
Madine Swart, skrywer van Flora se geheime taal (links), en Renette Vosloo (regs), skrywer van Die rooitamatiestorie by die Fringe Fireside Chats-fees (Foto: Jean Oosthuizen). Hierdie boeke is selfgepubliseer.
Terwyl feitlik alles besig is om te verengels, is daar ’n Engelse boekfees in die Helderberg in die Wes-Kaap wat besig is om te verafrikaans. Die organiseerder van die Fringe Fireside Chats-fees, Lelsie Downie, was so in haar skik met ’n stuk wat verlede jaar op LitNet verskyn het oor die fees, dat sy besluit het om vanjaar ook Afrikaans in te sluit.
Die Fringe Fireside Chats-fees vier en ondersteun selfgepubliseerde skrywers en bied ’n platform vir selfpublikasie-diensverskaffers om hul dienste te verduidelik en te bevorder. Dit was die breinkind van Leslie Downie en Katherine Gray, en is geïnspireer deur die Edinburgh-randfees wat elke Augustus in die Skotse hoofstad plaasvind.
Downie sê ná verlede jaar se fees was dit vir haar ’n uitdaging om vanjaar ook ’n Afrikaanse item by die fees in te sluit. Sy voorspel dat dit vinniger gaan groei as al die ander items. Die rede waarom sy so dink, is omdat Afrikaanse mense kunstenaars so goed ondersteun. “Afrikaanse mense het ’n gees wat mens nie by Engelse Suid-Afrikaners kry nie, daarom glo ek mense gaan ’n groter gees by die Afrikaanse items ervaar.”
Klein of ongeaffilieerde skrywers kry die geleentheid om hulle kreatiwiteit by die fees ten toon te stel en te wys dat selfpublikasies ook boeke van hoogstaande gehalte kan lewer mits dit reg gedoen word.
Sowat 30 selfgepubliseerde skrywers het vanjaar oor hulle werk gesels by die fees wat op verskillende plekke in die Helderberg aangebied is. Die fees was versprei oor ongeveer 16 venues wat gewissel het van plaaslike kroeë, restaurante, wynplase, klubs tot koffiewinkels in Gordonsbaai, Somerset-Wes en die Strand, asook die Golden Eye- en Drama Factory-teater.
Verlede jaar se openingsfees in Somerset-Wes het gesprekke deur spesialiste vir aspirantouteurs ingesluit oor hoe om self te publiseer, asook gesprekke deur skrywers wat reeds voor die fees suksesvol selfgepubliseer het. Die 2024-program is vanjaar uitgebrei om Gordonsbaai en die Strand in te sluit.
“Volgende jaar hoop ons om geleenthede in Sir Lowry’s Pass en Lwandle ook in te sluit,” sê Downie.
“Die Helderberg is ’n wêreldklasbestemming en Fringe Fireside Chats is ’n jaarlikse geleentheid wat daarop gemik is om die hele streek van die Helderberg te ondersteun. Die Helderberg is aan die rand van verskeie ander Kaapse bestemmings en is baie geskik vir ’n wintergeleentheid soos hierdie, wanneer die weer onvoorspelbaar is en daar baie min is om te doen in die omgewing.”
Anders as formeel-georganiseerde feeste, akkommodeer randfeeste soos dié en die eerste randfees in Edinburgh enigiemand met ’n begeerte om deel te neem en wat bereid is om ’n plek te vind wat bereid is om dit aan te bied.
........
Randfeeste soos Fringe Fireside Chats begin gewoonlik met ’n piepklein begroting en vertrou op kreatiwiteit, verbeelding en ’n entrepreneursgees. Randfeeste is nie-tradisioneel in styl en onderwerp en ondersteun opkomende onafhanklike kunstenaars en diegene wat hoofstroomkonvensies uitdaag.
........
Randfeeste soos Fringe Fireside Chats begin gewoonlik met ’n piepklein begroting en vertrou op kreatiwiteit, verbeelding en ’n entrepreneursgees. Randfeeste is nie-tradisioneel in styl en onderwerp en ondersteun opkomende onafhanklike kunstenaars en diegene wat hoofstroomkonvensies uitdaag.
Vanjaar se unieke driedaagse fees het net soos verlede jaar die werk van uiteenlopende digters en skrywers gevier en aan die publiek bekend gestel.
Of jy nou ’n aanhanger van fiksie, poësie of nie-fiksie is, daar was iets vir almal.
Feesgangers kon eerstehands by die sowat 30 skrywers hoor oor hul reis van storie-idees tot die gepubliseerde boeke. Aspirantouteurs kon ook agt werkswinkels bywoon oor hoe om self te publiseer.
Refilwe Motsoeneng, IP- en KI-spesialis van Michalsons, het gepraat oor Kunsmatige Intelligensie (KI), die toekoms van kopiereg, die ontluikende wêreld van KI-gesteunde skryfwerk en die impak daarvan op die tradisionele konsep van outeurskap. In haar sessies het sy die opwindende moontlikhede en komplekse regsvrae rondom KI se rol in boekskepping bespreek.
Sy het verduidelik hoe KI gebruik word om verhale te skep, inhoud te genereer en die publikasieproses op ’n revolusionêre manier te hervorm.
Daar is ook nagedink oor die troebel water van kopiereg en wie besit die regte op ’n boek wat met KI-bystand geskryf is. Is dit die skrywer, die programmeerder, of iewers tussenin?
Die Afrikaanse selfpubliseerders wat oor hulle werk gesels het, was Renette Vosloo, Elizabeth Rowan en Madine Swart.
........
Omdat selfgepubliseerde skrywers dikwels onbekend is, verg dit ’n entrepreneursgees en ’n gewilligheid om te eksperimenteer, sê Downie. “Ons word nie geroer deur die sukses van groot getalle lesers nie: Ons respekteer skrywers se instink genoeg om te waag om te probeer.”
........
Vosloo het oor haar boek Die rooitamatie storie: Van huiskos tot prentjiekos gepraat, waarvan daar nou ook ’n oudioboek op die fees bekend gestel is in samewerking met die musikant Riku Lätti.
Rowan se boek ’n Goue lint: Die memoires van Elize Rowan is net soos Vosloo s’n ’n pragtige en duursame koffietafeltipe boek. Sy sê sy wou haar storie vir haar kinders se kinders skryf, want om te weet wie jy is, moet jy weet waar jy vandaan kom. “Ons moet van die dooies praat en hul stories vertel, want mens is eers regtig dood as niemand jou meer onthou nie.”
Met ’n terugblik op haar lewe, word sy bewus van die goue lint wat haar lewe deurweef. Gebeure wat ongevraagd en onverwags ’n rol gespeel het sodat sy in dankbaarheid kan terugkyk en sien hoe sy gevorm is en haarself vervorm het om te wees wie sy vandag is. En met opwinding steeds te let op die onvoorspelbare trajek van hierdie lint deur haar lewe.
Die ander Afrikaanse skrywer wat vanjaar deelgeneem en oor haar boek gesels het, was Madine Swart, skrywer van Flora se geheime taal: Stories van Suider-Afrikaanse plante.

Die rooitamatie storie: Van huiskos tot prentjiekos deur Renette Vosloo; Flora se geheime taal: Stories van Suider-Afrikaanse plante deur Madine Swart; ’n Goue lint: Die memoires van Elize Rowan deur Elize Rowan
In haar boek ondersoek sy die reise wat Suider-Afrikaanse plante meegemaak het, en die leser word uitgenooi om saam op die ontdekkingsveldtog te vertrek.
Die reise strek vanaf die Kaap tot in Europa waar ons land se plante ’n beroering veroorsaak het. Daarna reis sy vanaf die Kaap die binneland in op soek na die simboliese betekenisse agter die botaniese name, sowel as die volksname van inheemse plante.
Op dié reis word daar gesoek na die betekenis van Suider-Afrikaanse plante vir begrafnisgangers, voornemende vryers, sowel as mense wat ekstra geluk benodig en in bygelowe glo. Die fokus is veral op die rol wat planttradisies speel in die oordra van inheemse kennis en hoe mites, oorgangsgebruike en volksgelowe ’n belangrike bydrae kan lewer.
Downie sê Fringe Fireside Chats kan nie wag om volgende jaar se deelnemers te ontmoet nie. “Ons fees vier selfgepubliseerde skrywers, ongeag hul styl of onderwerp. Skrywers wat wil deelneem, moet egter bereid wees om ook self hulle items te help bemark om mense daarheen te lok, benewens die bemarking wat deur die organiseerders gedoen word.”
Omdat selfgepubliseerde skrywers dikwels onbekend is, verg dit ’n entrepreneursgees en ’n gewilligheid om te eksperimenteer, sê Downie. “Ons word nie geroer deur die sukses van groot getalle lesers nie: Ons respekteer skrywers se instink genoeg om te waag om te probeer.”
- Meer oor die ander skrywers en hulle boeke wat bespreek is, kan hier gelees word.
Lees ook:
Uitdagings en voordele van selfpublikasie: ’n onderhoud met Francine Beaton
Waarom word ons opgelei om nét skrywers te wees en nie entrepreneurs nie?
Waarom by ’n uitgewer aanklop eerder as om self te publiseer?


Kommentaar
Selfpublikasie kry uiteindelik stem! Ek is bly om te hoor en sal graag volgende jaar ook my boekie daar wil bemark. Hoe kan ek te werk gaan? Vir wie kan ek kontak?