
In my hoërskooljare het ek ’n baie goeie vriend gehad.
Ons het hom Vaatjie genoem, want hy was ietwat rond van figuur.
Waar die spesifieke naam Vaatjie presies vandaan gekom het, is ek wel nie heeltemal seker nie. Soos julle dalk weet, is Vaatjie ’n benaming wat heel dikwels in die Afrikaanse jeuglektuur voorkom.
Afrikaanse jeugboeke, dit is ek dankbaar om te sê, het juis in daardie jare ’n bloeitydperk beleef.
Daardie boeke was ’n belangrike deel van ons grootwordproses: boeke soos Trompie, Die Uile, Saartjie en Keurboslaan.
In een van daardie boekreekse, dink ek, het een van die karakters as Vaatjie bekendgestaan.
In ieder geval.
Vaatjie het die gewoonte gehad om byna elke middag so teen drieuur, vieruur, by my te kom kuier. Hy het nie net gekom vir die geselskap en kuier nie, maar ook om kondensmelk te kom eet. Want in ons spens was toevallig ’n groot voorraad kondensmelk.
Elke middag as Vaatjie kom kuier, het ek vir hom ’n blikkie kondensmelk gaan steel uit die spens, en dan het ons dit met ’n blikoopsnyer oopgemaak.

Vaatjie het nooit gebodder met teelepels nie. Vir die hele middag terwyl ons sit en gesels by die kombuistafel, sou hy met sy een wysvinger kondensmelk gaffel uit die oop blikkie en dit happie vir happie by sy mond indruk.
As ek vandag terugdink aan daardie sorgvrye tye, toe ons grootste bekommernis was of die voorraad blikkies kondensmelk in my ma-hulle se spens so lank soos ons vriendskap sou hou, is daar verskeie dinge wat my tot nadenke stem.
Dis een van die groot vrae van my lewe: Kan ’n mens ooit in jou latere lewe sulke intense, en sulke onskuldig opregte vriendskappe vorm soos die vriendskappe wat jy gehad het as kind?
My en Vaatjie se vriendskap het geen komplikasies gehad nie. Ons het geen gemeenskaplike vyande gehad nie. Ons het dieselfde meisies bewonder (meesal op ’n afstand). Ons het ’n wrewel in dieselfde onderwysers gehad. Ons het min of meer van dieselfde popliedjies gehou (hoewel, anders as ek, wat versot was op die Beatles en die Stones, sy gunstelingband die Bee Gees was).
Die Bee Gees, ja. En Vaatjie se gunstelingliedjie? Ongetwyfeld “Don’t forget to remember”:
Don’t forget to remember me
And the things that used to be …
Nooit, vir een oomblik, het ek toe daaraan gedink dat hierdie tye, hierdie eenvoudige kuiersessies smiddags na skool om ’n blikkie kondensmelk by die kombuistafel, later sou uitstaan as van die mees seminale herinneringe van my lewe nie.
Dit was ook nie ’n bloot oppervlakkige vriendskap nie, hoor. Vaatjie het ’n diep filosofiese kant gehad. Van al my vriende was hy die enigste een wat getob het oor onderwerpe soos God, die duiwel, uitverkiesing en die enigma van “ware liefde”.
Dit was darem nie al onderwerpe wat ons interesseer het nie. Ons het ure lank oor meisies gesels, dit onthou ek.
En, soos ek gesê het, soms ook oor meer gewigtige onderwerpe: Is daar ’n hemel? Gaan mense regtig vir ewig hel toe? Wie is die belangrikste Beatle, John Lennon of Paul McCartney? Gaan my pa ooit agterkom ek het sy rottang op die skool se tombola opgeveil? Wat beteken uitverkiesing? Moet mens regtig wag tot jy getroud is voor jy die Groot Daad doen?
Van al die goeie vriende wat ek al ooit in my lewe gehad het – en daar was baie! – is Vaatjie die een aan wie ek deesdae die meeste dink.
Ek is nie seker hoekom nie. Dalk verlang ek na die onskuld van daardie tyd? Ek weet nie.
Ek weet wel dat ek vriende soos Vaatjie destyds bitter nodig gehad het. Daar was min ander mense van belang in my lewe. Ek het min vriende gehad. Ek het ook nie ’n steady girlfriend gehad nie. En my verhouding met my ouers was uiters swak – eintlik was daar glad nie ’n verhouding nie.
Behalwe die kombuis, het ek nooit in die res van ons huis gekom nie. My ouers het my ’n paar keer gesmeek: “Hoekom kom sit jy nie saans saam met ons in die sitkamer nie? Dan kan ons saam verkeer as ’n gesin.”
Dit was hul motivering.
En ek het dit so wragtig een of twee keer probeer.
Dit het nie gewerk nie.
Die sitkamer was ’n aaklige plek. Donker, vervelig, met beige en bruin meubels.
Die enkele kere dat ek by my ouers in die beige en bruin sitkamer gaan sit het, het hulle in elk geval glad nie met my gesels nie. Hulle het elkeen in hul eie leunstoel sit en lees. Moordstories en ander Engelse paperbacks.
En hulle het gepoep. Dit onthou ek baie goed. Elke nou en dan was daar ’n luide gedreun, gevolg deur walms stink lug.
Dit was onuithoudbaar.
Dan het ek maar weer opgestaan en teruggegaan na my eie kamer toe.
Hulle het nie eens agtergekom toe ek opstaan en loop nie.
Op ’n manier was ek seker lief vir my ouers. Hulle was, after all, my ma en my pa. Mens moet mos lief vir jou ouers wees. Die Bybel sê so.
Maar ek het, so waar as vet, ek het nie van hulle gehou nie.
Hulle was niks. Dit was asof ek hulle glad nie geken het nie.
Hulle was, in kort, die mees boring mense wat ek nog ooit ontmoet het.
Hulle was nie soos Vaatjie nie.
Vandag dink ek terug aan Vaatjie. Ek wens hy het nog geleef.
As hy nog geleef het, sou ek vir hom gesê het: “Dankie, Vaatjie, vir jou vriendskap. Dankie dat jy deel van my lewe was. Dankie vir die middae se gesels. Dankie dat jy die eensaamheid van my tienerjare help verlig het. Dankie dat jy daar was toe ek geselskap nodig gehad het.”
Ek onthou Vaatjie.
Lees ook:
Om vrede te maak met my oupa: Koos Kombuis gesels oor voorvadergeeste, Afrikaanse resensies en RSG

