
Tel Aviv (Foto: ran | Pixabay)
Ivor Price skryf op Facebook:
Op my vlug van Dubai na Kaapstad het ek gisternag langs ’n Suid-Afrikansgebore Israeliër beland. Dit het haar ’n goeie tien minute geneem om op sitplek 25E te gaan sit – ’n oop sitplek wat nie aanvanklik aan haar toegeken is nie, maar dit het ’n bietjie meer beenruimte gehad.
Sy was uitgeput en, het ek later uitgevind, ook oorweldig met hartseer. Dit was ’n strawwe reis om die eerste vlug vanaf Tel Aviv af te maak, twee uur van die dorp waar sy saam met haar man en drie kinders woon. Die besluit om te reis het net ure vroeër gekom en sy moes inderhaas ’n paar goed in ’n sak gooi, en haar kinders groet.
Die vrou was op pad na Kaapstad om haar 85-jarige pa te begrawe – maande ná die dood van haar ma van iets in die 70 wat sy as haar alles beskryf het. Sy het genoem dat sy meer as ’n dekade laas by die huis was. Sy sou ook die enigste van die kinders by die begrafnis wees. Die res is in Switserland gebaseer.
Ita (haar Hebreeuse naam) het die laaste uur van die vlug ’n paar gedagtes oor haar pa neergeskryf, ’n diep ingewikkelde man met wie sy ’n ambivalente verhouding gehad het. Elke nou en dan het sy ’n terugflits van haar kinderdae gehad wat sy met my sou deel – ’n vreemdeling op ’n lukrake vlug vanaf die Persiese Golf.
Maar daar is geen toevallige ontmoetings nie, reg? Die ontmoeting met Ita was ’n heilige ervaring; ’n herinnering dat die dinge wat ons aan kinders doen en vir hulle sê ’n lewenslange impak het. Ek is oud genoeg om te weet dat niemand heeltemal ongedeerd uit hul kinderjare kom nie, maar dit verg ’n bewuste poging as ouers om nie ons “bagasie” aan ons kinders oor te dra nie.
Lees ook:
’n Wond deur sy pa toegedien: ’n lesersindruk van Seuns sonder pa’s deur Julian Jansen

