Confessions oor kerkwees deur Jaco Strydom: ’n lesersindruk

  • 1

Confessions oor kerkwees
Jaco Strydom
Uitgewer: Carpie Diem Media
ISBN: 9781432208219

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

Confessions oor kerkwees is nie my tipiese leesstof nie. Ek het die boek verniet gekry, en omdat dit verniet was, het ek dit maar gelees. Maar ook om ander redes. Dalk is dit die buiteblad van die boek wat my nuuskierigheid geprikkel het. Jaco Strydom is duidelik nie ’n tipiese NGK-dominee nie. Hy dra ’n beanie op sy kop en maak die vredeteken met die hand. Hy gebruik Engelse woorde en is hip en with it en cool. Oukei, nie dat Engelse woorde my werklik beïndruk nie, maar dit skep tog ’n bepaalde atmosfeer van iets anders as die gewone. En die boek self is darem nie werklik deurspek met Engels nie. Dis eintlik net die titel. Die inhoudsopgawe bevat ’n hele rits opskrifte wat redelik uitdagend sal wees vir ’n tradisionele gelowige. Opskrifte soos “Sê nou die Christene sou vir Jesus volg” en “Die illusie van ‘goeie teologie’”. Dis nie ’n boek wat mens in ’n sin of twee kan opsom nie. Strydom beskryf die boek as ’n “stirfry”. Dit is ’n versameling van sy rubrieke en webjoernaalplasings oor sy bediening en sy gewaarwordinge daarrondom. Maar daar is ’n interessante goue draad wat deur sy skryfsels loop.

Strydom keer keer op keer terug na een saak, en dit is Jesus. Vir Strydom bly die fokus op Jesus. Daar is ook vir my as ateïs waarde hierin, en dit het my geboei, want ook ek geniet dit om oor Jesus te lees. My eie siening van die Bybel, en spesifiek die evangelies, is dat die sinoptiese evangelies waarlik fassinerende boeke is, en niks minder as literêre meesterstukke nie. Die groot verligting, hoe meer jy lees, is dat daar nie in hierdie boek al weer ’n gedurige gehamer is op die smet van die mensdom nie. Op die soenoffer en Triniteitsleer en die erfsonde nie. Nee, Strydom adem vir my iets van die gees van die Bybelse Jesus en bepleit eintlik juis minder wette en reëls. Hy sê selfs dat die kerk se sinodes minder mag moet hê. Volgens Strydom het Jesus “meer gepraat oor hoe ons moet leef as oor wat ons moet glo” (37). As dit nou nie verfrissend is nie, dan weet ek nie! Ek het juis altyd hierdie saak in my hart dat dit tog absurd is dat god (nie dat ek dink daar is so ’n wese nie) enigsins begaan is oor watter teologiese konsepte sy eie skepsels ken en aanvaar. Getuig dit nie van homo sapiens sapiens se eiewaan nie? Dat die mens dink dat sy teologiese belydenisse, en die konsepte wat hy uitdink, vir hom die wa deur die drif moet trek in die lewe? En wat is die nut van geloof wat “reg glo”, maar wat nie reg leef nie? Moet geloof nie hier en nou ’n verskil maak nie? Fokus kerke nie dalk hopeloos te veel op die eendag wat nog moet kom nie?

Ander verfrissende idees in die boek: Strydom wil he gay mense moet aanvaar word, en hy is ook nie so anti-Katoliek soos wat ek as kind die Gereformeerde dominees leer ken het nie. Ag aarde. Hoeveel keer moes ek nie hoor die pous is die antichris nie? Of dat Satan vir Martin Luther persoonlik probeer aanval het nie. Nie dat ek enige heldeverering vir Katolieke het nie, maar die punt is, hulle is nie minder of meer heilig as Protestante nie. Hulle is maar net mense met ’n ander godsdiens as “ons” godsdiens. En dit kan nie skade doen om oor die draad te loer nie. Geen mens het alle kennis in pag nie. Daar is dus veel wat Strydom te sê het wat van waarde is, of mens nou in god glo of nie. Strydom pleit dat mense na verskillende stemme sal luister en nie net na hulle eie nie. Hy skryf gedurig oor Jesus se stryd teen sosiale ongeregtigheid. Volgens hom is die kerk “vervelig”, teenoor Jesus wat dapper was en ’n opwindende lewe gehad het.

Strydom is nie op ’n missie om gewild te wees nie. Hy skryf ook dat Suid-Afrika se kerke mense polariseer op grond van ras. Elkeen gaan elke Sondag na sy eie kerk. Dit is beslis my eie ervaring ook. Trouens, dit is een van verskeie redes hoekom ek nie meer die kerke enigsins ernstig opneem in die lewe nie. Vir vyf, party weke ses, dae per week, werk ek vir agt ure skouer aan skouer saam met Suid-Afrikaners van elke ras, net om die sewende dag vir ’n uur elkeen in ons eie kerkie te gaan sit. Ons kan saam werk, maar ons kan nie saam ’n godsdiens beoefen nie. Dit is nou buiten die kerk se verspotte debatte oor homoseksualiteit en selfs gender, spesifiek die rol van vroue, wat nog in sekere van die Afrikaanse susterskerke debatteer word – dit alles is dinge wat nie meer hoort in die eeu waarin ons lewe nie, maar ons sit daarmee, danksy die kerk. Al wat dit vir my wys, is hoe ver agter die kerk geraak het. Hoe reaksionêr en irrelevant die kerk geword het.

Ek het Jaco Strydom se boek oor die kerk baie geniet, maar ek is bevrees dat hierdie boek net maar gaan wegsink in ’n see van “korrekte teologie”. Jesus self het lankal verdrink in daardie moeras. Danksy Jaco Strydom kan ons vlugtig weer bietjie lees van hoe anders die Bybelse Jesus was in vergelyking met onsself. Dis ’n lekker verposing te midde van die lewe se dolle gejaag – ’n boek van pypdrome, van hoe die wêreld sou kon wees as ons die Bybelse Jesus ernstig as voorbeeld sou volg.

  • 1

Kommentaar

  • Die ewige waarhede is die mensdom nie beskore nie. Ons dans om 'n vuur en verbeel terwyl ons met blatante publieke leuens aflate insamel om ons leefstyl te finansier. Nie waar nie?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top