’n Eerlike en heerlike reis: Hoerkind deur Herman Lategan

  • 2

Titel: Hoerkind
Skrywer: Herman Lategan

Uitgewer: Penguin
ISBN: 9781776093380

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Ek weet van hoerkinders. Dit is wat my ouma van my pa gesê het. Hopelik, onwetend, omdat sy haarself hierdeur impliseer as die “misdadiger”. Hierdie skandvlek is aan menige mens gegee deur ’n samelewing wat veroordelend en in ontkenning gefunksioneer het. Die reg en verkeerd se oorsprong was, en is steeds in sekere gevalle, gebaseer op dogma en selfopgelegde mag.

In Herman Lategan se boek Hoerkind kom ’n klomp los drade bymekaar om ’n verstaan te gee aan hierdie begrip.

Op ’n eerlike en heerlike reis neem Herman jou saam op sy kleurvolle, disfunksionele lewe. Nege-en-negentig persent van dit wat met hom gebeur, is geheel en al buite sy beheer. Ek dink in Engels is daar ’n mooi uitdrukking: A comedy of errors.

In hierdie holderstebolder lewe van hom ontmoet hy van die beste digters, skrywers en kunstenaars. Maar dis nie net ’n ontmoeting nie, hulle word deel van sy lewe, amper intiem. Ek het my meer as een keer gevang dat ek hulle name gelees het, weer gelees het, en terug gegaan het om doodseker te maak ek lees reg. Dit is hierdie fenomenale vermoë van Lategan om die mooi en rou eerlikheid van sy waarheid te verwoord, waarop ek my hart verloor het.

Hy neem jou sonder voorgee of grêndgeit in sy skoene. So dan en wan kom jy agter dat die skoen dalk bietjie skaaf en druk, en dat daar ’n klippie of twee is wat met jou gedagtes amok maak.

...
Die lewe se harde hande het Herman toegerus met ervarings en emosies wat in sy talent as skrywer baie sterk na vore kom. Herman het sy liefde vir woorde en taal by die voete van meesters geleer, en dit is vandag die voorreg van elke leser om hierdie kunstenaar se werk te kan beleef op ’n vlak waar min mense presteer.
...

Dit is baie maklik om mense in boksies te plaas vanuit jou eie verwysingsraamwerk. Dan word daar ’n boek soos Hoerkind gepubliseer, wat jou klein wêreldjie so effe op sy kop draai. Die draaiery is nie ’n slegte ding nie, want dinge lyk heeltemal anders as jy op jou kop staan in stede van op jou voete. Party mense se lewe begin so voete in die lug, en net soms word hulle dit gegun om op hul voete te land. Dan is daar alewig diegene wat hierdie gebokste mens wil omstamp uit pure ingatgeit. Dis hierdie mense wat veroorsaak dat ons so min verstaan van die lewe. Oupas, oumas, tannies, ooms, ma’s, pa’s en onderwysers (eintlik maar almal) het die vermoë om ’n wêreld van sagmoedige, verstandige en wyse mense te verseker. Maar hulle is die groepie wat vinnig vingers wys na die regering, wetteloosheid, of watter eenvoudige vervelige algemene party ook al, as daar na oplossings gesoek word vir sosiale probleme. En glo my, diegene het al die antwoorde, gewoonlik in die vorm van “ek het al lankal gesê, bring terug die doodstraf” of iets dergeliks. Hier sal jy ’n gewaarborgde probleem vir elke denkbare oplossing vind.

Gelukkig is daar ’n paar rebelle wat hulle nie deur die bitterballe van die lewe laat stuit nie. Herman se ma was een van hierdie meisies. Sy het in volkleur geleef in ’n tyd toe swart en wit die inding was. Dank Vader dat sy haar seun toegelaat het om hierin te deel. Sy stories sal vir seker as “R-rated” geklassifiseer word. Want glo my daar is genoeg SNLV in om die sogenaamde morele samelewing na hul rooi penne te laat gryp.

Herman het in kinderlike onskuld geleef, en ’n ongekende vreugde as kind leer ken in die bordienghuise waar hy en sy ma gebly het. Maar toe begin die loop van die verdomde lewe kop uitsteek. Herman kom in die pad van hierdie sameloop van omstandighede. Hy kry te doen met apartheid, armoede, dakloosheid, alkohol, dwelms, ’n selfdoodpoging, molestering en verwerping as gevolg van sy seksualiteit. Die verlange na aanvaarding en liefde maak hom weerloos teen ’n siek gewetenlose pedofiel. Hy kom gou agter dat hy slegte emosies tydelik kan onderdruk met dwelms en drank. En daar bevind hy hom in dieselfde maalkolk waarin hy sy ma en pa verloor het.

Alles is egter nie verlore nie. Herman het ’n klompie mense met eienaardige rygoed wat sy kop bokant die water hou, sodat hy nie verdrink nie. Vandag is Herman ’n voorbeeld van “aanhouer wen”, al was dit nie noodwendig sy mikpunt nie.

Die lewe se harde hande het Herman toegerus met ervarings en emosies wat in sy talent as skrywer baie sterk na vore kom. Herman het sy liefde vir woorde en taal by die voete van meesters geleer, en dit is vandag die voorreg van elke leser om hierdie kunstenaar se werk te kan beleef op ’n vlak waar min mense presteer. Ek het al voorheen genoem dat ek geen pous of president is nie, maar Herman, in Hoerkind het jy nie net presteer nie, jy het ’n nuwe standaard gestel vir bestaande en voornemende skrywers. Laat die anties en omies van Knorpot Estate maar kerm en kla, solank jy net belowe om jou pen, so lank as wat jy kan, in diens van jou pragtige siel te hou. Mag jou laaste punt net die begin van jou volgende hoofstuk, artikel of boek wees.

Met ’n lag en ’n traan kan ek net dankie sê.

Lees ook:

Hoerkind deur Herman Lategan: ’n onderhoud met die skrywer

Book review: Hoerkind by Herman Lategan is "a rare privilege"

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top