
Anne-Marie Mischke skryf op Facebook:
Solank ek Mail & Guardian kan onthou, verskyn sy God-uitgawe elke jaar die Donderdag voor Goeie Vrydag op straat. Deur die jare het dit nog altyd weldeurdagte artikels oor religie bevat, nie net oor die Christelike godsdiens nie. Feitelike artikels, oor die stand van sake en artikels met ’n filosofiese en teologiese grondslag. Ek dink ek het dit ’n paar jaar misgeloop, met dié dat ek ’n ad hoc aanlynleser van M&G geword het, maar vanoggend lê vanjaar se uitgawe, kerklik pers met die opskrif GOD in groot wit letters, so opvallend bokant die Sunday Times dat ek dit nie kan miskyk nie. Weer eens, soos die Engels sê, “a good read”.
Die eerste paar artikels is meer feitelik as besinnend van aard en is aan kontemporêre kwessies gewy, en dis wat my interesseer: dit gee ’n beeld van sosiaal-religieuse verskuiwings van die afgelope jare.
- Die rol van millennium-sangomas in die swart gemeenskap, byvoorbeeld. (Terloops: hierdie jong mense verwys na die voorvadergeeste as “the underground gang”).
- Ook: Jesus se betekenis vir die jeug. (Hulle “unfriend” Hom as hy nie aan hul verwagtinge voldoen nie.)
- En: Sommige fundamentalistiese Christene se omhelsing van samesweringsteorieë en moderne “profesieë”.
- En: Die kerke en LGTBTQ+. (Die meeste is nog in die donker eeue vasgevang daaroor, en as julle dink die NG Kerk het nog nie die lig gesien nie, is die helfte julle nog nie vertel nie. Dit gaan erg in baie ander kerke.)
- En: Die onortodokse “Doom”-profete en diesulkes.
- Ook: God en die omgewing.
Sowaar ’n soort dwarssnit van die samelewing.
In die besinnende deel is daar ’n artikel oor Judaïsme en een oor die Boeddhistiese humanisme. Soos Paddy Harper op die hoofartikelblad sê: “We all find God in different places. En dan Drew Forrester oor Paulus. Oeps! Hy trap sekerlik op ’n hele klomp gevoelige tone. Daar is baie van ons wat ongemaklik rondskuif oor Paulus (die grondlegger van die Christelike teologie) en ander vir wie hy feitelik onaantasbaar is as pilaar van die Christologie. Hy kom nie goed uit hierdie artikel nie. Glad nie goed nie. (Ek wonder of jy dit gelees het, Sakkie Spangenberg?).
Nou-ja, vir sommige sal hierdie M&G nie tot stigting dien nie. Ander sal dit hoogs stimulerend vind.
Lees ook:
Kritiese besinnings oor die Israelse eiendomsaansprake op Palestina

