ekstasis-kortfilm vertel queerliefdesverhaal van vroue

  • 1

Emilie Badenhorst en Kanya Viljoen

’n Plaaslike kortfilm deur twee dinamiese vroue verken temas soos die liefde en die aard van intimiteit deur die oë van twee jong Suid-Afrikaanse vroue binne die LGBTQIA+- gemeenskap. ekstasis, geskryf deur Emilie Badenhorst en Kanya Viljoen, handel oor die verhouding tussen twee jong Suid-Afrikaanse vroue en hul onderskeie soeke na identiteit. Die film is in Kaapstad en Velddrif, ’n plaaslike vissersdorpie aan die Weskus, verfilm.

Badenhorst en Viljoen vertel hulle het hierdie film geskep om temas soos identiteit en seksualiteit te ondersoek en te verken hoe dié aspekte van die lewe beïnvloed word deur die gemeenskappe waarin persone hulle bevind.

ekstasis kombineer die meertalige landskap van Suid-Afrika, Afrikanerkultuur en LGBTQIA+-kwessies om oomblikke van intimiteit en liefde binne hierdie gemeenskappe te verken.”

Viljoen en Badenhorst vertel meer.

’n Toneel uit die film

Vertel asseblief meer oor ekstasis – waaroor handel die film?

Die film ondersoek hoe ’n liefde en intimiteit tussen twee vrouens, Marizaan en Phella, ontwikkel terwyl hulle vir Marizaan se ouers in Velddrif gaan kuier, wie se verhouding terselfdertyd ontrafel. 

 Wat was die inspirasie agter die film?

Ons het saam grootgeword en saam skoolgegaan en studeer. In ons studentejare het ons al hoe meer bewus geword van vriende wat spesiale verhoudings met mekaar ontwikkel en hoe organies en sensitief die verhoudings is. Dit was werklik die inspirasie van die storie. Dit, en ons eie ervarings van ons gesinne en verhoudings naby die see. 

’n Toneel uit die film

Vertel asseblief meer oor die verfilmingsproses – wat was die uitdagings daaraan verbonde?

Nadat ons die draaiboek geskryf het, het ons voorleggings na verskeie produksiemaatskappye gestuur en genoeg befondsing gekry om ons basiese uitgawes van die film te dek. Daarna het ons mense genader met wie ons graag wou saamwerk en het die film in ’n week geskiet. Almal wat aan die film gewerk het, is jong, onafhanklike filmmakers en kunstenaars, en die grootste uitdaging was om seker te maak dat dit niemand geld sou kos om deel van die projek te wees nie, dus om net genoeg fondse te vind om almal se petrol te dek.

Een van die temas wat in die film verteenwoordig word, is queerliefde – hoe het julle sensitief en verantwoordelik met hierdie tema te werk gegaan?

Ons al twee glo dat enige verfilmings- of skeppingsproses met sensitiwiteit en verantwoordelikheid hanteer moet word, omdat elke verhaal, elke mens wat deel vorm van daardie verhaal, ’n kompleksiteit en realiteit saam met hul dra. Ons was dus baie bewus dat ons ’n werksruimtes wou skep waar almal veilig voel, waar elkeen se voorstel of opinie gerespekteer en aangehoor word.

’n Toneel uit die film

 Wat is jul opinie oor queerverteenwoordiging in die media, veral Afrikaanse media?

Ons dink dit is wonderlik dat queerverteenwoordiging daagliks al hoe meer te sien is en dat dit al hoe minder van ’n taboe onderwerp in die samelewing word. Dit gesê, voel dit asof daar nog baie werk rondom queerverteenwoordiging gedoen moet word, veral as dit by vrouens en non-binary liggame kom. Daar is beslis ruimte om die gesprekke verder te neem, meer kompleks uit te beeld en om dit in ons eie tale en kulture te verteenwoordig.

’n Toneel uit die film

Watter ander temas spreek jul in die film aan?

Die film dra ook subtemas van taal, Afrikaner-identiteit, jeugdigheid en die dood daarmee saam.

Wat is die boodskap wat julle met hierdie film wil oordra?

Ons wil nie noodwendig hê dat die gehoor iets uit die film moet “neem” of “wegneem” nie, maar liewers dat hulle deur die ervaring geaffekteer word. Dat hulle iets sal voel of aan iets herinner sal word wat hulle op ’n punt gevoel het, dat iets saam met hulle sal agterbly. Dit gaan minder oor ’n boodskap in die film en meer oor ’n oomblik of ’n gevoel wat ons elkeen as mens kan herken.

  • Foto's: verskaf
  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top