George Rauch skryf op Facebook:
Ek vind dit verstommend dat soveel mense hier op Facebook ekstreme pro-Trump uitsprake maak en dan verder gaan en hul medemense uitmaak vir die domste, slegste en eenvoudige mense omdat hulle krities teenoor Trump is en dit waarvoor hy staan.
Dis asof die Trump-euforie mense uit hul hedendaagse werklikheid ruk en ’n hernude verlange na die Christelik-nasionale lewens- en wêreldbeskouing van 50 jaar gelede laat opvlam. Dat hierdie filosofie ’n hersenskim is en, in sy politieke kleed, ons land en sy mense duur te staan gekom het, vergeet hulle.
Ja, ek was dáár. Stoere Nasionalis gewees. Voorgevat as Stellenbosse student. Gert Rof.
Almal wat van ons verskil het, het ons gedemoniseer.
Toe kom die werklikheid: Niks hiervan is waar nie. Afsonderlike ontwikkeling is 'n onwerkbare leuen. Christelik-volkseie-opvoeding resulteer in oningeligte, swak toegeruste en les bes geradikaliseerde mense wat gedoem is tot randfigure langs die teater van die lewe.
Ek kon wegloop van die Nasionale Party, padgee van die Broederbond, en losmaak van die rasideologiese dominees in die NG Kerk.
En nou is daar ’n groep Trump-aanbidders wat jou werklik dié ou verroeste, ontbindende filosofieë van die 70’s wil lewe inblaas....
Ja, ek is pro-lewe; ek is anti-woke (die siek “cancel culture wokeism”). Ek is pro-Bybelse genderidentiteit. Ek is pro-vergifnis, -barmhartigheid en -verdraagsaamheid.
Maar nie pro die “Christelike nasionalisme” wat Trump sy volgelinge voer nie. Die sektariese verval wat hieruit volg, sal Amerika inhaal. Die gevolge vir die wêreld (ook ons) sal moeilik herstel word, maar dit sal.
Ek is anti-vergelding (Trump se spesialiteit), -leuenagtigheid (Trump se styl) en -eiegeregtigheid (Trump se voorbeeld).
Asseblief, mense! Word wakker en stop die aanbidding van hierdie bewese “trickster!”
Sien ook:
Die Johann Rossouw-gespreksreeks: Donald Trump en ’n nuwe wêreldorde?