Leef lig – vyf gewoontes van die Vroeë Kerk en wat dit vir ons vandag beteken deur Jaco Strydom: ’n lesersindruk

  • 2

Leef lig: Vyf gewoontes van die Vroeë Kerk en wat dit vir ons vandag beteken
Jaco Strydom
ISBN: 9780796322555
Lux Verbi

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging geskryf en aan LitNet gestuur.

Die Bybelse boek Handelinge van die Apostels was nie ’n boek waaruit ou Dominee juis graag gepreek het nie. Later sou ek mense hoor opmerk: Dominee is mos ’n Ou-Testamentikus, ’n kenner van die Ou Testament. Maar ek onthou wel preke uit die Nuwe Testament, maar dan eerder uit Romeine, die Evangelies, praktiese riglyne vir die Christelike lewe, dié soort van ding. Maar in dié nuwe boek van Jaco Strydom, wat ’n historiese argument oor die kerk wil maak, word daar sommer weggespring met Handelinge om vir ons te wys dat die vroeë kerk ’n beweging van aksie was, eerder as van net praat.

Daar is inderdaad veel te sê oor die vroeë kerk. Daar is veel om wys te word uit ’n studie van die vroeë kerk. Daar is nogal vreemde materiaal in dié boek. Wat duidelik is van hierdie mense in Handelinge, is dat hulle nie werklik Christene was nie. Die woord Christen word natuurlik die heel eerste keer aangetref in hierdie einste boek. Mens moet natuurlik nou ook hier in ag neem dat die Bybelse boeke nie gerangskik is in die orde waarin hulle geskryf was nie. Nietemin, ’n mens sou soort van verwag dat die woord Christen ook in die vier Evangelies sou voorkom, of ten minste die woord Triniteit of Drie-eenheid. Maar nee, daardie woorde vind mens nêrens in die Bybel nie. Teen hoofstuk 15 van Handelinge vind ons egter die vroeë kerk in ’n bittere stryd oor die saak van besnydenis. Die rede hiervoor is natuurlik dat die kerk as ’n Joodse splintergroep begin het, en nie as ’n nuwe godsdiens nie, en dat daar daarom lelik kopgestamp is oor die nakoming van die wet – iets wat Jesus geleer het.

Maar so gepraat van die vroeë kerk: ’n Goeie begin wat die moderne kerke gerus kan oorneem by die antieke kerk is om eerder weer die vis as simbool te gebruik in plaas van die kruis. Maar dit sal natuurlik nie akkordeer met die kerk se soenofferteologie nie ...

Getrou aan Strydom se aard is hy ook in hierdie boek nie ’n man van ’n stortvloed woorde nie. Sy hele boek beslaan so 175 kort bladsytjies. Maar wat hy te sê het, is briljant geformuleer. Eenvoudig en kragtig gestel. Hy loop nie draaie nie en draai nie doekies om nie. Mens hoef nie eens met hom saam te stem om sy vermoë met die woord te bewonder nie. Mens wil telkens stop en iets onderstreep of neerskryf. Dit is die een pittige uitdrukking na die ander. Hy begin dan ook sy relaas met ’n aanhaling deur ene Richard Bohr wat na bewering gesê het: “We do not think ourselves into new ways of living, we live ourselves into new ways of thinking” (13). Die kerk het natuurlik ook ’n “vloekwoord” vir mense met hierdie soort denke. Dit staan bekend as die “emerging church”. Daardie spontane beweging van kerkmense wat skynbaar meer begaan is oor hoe geloof jou lewe verander as oor “korrekte” teologie.

Jesus: Strydom se grootste woordwapen is Jesus. Spesifiek Jesus se lewe. Jy kon na Jesus luister, sê Strydom, maar jy kon ook presies dieselfde boodskap kry deur na Jesus se lewe te kyk. By implikasie verskil Jesus en sy vroeë volgelinge dus van die moderne kerk: “Daar word baie gepraat in die kerk en in die teologie. Maar wat maak dat die wêreld dit wat ons sê ernstig opneem” (26).

Die eerste deel van Strydom se titel is meerduidig, vir dié wat dalk wonder of daarvan onbewus is. Aan die een kant is daar die ooglopende: Leef lig, leef sonder bagasie. Moenie materialisties wees nie (Matteus 6:19). Die teologie self is ook soms vol onnodige bagasie wat mense en gemeenskappe rem. Maar belangriker, vanuit die perspektief van wat Strydom probeer argumenteer, is ook die onderliggende verwysing na Jesus se woorde: “Julle is die lig vir die wêreld” (Matteus 5:14). Dit is die ou, gedurige armdruk in die kerk. Geloof of dade. Maar Strydom sê: Leef lig en lééf lig.

Van die ander juwele in Strydom se boek:

Suid-Afrika het nie ’n tekort aan kerke nie, maar ’n reusetekort aan liefde (56).

Die teenoorgestelde van liefde is nie haat nie; die teenoorgestelde van liefde is selfsug (74).

Die uitdaging is om te streef na verhoudings wat uiteenlopende interpretasies en opinies oor die waarheid kan hanteer (94).

Hoe sukkel ons nie met laasgenoemde nie. En hierdie is nie iets waarmee slegs die Christendom sukkel nie. Inteendeel. Dis so in die mens se aard om nie mekaar te wil verdra nie! Ons kanselleer mekaar. Ignoreer mekaar. Ons stry oor onbenullighede. Nie net in kerke nie, maar oral.

Tien uit tien vir Leef lig deur Jaco Strydom. Ek lees graag wat hy skryf, al deel ek nie sy godsdiens en geloof nie. Want oor so baie van wat hy skryf kan mens net sê wow! Hier is ’n stem wat sê wat gesê moet word!

  • 2

Kommentaar

  • Louise Vivier

    Goeie naand
    Ek is opsoek na die boek Leef lig van Jaco Strydom. Waar kan ek dit koop asb?
    Groete
    Louise Vivier

  • Barend van der Merwe

    Jy sal dit beslis by aanlynwinkels kry. 'n Vinnige internetsoektog sal jou gou daarheen lei. Baie boekwinkels bestel ook graag boeke as jy vra. Jy kan ook dalk vir uitgewer Lux Verbi probeer kontak.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top