Alle sondaars welkom deur Jaco Strydom: ’n resensie

  • 0

Prent: https://www.nb.co.za/en/view-book/?id=9780796322982

Alle sondaars welkom
Jaco Strydom
Lux Verbi
ISBN:9780796322982 

Jaco Strydom is die leier van Echo Jeugontwikkeling, ’n organisasie sonder winsoogmerk met onder andere tientalle huise vir jongmense in nood. Hy is deeltyds verbonde aan ’n gemeente in Villieria, Pretoria. Sy skrywes is al gepubliseer in Beeld, Rapport, Finesse, Kerkbode, Weg en Maroela Media. Hy is ook ’n ywerige blogger – gaan loer gerus op "Anderkant die doringdraad". Van sy ander boeke is Confessions oor kerkwees en Leef lig.


Lees hier oor Leef lig:

Leef lig – vyf gewoontes van die Vroeë Kerk en wat dit vir ons vandag beteken deur Jaco Strydom: ’n lesersindruk


As wêreldreisiger het Jaco vir lang tye in arm lande, soos Indië, gewoon. Daar het hy weereens opgelet dat as ’n Westerling, het mens in hierdie wêreld nie gelyke waarde nie, want waarde hang af van geld, status en vooroordeel. Een van die beste voorbeelde wat hy hier noem, is dat privaat hospitale slegs lewens red as mense geld het. Dit is dalk die rede waarom gesondheid bo enigiets jou belangrikste rykdom is.

...........
Een van die beste voorbeelde wat hy hier noem, is dat privaat hospitale slegs lewens red as mense geld het. Dit is dalk die rede waarom gesondheid bo enigiets jou belangrikste rykdom is.
............

Materialisme is nie veronderstel om jou geluk te koop nie.

Jaco vertel van ’n dogtertjie wat vrolik gespeel het en vriendelik vir hom geglimglag het. Selfs in haar armoede, kon sy vir ’n vreemdeling glimlag. Dus is al die skrywes nie gebaseer op geloof of geloofsoortuigings nie, maar op ’n ander blik van menswees, dit waar ’n mens se hart eintlik moet wees – sonder geld en status.

Jaco kan dalk gesien word as ’n omstrede skrywer weens die onderwerpe wat hy aanraak, soos:

  • “Die man is die hoof? Nie in dié huis nie” (Beeld/Netwerk24), waarin hy Paulus se siening dat die man die hoof van die huis moet wees, bevraagteken.
  • “Seksueelgefrustreerd”, waar hy waarsku teen seks voor die huwelik (maar nie omdat die Bybel so sê nie).
  • “7 ongewilde uitsprake van Jesus”, waarin hy sewe van Jesus se sogenaamde harder uitsprake aanroer.

Sekerlik het van dié opskrifte ’n wenkbrou of tien laat lig. Sy nuutste boek, Alle sondaars welkom – Gedagtes oor God en die grense van mense word deur Graffiti beskryf as ’n “mengelmoes gedagtes oor God en sy mense wat oor die laaste paar jaar geskryf is. Hierin motiveer Jaco lesers om te leer by groot geeste in die verlede en die vreemde wesens wat ronddwaal in die hede; community met ander soekers te ontdek; in verwondering te staan voor die misterie en nuut te kyk na Jesus. Die boek sal jou uitdaag om saam te soek na die wilde waarheid, na geloof te midde van ongeloof, bygeloof, misterie en verwondering”.

Die rede waarom ek dié volledige aanhaling plaas, is dat dit inderdaad ’n vervatting is van ’n mengelmoes, of soos ons graag in die Overberg sê, ’n laslappielandskap van gedagtes, avonture, sienings, verhale, persoonlike ervarings, wonderwerke en geskrifte. Hy het ’n gemaklike, lekker skryfstyl wat jou maklik die woorde in beelde laat omskep. Jaco raak ongetwyfeld ’n hartsnaar, is beslis uitdagend en toets jou eie opinies, hoekoms, waaroms, vrae, en los jou dalk met nog ’n paar. Die enigste kritiek vir my as leser is moontlik dat dit die ideale boek is om saans voor slaaptyd te lees, omrede dit meestal een of twee bladsy stories is en daarom nie vloeiend lees soos ’n boek met langer hoofstukke en ’n aaneenlopende storielyn nie.

Dit is duidelik dat Jaco ’n man van vele talente en stokperdjies is en boonop ’n avonturier en ervare reisiger, wat altyd ’n bonus is vir ’n skrywer. Hy het selfs vir tye in ander wêrelddele soos Indië gewoon en die harder kant van die lewe eerstehands ervaar. Hy skryf dus nie op hoorsê nie, maar gebaseer op sy persoonlike ondervindings, wat meer waarde dra en vleis om die been het. Dié kant is gewoonlik die wrede werklikheid waarvan ’n mens nie weet nie, nie wíl weet nie en selfs van wegskram. What can be seen, cannot be unseen. Soos veral die verhaal van die baba.

In Tussen die mooi en lelik gebeur die lewe, vertel Jaco van ’n baie ontstellende ondervinding in Dhaka. As letterlike mens is ek versigtig om dikwels die naar en lelik van die lewe te sien, want die ontstellende dinge wat ek sien of lees, haak hier vas in my onderbewussyn en kom besoek my soms in my drome.

..............
Bangladesj het sy mooi, maar is ook een van die armste, mees digbewoonde plekke op aarde en word jaarliks deur natuurrampe getref. Op land was mense kniediep besig om orde te probeer skep na ’n vloed die vorige aand. Jaco het op ’n rivierboot gevaar en vir die eerste keer wit varswaterdolfyne gesien. Daar tussen die bamboesstokke, blare en vullis, het hy haar ook gesien. Die lykie van ’n babadogtertjie wat op haar rug gedryf het.
...............

Bangladesj het sy mooi, maar is ook een van die armste, mees digbewoonde plekke op aarde en word jaarliks deur natuurrampe getref. Op land was mense kniediep besig om orde te probeer skep na ’n vloed die vorige aand. Jaco het op ’n rivierboot gevaar en vir die eerste keer wit varswaterdolfyne gesien. Daar tussen die bamboesstokke, blare en vullis, het hy haar ook gesien. Die lykie van ’n babadogtertjie wat op haar rug gedryf het. Sy het laat in die nag soms in sy drome by hom kom kuier. Soos Jaco sê: “Daar gebeur lelike dinge op mooi plekke en mooi dinge op lelike plekke. Dis maar hoe die lewe is.”

...........
Alle sondaars welkom is definitief roerend en soms selfs uittartend en uitdagend en wat jou vir ’n oomblik laat nadink en soek na jou eie lewensuitkyk en dalk selfs die invalshoek daarvan bevraagteken.
..............

Alle sondaars welkom is definitief roerend en soms selfs uittartend en uitdagend en wat jou vir ’n oomblik laat nadink en soek na jou eie lewensuitkyk en dalk selfs die invalshoek daarvan bevraagteken.

Dit is ’n onomwonde feit dat geloof ’n eeue oue bespreking is en altyd sal bly. Dit is ’n onderwerp waar elkeen ’n opinie het, maar dit nie altyd durf spreek nie. Elke individu het ’n eie manier waarop hy die Bybel interpreteer, verstaan en prakties toepas. En ook die rede waarom dit dikwels vermy word, omdat dit net ’n te omstrede onderwerp is waar te veel opinies en helaas ook te veel vrae (moontlik vir vele) onbeantwoord bly.

.............
Elke individu het ’n eie manier waarop hy die Bybel interpreteer, verstaan en prakties toepas. En ook die rede waarom dit dikwels vermy word, omdat dit net ’n te omstrede onderwerp is waar te veel opinies en helaas ook te veel vrae (moontlik vir vele) onbeantwoord bly.
...............

Dit bly ’n waagstuk om Die Woord te bevraagteken sonder om op tone te trap. Maar as jy gesout is en voldoende kennis het, is daar sekerlik geen skade om daaroor te skryf nie. Beslis ’n interessante lees en staaltjies en verhale wat geboekmerk is in mens se geheue.

Alle sondaars welkom raak baie kwessies aan. Of jy daarmee saamstem of nie, dit is dikwels roerend en laat iets by mens agter om oor na te dink.

Lees ook:

Spiritualiteit: ’n gesprek tussen Abel Pienaar en Estelle Kruger

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top