Duiwelsduo ná die Toyota US Woordfees: Maart 2020

  • 8

Deborah Steinmair en Jonathan Amid (foto verskaf)

LitNet publiseer gereeld e-posgesprekke tussen vuurwarm boekduiwels Deborah Steinmair en Jonathan Amid. Hulle sal mekaar aanvat oor boek- en skryfsake. Skerp, slim, voor op die wa, insigryk en belese, onstigtelik en ondermynend.

Jonathan Amid:

Hi Deborah

Dit voel al vir my soos ’n ewigheid in die kleine vandat ons laas gesels het. Was lekker om jou by die Woordfees raak te loop! Wie sou ’n paar maande gelede kon geraai het dat ons nou ’n oogwink weg sou wees van 21 dae se isolasie, met ’n wêreldwye pandemie wat dreig om nie net talle lewens verder te eis nie, maar ook ten minste hierdie jaar se kunskalender in die wiele te ry, en soveel woord- en ander kunstenaars se inkomste ernstig te knou? Die Woordfees kon nie vir ’n beter stel datums gevra het nie. Een week later …

Ek het ’n miljoen dinge wat ek graag met jou wil bespreek. Dis seker nie wys om veel te sloer met ’n klomp komplimente oor jou nuwe boek (kon dit nie neersit nie – resensie volgende Maandag op Netwerk24; ook jou blitsonderhoud met Schalk Schoombie op De Kat-TV vreeslik geniet, net heeltemal te kort) of moeilike vrae oor die uitgewerswese en boekwinkels wat jou sal dwing om te spekuleer nie.

Net eerstens iets wat ek dink opgeklaar moet word: Hierdie gesprekke word bemark as ’n “boekeoorlog”. Ek dink dis ietwat lagwekkend, om eerlik te wees. Ek sien jou in my geestesoog met ’n moerse bazooka en myself met ’n Uzi en dan lag ek so hard en onbetaamlik dat ek skoon vergeet hoe om ernstig te wees. Nee, nee, ’n oorlog is hierdie gesprekke allermins. Om hierdie as ’n soort zero-sum game te sien, met ’n duidelike wenner en verloorder van die oorlog, maak dat ’n mens die kwessies wat aangeraak word, uit die oog verloor. Dan word dit ’n saai kantkiesaffêre. Lame!

Kom ons skop dan eerder hierdie ronde af met ’n klompie stellings en vrae en dan kan jy dit verder vat soos jy goeddunk. Cool? Righto.

Het Azille Coetzee totaal en al die hoender geruk met haar stuk “Afrikaans as liminale transnasionale literêre sisteem: ’n Paar gedagtes oor ontlaering uit QwaQwa” (Azille Coetzee, Universiteitseminaar, 24 Januarie)?

Afrikaans as liminale transnasionale literêre sisteem: ’n Paar gedagtes oor ontlaering uit QwaQwa

Dink jy die “Afrikaanse letterkunde as establishment verteenwoordig steeds ’n laer, in formasie getrek om dit wat binne is te beskerm teen dit van buite”?

Watter invloed dink jy het identiteitspolitiek (yuk) en die strewe om polities korrek te wees op die soort verhale wat vertel word, en op die gehalte van die skryfwerk wat gepubliseer word in 2020?

Jy skryf in Afrikaans, in ’n subgenre (huishoudelike noir) wat nog betreklik nuut is in die taal. Skryf jy vir ’n spesifieke gehoor? Poog jy om doelbewus oor die vroulike ervaring te skryf as teenvoeter teen die patriargale bestel? Sou jy graag dat manlike lesers ook As jy oor moord droom moet lees? Hoeveel van spesifiek die Erin de Ridder-stem in die boek is joune, of is jy glad nie in die boek nie?

Die begin van 2020 was vir my in vele opsigte gekenmerk deur ’n soort “opkoms” of verdere deurbraak vir Kaaps. Daar was Ronelda Kamfer se Chinatown, haar man Nathan Trantraal se Oolog, en Olivia M Coetzee se Innie Shadows. Trantraal het ook in Kaaps vir Rapport resensies geskryf. Dis alles goed en wel. Wat my interesseer, is die tendense wat opval en die groter gesprekke wat dit moontlik maak. Eerstens, en ek dink dis nogal ’n whopper: Dink jy dis geregverdig, en verhewe bo die cringe factor, as wit skrywers/digters/resensente soos jy self en Charl-Pierre Naudé ’n bundel soos Oolog resenseer en dan hulself in ’n soort Kaaps uitdruk? Voel dit enigsins vir jou asof jy ’n dialek gebruik wat nie lekker in jou mond rondrol nie, of dat dit ’n bietjie is soos daai gewraakte term cultural appropriation? Mens sien redelik min dat wit resensente bereid is of gemaklik is daarmee om kritiek uit te spreek oor byvoorbeeld tekste wat in Kaaps geskryf is – dink jy ons het met ’n trendy moraliteit, of ’n soort “versigtigheid” te make nou?

Die feit dat daar so bitterlik min stemme “van kleur” in die wêreld van die boekkritiek is, is nog iets wat ek baie problematies vind. Wat dink jy? Hoe voel jy om as ’n gevestigde stem in die lettere elke week iets oor boeke te skryf vir Vrye Weekblad? Word jy die vryheid gegun om elke week te besluit waaroor jy wil skryf, of voel jy verplig om sekere stemme onder die soeklig te plaas? Eerlike antwoord: Kry die sensasionele boekbesprekings, of dié wat besonder positief jeens ’n boek of skrywer is, meer klieks?

In jou stuk oor Oolog noem jy die volgende: Poësie is nie mooi klanke, meesleurende metrum en betowerende beelde nie – dis oorspronklike denke wat gekantel en gesofistikeerd verwoord word. Dis woede, dis oorlog.

Dink jy nie dis ’n erg aanvegbare stelling nie? Of was dit juis ’n bietjie moedswillig? Dit was doelbewus, nè? Is dit nie presies die soort voorskriftelikheid waarvan die digkuns, en enige vorm van kuns self, moet wegbly nie? Wie is die hekwagters wat besluit oor die “aanvaarbaarheid” van ’n eie skrywer se bydrae tot die lettere? Ek kan nie dink dat iemand soos Joan Hambidge so ’n stelling sou maak nie. Ek wonder net. Ek moet met haar saamstem dat die Afrikaanse letterkunde nog nooit meer “demokraties” en “transnasionaal” was nie.

Ek wonder verder oor die gehoor vir digbundels soos Chinatown en Oolog, gepen deur digters wat sedert die begin van hul publikasies omarm was deur die establishment en figure in die Lae Lande soos Annemarie van Niekerk, maar wat vernaam deur wat ek aanneem wit lesers is, gekoop word. Hoe maak jy self sin van daai prentjie? Daar is vir my veral in hierdie bundels ’n traak-my-nie-agtigheid en amper ’n meerderwaardigheid van die digters teenoor wit digters (onder andere) wat lankal gekanoniseer is, soos Sylvia Plath en Ted Hughes. Jy skryf self van die “groot literêre liefdesverhaal” tussen “Nathan en Ronelda”.

Moet die groot geeste noodwendig ’n middelvinger toegedien word sodat ons plaaslike kunstenaars beter oor hulself kan voel? Kom dit van ’n plek van skaamte of minderwaardigheid af, wat nou met bravade besweer moet word? Dink jy nie hierdie twee digters veral loop die gevaar om vir wit gehore ’n soort “poverty porn” op te dis nie?

Ek dink Oolog is die beste bundel van die twee, maar voel jy nie dis ’n geval van hoe later hoe kwater, kom ons kyk hoeveel ons hulle dié keer kan skok nie? Is daar ’n soort hiërargie van ervarings wat besig is om kop uit te steek, of anders gestel, moet ons skrywers en digters nou al meer van ’n sosio-ekonomiese of politieke bewustheid toon om hulle bona fides te bewys? Regstellende aksie?

Oor na iets heeltemal anders: Jy het reeds jou “leeslys vir kwarantyn” aanlyn gedeel, maar hoe dink jy gaan die koronavirus, en die tyd wat baie mense nou tuis gaan deurbring, meestal weg van familie en vriende, die soort letterkunde beïnvloed wat ons oor ’n jaar of twee op die rakke gaan sien?

Ek is ontsettend opgewonde oor die opwaartse kurwe in wetenskapfiksie en spekulatiewe of distopiese romans wat nou die lig sien – pas Willem Krog en Schalk Schoombie se Alleen onder die maan en Die nag ruik na spoed, wat jy redigeer het. Dink jy dis ’n tendens wat hier is om te bly? Is ons lesers oopkop genoeg om hierdie meer uitdagende soort verbeeldingsvlugte uit te soek in ’n uiters kompeterende boeklandskap?

Laastens: Wat lees jy hierdie week vir Vrye Weekblad?

 

Deborah Steinmair reageer:

Liewe Jono

Dit was lekker om jou te sien, soos altyd. Ek kan nie glo dit was skaars twee weke gelede toe ons kon feesvier in die poskaartdorp, mekaar kon omhels en onbevange kon saamhang nie. Nou het die landskap radikaal verander en ons wuif vir mekaar vanuit ons woonkamers.

Ek stem nie heeltemal saam met jou dat ons gesprek nie ’n boekeoorlog is nie: Onthou, oorloë het geen wenners of verloorders nie. Dit gaan maar oor die uitruil van vuur. My eksman het eenkeer ’n oorlogfliek gekyk (sy gunsteling) en ek was in die vertrek langsaan. Daar was vir ongeveer ’n halfuur net skote, sarsies en ontploffings, toe dodelike stilte daal. Daarna ’n benoude stem wat sê: “Wir brauchen noch Kannonenschuβ!” Wat ek wil sê: Robuuste gesprek is nodig, verskillende standpunte, stryery, grotesk-oordrewe bloed wat spat soos in Tarantino. Dis my beskeie mening.

Jy het in die verlede gekla dat my antwoorde futloos is. Ek het vele menings, maar nie ’n lang asem nie. My gawe is om te kan vereenvoudig. Ek glo dis noodsaaklik. Jeanne Goosen het dikwels meer as ’n uur geworstel met ’n bladsy (in Engels) van ’n filosoof, dan kom ek verby, lees dit vinnig en vertel dit vir haar in eenvoudige Afrikaans. Gaan iets verlore? Bepaald. Maar veel word ook duidelik. Joan Hambidge het vir my gesê my Vrye Weekblad-gehoor is nie gesofistikeerd genoeg om die verskil tussen pastiche en plagiaat te kop nie, maar ek stem nie saam nie. Gewone lesers is ongelooflik gesofistikeerd, al is hulle nie, soos ek en jy, geoefen in die kuns van verwoording nie. Dit het ek gesien by my kinders van kleins af, en by my ma wat nooit in letterkunde opgelei is nie.

Dankie dat jy my aandag gevestig het op Azille Coetzee se artikel oor ontlaering. Ek was mal oor In my vel. Daardie vrou het ’n kop op haar skouers en woorde dans na haar pype, soos: “die ontwrigting van wit nostalgie”. Jimmel.

Jou eerste vraag: Hel, ja. Afrikaanse letterkunde as establishment verteenwoordig steeds ’n laer, in formasie getrek om dit wat binne is te beskerm teen dit van buite. Probeer ’n bietjie om ’n doodonskuldige vraag te stel oor die oorspronklikheid van ’n Hertzogpryswenner en kyk wie kak almal op jou kop. So eenvoudig is dit. Die bewakers van die poorte stenig diegene wat durf beweer die keiser is kaal.

Oor identiteitspolitiek en die strewe om polities korrek te wees: Dis die soort verhale wat ons in 2020 moet skryf, omdat ons oë oopgegaan het. Ons lelike apartheidsonskuld is verlore. Om nou nog vanuit die ou idioom en paradigma te skryf, sou aspris, domastrant en leuenagtig wees, soos Dan Roodt en Steve Hofmeyr. ’n Vasklou aan nostalgie is bloot kitsch. 1 Korinthiërs 13 sê: “Toe ek ’n kind was, het ek gepraat soos ’n kind, gedink soos ’n kind, geredeneer soos ’n kind; maar nou dat ek ’n man is, het ek die dinge van ’n kind afgelê.” Oeps, noudat ek ’n vrou is. “Strewe” is miskien nie ’n mooi woord nie, maar hopelik is ons in ons grein korrek en menslik en dit reflekteer in ons skryfwerk.

Skryf ek vir ’n spesifieke gehoor? Ja, vir die stemme in my kop. Ek wil graag hê mans moet my boek lees; ek wil graag wys hoe dit is om ’n vrou te wees. Ek sal altyd teen die patriargie skop, bewustelik en onbewustelik.

Is ek Erin de Ridder? Ek sou graag glad nie in die boek wou wees nie, want dis so ’n verskriklike verhaal, maar dis natuurlik nie moontlik nie. Jeanne Goosen het gesê alles wat ’n mens skryf, is ten minste ’n emosionele outobiografie. Erin het trekke van my, soos die praktiese skouer-aan-die wiel-sit-geid en die kop vol aanhalings. En ook veel wat nie eie aan my is nie.

Jou vraag: “Dink jy dis geregverdig, en verhewe bo die cringe factor, as wit skrywers/digters/resensente soos jy self en Charl-Pierre Naudé ’n bundel soos Oolog resenseer en dan hulself in ’n soort Kaaps uitdruk? Voel dit enigsins vir jou asof jy ’n dialek gebruik wat nie lekker in jou mond rondrol nie, of dat dit ’n bietjie is soos daai gewraakte term cultural appropriation?”

Die opkoms van Kaaps is wonderlik en moes lankal gebeur het. Wanneer ek ’n bundel soos Oolog resenseer, doen ek dit in my eie verwronge weergawe van Standaardafrikaans; ek probeer nie Kaaps gooi nie. Ek het by die Woordfees vir Olivia M Coetzee gevra of dit in die haak is wanneer wit mense (kom ons noem ons by die naam) Kaapse sêgoed besig soos “Hie’s jou nannas.” Sy het gesê nee, dis nie oukei nie, want dit voel vir haar soos afpraat, patronising.

Oor ’n trendy moraliteit of ’n soort versigtigheid om te kritiseer: Ek weet nie; ek mag kies waaroor ek wil skryf vir Vrye Weekblad, en ek skryf slegs oor boeke wat my aangryp. Oolog, Chinatown en Innie Shadows het my oorrompel en die Kaaps het nie ’n rol gespeel nie, behalwe dat dit dit moeiliker gemaak het om te lees. Jou vraag of sensasionele artikels meer klieks kry: Beslis. Maar ek gaan sit nie en dink nou wil ek sensasioneel wees nie. Ek skryf oor wat my aangryp.

Jy vind my stelling aanvegbaar: “Poësie is nie mooi klanke, meesleurende metrum en betowerende beelde nie – dis oorspronklike denke wat gekantel en gesofistikeerd verwoord word. Dis woede, dis oorlog.” Kyk hier, Jono, poësie is soveel dinge dat ons heeldag kan sit en opnoem wat poësie is sonder om verkeerd te wees, en steeds sal ons dit nie onder woorde kan bring nie. Ek het nie gesê “poësie is NET dit en dat” nie. Joan Hambidge verskil dikwels van my, en dikwels stem ons ook saam. Die hekwagters wat besluit oor die aanvaarbaarheid van ’n skrywer se bydrae, is kwaliteit en die impak wat dit het.

Ek haal Azille Coetzee aan: “Die ontlaering van die Afrikaanse letterkunde vereis jeugdige bravade en ongehoorsaamheid.” So was dit nog altyd. Kunstenaars benodig groot porsies voortvarendheid. Jy móét glo jy het iets nuuts om te sê. Jy moet glo dié wat voor jou kom, is uitgedien. Jy moet beelde bestorm en van hul voetstukke afstamp, jou helde nekomdraai. Later, glo ek, waardeer en erken jy dié wat voor jou gekom het, maar eers moet jy jou eie stem vind. En kom ons probeer om dit nie oor kleur te maak nie. Kunstenaars het De Medici’s nodig. In my lewe was daar Jeanne Goosen wat my aangemoedig het en die Nagtegaals wat my finansieel gehelp het. Natuurlik het die establishment Trantraal en Kamfer omhels, want hulle is opwindende stemme; outentiek, vars en fokken goeie poets, in enige milieu. Dis in die aard van kunstenaars om die hand wat hulle voed, te byt. Dis maar soos dit is.

Ek weet nie van “poverty porn” nie – dis harde woorde. Ek sou eerder wou lees oor reise na antieke Griekeland, vase, katte, stillewes en die mooi dinge in die lewe. Maar as iets rou en polsend is en oortuig, as dit my laat sien, sal ek dit lees.

Ek glo nie dis regstellende aksie nie, dis bloot skryf oor hul werklikheid. Mense skryf vandag nog oor die Jodeslagting. Weer Coetzee: “... ernstige, literêre omgang met die woede in die werk van skrywers soos Kamfer, die skrywers wie se swartheid, vrouwees en weiering om stil te wees in sigself ’n transgressie verteenwoordig in die libidinale ekonomie van die laer”.

Die koronavirus, dink ek, gaan lei na jolige, menslike boeke vol samesyn. Wanneer alles goed gaan, skryf mense oor vernietigende oorloë en natuurrampe. Skrywers verbeel wêrelde anders as hul eie.

Ek is ook opgewonde oor die opwaartse kurwe (onheilspellende woorde nou) in wetenskapfiksie en distopiese romans, maar ek vermoed the curve will flatten wat betref distopiese boeke. Been there, seen that. Ons soek verbeelding, ja, maar ons soek werklikhede anders as dié wat ons beleef.

Hierdie week lees ek Killing Commendatore van Haruki Murakami, Some rain must fall van Karl Ove Knausgaard en Koors van Deon Meyer (weer) vir Vrye Weekblad.

Lees ook:

Duiwelsduo: die eerste boekeoorlog

Duiwelsduo: die tweede boekeoorlog

  • 8

Kommentaar

  • Juliana Coetzer

    Ek geniet julle skrywe. Dankie vir die opinies en waardevolle inligting van twee mense wat boeke ken en met gesag daaroor kan praat.

  • Monica Hammes

    Een en ander oor Kaaps

    Olivia Coetzee het by die ander [heerlike] sessie oor Kaaps te kenne gegee het dat hulle net vir 'n wyle in vrede gelaat wil word om met vreugde hulle eie ding te doen. Ek vermoed mettertyd sal hulle nie besware hê teen witmense se deelname nie. Maar ai, ek wens hulle wil elkeen wat vroeg en laat van "cool" praat oortuig dat "kwai" 'n baie beter woord is.

    Ek wonder hoekom daarso min reaksie uit die bruin gemeenskap is, maar dalk kyk ek net op die verkeerde plek. Ek het wel na die fees vir ’n jong Kaapse bruin vriendin vertel hoe dit my plesier gee en sy was kennelik verbaas - beide oor Kaaps en oor my belangstelling.

    Ek het toevallig eergister iets gelees uit die GRA-tyd en die ooreenkoms tussen Kaaps en die vroeë Afrikaans het my nogal verras. Kyk iemand daarna?

  • Jonathan, jou vrae oor die posisie van Kamfer en Trantraal in die Afrikaanse literatuursisteem is relevant en noodsaaklik. Hulle is albei onmiddellik in die hoofstroom opgeneem, maar reageer nog steeds asof hulle verstote op die wal staan. Hulle gaan voort "om verstikkend verby die moederspeen ... te skel" in Breyten se woorde. Waarom?

  • Gisela Ullyatt

    Ek moet bieg ek het aanvanklik nie geweet of ek die snipes tussen twee figure in die letterkunde wêreld kon hanteer nie, want dis alreeds so 'n aggressiewe en kompeterende arena. Maar soos die korrespondensie tussen Jonathan en Deborah ontvou, word dit duidelik dat ons as Afrikaanse (en hier bedoel ek werklik ALLE gemeenskappe van Afrikaans) literêre gemeenskap sekere dinge moet begin uitpraat as ons die taal en letterkunde aan die gang wil hou. Ek is ook verheug dat die digkuns onder die loep geneem word en nie slegs prosa nie. Mag hierdie swaarde nog vir 'n lang tyd kruis...

  • Suzanne Potgieter

    Ek het nou lekker gelees, interessante gesprekspunte wat beslis dieper ontleed moet word!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top