Duiwelsduo: die tweede boekeoorlog

  • 3

LitNet publiseer gereeld e-posgesprekke tussen vuurwarm boekduiwels Deborah Steinmair en Jonathan Amid. Hulle sal mekaar aanvat oor boek- en skryfsake. Skerp, slim, voor op die wa, insigryk en belese, onstigtelik en ondermynend.

Lees hul eerste gesprek hier:

Duiwelsduo: die eerste boekeoorlog

Hier is die tweede salvo.

Jonathan Amid en Deborah Steinmar (foto's: verskaf)

Duiwelsduo twee: e-pos nommer een

Deborah Steinmair

Beste kameraad J

Jy het gesê jy resenseer nie meer boeke waarvan jy by die teksredigering betrokke was nie. Fair enough. Maar ek verneem jy resenseer wel boeke waar jy by die manuskripontwikkeling betrokke was. Is dit nie veel nader aan eie lyf nie – het jy nie ’n veel langer stuk van jou vinger in die paai gehad daar nie? Ek vra maar net.

Wat ek eintlik wil sê is: Ek word verdag gemaak en van onpartydigheid beskuldig omdat ek redakteur by Protea is. Maar wie in die boekewêreld is onbetrokke? Almal wat iets van boeke weet, is op een of ander vlak betrokke by hul skepping, want die poel is so klein. En hulle is die mense wat gevra word om oor boeke te skryf, omdat hulle kenners is. Die pot moet dus nie die ketel donker noem nie.

Jy moenie my skermhoutjies so persoonlik vertolk nie. Ek skaduboks maar. Ek is op soek na ’n interessante gesprek, iets met lyf. As ons wang teen wang koer oor boeke gaan dit net te stroperig raak. Dan is ons die engelekoor in plaas van duiwelsduo. Ek dink ook nie ons moet ons lyf influencer hou en hier lang lesings aanbied oor die boeke waarvan ons gehou het nie. Dit raak vervelig.

Daar is kwessies soos presieusheid in die bedryf wat aangespreek moet word. Waarom mag een uitgewer nie ’n ander se boeke en skrywers bespreek nie? Of mag hulle dit bespreek, maar slegs positief?

Jy het verwys na die manier waarop ek dit doen, dat dit onvanpas en kwetsend sou wees. Nou vra ek jou, wie wil ’n opiniestuk lees waar die skrywer nie ten minste standpunt inneem en moeilike vrae stel nie? Dit moet die leser interesseer, want om vervelig te wees is ’n doodsonde. Dit moet gesprek uitlok, mense laat dink. Ek is nooit daarop uit om gemeen te wees nie.

Nog ’n vraag: Jy ken baie skrywers. Resenseer jy vriende se boeke, of sê jy nee wanneer jy iemand te goed ken? Dis ’n moeilike vraag, een wat my bly maak dat ek nie meer resensent is nie.

Nog ’n vraag oor resensies: Het die resensent, veral in ’n dagblad/Sondagkoerant versus akademiese geskrif, nie die verantwoordelikheid om tekste oop te skryf, vir die leser sleutels te gee om die teks te vertolk nie? Dink jy nie daar is te veel resensente wat die leser laat dom voel, wat oor lesers se koppe skryf om hul eie kennis ten toon te stel nie?

Dis genoeg vir eers, jy sal seker ook ’n paar indringende vrae afvuur. Ek sidder in my sandale. NS: Jy gaan glo T-hemde vir die Woordfees maak waarop “Influencer” staan. Ek sal maar een laat maak met: “Ek hou van Joodse oë”. 


Jonathan Amid reageer:

Beste kameraad D

Dalk kon ek my beter uitgedruk het: Ek sal nooit resenseer waar ek teksredigeerder was nie. Ook nie manuskripontwikkelaar nie. Interessant genoeg land Jaco Wolmarans se Skag netnou by my – die koeriers maak soms mos ’n Vrydag ekstra lekker. Ek was gevra om te resenseer vir die Sondagkoerant, maar het ’n keurverslag geskryf. Dis dan ’n “dankie, maar nee dankie”. Ek dink die gesprek oor verdagmakery is nou bietjie herhalend. Ons wil nie verder in ’n “he said, she said”-tenniswedstryd vasgevang word soos met Nadal en Federer wat mekaar die stryd aansê nie. Dis wel ’n vriendskaplike stryd. Die twee het die wêreld se respek en agting vir mekaar. Ook hier, glo ek.

Omdat ons so sonder ’n skeidsregter skaduboks, sal ons van tyd tot tyd bietjie swaai en mis. Dis in die haak. Hou vir hou. Jy’s in die kol met jou opmerking oor onbetrokkenheid – niemand is onbetrokke nie. Niemand. Almal ken almal. Ek kom goed met skrywers klaar, en ek ken omtrent almal van hulle. Vir my gaan dit oor bevoegdheid om ’n sekere tipe boek te kan resenseer. Ek wys enige poësie, liefdesverhaal, romanza of superromanza vir resensie van die hand. Daar is ek totaal onkundig en onbevoeg.

Oor presieusheid: Hieroor kan ons lank derms ryg. Vir my gaan dit oor die illusie van objektiwiteit skep (want niemand is totaal neutraal of objektief nie) deur ’n aanpak wat geldigheid, regverdigheid en bedagsaamheid nastreef, sonder om die nodige kritiese woelinge op te hef. As jy positief is, motiveer. As jy krities is, motiveer. As jy kontroversieel wil wees, maak seker jou relaas is nie van Sweedse kaas nie. Maar die feit bly staan: Daar is goeie redes waarom elke tweede uitgewer nie ook sy lyf resensent hou nie. Netflix se hoof gaan nie elke maand ’n verslag bekendmaak waar hy Showmax en Disney Plus se aanbod takseer nie. Rassie Erasmus skryf nie ’n weeklikse rubriek waar hy Australasië se opposisie vir ons Super Rugby-spanne ontleed nie. Luke Dale Robberts critique nie om die beurt sy mederestaurateurs in die publiek nie. It’s just not done. Hoekom nie? Want anders sou daar geen sweempie van ’n illusie van objektiwiteit oorbly nie. Dis soos om die opposisie se skopper te boe as hy pale toe aanlê. Dit gebeur gereeld, maar dis onvanpas.

Jy vra, in wese, oor die verskil tussen ’n toeganklike en ontoeganklike resensie. Die resensent moet vergeet van slim klink en vermaaklik skryf en die eerste opdrag van die resensent ter harte neem. Dis om drie (breë) vrae vir die potensiële leser onomwonde te beantwoord: Is dit binne die genre, die skrywer se oeuvre en die plaaslike konteks geslaagd, en hoekom? Wat sê die boek, en hoe word dit gesê (tema, invalshoeke, hoe word karakters aangewend om kwessies te ondersoek). En uiteindelik om ’n opgevoede raaiskoot te neem oor wie die boek sal wil lees, moet lees, of gaan lees, en wat die reaksie gaan wees. Een helse opdrag! Elke resensie gaan beslis nie al hierdie funksies kan vervul nie. Interessant hoe Nathan Trantraal nou sy lyf resensent hou. Dink jy hy kom die mas op?

Resensies in ’n akademiese joernaal, ’n dagblad, ’n Sondagkoerant, ’n tydskrif soos Huisgenoot of Vrouekeur of Rooi Rose en ’n aanlyn webtuiste soos LitNet gaan almal verskil. Die toeganklike resensie is, ongeag die medium, een wat helder, ondubbelsinnige formulerings/uitsprake, leesbaarheid, samehang en ingeligtheid kan saamsnoer. Daarna kan ’n mens dink aan genotvolheid. Resensies moet nie eerstens daarop ingestel wees om soos kitskos ’n vinnige honger te stil nie. Hoe voel jy oor kragwoorde in resensies, watter formulerings maak jou tiete lam?

Nou wil ek by jou weet: Voel jy nie ook aan jou bas dat ons lettere uit sy nate uit bars, en dat ons veel meer ruimte in byvoorbeeld ons dagblaaie moet toewy (en beslis ook aanlyn) vir resensies, onderhoude en besprekings/rubrieke nie? Onthou jy toe Netwerk24 gereeld een resensie in die koerant, maar twee aanlyn sou plaas, oor dieselfde boek? Dikwels met menings wat nogal verskil. Ek mis dit. En resensies is wragtag nie so duur dat dit nie ten minste weer aanlyn kan gebeur nie. Dit sou ons boekgesprekke verruim.

Gepraat van aanlyn forums: Gegewe die gewildheid van Facebook-groepe soos The Good Book Appreciation Society en die Lekkerlees-Boekrak, en ’n platform soos Goodreads, maak die opinie van kenners nog saak? Het daar tot so ’n mate demokratisering plaasgevind dat medelesers, spesifiek plaaslik, meer steun op ander “gewone” lesers se indrukke as wat die resensent aanbeveel? Jy’s tog ’n boekfoendi – moedig resensies jou aan om boeke te lees, of het dit nie ’n beduidende impak nie?

Met die Woordfees om die draai wonder ek weer oor die literêre deel van die fees en hoe skrywers deesdae al hoe meer van ‘n performer moet wees. Kyk na die groot indoena van LitNet: gereelde, redelik gedetailleerde plasings oor reis, skrywerskap, die lewe. Elke inskrywing kry ’n klomp likes en reaksies en veel kommentaar. Bly daar nog in 2020 iets van die mistiek van die skrywer oor? Sien jy uit na die lesers se reaksie op As jy van moord droom, wat eersdaags verskyn?

Dink jy ek moet jou boek resenseer in een van die dagblaaie of in Rapport? Of sou ’n bespreking aanlyn op Vrye Weekblad meer prikkelend wees?

Ek is vuur en vlam oor die T-hemde. All systems go. Agterop gaan staan “Jewish from the waist down”. Ek is mal oor jou voorstel! Miskien kan jy ook een laat maak wat sê “Hungary Eyes?”. Dan drink ons iets by die fees en plaas iets op jou skrywersprofiel op Facebook. Solank jy my boek sal teken. Is jy in?

Duiwelsduo twee: e-pos nommer twee


Deborah Steinmair 

Beste kameraad J

Ek merk met onrus ’n ommekeer in jou trant. Opeens is jy ’n koorknaap: vroom, beleefd en rustig. Dit maak dit natuurlik vir my moeilik om vir jou neus te bly mik. Ek gaan ’n nuwe foto van my stuur, stralend en sereen, soos jou foto. Dan kan ons die rubriek herdoop tot Boekkloek.

Ek is baie bly om te verneem dat jy nie weer boeke waar jy by die teksredigering betrokke was, gaan resenseer nie, en geluk dat jy Skag teruggestuur het. Maar weet jy wat? Eintlik gee ek nie ’n duit om nie. Daar bestaan geen objektiwiteit nie en enigiemand wat boeke lief het, sal sy of haar heel bes doen om onpartydig te wees, dit weet ek.

Dankie, vir die inligting. Sover ek kan sien, is daar ses vrae en ’n pittige opmerking in jou skrywe. Ek begin met die pittige opmerking wat my lank en hard laat lag het: “Miskien kan jy ook een (‘'n T-hemp) laat maak wat se ‘Hungary Eyes?’.” Dankie, dankie, ek gaan!

Eerste vraag: “Interessant hoe Nathan Trantraal nou sy lyf resensent hou. Dink jy hy kom die mas op?”

Antwoord: O ja, ek dink hy kom meer as die mas op. Sy resensie oor Of motherhood and melancholia het my opgewonde gemaak en die boek laat lees. Trantraal is ’n denker, ’n wonderlike kwaliteit vir ’n resensent om te hê.

Tweede vraag: “Hoe voel jy oor kragwoorde in resensies, watter formulerings maak jou tiete lam?”

Antwoord: Ek het geen probleem met kragwoorde nie; op die ou end is dit net geluide. ’n Liefdevolle groet in een taal is ’n growwe vloek in ’n ander. Dis ekspressief mits dit nie holrug gery word nie. Formulerings wat my tiete lam maak is akademiese vertoon wat die leser vervreem.

Derde vraag: “Nou wil ek by jou weet: Voel jy nie ook aan jou bas dat ons lettere uit sy nate uit bars, en dat ons veel meer ruimte in byvoorbeeld ons dagblaaie moet toewy (en beslis ook aanlyn) vir resensies, onderhoude, en besprekings/rubrieke nie?”  

Antwoord: In ’n ideale wêreld, ja, Amid. Maar ons wêreld word regeer deur rand en sent. Die grootste mediamogul (teen wie ek nie ’n agenda het nie) het min trek vir opvoeding, opheffing en taalstryd. Hulle belê eerder in aanlyn speletjies in China. Boeke moet hul eie man staan. Sosiale media help.  

Vierde vraag: “Moedig resensies jou aan om boeke te lees, of het dit nie ‘n beduidende impak nie?”

Antwoord: Hel ja, dit moedig my aan, mits dit nie afshowerige gegorrel is nie en die boek oopskryf of selfs net in die lug ophou. Daar is soveel boeke wat meeding vir lesers se aandag; as ek sien dat iemand wie se mening ek respekteer, ’n boek aanbeveel, haas ek my om die boek te gaan koop.

Vyfde vraag: “Bly daar nog in 2020 iets van die mistiek van die skrywer oor? Sien jy uit na die lesers se reaksie op As jy van moord droom, wat eersdaags verskyn?”

Antwoord: O ja, daar bly nog soveel mistiek oor. Wat ons van onsself wys op sosiale media is maar die oortjies van die seekoei. Dis beeldpoetsery, dis daarop gemik om ander mense te laat voel hul lewens is maar saai. In ons boeke wys ons ons ware self, om drieuur Saterdagoggend in die winter. Ek sien altyd uit na lesers se reaksie; ’n mens wil graag hoor of jy jou teikengehoor getref het.

Sesde vraag: “Dink jy ek moet jou boek resenseer in een van die dagblaaie of in Rapport? Of sou ‘n bespreking aanlyn op Vrye Weekblad meer prikkelend wees?”

Antwoord: Bes moontlik sal iemand jou vra om my boek te resenseer. Voel vry. Waar jy ook al ’n forum kry, enige blootstelling sal welkom wees. Vrye Weekblad is immer prikkelend.

Ek sluit af met een vraag: Hoe voel jy oor Afrikaaps? Is dit ’n volwaardige skryftaal, lees dit te moeilik, hoort dit in Afrikaanse blaaie?

 

Jonathan Amid:

Beste kameraad D

Vreedsaam, vroom en bietjie verveeld nou, ou edele ekke? Ek droom nie sommer self van moord nie, maar hierdie antwoorde voel vir my dun, afgewater. Futloos. Ek dink enigiemand wat hierdie skrywe lees, gaan gou wonder hoe vinnig hierdie gesprek gaan doodloop. Ek is bevrees dit gaan, as daar nie dadelik verby die (nie-so-subtiele-nie) stekies en breë stellings beweeg kan word nie.

Jy praat herhaaldelik van akademiese, vertonerige gegorrel in resensies en besprekings, maar jy gee nie ’n enkele voorbeeld daarvan nie. Wie is die sondaars? Name and shame. Dan kan hulle deel word van die gesprek. Nou is daar bloot strooipoppe wat staan en wapper. Wat is erger, akademiese vertoon, waar daar ’n logiese en duidelike argument en struktuur is, of oorweldigende mooiskrywery wat die klem op styl in plaas van inhoud plaas? Ek dink nie die debat is afgehandel nie.

Ek dink ook dis bloot lui om die bottom line van rand en sent voor te hou as die rede dat die ruimte vir sinvolle besprekings aan die kwyn is. Huil die leser? Is dit nou maar dit, en ons moet maar gelief neem? Aikona. Soos die skuif na digitale leesstof al hoe meer gebeur, en lesers ook agter die betaalmuur moet kuier, is dit hul demokratiese reg om aan te hou vrae vra oor die inhoud wat hul inneem. Die anti-intellektualiseringsgolwe wat so spoel moet darem ’n muur of twee hê om teen te breek.

Jy noem Nathan Trantraal ’n denker, en dis goed so, maar waarmee motiveer jy daardie stelling? En moet elke resensent nie tog ’n oopkop denker wees nie? Of net dié wat dig én resenseer? Ek het vrae, Deborah, en jy beantwoord hulle nie. Dit frustreer my. Die Trantraal-resensie van Of motherhood en melancholia was sterk, met passasies van genuine insig. Sy resensie van Innie Shadows deur Olivia M Coetzee was vir my minder oortuigend. Soos die enigmatiese Crito in sy of haar mees onlangse rubriek ook uitwys, was daar ongemotiveerde stellings en groot spronge in logika, met die eerste lees ietwat verberg in die “Afrikaaps” van die styl. So, early days.

Ek self wonder oor die gebrek aan “uitskieters” in die keuse van resensent vir sekere boeke, soos wat destyds die geval was met die regsman Bennie Griessel wat oor die fiktiewe Bennie Griessel geskryf het. Wat van Fanie de Villiers (Kleinboer), wat eersdaags by Naledi ‘n digbundel uitgee, om digkuns te resenseer? Iets in daai lyn.

Jy vra oor Afrikaaps se geskiktheid as medium van uitdrukking. Absoluut is dit geskik. Absoluut. Mits die kern van die argument of betoog en die integriteit van die stuk nie aangetas word deur slordige formulerings en haastige gevolgtrekkings nie. Kyk na Chase Rhys se Suikewate. Hoe lekker?

Ek is nie oorhaastig om die pot aan die kook te hou nie. Ek gee dit ’n tydjie om te prut. Ons wil tog dat die aanbod hier nader aan ’n smulpaapgesprek as aan ’n kantien se grys spyse moet wees. Ek stuur dan eersdaags weer ’n pittige stelling en vragies om aan te knibbel en knaag.

Grootoog-groete

KJ

  • 3

Kommentaar

  • Nico M Ferreira

    "Lekker interessant, julle twee!" seg Jeanette S. Ek verskil absoluut radikaal met die siening. Dit is veronderstel om 'n boekeoorlog te wees - skerp, slim, voor op die wa, insigryk, ontstigtelik en ondermynend.
    En wat kry ons? Twee miljoen woorde met geen binnegevegte nie, geen lae houe nie - net 'n paar platvloerse/kommin woorde vir skok-effek. How civilised can you get? Wat het geword van robuuste argumentasie?
    Dit is tog 'n briljante idee om twee kenners teenoor mekaar op te stel - maar die resultaat is een groot teleurstelling.
    Natuurlik is die twee se idees aangaande resensies interessant - ek sou selfs aanvoer dat beginners in die skryf van resensies moet tussen die lyne kan lees en dit dan by Crito se idees voeg en dit toepas.
    MAAR is die plagiaat storie dan nou verby? Dit terwyl gerugte van plagiaat 'n skrywer/navorser se hele toekoms kan verongeluk?
    Dit terwyl albei erken dat die gesprek "vreedsaam, vroom en 'n bietjie verveeld word".
    Ek weet dat vrae nie op hierdie forum beantwoord word nie; maar ek wil tog die volgende vrae uit die twee miljoen woorde lig: Wat word bedoel met "gewone" lesers? Is die doel van 'n resensie om lesers aan te moedig om 'n boek te lees of om 'n boek te koop? Ek het 'n probleeem met haar volgende stelling: "Ek het geen probleem met kragwoorde nie; op die ou end is dit net geluide". Wonder wat beteken dit? Weet die twee kenners dan nie dat vloekwoorde lesers afskrik en dan ophou om 'n boek verder te lees nie. (Wens iemand wil 'n navorsingstuk skryf oor die doel/funksie van kragwoorde in 'n roman - veral as die outeur van die roman "vroulik" is).
    Maar natuurlik die geveg is nou eers by die einde van die tweede ronde - vorentoe kan ons dalk heel aangenaam verras word as die twee vegters asem kry.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top