Eendag is te ver: ’n onderhoud met Jaco Strydom

  • 1

Eendag is te ver
Jaco Strydom
Lux Verbi
ISBN: 9780796323552

Jaco Strydom praat met Naomi Meyer oor wie hy is en oor sy boek Eendag is te ver.

Jaco, jy is bekend as ’n soort hippie-dominee. Waar woon jy? Hoekom het jy hierdie leefstyl gekies?

Die leefstyl het my gekies! En dis ’n groot voorreg om saam met soveel uiteenlopende mense oor sosiale en kultuurgrense heen te woon. Nooit ’n vervelige oomblik nie! Ons het die meeste om te leer by mense wat anders as ons is ... en mense kan ligter reis as almal alles deel.

Ek wil met jou praat oor jou boek Eendag is te ver. Dis geskryf vir jongmense. In hierdie boek vertel jy in hoofstukaflewerings vir jongmense ’n paar stories uit jou lewe. Vertel dalk vir ons lesers van die eerste storie – die een van die dag toe ’n jong sokkerspeler jou laat besef het mens hoef nie groot of volwasse te wees om iets te doen nie. 

Ons was in ’n Kubaanse kroeg in Nairobi, die hoofstad van Kenia. Dit was ’n eienaardige aand. Die vreemdste was nie die erg uiteenlopende wesens uit verskillende lande nie – twee luidrugtige Duitsers, ’n paar Somaliese meisies, ’n be­jaarde Engelsman, ’n Indiër, ’n dronk Arabier en natuurlik ’n hele paar Keniane. Die vreemdste was die seun op die TV na wie almal in verwondering gestaar het. Veral die drie Franse besigheidsmanne. Hulle het elke nou en dan in stilte en met skok in hulle oë na mekaar gekyk en dan net hulle koppe geskud. Duidelik nie ’n goeie aand nie.

Dis waar ek die outjie die eerste keer gesien het. ’n 16-jarige seun het so pas ’n doel teen Frankryk aangeteken. Dit het gelyk of die mense op die pawiljoene wil mal raak.

Ek het hom gegoogle.

Die outjie het grootgeword in ’n vlugtelinggemeenskap in Katalonië. Sy pa was ’n verwer, oorspronklik uit Marokko, en sy ma ’n kelnerin uit Ekwatoriaal-Guinee.

Teen hierdie tyd ken jy waarskynlik sy naam.

Reeds op 15 het Lamine Yamal vir Barcelona, een van die grootste en bekendste sokkerklubs in die wêreld, uitgedraf.

Niemand kon dit glo nie. En nou speel hy vir Spanje, en skop sowaar ’n doel teen Frankryk! (’n Paar weke later sou hy Spanje help om die Euro Cup te wen.)

Dis wonderlik, het ek gedink. Ek was juis besig om hierdie boek te skryf, en hier was ’n voorbeeld so duidelik as wat jy dit kan kry!

Maar wat ’n vreemde gesig deesdae! ’n Tiener wat as ’n held gesien word. Dit voel soos ’n frats. ’n Uitsondering in ’n wêreld wat in ons tyd eintlik net aan grootmense behoort.

Maar dis net deesdae so. Net in ons tyd. In die grootste deel van die mensdom se geskiedenis was tieners wat so oud soos Yamal was (en van hulle selfs baie jonger) dikwels die helde.

Die Franse wat die wedstryd met weemoed gekyk het, kon sekerlik nie té verbaas gewees het nie, het ek gedink. Een van hulle belangrikste volkshelde was ook ’n tiener toe sy naam gemaak het. Johanna van Arkel (beter bekend as Joan of Arc) het in die 15de eeu geleef. Op die jong ouderdom van 19 is sy oorlede – dis ongelooflik hoeveel lewe party mense in ’n paar jaar kan inpak! Op 13 het sy ’n visioen gehad, en sy was maar 17 jaar oud toe die Franse weermag die eerste van ’n hele klomp oorwinnings onder haar invloed behaal het. En sy was ’n plattelandse meisie wat nie kon lees of skryf nie.

Of dink maar aan Anne Frank. Sy het vir haar 13de verjaarsdag ’n dagboek gekry. Op 15 skryf sy haar laaste inskrywing terwyl sy vir die Nazi’s wegkruip. Kort daarna is sy in ’n konsentrasiekamp oorlede. Min het sy geweet dat meer as 25 miljoen eksemplare van The diary of a young girl jare later gepubliseer sou word en in meer as 70 tale vertaal sou word. Sy fassineer en inspireer vandag steeds die wêreld.

Bobby Fischer het op 15 ’n grootmeester in skaak geword.

Louis Braille het op 15 braille, die geskrewe taal vir blindes, ontwikkel. Mary Shelley was 18 toe sy Frankenstein geskryf het, al is dit gepubliseer eers toe sy 21 was. 

Ek noem nog ’n klomp voorbeelde in die boek, ook uit die Bybel.

Jy gee bome graag ’n drukkie. Hoe so?

Hulle is fassinerende wesens wat onder andere ons toksiese asems, en dié van die ander goed wat ons gemaak het,  in lewegewende suurstof transformeer.

........
Hulle is fassinerende wesens wat onder andere ons toksiese asems, en dié van die ander goed wat ons gemaak het,  in lewegewende suurstof transformeer.
........

Ons word ook geroep om sulke wesens te wees. Wesens wat lig maak uit duisternis, iets goeds uit chaos, nuwe lewe uit hopelose situasies, wesens wat nie die boosheid wat oor ons pad kom aangee, of bloot absorbeer nie, maar dit in iets goeds transformeer.

Jy skryf die boek vanuit ’n Christelike agtergrond en perspektief. Jou stories is nie almal Bybels of edel nie. Tog is jou uitgangspunt dat almal wat dit lees, in God glo. Maar hoe gemaak as iemand nie in God glo nie? Is die boek ook vir hulle?

Ek het probeer om eerlik te wees oor hoe ek die lewe tans sien. Ons is almal meer subjektief as wat ons dink, en ons kan dit net sowel erken en die meeste daarvan probeer maak. Tog was een van die grootste komplimente wat ek ooit gekry het, ’n review op LitNet van my eerste boek, Confessions oor kerkwees, deur ’n ou wat gesê het hy is ’n ateïs. Sy ma het glo die boek gewen en toe lees hy dit, en toe skryf hy seker die mooiste lesersindruk ooit – vir my in elk geval.

Ek het destyds toe ek rubrieke geskryf het vir ’n paar uiteenlopende koerante en tydskrifte, probeer om ’n manier te kry om mét die mense van wie ek wesenlik verskil te praat (selfs rassiste, seksiste, homofobe, materialiste en ’n lot ander -istes en fobe ...). Wat help dit ons praat net óór mekaar? Die probleem is, ons maak vandag so ’n karikatuur van die mense van wie ons verskil dat geen ordentlike gesprek moontlik is nie. Vryheid vra: Keep your heart (and mind) wildly open!

Dit is vir my die grootste kompliment as iemand wat anders glo as ek, waarde vind in iets wat ek geskryf het.

........
Dit is vir my die grootste kompliment as iemand wat anders glo as ek, waarde vind in iets wat ek geskryf het.
........

As ’n gedagte, of selfs net ’n metafoor, op een plek “rêrig die waarheid” is – of dan ten minste ’n blik op die waarheid – is die moontlikheid groot dat dit op ’n klomp ander plekke ook erken sal word as waar.

In die nuutste boek (en eintlik die ander ook) probeer ek om nie bloot vinnige, klinkklare finale antwoorde te gee nie. Ek vertel maar wat ek raakgesien het en probeer eerlik wees oor die dinge waaroor ek wonder. My poging was om – eerder as om voorskriftelik te wees – vrae en gedagtes en waarnemings en drome op die tafel te sit, wat hopelik kan lei tot nuwe soeke en gesprekke kan uitlok.

Ons leef in ’n land met van die grootste klasverskille ter wêreld. Jou boodskap is egter die teenoorgestelde van alles wat ons begeer. Gee weg jou geld, moenie bymekaar maak nie. Ek vereenvoudig. Is dit wel wat jy glo? En indien wel, hoekom?

Selfs ’n dooie vis kan stroomaf swem ...

Jesus – sonder die gemaklike soet kerksousie – was wesenlik “counter cultural”. Hy was die grootste rebel ooit (politieke rebelle is in die antieke tyd gekruisig), lynreg teen die kultuur en godsdiens van sy tyd. Jesus het gesê grootmense moet by kinders leer, ryk mense by blomme en voëltjies; leiers moet dienaars wees; ons moet ons vyande goed behandel ... Hy het hierdie vreemde idee gehad dat as jy die wêreld ten goede wil verander, jy eerder bereid moet wees om self pyn te beleef as om pyn in ander te wil veroorsaak.

Ek probeer om ’n volgeling van hierdie Jesus te wees, en dis Hy wat gesê het om te gee maak ’n mense gelukkiger as om te ontvang. Liefde is wesenlik onselfsugtig ...

Vertel my van jou tweede bekering, soos jy dit noem – op ’n bus in Indië.

Ek het as tiener ’n tipiese kerkkampbekering gehad, en dit het my hele lewe verander. Maar gou is ek gekonfronteer met “smart” kerke met baie geld en mag en hoë heinings ...

Die beste manier om oor geestelike dinge te praat is om metafore te gebruik. My beeld van die kerk was dié van ’n smart Gospel Bus met ’n goeie suspensie, ’n groot klankstelsel, ’n groot Jesus sticker agterop, vol juigende Christene. ’n Veilige, gemaklike, bless me club.

Maar toe lees ek die vier evangelies, Handelinge en die verhale van die vroeë kerk en besef die Christene is dalk die groep mense in die wêreld wat Jesus se verlossing vandag die nodigste het – wel, ten minste soveel as die ander, as Hy die standaard is.

’n Paar jaar later is ek op ’n sufgeroeste ratelende bus in die Himalajas in Noord-Indië. Die bus was in ’n vreeslike toestand en die drywer was haastig ... Almal om my was, soos ek, bang en gefrustreerd. Tot ons drie kleuters oplaai. Hulle het gedink dis ’n roller coaster! Die drie het gelag en gesels en hulle hande in die lug gegooi as ons deur ’n dip gaan. Hulle teenwoordigheid op die bus het die hele rit beter gemaak vir almal van ons.

Dit was my tweede bekering (ek moes al baie tot bekering kom – en die mense wat my ken, sal sê dis dalk weer tyd …). Ek het besef Jesus het homself blootgestel en saam met ons die stukkende busse van die wêreld kom ry, en Hy roep ons om dit ook vir ander te doen.

Ek het besef kerkwees gaan oor saam met mense wees. Christene in die vroeë kerk het dikwels doelbewus die sufste busse gaan opsoek om juis daar ’n verskil te maak.

........
Die boodskap van liefde is eenvoudig nie geloofwaardig as dit vanaf ’n veilige afstand geskree word nie; jy moet so naby kom dat jy dit kan fluister. Liefde neem toe soos die afstand afneem. Liefde word die beste gekommunikeer nie vanuit ’n gemaklike posisie van mag nie, maar vanuit weerloosheid.
........

Die boodskap van liefde is eenvoudig nie geloofwaardig as dit vanaf ’n veilige afstand geskree word nie; jy moet so naby kom dat jy dit kan fluister. Liefde neem toe soos die afstand afneem. Liefde word die beste gekommunikeer nie vanuit ’n gemaklike posisie van mag nie, maar vanuit weerloosheid. Dis eers real wanneer jy so naby is dat die een vir wie jy sê “Ek het jou lief”, jou kan seermaak – in Jesus se geval kon doodmaak.

Jy woon waar jy woon, jy sien en beleef wat jy sien en beleef. Vertel asseblief vir ons lesers wat dit is. Daagliks. Vertel ’n storie wat jou hart breek en ’n storie wat jou hoop gee.

Ek woon in een van die Echo-gemeenskappe in Pretoria. Daar is soveel hartseer en mooi stories. Hier is meisies en seuns van 15, maar as jy ’n fliek van hulle lewens sou maak sou dit ’n ouderdomsbeperking van 18 hê. Hulle sou nie hulle eie fliek kon kyk nie! Dis hoe tragies hulle lewens tot nou toe was.

Ons Echo-gemeenskap is hierdie jaar 24 jaar ou. Vlugtelinge, ekskindersoldate, straatkinders, kinders wie se ouers toegesluit is vir wat hulle aan hulle gedoen het, ouers dood ...  verskriklike dinge – en van die most beautiful dinge! Grootste voorreg van my lewe.

........
Ons Echo-gemeenskap is hierdie jaar 24 jaar ou. Vlugtelinge, ekskindersoldate, straatkinders, kinders wie se ouers toegesluit is vir wat hulle aan hulle gedoen het, ouers dood ...  verskriklike dinge – en van die most beautiful dinge! Grootste voorreg van my lewe.
........

Jy sien elke dag wat jy sien – en nou verwys ek net na die mense wat oordosisse neem, mense vir wie julle alles doen en gee – en mense wat nooit verander nie. Goed en wel om te glo wat jy glo, maar hoekom dit aanhou doen? Hoe hou mens dit vol? Is daar nie party dae wat jy absoluut desperaat en moedeloos is en net gewoonweg leef nie, soos die meeste mense in hierdie land Net jou kop wegdraai van iemand wat by die robot staan, of iemand wat honger is of iemand wat hulp nodig het? Waarom stap jy nie net weg nie?

Wegstap is erger. Leër. Meer sinloos. Die gelukkigste mense wat ek al teëgekom het (in Kaapstad, Dhaka, Varranasi, Sunnyside, Nairobi, Muskat, Stone Town, Lamu, Pretoria, Mamelodi, die Vrystaat, Pakistan ...) is die mense wat besig is om ’n verskil te maak.

Ons het ’n motto by Echo wat sê: Moeilikheid is ons besigheid! Dis belangriker om lewendig te voel as om lekker te voel.

........
Moeilikheid is ons besigheid! Dis belangriker om lewendig te voel as om lekker te voel.
........

Is dit altyd ’n goeie ding om iemand anders te probeer red? Is dit nie ’n bietjie hoogmoedig nie? Hoe dan as iemand kiés om net aan te hou leef soos wat hulle leef - en jy meng eintlik net in? 

Dis ’n goeie vraag. ’n Mens moet altyd in nederigheid en met ’n bereidheid om te leer probeer help ... loving and learning! Maar ’n kind van nege wat op straat bly ...? Ek dink ons gebruik “When helping hurts” te dikwels as ’n verskoning om eerder glad nie betrokke te raak nie en net vir onsself te leef.

Vertel my van die drie matriekmeisies wat jou gevra het wat kos ’n prostituut. 

“Wat kos ’n prostituut?” vra die matriekmeisie my asof dit niks vreemd is nie. Sy en twee van haar vriendinne het ’n afspraak met my gemaak om “iets dringends” met my te bespreek.

“Ek het twee vrae,” het ek gesê. “Een: Om wat mee te maak? En twee: Waarom dink julle ék sal weet wat ’n prostituut kos?!”

Daar was ’n huis in 26ste Laan, nie ver van ons kerk af nie. Op die hoek was ’n oop veldjie waar ek prostitute al baie sien staan het.

“Die hoere van die Moot”, noem die mense hier rond hulle.

Eenkeer het ’n kerk-oom my vertel hy skiet hulle soms met sy paintball gun en toe lekker gelag. ’n Ander ou het gesê hy maak altyd of hy hulle gaan raakry. Maar nie op Sondae nie, het ek gedink. Nee, Sondae sit julle twee in die kerkbanke en sing “God is liefde” en “Genade, onbeskryflik groot”. Maar dié twee was nie ’n uitsondering nie, dit het ek geweet. Die hele gemeenskap haat die sogenaamde slegte vroue van die nag.

What to do?

En toe kom praat dié drie matriekmeisies met my.

Hulle al drie het onlangs ’n besluit geneem om Jesus te probeer volg, om nie net oor Hom te praat en te sing nie, het hulle gesê. “Don’t judge me because I sin differently from you,” het hulle iewers gelees. En toe by hulleself gedink: God is nie minder lief vir dié vroue as vir die mense van die Moot wat ander sondes doen nie.

“Ons het begin bid en kon voel hoe daar iets in ons harte gebeur. En toe dink ons bid is nie genoeg nie. Ons wil iets doen,” het die een meisie probeer verduidelik.

Hulle het besluit hulle wil een van die vroue met wie hulle soms ná skool gesels, uitvat vir ete, haar bederf en sommer net die aand saam met haar geniet – sonder om haar te Bible bash. Maar hulle het geweet dié vroue is afhanklik van die inkomste. Toe maak hulle ’n plan. Hulle sou spaar totdat hulle genoeg geld bymekaargemaak het om haar tyd uit te koop.

En hulle het dit gedoen.

Later vertel hulle my hoe lekker hulle gelag en gekuier het, soos net meisies van 17 of 18 saam pret kan hê. En hulle het my vertel dat hierdie meisie hulle nou as haar vriendinne beskou, mense na wie sy kan uitreik wanneer dit rof gaan. Sonder om geoordeel te word.

“Gaan leer wat dit beteken: ’Ek verwag barmhartigheid en nie offers nie’,” het Jesus gesê toe die godsdienstiges Hom veroordeel het omdat Hy volgens hulle saam met die verkeerde mense uitgehang het (Matt 9:13).

Eendag is te ver is dalk nie net vir jongmense geskryf nie. Wat is volwasse lesers se terugvoer?

By Huis Vergenoeg, ’n ouetehuis hier in Pretoria, lees hulle elke dag vir bejaardes ’n storie ... Die boek is vir almal, veral vir dié wat voel hulle het nie genoeg status in ons statusbehepte wêreld van vandag nie. Eendag is te ver se boodskap is: Dis belangriker om lief te hê as om belangrik te wees.

En party mense is langer jonk as ander.

Wat was jou gunstelinggedeeltes van die boek om te skryf?

Die stories van die jongmense wat ek leer ken het in ons Echo-gemeenskap.

Dink jy nie dat die mense in die kerk die kerk se swakste ambassadeurs is nie? Wat dink jy is mense se grootste redes hoekom hulle ander mense onwelkom kan laat voel? 

Die ironie is dat Jesus se mees basiese idees nie altyd baie gewild is onder Christene nie. Ons is veronderstel om ’n inviting unity te wees. ’n Gemeenskap wat genade ken, wat innooi en nie soos die Fariseërs onsself heeldag besig hou met vrae oor wie moet uitgesluit word nie. Iemand sê nou die dag: “The time of the week of the greatest separation between cultures in South Africa is on a Sunday between 9 and 10, when the church is at her most active.” Dis ’n skande. Iewers het die kerk Jesus se droom verloor.

Jesus, Paulus en Johannes sê liefde is die heel belangrikste – Johannes sê God ís liefde. Alles trek skeef wanneer minder belangrike dinge as die belangrikste gesien word.

Daar gebeur gelukkig oraloor ook ’n klomp mooi goed wat ’n mens hoop gee. Dis nogal gewild vandag om ’n karikatuur van die kerk te maak.

In jou ideale wêreld: Hoe lyk ’n kerk? Ek bedoel nie net die gebou nie, maar jy kan daaroor ook praat.

’n Onselfsugtige gemeenskap wat innooi en alles deel – soos die eerste prentjies van die kerk in Handelinge 2 en 4.

Wie is jou ideale leser van Eendag is te ver? Vir wie het jy dit hoofsaaklik geskryf?

Oorspronklik jongmense 15–25, maar eintlik vir almal ... Party mense is langer jonk as ander.

Wat doen jy ook, as tydverdryf, wat niks met die geestelike wêreld te doen het nie? (Kan mens so iets vir ’n dominee vra?)

Ek wil nou nie brag nie, maar ek is baie goed met vakansiehou! Ek is mal oor wilde plekke. Veral riviere en die see – niks stop hulle nie!

Ek het al vir ’n maand lank solo van Vaaldam af see toe geroei, om Zanzibar met ’n opblaaskajak, Mafi- eiland, Tanzanië, Andamans, Lamu, wilde riviere van Transkei ... (Baie oor dié plekke geskryf in my onlangse fiksieboek, Daka.)

Afgeleë plekke fassineer my. In ons Echo-gemeenskap sê ons: Jy kan net community as jy ook solitude!

En ek het ’n klein houthuisie – met ’n enjin sodat ek kan wegkom na waar daar net bome en water en otters en voëls is – op die Wilgerivier in die Vrystaat ... En lees en skryf.

Mense is geneig, wanneer hulle al die wêreld se chaos sien, of verlies ervaar, of nie sin kan maak van alles nie, om te sê: Hierdie is die rede waarom God nie bestaan nie. Wat sê jy dan?

Ek weet nie! Geen argument gaan goed genoeg wees nie. Die wêreld is mal en beautiful en goed en wreed en vol wonders en tragedies en donker en lig en meer kompleks as wat ons wil erken – dit is so. Vir my maak die feit dat God die wêreld ’n wil van sy/haar eie gegee het, én vir ons (byvoorbeeld om ook téén liefde te kan kies) Hom nie minder almagtig nie. ’n Kunstenaar wat kunswerke skep wat self kan skilder ...

Ek het geleer dat verwondering voor die misterie een van die suiwerste vorme van geloof is; om in verwondering te staan voor iets wat soveel groter as ek is en waarvan ek eintlik baie min weet en verstaan – dis waarom ek so lief is vir die see!

........
Ek het geleer dat verwondering voor die misterie een van die suiwerste vorme van geloof is; om in verwondering te staan voor iets wat soveel groter as ek is en waarvan ek eintlik baie min weet en verstaan – dis waarom ek so lief is vir die see!
........

Ek glo wel die wêreld sou ’n beter plek wees as ons Jesus se idees oor lig leef, liefhê, onselfsugtig omgee, en byvoorbeeld die idee om altyd boosheid met goedheid te beantwoord, sou uitlewe. 

Die kerk gee Christene dikwels ’n slegte naam. Soveel wat mense uitsluit, so baie veroordeling. Wat sien jy raak wat die kerk doen wat goed is, waarom om nie die kind met die badwater uit te gooi nie?

Van die lelikste en mooiste dinge het al in en deur die kerk gebeur.

Dis waar dat kerkmense baie droogmaak. Ek is ook dikwels kwaad vir “die kerk” – én vir myself! Veral omdat ons deesdae so min doen met so baie. So baie vrywilligers wat elke Sondag vra wat wil die Here hê ons moet doen, soveel geld, soveel gawes, soveel eiendom ... Suid-Afrika is seker die land met die meeste vredemakers en die minste vrede. Dit moet mens ontstel. Veral gemeet teen die radikale aard van die evangelie wat ons verkondig – en die woorde van liedjies wat ons sing!

Die kerk kan meer doen, maar ’n mens moet ook billik wees. Die meeste kinderhuise in ons land is deur kerke opgerig, so ook amper al die skuilings vir haweloses, voedingskemas, ’n horde vroeë kinderontwikkelingsprogramme, terapeutiese sentrums ... en die meeste maatskaplike werkers is Christene, ens ens.

Volgelinge van Jesus was ook al vredemakers op van die donkerste plekke en in die wreedste tye in die wêreld en ons eie land se geskiedenis. Dink maar aan Desmond Tutu, Beyers Naudé, Martin Luther King jr en vele ander.

Maar soos hulle sê: If you find the perfect church, don’t join it – you’ll spoil it!

Lees ook:

Confessions oor kerkwees deur Jaco Strydom: ’n lesersindruk

Alle sondaars welkom deur Jaco Strydom: ’n resensie

  • 1

Kommentaar

  • Amanda Viljoen

    Wat 'n verfrissende onderhoud kom sit ek nou hier en lees op hierdie pragtige wintersmore.
    Pragtig geskryf in die mooiste taal. Ek baklei self op die oomblik 'n verloorstryd teen ons kerk. Die ou klossiekies tannie wat staan en praat van ander wat daar is om God te loof. Ek wens ek kon met jou kontak maak, Jaco. Ek maak my huis in PE reg vir verstandelik gestremde meisies en ek en my man gaan seil vir Jesus. Dankie vir hierdie. Dit pas in my legkaart in.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top