Bloed op die spore

  • 2

Egmont Sippel lewer kommentaar oor Donald Trump se tweede inhuldiging as Amerikaanse president.

In verslae oor Donald J Trump se inhuldiging as Amerika se 47ste president sal Amy Klobuchar se naam hoogstens as voetnota figureer. Maar daar was Minnesota se demokratiese senator op haar pos in die setel van Amerikaanse mag, die Kapitool.

Weens bittere koue is vanjaar se seremonie van die gebruiklike buitemuurse parade na ’n binnemuurse byeenkoms verskuif.

Trump het in sy lang swart jas gearriveer. Klobuchar was stylvol in blou. As voorsitter van die kongresionele inhuldigingskomitee was dit haar plig om verrigtinge met ’n toespraak af te skop, een wat die doek moes span waarop die inkomende president kon voortskilder.

Amy het die blywende aard van die Amerikaanse demokrasie – soos versimboliseer deur die vreedsame oordrag van mag – as sentrale tema van haar praatjie gekies. En met goeie rede.

Die man in wie se skoot die planeet se grootste magsposisie vroeër vandeesweek so vreedsaam geval het, het vier jaar gelede ’n boosaardige bende na die Kapitool gestuur.

Die missie was om die sertifikasie van Joe Biden as president te stuit en homself onregmatiglik aan bewind te hou.

Donald Trump het niks minder as ’n staatsgreep van stapel probeer stuur nie. Ná die verydeling van ’n swetterjoel onderduimse planne om aan bewind te bly – insluitend tientalle mislukte hofsake om sogenaamde verkiesingsverneukery te bewys, asook ongekende druk op vise-president Mike Pence om die sertifikasieproses van Joe Biden te korrupteer, plus die werwing van ’n horde vals elektore wat wederregtelik op 6 Januarie 2021 vir Trump as president moes stem – het Die Don ’n laaste desperate uitweg probeer.

Geweld.

En dit van ’n man wat voortdurend verkondig dat hy nie ooghare vir oorlog het nie. Maar toe hy soos die president van ’n piesangrepubliek aan mag wou klou, was Trump heel bereid om oorlog teen die Amerikaanse staat te voer.

*********************

In die proses het Donald J Trump, oftewel DJT, natuurlik sy eed aan die grondwet verloën soos geen ander president in die amperse 250 jaar van Amerikaanse demokrasie nie.

Ná naakte aanhitsing van sy volgelinge, alles gebaseer op ’n infame leuen dat 2020 se verkiesing van hom “gesteel” is en dat hy die éintlike wenner was, het Trump die opstand van 6 Januarie 2021 vir drie uur lank op TV gade geslaan sonder enige poging om die geweld te beëindig.

Dat selfs sy eie dogter en vele kabinetslede hom gesmeek het om in te gryp en dat sovele kongreslede, asook sy eie vise-president se lewe bedreig is, het hom min geskeel. Al wat vir DJT getel het, was om aan bewind te bly.

In kort was die opstand ’n oomblik van landsverraad.

Maar ja, die ratte van die reg draai stadig, veral as ’n konserwatiewe en korrupte hooggeregshof die saak só sou manipuleer dat die aanklagte teen Trump nie vóór 2024 se presidensiële verkiesing verhoor kon word nie.

Vir Die Don was einste verkiesing natuurlik reg of weg. Het hy verloor, sou die uiteinde van albei federale sake teen hom ’n oranje pakkie vir die Oranje Man gewees het. Dit was die heilige oortuiging van baie, onder meer een van Trump se eertydse Withuis-prokureurs, Ty Cobb.

Maar wat wou, ook in Florida se sogenaamde dokumentesaak – eweneens met bowetone van landsverraad nadat Trump honderde hoogs-geheime dokumente uit die Withuis gesteel het – was dit die ambisie van ’n onervare jong regter, Aileen Cannon, wat sou sorg dat die saak in ’n moeras van korrupte vertragings en beslissings wegsink.

Cannon is immers vierkant op ’n hooggeregshof-aanstelling gefokus. En beloon sal sy sekerlik deur Trump beloon word as een van die hof se huidige nege regters om welke rede ook al in die volgende vier jaar wegval.

*********************

Die Oranje Man is nie verniet weer in ’n posisie om lekkertjies uit te deel aan hulle wat sy skoene blink soen nie. Uit vrees dat Trump hul mega-maatskappye sal teiken, staan veral die teg-indoenas natuurlik tou om DJT se gunste en gawes te verseker.

Mark Zuckerberg (Meta), Jeff Bezos (Amazon), Tim Cook (Apple), Sundar Pichai (Google) en Shou Zi Chew (TikTok) het almal rojaal tot die koste van Trump se inhuldigingsfunksie bygedra. As vergoeding het hulle Maandag van die prominentste sitplekke in die Kapitool se Rotunda betrek, reg voor Trump se nuwe skynkabinet.

En ja, die skadupresident was ook daar, onse eie Elon, wat so lief vir kinderagtige manewales is as hy op ’n politieke verhoog verskyn. Een van Musk se toesprake is nou die dag selfs twee keer met ’n Nazi-saluut afgesluit.

Fascisme is heel gesond en lewendig in die moderne VSA. Mark Milley, wat deur Trump as stafhoofvoorsitter van die Amerikaanse magte tydens DJT se eerste ampstermyn aangestel is, beskryf Trump as ’n “fascis tot in sy kern, die gevaarlikste mens in Amerika”.

So ernstig was Trump se dreigement van wraak teenoor Milley en ander wat as vyande beskou word – soos sy aanvanklike hoofraadgewer tydens die Covid-epidemie, Anthony Fauci – dat Biden in die laaste minute van sy ampstermyn genoop gevoel het om voorkomende presidensiële verontskuldigings aan hulle toe te staan.

Dink daaraan: Die uitgaande Amerikaanse president vind dit nodig om kritici van sy opvolger met die mag van die presidensie te beskerm.

En nie om dowe neute nie. Generaal John Kelly, een van vier wat in Trump se Withuis as personeelhoof gedien het, onderskryf Milley se tipering. Trump, seg hy, bewonder Hitler en het die Nazi-leier telkemale lof toegeswaai terwyl beseerde of gevalle Amerikaanse soldate as “suckers and losers” uitgekryt is.

Benewens Milley en Kelly is daar nog ’n lang lys Trump-kritici in die geledere van mense wat al direk vir DJT gewerk het.

Daar’s ook baie kruipers wat op hul knieë voor Die Don neerval, eerder as om sy irrasionele toorn te ontlok.

Albei lyste – van kritici én kruipers – is langer as Trump se swart Mafia-jas.

*********************

Waar om met die kruiplys te begin?

Wel, wat van Cannon? Of dalk twee van die mees korrupte hooggeregshof-regters in menseheugenis, Clarence Thomas en Samuel Alito? Of die swetterjoel boewe en kroeks wat in Die Don se vorige presidensiële lewe raadgewers en vertrouelinge was; Steve Bannon, Peter Navarro, Michael Cohen, Paul Manafort, Roger Stone, Rick Gates, George Papadopoulos ...

Die héle spulletjie het al tronkstraf op die lyf geloop. Trump se voormalige prokureur Rudy Giuliani (wat so hard probeer het om Joe Biden met korrupsie in die Oekraïne te verbind) is self op die randjie van tjoekietyd.

Baie van die ander wat Maandag binnekringsitplekke in die Rotunda losgeslaan het om Trump se inhuldiging by te woon, sou allermins ook as modelburgers beskryf word.

Conor McGregor is byvoorbeeld ’n gewese UFC-gevegskampioen wat onlangs hofstraf van $250 000 op die lyf geloop het ná ’n klag van aanranding en verkragting. Soort soek soort; E Jean Carroll se verkragtingsaak teen DJT het op ’n soortgelyke spoor geloop.

Dan was daar ook die twee Paul-broers, die boksers en sosiale media-sterre Jake en Logan. Jake – wat as “The Problem Child” bekend staan – het onlangs teen Mike Tyson geboks. Dis manne hierdie uit die Jerry Springer-helfte van die Amerikaanse kudde.

Dis ook die soort semels met wie Trump meng.

’n Dag na sy inhuldiging het Amerika se 47ste president boonop 1 500 geweldenaars wat die Kapitool op 6 Januarie 2021 bestorm het, gepardonneer, onder meer die leiers van die Oath Keepers en die Proud Boys, onderskeidelik Stewart Rhodes en Enrique Tarrio.

Vir hul aandeel in die opstand het Rhodes 18 jaar tronkstraf gekry en Tarrio 22 jaar. Dis nie strawwe wat ligtelik deur die howe uitgedeel is nie. Nou’s hierdie ekstremiste terug op vrye voet. Amerika se opperbevelhebber het nogmaals die wet geskroef.

Michael Fanone, omgekeerd, is een van die polisiemanne wat die Kapitool op daardie aaklige dag teen die aanslag probeer beskerm het. Fanone is al telkens met sy lewe gedreig.

Na dese sal hy en sy familie opnuut ’n teiken vir Trump se voetsoldate word.

*********************

DJT is min gepla. Hý het besluit dat die howe se strawwe vir oortreders te erg was. Hý het besluit om die sake se enkelarbiter te word. Hý eien homself almagtigheid toe.

Of in die woorde van Barbara Res (wat lank vir Trump gewerk het): “Hy dink hy is God.”

Nie dat Trump ooit goddelik optree nie. Hy’s veel meer geneig tot die vulgêre, soos om voor ’n gehoor van duisende met ’n spastiese persoon te spot of orale seks op sy mikrofoon te simuleer.

Die probleem is dat Donald J Trump nog minder waardes as maniere het. Sy gunsteling- politieke vennote is ’n klomp moorddadige internasionale skurke, soos Poetin, Xi Jinping, Kim Jong Un en Bibi Netanyahu.

Per slot van sake is Trump al twee keer in ’n staat van presidensiële beskuldiging geplaas. Én in ’n hof skuldig bevind aan seksuele teistering. Én aan 34 aanklagte van verkiesingsmisdaad. Én aan omvangryke belastingontduiking deur die Trump Organization. Én aan “a shocking pattern of illegality” deur die Donald J Trump Foundation, wat veronderstel was om ’n liefdadigheidstigting te wees, maar deur die hof ontbind is omdat Trump geld vir homself gevat het.

Ons kan voortborduur. Daar’s vele meer voorbeelde. Trump is ’n eenman-kriminele tsunami.

Nou’s hy weer president; die eerste regsveroordeelde misdadiger om Amerika se opperbevelvoerder te word, hierdie buitewetter wat sy mag skaamteloos inspan om die proses waardeur hy verkies is – die demokrasie – tot in die grond te boor.

En toe sê Amy tydens die inhuldigingseremonie: “It’s on all of us – to quote an incredible songwriter who just happened to be born in my state – to ensure that our nation’s democracy is our ‘shelter from the storm’.”

*********************

Bob Dylan is nie by naam deur Klobuchar geïdentifiseer nie, maar “Shelter from the storm” was ’n treffer op een van die ou meester se allerbeste LP’s, getiteld Blood on the tracks.

En ek wonder of Amy daarvan bewus was, maar toe sy Maandag met ’n ompad na oom Bob en Blood verwys het, was dit presies, tot op die dag, ’n halfeeu sedert die langspeler bekendgestel is.

Nou maak Amerika reg vir nog bloed op die spore. Trump het oorlog teen “ontoelaatbare en verwyderbare” immigrante verklaar. Binne perke is dit natuurlik nodig. In die stilligheid het die proses ook ernstige aandag onder presidente Biden en Obama geniet.

Tydens Trump se eerste termyn is omtrent 1,5 miljoen mense uit die VSA verwyder, ’n syfer wat in elk van Obama se twee bewindtermyne, asook deur Biden se enkelstrek geëwenaar is.

Nou soek Trump egter die bloed van miljoene immigrante per jaar, iets wat honderde miljarde dollar sal kos.

Eerstens sal die Immigration and Customs Enforcement (ICE)-agentskap se bemanning van 20 000 drasties moet groei.

Tweedens sal daar enorme logistieke uitdagings wees. Amerika se deportasieproses is lank en ingewikkeld. In ’n stelsel met ’n jarelange agterstand moet aangehoudenes onder meer op ’n “alternatief tot aanhouding”-program geplaas word, terwyl hulle wag om voor ’n immigrasieregter te verskyn.

Trump se voorgenome oplossing vir behuising is enorme kampe wat tans nie bestaan nie.

Selfs ná ’n gepaste hofbevel moet diplomatieke samewerking ook verkry word van die land waarheen deportasie sal plaasvind, terwyl die drastiese vermeerdering van vlugte om sovele siele te deporteer waarskynlik die aanvullende diens van militêre vliegtuie sal vereis.

ICE se begroting is tans minder as ’n halfmiljard dollar per jaar. Deportasie van ’n miljoen mense sal honderde miljarde per annum kos. Daar’s minstens 11 miljoen ongedokumenteerde immigrante in Amerika, of 20 miljoen volgens Trump (wat nooit lieg of oordryf nie, wink-wink).

Dit alles ook vóór die bykomende koste van verdere werk op die muur tussen Meksiko en die VSA; plus ’n vlootblokkade om fentanielvervoer te verydel; plus die hervestiging van duisende soldate op Amerika se suidelike grens; plus regskostes wat klaar weens ’n weerstand teen die program begin oploop; plus die enorme verlies aan goedkoop arbeid in, vir en op plase, hotelle, hospitale, restaurante, fabrieke, konstruksie, aanlegte, munisipale dienste, en so meer.

Dit dan as een van baie omstrede idees wat Trump soos sand op die strand rondstrooi. Daar’s baie ander, soos om Groenland en die Panama-kanaal as Amerikaanse grondgebied in te lyf.

Maar eers die teenperspektief rakende Trump se massa-deportasiebeleid wat Maandag tydens ’n gebedsdiens in Washington DC se Nasionale Katedraal so kragtig deur biskop Mariann Edgar Budde verwoord is.

*********************

Budde het ’n pleidooi gelewer vir die armes en verdruktes, die swakkes en vertraptes, die LGBT-gemeenskap en ongedokumenteerde immigrante wat goeie werkers, goeie bure en goeie belastingbetalers is.

Genade en barmhartigheid was haar tema.

Die goeie biskop het ook ’n beroep op eenheid oor alle grense heen gedoen, ’n eenheid wat volgens haar uit drie grondbeginsels spruit.

Die eerste is die eerbiediging van alle mense se ingebore gelykheid en waardigheid, soos ook in Amerika se Verklaring van Onafhanklikheid verwoord word.

Respek is die operatiewe beginsel.

Moet byvoorbeeld nie ander in die openbaar bespot, verkleineer of demoniseer nie. Moenie ’n “kultuur van veragting” in Amerika normaliseer nie.

Budde se tweede en derde ankers vir eenheid is eerlikheid en ootmoed.

Sy’t ook gepraat oor Jesus se oproep om nie net ons naastes lief te hê nie, maar ook ons vyande; om genadig te wees en te vergewe; en om Dylan se “shelter from the storm” aan almal beskikbaar te maak.

Elk van hierdie punte is natuurlik direk aan Trump gerig. Budde het die president se gruwelkarakter op ’n sagte, beskaafde en eerbiedige manier aangespreek, maar sonder om voor die formidabele mag van sy presidensie weg te deins.

Trump het merendeels stoïes sit en luister. Die kere wat daar emosie in sy gesig te lese was, het dit onverbloemde veragting gespel. Langs hom het Melania se koue, kille Slaviese oë die biskop met skeermeslemmetjies uitmekaar gesny.

Nou en dan het haar man iets in haar oor gefluister. Mens kan raai wat. Dan’t Melania met ’n hoogmoedige trek om haar mond geglimlag; wat weet Mariann Edgar Budde van die lewe?

Trump se vise-president, JD Vance, het ook nou en dan in sý vrou, Usha, se oor gefluister of beterweterige blikke met Trump verwissel. Die biskop se Christelike boodskap is voetstoots en met minagting deur die presidensiële kliek verwerp.

Trump is natuurlik ’n ateïs. Hy’t geen erg aan geloof nie en dis elke mens se goeie reg. Maar dan moet hy nie voorgee om ’n gelowige te wees nie en dan moet DJT nie behandel word asof hy die Seun van God is nie.

Trump se god, per slot van sake, is hyself. Hy kan nie tegelykertyd God en Seun wees nie.

En vir Vance om na Budde te luister asof haar Christelike boodskap uit Frankenstein se mond kom, is om sy eie katolieke oortuigings te verloën. Maar hy’s ’n politieke operateur, JD. Hy swaai sy mantel na die wind. Vier jaar gelede nog het hy Trump as Amerika se Hitler beskryf.

Toe Trump agterna gevra is wat hy van die diens dink, was sy antwoord: “What did you think? Was it exciting? Not too exciting, was it? I didn’t think it was a good service, no.”

*********************

Opwindend?

Hoe opwindend moet ’n gebedsdiens wees? Miskien, as daar ’n groter geklingel van geld was. En as die biskop maar net die deugde van haat, hoogmoed, dikvelligheid, dunvelligheid, veragting, belediging, nyd, afguns, grootpratery en leuens, leuens, leuens verstaan het ...

Ai. Die arme Mariann Edgar Budde. Sy lewe in ’n waas.

So het die man in die lang swart jas en die rooi das by homselwers gedink. Later in die aand het hy die volgende oor Budde getwiet:

The so-called Bishop who spoke at the National Prayer Service on Tuesday morning was a Radical Left hard line Trump hater. She brought her church into the World of politics in a very ungracious way. She was nasty in tone, and not compelling or smart.

Gepraat van “nasty” en “ungracious”! Trump het afgesluit deur aan te dring op ’n verskoning.

En dis waar Amerika vandag is. Daar’s ernstige kwessies op alle fronte maar die man wat polities op ’n Christelik-nasionale platform opereer, vind tyd om maalvleis van ’n diep-Christelike mens en boodskap te maak.

Waar’s die respek, Oranje Man? Waar’s die ootmoed? Waar’s die eerlikheid?

Jy’t krediet gesteel vir die skietstilstand wat Joe Biden in Gaza beding het. As die skote weer begin klap, sal jy jouself van skuld onteien en Biden blameer.

Dan’s daar die Oekraïne-oorlog wat jy op Dag Een sou beëindig het, dan nie, Donnie? En as China Taiwan binneval, sal jy die eiland ook sonder ’n skoot aan die Rooi Draak afstaan, dan nie, Donnie?

Aan die Verre Ooste kan mens ook nie dink sonder die woord tariewe nie, volgens jou een van die mooiste woorde wat daar is. Voer dan jou tariefoorloë, Donnie. Onttrek uit die Paryse Klimaatsverdrag en die Wêreldgesondheidsorganisasie en selfs NAVO.

Go it alone, soos hulle sê. America First.

Dan sal ons sien of jy op tuisbodem die prys van kruideniersware en brandstof onder beheer kan kry sonder om Amerika se skuldlas die dieptes in te dompel, soos jy voorheen gedoen het.

Nes Obama het Biden jou met ’n sterk opwaartse kurwe in die ekonomie gelos, ná die gemors wat jy destyds aan Joe agtergelaat het.

En wat van die disrespek wat jy aan hom en die ganse Amerikaanse tradisie getoon het deur Joe se inhuldiging ’n mis te gee en sy verkiesingsoorwinning te ontken? Joe, wat jou die grasie getoon het om die tradisionele oorhandigingstee tussen presidente in die Withuis aan te bied. Joe, wat jou die grasie getoon het om jou inhuldiging by te woon.

Joe, vir wie jy openlik in sy gesig en op die vieslikste moontlike manier tydens einste funksie op wêreldwye TV beledig en bespot het.

Om jou tweede termyn as die begin van “Amerika se goue era” te beskryf het min gedoen om jou nyd en haat en donker, distopiese siel te verbloem. Beledigings is buitendien nie wat presidente tydens inhuldigingstoesprake uitdeel nie, Donnie.

Maar wat, daar’s baie ander dinge wat jy oor die volgende vier jaar gaan doen wat presidente nie moet nie.

*********************

In 1955 het Graham Green The quiet American gepubliseer. Presies ’n driekwart eeu later is The ugly American op volspoed terug. Trump is die oer-voorbeeld van grootbek-Amerikaners.

Hy sal goeie dinge ook in die volgende vier jaar vermag. Inflasie sal – moontlik – hokgeslaan word. Die volk sal – moontlik – meer geld in hul sak steek. ’n Oorlog of twee sal – moontlik – beëindig of vermy word.

Maar waar’s die siel van ’n nasie waarvan die president ’n pleidooi vir genade en barmhartigheid openlik en met minagting verwerp? Waar lê so ’n land se geestesgesondheid?

Waar’s Amerika?

“Kathy, I said as we boarded a Greyhound in Pittsburgh ... ” Dit nou die soet klanke van Simon & Garfunkel uit hul 1968-treffer, getiteld “America”. En dan later die rede vir die reis: “I’ve gone to look for America.”

So. Waar is daai plek? Waar is sy demokrasie? Waar is die “shelter from the storm”? Waar is die goeie mensewaardes waaroor Mariann Edgar Budde gepreek het, die verdraagsaamheid, eerlikheid, ootmoed en genade?

In haar toespraak tydens Trump se inhuldiging het Amy Klobuchar optimisties probeer klink. Maar kyk mens na Trump se voorgestelde kabinet – ’n versameling van dronklappe, biljoenêrs en skoothondjies – lyk dit nie of daar enige “shelter” op die horison is nie, net ’n storm.

En antwoorde dan op die vrae hierbo?

Kom ons maak soos Amy. Kom ons soek dit by Bob.

Dit begin by die titel van die ou meester se comeback-LP in 1989, Oh mercy. Dit eindig met die laaste snit op kant een, “Man in the long black coat”, waarvan die refrein so klink: “She’d gone with the man in the long black coat.”

Dis winter in die VSA. Trump het met ’n lang swart jas by sy tweede presidentsinhuldiging opgedaag.

In sy sak het hy Amerika gedra.

Die wêreld se sterkste moondheid behoort nou aan hom.

Lees en kyk ook:

Die Johann Rossouw-gespreksreeks: Donald Trump en ’n nuwe wêreldorde?

Wat sê Bettina? Trump 2.0 in volle swang

Trump en Suid-Afrika

 

  • 2

Kommentaar

  • TRUMP-LOGIKA
    1) Die Indiese Oseaan moet voortaan die Afrika-oseaan wees.
    2) Antartika behoort aan Suid-Afrika.
    3) Bou 'n muur tussen ons en die ander SADEC-lande.
    4) Lyf Zimbabwe in as ons tiende provinsie.
    5) Stel Mark Shuttleworth aan as Hoof van Tegnologie in die kabinet.
    6) Koop Mosambiek/Mauritius/Seychelles.
    7) Belas alle invoere vanaf BRICS lande met 60% ekstra.
    8) Las by Nkosi Sikelela 'n reguit-arm saluut.
    9) Repatriasie van alle Suid-Afrikaners wat oorspronklik vanaf Europa gekom het.
    10) Vrywaring van tronkstraf vir alle skurke, Daisy Demelker, Tsafendas en Harry die Strandloper.
    11) Erkenning vir net twee geslagte (vorige en huidige geslag)
    12) Stel Riaan Cruywagen aan as hoof van Suid-Afrika se Veiligheidsmagte.
    13)...en Adv Barbie hoof van Intelligensie Dienste.
    14) Herontwerp die hele regsisteem in Suid-Afrika en verkoop regtersposte in die Grondwetlike Hof teen afslag.
    15) Maak groot, breërandhoedens verpligtend by seremoniële byeenkomste.
    16) Drink baby drink
    Las maar by....

  • Wat 'n groteske, eensydige tirade! Gelukkig is daar darem meer as 77 miljoen VSA kiesers wat beter as Sippel weet.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top