Silas en die ysbeer op Tafelberg deur Annie Klopper en Zandré Coetzer: ’n resensie

  • 0

Silas en die ysbeer op Tafelberg, ’n selflees-avontuur
Annie Klopper en Zandré Coetzer

Penguin Random House South Africa LAPA
ISBN: 9781776359844

........
Boeke is films in jou kop, want jou verbeelding omskep woorde in wonderwêrelde.
.........

Boeke is films in jou kop, want jou verbeelding omskep woorde in wonderwêrelde.

Ons is gewoond aan die tradisionele roete wat ’n boek neem om in ’n rolprent omskep te word. Dit kos gewoonlik ’n teksverwerking met baie hande en vingers, en dan die eindproduk wat ’n lushof vir die kyker is.

Silas en die ysbeer op Tafelberg het ’n meer aweregse roete gevolg en begin as ’n rolprentmanuskrip. Alhoewel die boeke voor die film bekend gestel is, was die boeke ook deel van die film se debuut by die jaarlikse Silwerskermfees, wat altyd ’n uithanggeleentheid is vir beide filmfundi’s en rolprentmakers. Asook almal wat by die vervaardiging en produksieproses betrokke is. Selfs musikante wat die musiek vervaardig en skep.

So gepraat van die rolprent Silas en die ysbeer op Tafelberg: Die film het met ’n rits pryse weggeloop, naamlik beste oorspronklike klankbaan (Janine Neethling, Hunter Kennedy, Johnny de Ridder), beste kinematografie (Ebrahim Hajee), beste kostuums (Sulet Meintjes) en beste grimering en haarstilering (Jolene Cilliers).

Die unieke reis van hierdie oorspronklike draaiboekteks deur Annie Klopper en Zandré Coetzer, as regisseur en medeskrywer, dien as boustof waaruit twee afsonderlike boekformate ontstaan het. ’n Kleurvolle prenteboek vir jong lesers of as voorleesteks en ’n toeganklike selfleesboek vir meer behendige jong lesers.

Soos dikwels die geval is met boeke wat verfilm word, en dan ook in hierdie geval waar die film ’n boek word, gaan dit met ’n intense bemarkings- en sosialemediaveldtog en digitale hype gepaard. As kritiese leser is ’n mens aanvanklik skepties: Is hierdie boeke bloot ’n bemarkingsfoefie om die film se kommersiële voetspoor uit te brei, of het die boek self werklik selfstandige literêre en artistieke waarde?

Die kort antwoord is ja, die boek en storie verdien al die aandag en hype. Die ietwat langer antwoord wat in hierdie resensie in aanbod kom, is ook ’n harde “ja, maar ...”

Silas en die ysbeer op Tafelberg wys vir ons dat ’n kommersieel suksesvolle film ook ’n literêr bevredigende boek kan oplewer, al het die boek uit die film ontstaan en nie soos dit tradisioneel van boek na film gebeur nie.

Bemarking teenoor tekskwaliteit

In vandag se digitale era word filmvrystellings vir kinders selde in isolasie die wêreld ingestuur. Algoritmes op TikTok, Instagram en YouTube skep vooraf ’n verwagtingskultuur, lank voordat die gehoor ’n filmteater binnestap. Wanneer boeke kort na die film op die winkelrakke verskyn, is die gevaar groot dat dit soos haastige, aangeplakte merch-produkte kan voel. Dink hier aan die geval van Frozen wat in 2013 die hele wêreld versot op Elsa en Anna gehad het. Ironies gegrond op ’n sprokie wat in 1844 deur Hans Christiaan Andersen gepubliseer is as Die Yskoningin. Dit lei tot ’n goedkoop en gejaagde gevoel, waar teks sonder sorg rondom foto’s of grepe uit die film verpak word.

Silas en die ysbeer op Tafelberg vermy hierdie lokval met verbasende finesse. Waar baie afgeleide boeke ly aan ’n gebrek aan narratiewe diepte, veral wanneer temas soos die dood in kinderliteratuur hanteer word. Die skrywers en illustreerders benut hier die unieke tegnieke van die geskrewe teks vir beide ’n selflees- en prenteboek. Die sosialemediaveldtog rondom die film het ongetwyfeld die pad gelyk gemaak vir ’n wyer leserskap, maar die boeke oortref beslis die stigma van teksoorbenutting. Dit voel nie soos ’n kommersiële uitbuiting van ’n enkele verhaal nie, maar eerder soos ’n deurdagte herinterpretasie wat die wêreld van Silas en sy Arktiese besoeker deur die veelsydigheid van die verhaal vir kinders en jong lesers oopbreek.

Die prenteboek

Die prenteboekuitgawe is gepas vir voorskoolse kinders en vroeë lesers. Waar die film op dinamiese beweging en klank staat maak, moet die prenteboek daardie selfde energie vasvang, en die besluit om ’n animasie- en kreatiewe studio soos Studio Muti te gebruik vir die illustrasies was ’n bydraende faktor vir die visuele sukses van die boek.

Die illustrasies is nie net skermskote uit die film nie, maar aangepaste hoëgehalte-illustrasies wat die visuele wêreld van Tafelberg en sy magiese legendes vasvang. Die vergestalting van Klaasvakie, die dag- en nagvakies, Toemaar en die karakter van Van Hunks wat vir amper 200 jaar al deel is van die Kaapse volksverhale kry lyf in hierdie storie. Die kontras tussen die warm, fynbos-bedekte Kaapse landskap en die massiewe, wit, vreemde gedaante van die ysbeer help om ’n direkte visuele spanning te skep wat jong kinders sal boei. Want dit sneeu net in uitsonderlike gevalle op Tafelberg.

Die taalgebruik in die prenteboek is toeganklik en kinderlik sonder om kinderagtig te wees. Dit lees gemaklik hardop en laat plek vir baie vrae oor wat in die prente gebeur. Die teks vul die prente aan eerder as om bloot te beskryf wat reeds sigbaar is. Die prente help die storie vertel en dit skep weer die geleentheid vir ouers om gesprekke met hul kinders aan te knoop. Veral as dit moeilike gesprekke is, soos oor die afsterwe van ’n geliefde.

Die selfleesboek

Vir die ouer kind wat reeds selfstandig kan lees, bied die leesboekverwerking ’n heel ander ervaring as die film.

In die film beweeg die verhaal teen ’n vinnige tempo van een aksietoneel na die volgende. Daar word ’n narratiewe diepte geskep in die leesboek om die tempo op die regte plekke te vertraag en om Silas se innerlike belewenis en konflik te verken. Lesers word insig gegee in sy twyfel, sy vrees en die groeiende band van vertroue tussen hom en die ysbeer.

Die teks is op ’n vlak van Afrikaans geskryf wat die leser se woordeskat uitdaag sonder om frustrasie te veroorsaak. Die aksietonele op Tafelberg behou die kinematografiese vaart van die film, maar die beskrywende gedeeltes gee aan die leser die ruimte om hul eie verbeelding te gebruik – waar ’n film soms sy kyker van sy verbeelding ontneem. Dit is ook besonders om ’n verhaal te hê wat ’n omgewing so ikonies aan Kaapstad en Suid-Afrika ontgin. Dit is dus ’n storie vir ons kinders oor ’n plek wat hulle ken en waar sommige van ons gelukkig is om te woon.

Tematiese inhoud en relevansie

Die kern van Silas en die ysbeer op Tafelberg berus op ’n wonderlike fiktiewe en surrealistiese voorafspieëling: ’n ysbeer wat homself op een van Suid-Afrika se mees ikoniese geografiese bakens bevind. Hierdie tema bring ’n belangrike element van magiese realisme na Suid-Afrikaanse kinderliteratuur wat nie bloot sprokie of legende is nie.

Die ysbeer gryp onmiddellik die aandag en vestig dit op die omgewingsbewustheid oor klimaatsverandering en habitatverlies, sonder om dit prekerig aan te bied. Die veldbrande wat elke somer ons berge bedreig, omdat dit meer gereeld as die ideale elke 12–15 jaar brand, en wat die unieke meganismes wat die fynbos ontwikkel het, ontwrig, word onder ouers en kinders se aandag gebring.

Dit knoop ook ’n gesprek aan met boeke soos Die groot koelte (2019) deur Leon de Villiers wat weer lesers in die 10- tot 15-jarige ouderdomsgroep sal aangryp. Veral met die gebruik van bekende Suid-Afrikaanse kenmerke en omgewings, soos die Karoo, Tafelberg en die kontrasterende ysbeer wat glad nie hier voorkom nie.

Deur Tafelberg as die agtergrond vir ’n groot avontuur te gebruik, gee dit aan Suid-Afrikaanse kinders ’n gevoel van eienaarskap en trots. Dit bewys dat wêreldklasfantasieë in ons eie agterplaas kan afspeel. Daar is ook die verskeie verwysings na karakters soos Van Hunks, Klaasvakie, Bommel, wat ’n hus met langore is. Ook die karakter van Toemaar, ’n baie interessante intertekstuele verwysing na “Toemaar, die donker man”, ’n gedig deur Ingrid Jonker en ’n toonsetting daarvan as lied gesing deur Laurika Rauch. Hy kan op baie maniere gesien word as die Grim Reaper in Silas se verhaal.

Die verhouding tussen Silas en die ysbeer spreek van die universele tema van vriendskap en die moed wat dit verg om diegene wat broos of verlore is, te beskerm. Silas kyk sy vrese reguit in die oë: “Maar Silas staan bankvas: ‘Toe, kom! Kom uit! Kom kry my! Ek’s nie bang vir jou nie!’” (91).

Dit voel soms wreed om die tema en gesprekke rondom die dood in kinderverhale te vind, maar dit is partymaal die beste manier om kinders te help om die dood te verstaan. Die harde werklikheid is dat Silas se ouma oorlede is, maar vir hom is die dood iets om te soek en sy geliefdes teen te beskerm. Uiteindelik is hier ’n lewensles om te leer wat nie vir die leser gepreek word nie.

Hierdie verhaal is waarskynlik, naas Dawie die Kabouter, nog die mooiste manier om die dood aan ’n kind te verduidelik. Met ’n storie oor karakters wat abstrakte konsepte verteenwoordig, want dit is deur stories wat kinders, en ook ons as volwassenes, die wêreld om hulle verstaan en begryp.

Vooroordele ongegrond

Die skeptiese vooroordele dat Silas en die ysbeer op Tafelberg bloot ’n hol kommersiële produk is wat op die sukses van die film berus, is heeltemal ongegrond. Silas en sy ysbeer is eintlik ’n skitterende voorbeeld van hoe storievertel oor verskillende media behoort te werk. Die film het die wêreld geskep, maar die twee verskillende boekformate gee daardie wêreld ’n breër literêre lewe. Dit gee dit selfs meer diepte, want enige storie wat met ’n herlees nog ’n laag betekenis of verwysing oplewer, dui op ’n verhaal wat ryk is aan betekenis.

Of jy nou die prenteboek saam met ’n kleuter op die skoot lees, of die leesboek vir ’n laerskoolkind gee, of self wil lees om Tafelberg met ’n nuwe perspektief te ontdek, beide formate is ’n geslaagde boek in hul eie reg. Dit is ’n uitstekende toevoeging tot nie net die Afrikaanse kinderliteratuur nie, maar ook Suid-Afrikaanse kinderliteratuur. Silas en die ysbeer op Tafelberg wys dat goeie stories in meer as een medium vertel kan word en steeds op hul eie kan staan.

Verwysings:

Silwerskermfees 2026. https://silwerskermfees.co.za/digital%20films/speelfilm-silas-en-die-ysbeer-op-tafelberg-sal-oud-en-jonk-se-verbeelding-aangryp/ (Toegangsdatum: 30 Oktober 2026)

Silas en die ysbeer op Tafelberg. 2026. https://www.penguinrandomhouse.co.za/product/silas-en-die-ysbeer-op-tafelberg-10655086/ (Toegangsdatum: 28 September 2026)

Lees ook:

Silas en die ysbeer op Tafelberg: ’n onderhoud met Annie Klopper en Zandré Coetzer

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top