Elders gesien: Boeke verniet = Afrikaans vernietig

  • 1

Foto: Felix Mittermeier | Pixabay

...
Daar is nie meer geld vir die taal nie.
...

Sidney Gilroy skryf op Facebook:

Wat gebeur as jy ’n boek steel of ’n onwettige PDF-weergawe van ’n boek oor WhatsApp of Telegram versprei?

Daar is nie meer geld vir die skrywer nie. Die R9 tot R23 per boek wat die skrywer ontvang, is weg. Die maande, in sommige gevalle jare, se navorsing en skryfwerk was verniet. Die ure wat die skrywer spandeer het om die boek te skryf, weer te skryf, wéér te herskryf en te redigeer, was verniet.

Daar is nie meer geld vir die redakteur nie. Die redakteur wat die boek in sy oorspronklike vorm moes evalueer en goedkeur, het dit verniet gedoen. Die tallose notas, verstellings, navorsing en voorstelle wat aan die skrywer gegee is en die gepaardgaande leiding wat verskaf is, was verniet.

Daar is nie meer geld vir die taalversorger nie. Die persoon wat met ’n vergrootglas deur die teks beweeg het, het dit verniet gedoen. Elke uur wat hy of sy spandeer het om die juiste woorde na te vors, spelling na te gaan, sinne te weeg en aan te pas, was verniet.

Daar is nie meer geld vir die setter nie. Die persoon wat weke spandeer het om die teks van digitale dokument tot gereed-vir-die-drukker te rangskik, het dit verniet gedoen. Elke sin, paragraaf en hoofstuk wat sorgvuldig tot leesbare bladsye omskep is, was verniet.

Daar is nie meer geld vir die kunstenaar nie. Die voorblad, die ontwerp van die agterblad, die teks wat geskep is om die boek te bemark, die video’s en prentjies vir sosiale media en die webwerf vir die boek, was verniet.

Daar is nie meer geld vir die bemarker nie. Elke sosialemediaplasing, elke koerantberig, elke tydskrifartikel, elke radio- of televisieadvertensie en elke boekbekendstellingsgeleentheid was verniet.

Daar is nie meer geld vir die verkoopspersoon nie. Elke e-pos wat gestuur is, elke brosjure wat versprei is, elke vergadering wat gehou is, elke winkeluitstalling wat gerangskik is en elke telefoonoproep wat gemaak is om mense van die nuwe boek te vertel, was verniet.

Daar is nie meer geld vir die winkelpersoneel nie. Elke rak wat gepak is, elke plakker wat vasgesit is, elke vertoontafel wat gerangskik is, elke bekendstellingsgeleentheid wat gereël is, elke dingetjie wat aangekoop is, elke vriendelike glimlag, die kasregister en die plastieksakkies, was verniet.

Daar is nie meer geld vir die boekfeeste nie. Die sale wat gehuur is, die advertensies wat vrygestel is, die stalletjies wat geboek is, die voorbrand wat gemaak is, die kunstenaars, skrywers en akademici wat sou kom, die kaartjies wat verkoop sou wees, die gesprekke wat gevoer sou word en die boeke wat verkoop sou word, was verniet.

Daar is nie meer geld vir die taal nie. Die skrywers wat skryf, die uitgewers wat uitgee, die tydskrifte, koerante, radio en televisie wat bemark, die joernaliste wat berig, die akademici wat oplei, korrigeer en bekroon, die taalkundiges wat kategoriseer, bewaar en verbreed en die drukkers wat boeke druk en versprei – dit alles was verniet.

Lees ook:

Elders gesien: Steel hulle wat kla oor diefstal lekker saam?

Persverklaring: PEN Afrikaans oor die onregmatige verspreiding van Truth to power

Press Release: Truth to power; PRH will take legal action against illegal distribution

  • 1

Kommentaar

  • Dit is juis daardie dinge wat my bloedrooi onder die kraag laat word. Is diefstal dan nou al so "normaal" dat ek iemand anders se intelektuele eiendom kan aflaai en versprei asof dit niks is nie? Waarom skryf 'n skrywer 'n boek en spandeer hy ure aan navorsing en die verifiëring van inligting? Beslis nie vir sy plesier nie. Mag die mense, wat verantwoordelik is/was vir hierdie boeksteling van André de Ruyter, aan die pen ry.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top