Elize Parker en haar eerste kinderboek, Bollie-Wollie en die nag voor Kersfees

  • 0

Titel: Bollie-Wollie en die nag voor Kersfees
Skrywer: Elize Parker
Illustrasies: Stephen Wallace
ISBN: 9781779881786
Uitgewer: LAPA

Sy het al stapels romantiese, sowel as Christelike fiksie geskryf wat drie trilogieë insluit, asook dagstukkie- en gebedeboeke, geskenkboeke en verhoudingsgidse.

As koerant-, tydskrif- en korporatiewe joernalis het haar stories haar van AWB-vergaderings geneem tot professore en joolkoninginne, melkresepte, mastitis by koeie, effektetrusts en die aandelemark. Dis egter duidelik dat die ongerepte natuur en die redding van bedreigde spesies haar die naaste aan die hart lê.

En dan was sy ook al Huisgenoot se troostannie.

Maar nou het Elize haar eerste kinderboek Bollie-Wollie en die nag voor Kersfees uitgegee, wat saam met die illustrasies die volmaakte geskenk met ’n Christelike inslag vir kleuters is.

“Bollie-Wollie en die nag voor Kersfees is ’n reisverhaal en ek dink kinders hou ook daarvan om op ’n reis te gaan,” vertel sy.

Sy het hierdie storie op ’n geheuestokkie gaan opdiep vanuit haar Tannie Lenie Lekkerlag-dae vir radio. Ja, sy was sowaar ook ’n “radiotannie”.

Bollie-Wollie is ’n Kersverhaal wat op die nag van Jesus se geboorte afspeel en volgens die uitgewer op so ’n wyse vertel word dat elke jong hart daarby sal aanklank vind.

Hy is ’n nuuskierige lammertjie wat saam met sy gesin na Bethlehem reis om die nuwe Herder te ontmoet. Daar is groot opwinding – engele wat jubel en manne op kamele, almal op reis na ’n stal onder ’n groot helder ster.

Elize is in Bloemfontein gebore waar sy matriek na 12 jaar op Oranje Meisieskool voltooi het, ’n skool wat ná die Vryheidsoorlog aan die begin van die twintigste eeu gestig is, met historiese geboue soos Elizabeth Le Roux-huis op die skoolterrein en waar Afrikaans beskerm en opgepas is, vertel sy.

“Ek het nie juis akademies presteer nie, maar was ’n ywerige sportvrou en het aan sport soos die swemspan en hokkiespanne deelgeneem. Ek het na skool probeer om ’n regsgraad te behaal, maar was kwalik geskik daarvoor en het opgeskop.

“Ek het daarna diplomas in skakelwese, joernalistiek en fotografie behaal, maar was nooit enigsins ’n akademiese uitblinker nie.”

Elize vertel dat sy haar tande geslyp het as ’n verslaggewer en fotograaf by die Transvaler-koerant in die tagtigerjare in die Bosveld, met as verslaggewersopdrag die hele destydse Wes-Transvaal. Sy moes verslag doen van AWB-vergaderings tot judospanne se prestasies en wat ook al by Sun City gebeur het (van aborsies tot popsterkonserte).

“Toe het ek as korporatiewe joernalis by die Vrystaatse Universiteit, die Suiwelraad en Sanlam ingespring

“Daarna was ek ’n joernalis by Sarie-tydskrif (fiksie- en boekeredakteur), Leef met hart en siel-tydskrif (sewe jaar as rubriek- en artikelskrywer), Huisgenoot (‘Liewe Elize’-rubriek) en Die Laevelder- en Caxton-koerant waar ek in omgewingsjoernalistiek gespesialiseer het.

“Ek het my loopbaan as joernalis voortgesit as ’n radiojoernalis by Radio Tygerberg en Bulletin Radio Nuusagentskap en is nou al drie jaar lank fotograaf en joernalis by Pretoria Rekord.”

Elize sê sy verkies Christelike fiksie, want dit verg staal as skrywer om ’n karakter in al sy dimensies aan lesers te bring. Die storieknoop daarvoor moet egter die drywer bly van ’n tema waardeur lesers gelei kan word om dieper na te dink.

“Sulke fiksie skryf mens om harte sag te maak vir die leser self en die mense rondom die leser. As my boeke mense begrip en deernis vir ander gee, sal ek voel elke oomblik se skryf was die moeite werd.”

Elize het twee dogters: Ruby (35) in Kaapstad wat ’n teksredakteur is, en Edyth (34) wat in Oxford as ’n navorser oor epidemies en pandemies werksaam is, en as ekstra pasella ’n gawe skoonseun.

Tans woon sy in Erasmuskloof, gaan stap dikwels by Wolwespruit en “probeer om ’n beter fotograaf te word”. Sy lees soos ’n “boekwurm wat deur kropslaai gaan” en is ’n huishen.

“Ek skryf graag in koffiewinkels, want die dialoog en lyftaal van mense is altyd vir my belangrik om in fiksie in te bring. En as jy wonder waaroor jy nog kan skryf, kan jy net opkyk en sien hoe iemand ’n handgebaar maak, kyk hoe mense aangetrek is, of hier en daar na ’n fluisterende gesprek luister.

“Koffiewinkels het so deel van ons lewens geword en vir ’n skrywer is dit soos om te eksperimenteer terwyl jy daar sit. Al skryf ek nie, maak ek graag my notas klaar by ’n koffiewinkel.

“Tuis het ek ’n witbord om ’n volle trilogie te beplan, omdat die storieboog oor drie boeke moet strek en elke boek ook afsonderlik behandel moet word. Omdat ek al sedert 1981 ten brode skryf, het ek nie die weelde om vir die alte lui muse te wag nie. Ek is ’n erg ongeduldige skrywer en sal stories en karakters aanjaag en opjaag om soos wilde hase uit die lang gras op te spring.

“Helene de Kock wat aan die ander kant van 80 is, is een van die mense wat my inspireer en nog uitmuntende skryfwerk produseer en oor skryf besin soos min ander skrywers kan.

“Ek hou veral van haar benadering tot skryf se ruimtes en menings oor hoe belangrik plekke moet wees en hoe versigtig jy ook daarmee moet omgaan, sodat jou leser altyd geanker bly.”

Elize stuur vir ons ’n foto van ’n tier en sê sy het twee keer die voorreg gehad om ’n middag saam met hom deur te bring. Hy is uit Europa gered waar hy onder swak omstandighede nege jaar in ’n klein hok deurgebring het.

“Ek het by Raspoetin en soortgelyke diere oor wie ek oor die jare kon skryf wat van uitbuiting gered is, geleer oor aanhou en uithou.”

Oor die mites oor skrywers sê sy: “Skryf is nie sommer net om ’n paar gedagtes en idees met ’n storielyn, storieknoop en ’n paar verbeeldingryke sinne aan mekaar te slaan nie. As jy skryf om geld te verdien, moet jy soos ’n tier die kuns ken om die teiken in die oog te hou (die mark en lesers se behoeftes), die pas te kan markeer om deurlopend krag te kan hê (kontak hou met die lesers en ander skrywers se boekbekendstellings) en jou vaardighede slyp. Dis ’n mite dat skryf sommer net gebeur en tussen vier mure alleen gedoen kan word.”

Wat lees sy?

“Ek lees graag fiksie wat oor relevante nuusgebeure gaan. Ek hou van Christy Lefteri se The beekeeper of Aleppo, wat oor die Siriese vlugtelinge gaan. Ek het haar boeke begin lees nadat ek A watermelon, a fish and a Bible gelees het, ’n ander boek wat oor die Turkse inval in Ciprus gaan.” 

“Ek lees ook graag Elif Shafak se boeke, soos There are rivers in the sky, wat oor die stryd om water vir die mens oor drie eeue gaan. Een van my gunstelingskrywers van boeke met omgewingstemas is Richard Powers met sy boek The overstory, wat gaan oor nege boomaktiviste se lewens en hoe hulle bome wil red.

“Onlangs het ek Nicholas Evans se boek The loop gelees, wat as tema die uitwissing en redding van wolwe in Amerika het.

“Ek skryf graag oor die kommersiële uitbuiting van diere, sowel as die onregte wat teen die natuur gepleeg word. In my Laeveld-reeks was dit oor die stropery van renosters en olifante, terwyl my nuwe Orka-reeks oor die uitbuiting van ons marienebronne gaan.

“Boeke en skrywers soos genoem, dui vir my die pad aan.

“Met ’n besoek aan Yosemite-park in Kalifornië en Sierra Nevada se berge, het ek een van die groot eeueoue sequoia-bome gesien en dit was ’n hoogtepunt van my lewe en het my so aan Powers se skryfwerk laat dink.

“Vir my is die doel van fiksie om ’n tweede stem die lewe in te stuur.

Meer oor Bollie-Wollie en die nag voor Kersfees

Elize vertel: “Sowat 20 jaar gelede het ek kinderstories op radio vertel onder die persona van Lenie Lekkerlag en Bollie-Wollie en die nag voor Kersfees was een van die verhale wat so uit nood gebore is toe die radiostasie skielik ’n verhaal nodig gehad het.

“Ek het heerlik met die klankingenieur, wyle Jamie Pillay, saamgewerk en sy kon so heerlik diertjies hekel terwyl ons opneem en ek laf was agter die mikrofoon. Op die dag van nood hekel sy ’n skapie en ek maak toe die storie op oor ’n vraag wat my kinders my gevra het: ‘Was Jesus altyd ’n grootmens?’ Die storie is telkens weer gebruik en het gewild geword vir voorlees deur ma’s en oumas wat daaroor gevra het.

“En toe sit ek een Sondag vanjaar in die kerk en die Here herinner my daaraan. Ek het toe op 16 geheuestokkies daarvoor gaan soek en dit dieselfde dag nog gestuur.

“Dit lyk asof die illustreerder Stephen Wallace my kop en die prentjies daarin verstaan het (dit is ’n redelike prestasie, want ek kry dit self nie eers elke dag reg nie) en my liefste uitgewer Amanda de Witt van LUCA en die bemarkingspan was in hul noppies daarmee.

“Ek dink altyd dat as iets vir radio werk, kan dit met ’n paar aanpassings ook in teks werk. Kinders hou van basiese dinge, van eenvoud en van alles wat avontuur inhou. Jy moet hulle kan boei.”

Oor nog moontlike kinderboeke sê sy daar is dalk nog ’n storie of twee wat voorlê as sy maar net ’n geheuestokkie kan vind!

Lees ook:

Silas en die ysbeer op Tafelberg deur Annie Klopper en Zandré Coetzer: ’n resensie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top