raak, verdwyn die swakker lede. Die vrou in die taxi was die enkelma van 'n man in sy 30's, en ek wonder of sy geglimlag het omdat sy nie haar gespreksgenoot wou ongemaklik maak nie.

My ma kla oor harde hande, terwyl sy nie ’n ander keuse het as om te werk nie. Die vrou aanvaar haar ongemaklike, seer vingers, want nes my ma word sy sonder keuse gelaat.

Ek sit nou by die tafel wat kan getuig van duisende trane, en ek wonder wanneer die struggle dan verby gaan wees vir enkelvroue. Met “enkelvroue” verwys ek na feministe wat hul kruis opgetel het en in baie gevalle nog nie eers die woord “feminisme” gehoor het nie. Met “feministe” verwys ek na vroue wat gelyke arbeid verrig, en gelykheid eers op 51-jarige ouderdom eis met harde hande en breë skouers as die beste getuigskrif. Ek verwys a my ma, wat ’n dogter grootgemaak het wat op 21-jarige ouderdom in ’n klas gesit het oor feminisme en daarna ’n skripsie daaroor voltooi het. My ma is ’n enkelvrou, met niks hulp uit ander oorde mie, en sy is vandag skaam vir haar harde hande en breë skouers. Snaaks genoeg het die lewe haar nie hard gemaak nie.

Lees ook:

Geregtigheid?

Kruis

Rou

Vervel

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top