Sy naam was Poenskop

  • 3

Skets deur Prawny, Pixabay

Sy naam was Poenskop.

Dit was seer sekerlik nie sy regte naam nie. Ek het nooit enige idee gehad wat sy regte naam en van was nie.

Ek dink nie enigeen van ons het geweet nie.

Hy was maar net Poenskop.

Ou Poenskop.

Ou armsalige, betreurenswaardige, hopelose, lamsakkige Poenskop.

Ek het hierdie feesgety vir die eerste keer in jare weer aan Poenskop gedink.

Dalk was dit omdat dit so ’n stil Kersfeestyd was. Ons het nooit die tweede vlaag van die pandemie sien kom nie; dit was op ons voor ons mooi besef wat aangaan. Die een oomblik was ons nog almal onder die indruk die pandemie is verby en ons kan nou voortgaan met ons lewens soos gewoonlik, die volgende oomblik is ons terug waar ons was meer as ses maande gelede.

In die afwesigheid van enige werkvooruitsigte, met geen deadlines om te jaag nie, niks rubrieke om te skryf nie, kom daar hierdie groot grysheid oor my.

Ek kan nie regtig sê dat dit ’n depressie was nie. Depressie is nie die regte woord nie. Dit was net ’n vreemde stilte. Aanvanklik ’n irriterende, alledaagse stilte. Toe, Kersfees by die huis. Gewyde musiek, gesinsvrede, heerlike kos, vrede op aarde.

Die stilte het amper heilig geword. Soos ’n goeie meditasiesessie.

Toe, die aand net toe ons wil inkruip, toe die stilte op sy grootste en mooiste en diepste is, spring hierdie naam in my kop.

Poenskop.

Poenskop?

Ek moes gaan stilstaan langs die Kersboom in die sitkamer om eers te dink. Hoekom klink dit so bekend?

Die Kersboom se liggies het geflikker.

Daar was twee stelle liggies in ons Kersboom, en hulle was op verskillende ritmes gestel. Dit het beteken dat soms al die liggies in die Kersboom dood was voor dit weer skielik almal gelyk opflikker.

Dit was tydens so ’n monumentele opflikkering van al die liggies dat ek skielik onthou het wie Poenskop was.

Dit het skielik teruggekom na my toe, soos ’n skyfievertoning of reeks kort video clips.

Die speelgrond van ons skool, 1971. Lang pouse. ’n Groep van ons standerd 9-leerlinge wat al agter die vreesbevange borselkopseun aanstap en hom tart.

“Poenskop! Poenskop! Poenskop!

Ek dink nie ons het hom ooit geslaan of fisiek geboelie nie.

Maar ons het hom gespot. Genadeloos gespot. Feitlik elke dag.

Agter hom aangeloop, so ’n groep van tien of twintig van ons, en hom tot in ’n hoekie van die speelgrond gedryf en hom omsingel.

Tot die stomme seun se oë stokstyf in sy kop gestaan het en hy nie geweet het waar om te kyk nie.

Hy het ons nooit geantwoord nie. Hy het nooit gehuil nie. Ons het geen idee gehad hoe sy stem klink nie.

Hy was net Poenskop. Poenskop, met die bleek wange en effens slegte vel. Poenskop, met die maer beentjies onder sy skoolkortbroek. Poenskop, wat nooit sou uitblink in rugby of atletiek nie. Poenskop, wat nooit ’n meisie sou kry om saam te vat Interskole toe nie. Poenskop, die ewige outsider, die verworpene, die untouchable, die snaakse enetjie.

Nou beleef ons ’n pandemie oor die feesgety, byna 50 jaar later, en al die dinge waarin ons geglo het toe ons jonk was, al die fondamente van ons bestaan, is weggekalwe. Apartheid het lankal gesneuwel. Die Kerk is irrelevant. Die helfte van die Beatles is dood. Die planeet lê op sterwe, terminaal siek, gekoppel aan ’n ventilator.

In standerd 9 was daar so baie sekerhede. Neil Diamond was cool. Moffies het hel toe gegaan. Moenie gedigte skryf nie, dis weird. Moenie dans nie, dit kan lei tot seks.

Natuurlik het nie almal van ons alles geglo nie – daar was rebelle onder ons, toe al, wat skelm gerook het en rowwer gevry het as wat ons moes, wat rock ’n roll op LM Radio geluister het. Daar was selfs enkeles van ons wat begin wonder het oor apartheid. Al was dit net ’n bietjie.

Maar nie een van ons het enigiets verkeerd gesien met wat ons aan Poenskop gedoen het nie.

Die feit dat ons opge-gang het teen hom, hom sonder rede geboelie het, en hom sosiaal absoluut geïsoleer en verstoot het sodat hy in sy hele skoolloopbaan waarskynlik nie ’n enkele maatjie gehad het nie, was nie iets wat ons enigsins ooit gepla het nie.

Hy het sekerlik ouers gehad. Ouers wat hul geld gespaar het om hom by ’n gerespekteerde skool soos ons s’n te laat kom leer. Ouers wat vir hom skoolklere gekoop het en soggens toebroodjies in sy kosblik gesit het en vir hom totsiens gewuif het toe hy op die skoolbus klim.

Het hy hulle ooit vertel? Was dit vir hulle ’n probleem? As hy het, hoekom het hulle nooit die hoof kom spreek nie? Indien hulle die hoof kom spreek het, hoekom het nie een van die onderwysers ons ooit gemaan om op te hou met dit waarmee ons besig was nie?

Of dalk het hulle, en ek kan dit net nie onthou nie?

En so het ons ons skoolloopbane voltooi en jare later ons old boys-netwerke gevestig en soms met trots na die kleurbaadjies in ons kaste gekyk en die leuse van ons skool onthou en geglimlag en gedink aan hoe onhebbelik stout ons was met daardie laaste Voortrekkerkamp, toe ek en Balie deur die nag wakker gebly het en rondgeloop en filosofeer het.

En toe, byna 50 jaar later, op ’n Kersaand na ’n paar glasies wyn te veel, onthou ek skielik wie Poenskop was.

En al die liggies in my kop gaan tegelyk aan.

Soos die Kersboom se liggies.

En ek dink: Fok.

Fok, dis wie ons was. Dis wie ons nog altyd was. Dis wie ek is. Dis wat ek was.

En ek dink: Fok, fok, fok.

Maar dis te laat.

Ek sal nooit weet wie hy regtig was nie. Ek sal nooit weet wat van hom geword het nie.

Al wat ek weet is, sy naam was Poenskop.

Sorrie, Poenskop.

Nota: Name van karakters is verander om individue teen potensiële verleentheid te beskerm.

  • 3

Kommentaar

  • Dit is baie raak vasgevat. Was daar nie maar altyd 'n Poenskop êrens op elkeen van ons se lewenspad nie (of was self dalk een nie)?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top