Elsa Joubert-herdenkingsgeleentheid: Pieter GR de Villiers se bydrae

  • 0

Die geliefde skrywer Elsa Joubert (gebore 19 Oktober 1922) is op Sondag 14 Junie 2020 aan COVID-19 in ’n Mediclinic-hospitaal in Kaapstad oorlede. Sy was 97 jaar oud.

Haar herdenkingsgeleentheid is op Saterdag 4 Julie 2020 aanlyn aangebied. Volg die skakel om na die geleentheid te kyk: https://vimeo.com/435700573/5fa4f63659. LitNet publiseer hiermee sommige van die huldeblyke, wat elk uit eie reg ’n soort tydsdokument is.

Hier onder is Pieter GR de Villiers se bydrae by die herdenkingsgeleentheid.

In die lys van erkennings in haar Spertyd bedank Elsa Joubert haar kinders: vir Nico wat die stukrag was vir die boek, vir Elsabé en Henriette, onder andere vir hulle “geesdriftige uitruil van gedagtes en boeke”, en noem dan spesifiek “die dagboeke van die woestyn se kloostervaders en -moeders” as een daarvan.

Hierdie woestyngelowiges, onvergenoegd met die oppervlakkigheid van die kerklike lewe, was ’n invloedryke, vernuwende beweging reeds in die vroegste Christendom. Hulle het met hul diepe, intense verlange innerlike rus in die stilte van die woestyn opgesoek. Vele ander mistieke skrywers sou, soos hulle, in die volgende eeue ook sulke dieper vrae vra en na lewensin soek.

Dieselfde soort speurtog kom veral na vore in die merkwaardige voorlaaste hoofstuk oor stilte in Elsa Joubert se Spertyd. Sy praat ook hier ’n keer of twee van haar onvergenoegdheid met die oppervlakkige geestelike gedoe van die kerklike lewe. Op dieselfde manier as die woestyngelowiges en mistici van alle tye vra sy hier aan die einde van haar boek na dít wat oorbly ná alles wat sy geskryf en waarvoor sy geleef het,  eenvoudig net: “Wie of wat is ek”?

Die antwoord na die blywende vind sy deur en in die stilte wat haar die teenwoordigheid van ’n Skeppende Krag laat beleef het. Die intense belewing van wat Groter is, skuif haar vol lewe, skryfwerk, werksideale, selfs vriende en gesin, op die agtergrond. Hier in die stilte ontdek sy die Onsienlike, die Onpeilbare, selfs die Onuitspreekbare. In die stilte ervaar sy wat saak maak en haar lewe vol maak. “Elke sekonde van my lewe is die Krag by my.” Daarom: “En as ek sterf, sal ek net dieper glip in [die Krag]” (2432).1

Hierdie antwoord het sy reeds vroeg in haar lewe ontdek. Reeds toe haar kinders nog woelige kleuters was, het sy immers die stilte opgesoek, bewus daarvan hoe moeilik dit was, want beslommernisse en die besige dinge van die dag kweek angstighede wat die uitsig op dít wat saak maak, verduister. Daar is iets dwingends en dringends aan hierdie soeke, al is dit nie maklik nie. As ’n mens eers een keer in die lewensreis net ’n flentertjie van die krag in stilte ontvang en beleef het, verlang en soek ’n mens steeds na meer en meer (2448).

Hierdie verruklike teenwoordigheid van “die God wat ek nog al die jare soek” (2423) bring ’n ligtheid van gemoed, ’n egte vreugde en vrede, ’n ligte ekstase waarin die liefde vir en eenheid met alles en almal mens oorrompel. Dit omvorm alles: “[M]ense en menseverhoudings word anders, jou gemoed is anders. Hulle in my en ek in hulle” (2448). Hier ontdek en deel mens in eerbied en ontsag ’n ongekende, onuitputlike rykdom, ’n pêrel van groot waarde, ’n verborge skat (2448).

Die verrukking is dus by uitstek oor wat aards en gewoon is; dit is ook ’n betowering oor die een-word en een-wees met die skepping, selfs met elke grashalm. Die natuur is so skoon dat dit seermaak … alles is liefde en lig (2448). Tog, skryf sy ook elders, het haar oom Vaatjie jonk reeds vir haar gesê dat ’n mens nie berge of kranse hoef te klim vir stilte nie – “Jy kan net jou oë sluit en in die Binnestilte ingaan” waar mens in stilte “die lieflike eenwees met alles binne-in jou en rondom jou” ervaar.

Die stilte bring ’n ingrypende stroping en nietiging. Sy sluit haar boek af met die hoofstuk wat sy “Stofdeeltjie” noem. Dit is ’n vertelling oor haar ervaringe in die hospitaal, waar die siekekamer vir haar ’n simbool word van die sieke se afhanklikheid van ’n uitgestrekte, helpende hand en die geborgenheid wat dit bied. Hier bied die blote kontak met die tasbare skuiling teen die groot alleenheid (2598).

Wat uiteindelik saak maak, nietemin, lui die slotwoorde van die boek, is bloot net om te bestaan – “... dit is genoeg. Dit was bestaan.” Niks gewroeg oor die dood nie – soos seemeeue wat sorgeloos in die lig sweef, onbewus van hul verganklikheid. Stilte, dus, bring ’n mens in aanraking met en in verwondering voor die rykdom van die bestaan, waarvan jou lewe net ’n stofdeeltjie uitmaak.

Soos die woestyngelowiges, weet alle mistici dat die toetssteen vir al ons mooi rumineringe te vind is in wat hulle aan mens doen en verander: Ons beërwe, skryf sy in bybelse taal, maar veral in die taal van die mistici, die koninkryk van die hemele (2506) wanneer die eie self in die hier en nou verdring word tot niks. Heel prakties blyk hierdie nietigwording wanneer sy skryf: “Ek moet meer oorreedbaar wees, minder onwrikbaar, meer toegee, minder aan my eie opinies vasklou, meer na ander luister …” (2486). “Ek word meer bewus daarvan as ek nie liefdevol teenoor iemand opgetree het nie, of iets gesê het wat ek liewer moes verswyg het.”

En hoe prakties leef sy die liefde uit met haar omgee vir ander, soos so duidelik blyk uit haar merkwaardige Poppie Nongena – ’n vertelling wat in sy tydloosheid vandag nog lesers oor die wêreld heen aanraak.

Vir julle as familie is dit vandag veral ’n tyd van verlies. Ek kan nie dink aan iets mooier om in julle verliestyd vas te hou nie as haar “mooi” woord oor die troostende, beeldskone deel wat mens aan die onbeskryflike Krag het. Die enigste keer wat sy in die boek in ’n intieme ek-jy-dialoog skryf, praat sy met die Oneindige – huiwerend, selfs stotterend, want woorde is so eindig.

Haar tastende, soekende woorde oor stilte word hier onverwags ’n gebed wat deurtrek is met wat die mistici ’n biddende verlange genoem het. Die Onsienlike, hoewel so ontsettend anders, is in hierdie verlange by haar, langs haar, selfs in angstige tye van leegheid en niks-voel, selfs in die aanskyn van die dood. Die verlange vertel daarmee van ’n dankbare verwondering om die lewe, die blote bestaan – die lewe wat selfs nie met ’n sterfbed tot ’n einde kom nie. Sy bid (2463):

Ek weet nie wie U is nie. U kan ’n magtige ster in die hemelruim wees, U kan die son self wees. Maar al weet ek nie waar U is of wie U is nie, al wat ek weet is dat daar ’n magtige drang in my tot U is. Sonder die drang verlep alles wat om my is. Ek dink soos ’n plant na water soek, so soek ek na U. Ek het ’n behoefte aan U wat my nie los nie. Want ek weet U is daar, en ek weet wanneer die behoefte te sterk word, so sterk dat dit alles wegveeg wat soos motte om my draai, as ek baie stil word, tot in my diepste binneste, dan deel U Uself met my. Miskien het U ook behoefte aan my aanhanklikheid. Miskien versterk my verlange U ook. Dan is dit vir my mooi om dood te gaan. Want ek word opgeneem in U.

1 Die aanhalings verwys na die Kindle-uitgawe van Spertyd.

Lees ook

Elsa Joubert-herdenkingsgeleentheid: Nico Steytler se bydrae

Elsa Joubert-herdenkingsgeleentheid: Annari van der Merwe se bydrae

Elsa Joubert-herdenkingsgeleentheid: Ena Jansen se bydrae

Elsa Joubert-herdenkingsgeleentheid: Henriëtte Latsky se bydrae

Elsa Joubert-herdenkingsgeleentheid: Hein Willemse se bydrae

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top