Elders gesien: Genadedood

  • 7

Foto: Vargas | Pixabay

...
Ons was bly dat ons nie hoef te aanskou het hoe die lewenslustige dame met die silwer hare, gebreide sjaals en parmantige laggie soos ’n herfsblaar voor ons oë verwelk nie.
...

Sidney Gilroy skryf op Facebook:

Daar is onlangs berig oor die dame wat genadedood verkies het bo die stadige, uitmergelende dood wat terminale kanker tot gevolg het. Dit het tot ’n slagveld van vitrioel en beskuldigende opmerkings en aanmerkings op die sosiale media en in koerantberigte gelei. Daar was natuurlik boodskappe van ondersteuning en “ek-verstaan” ook.

Ek verstaan.

Toe ek in Europa gewoon het, het ’n buurvrou genadedood bo kankerbehandeling verkies. Nou, as jy die deel van Europa ken waar ek gewoon het, sal jy weet dat die strate maar bitter kort is in die buitewyke van die stad en op die landelike gebiede. Daar is hoogstens 8 huise in ’n “blok”. Dus was ons almal in die straat bewus van wat aangaan toe die mediese personeel en polisie opdaag op ’n grou herfsoggend om die helikopter voor die huis te laat land. Die parkerings in die straat is vroegoggend deur ons ontruim om vir haar familielede plek te maak. (Ook iets van Europa: parkering is amper meer werd as jou huis en as jy dit nie gebruik nie, gaan iemand anderste dit gaps. Niemand het daardie oggend die parkerings gegaps nie). Ons almal het daardie oggend met eerbied in ons huise gebly. Niemand het deur hul ruite geloer om te sien wat aangaan nie. Niemand het soos agies rondom die huis saamgedrom nie. ’n Uur of twee later, is haar liggaam op ’n draagbaar na die helikopter gedra. Sy was in ’n sedige, wit lyksak. Met respek is sy in die romp van die helikopter gelaai en sekondes later het hulle met haar vertrek. Haar familie het nie uitgekom om haar by die helikopter af te sien nie. Hulle het dit vooraf, in die privaatheid van die huis gedoen. ’n Paar minute later het ons almal van uit ons eie huise gekom om wit tulpe voor haar voordeur te plaas. Niemand het iets gesê nie. Niemand het gehuil nie. Niemand het aan haar voordeur geklop om haar familie te vertroos nie. Sy was weg. Ons was bly dat ons nie hoef te aanskou het hoe die lewenslustige dame met die silwer hare, gebreide sjaals en parmantige laggie soos ’n herfsblaar voor ons oë verwelk nie. Ons was bly dat daar vir haar ’n statige, respekvolle alternatief was. Die volgende dag het almal weer met hul lewens aangegaan: Werk. Kinders. Winkels. Kos. Skool.

Die tyd is ryp dat Suid-Afrika genadedood in ons grondwet in kodeer. Enige dokter sal jou vertel dat die pasiënt altyd die laaste sê het. Hulle kan kies om behandel te word of hulle kan behandeling weier. Die implikasie is dus dat hulle buitendien verantwoordelikheid vir hul eie lewe neem. Waarom dit dan nie maklik maak vir dié wat kies om hul eie lewe te neem nie? Waarom hulle dan nie bystaan met finale mediese bystand nie?

Ek verstaan baie goed dat daar geloofsoortuiginge bestaan wat genadedood verbied. Ek glo egter in ’n God van liefde, verdraagsaamheid en veral genade. Lees die woord weer: GENADEdood.

Lees ook:

’n Veelkantige besinning oor eutanasie

Bystanddood – ’n omstrede saak

Genadedood is ’n demokratiese reg

  • 7

Kommentaar

  • Ek lees Karel Schoeman se ‘Op ʼn Eiland’ en iewers vermeld 'n karakter dat ene Sappho van 'n krans in die see gestort het. Google sê : “... she killed herself by leaping from the Leucadian cliffs due to her unrequited love for ferryman Phaon. Sappho was a prolific poet, probably composing around 10 000 lines.” 570 BC. Dalk 'n onvolwasse besluit, maar passie tel tog vir iets.
    Ek dink Ingrid Jonker.
    Die meeste van die massa (asook miere hier buite in die tuin) werk graag tot hulle doodgaan en verklaar iets soos: dit was 'n goeie lewe. Miere dink uiteraard nooit aan selfdood nie. Deborah Steinmair skryf in vanoggend se VWB oor die werk en lewe van Koos du Plessis wat goddank weggeraap is. Hoe tragies en vervelig sal dit nie wees as elkeen wag totdat sy van pyn wegkwyn voor jy “geregtig” is op genadedood nie. [Te veel wins word boonop deur giergatte gemaak uit die laaste paar jaar van ʼn mens se “lewe”.]
    Nee, jy het nie 'n regering of jou ma se toestemming nodig nie. Leef voluit, maar hang die handskoene betyds op as jy kans sien.
    Cheers, Carol.

  • Piet Engelbrecht

    Stem so saam met jou. Doodskiste word met skroewe en spyker toe gestaan om die onkoterapeute (kankerdokters) uit te hou!
    As dit God se wil is dat ek in uiterste pyn moet lewe, dat ek vasgekluister in 'n bed moet wees omdat ek verlam is, of dat ek bedlêend is, dan is dit nie n liefdevolle God nie.
    Ons is so bang gemaak vir die Hel dat ons almal vreesbevange is om dood te gaan, watter God laat die Hel toe?
    Dan wil jy vir my kom voorskryf, op die bevel van so'n hartelose God, wat ek my eie lewe, en meer as dit, op die gebrek aan 'n sinvolle lewe aan hierdie hartelose God se idees moet stuur.
    Nee wat, dis my lewe en net myne en ek sal en nag besluit wanneer ek wil gaan.

  • Susan de Klerk

    Nadat ek vir ’n ruk lank in n onkologiesaal gewerk het, het ek nog sterker oor genadedood gevoel. Dis ’n verskriklike fisiese lyding vir die pasiënt en ’n verskriklike emosionele lyding vir die familie. Die pasiënt behoort egter die keuse uit te kan oefen om dit te beëindig. Emosie behoort nie in die pasiënt se pad te staan nie.

  • Hanno Visagie

    Dis teleurstellend dat die woke Litnet met hierdie debat telkens kommentare van ervare belese geneeshere en weergebore Christene weier, sodat net een kant telkens voorgetrek word.

  • Annora Eksteen

    Mooi geskryf. Ontroerend. Die dood is swaar en om dit met waardigheid te kan hanteer, is vir my goed. 'n Besluitneming en 'n vredevoller hartseer afskeid.

    Ek weet nie of die DA 'n voorstander is vir die genadedood-opsie nie.

    "Met respek is sy in die romp van die helikopter gelaai en sekondes later het hulle met haar vertrek. Haar familie het nie uitgekom om haar by die helikopter af te sien nie. Hulle het dit vooraf, in die privaatheid van die huis gedoen. ’n Paar minute later het ons almal van uit ons eie huise gekom om wit tulpe voor haar voordeur te plaas. Niemand het iets gesê nie. Niemand het gehuil nie. Niemand het aan haar voordeur geklop om haar familie te vertroos nie. Sy was weg. Ons was bly dat ons nie hoef te aanskou het hoe die lewenslustige dame met die silwer hare, gebreide sjaals en parmantige laggie soos ’n herfsblaar voor ons oë verwelk nie. Ons was bly dat daar vir haar ’n statige, respekvolle alternatief was. Die volgende dag het almal weer met hul lewens aangegaan: Werk. Kinders. Winkels. Kos. Skool."

    Dankie vir die mooi vertelling.

  • Ek sien nie die nodigheid om n mens so te laat ly as die persoon terminaal is nie. Ek het my ma vir 3 jaar 8 maande versorg en sy wou net sterf. Dit was hartverskeurend. Ek stem vir genadedood.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top