Droomjagter deur Leon van Nierop: ’n resensie

  • 0

Skrywer: Leon van Nierop
Titel: Droomjagter
Uitgewer: Penguin Random House
ISBN: 9781776380671

Hoe skryf ek ’n resensie nadat die meesterresensent Jonathan Amid ’n boek uitmekaar getrek het? Gaan sy indruk my beïnvloed? Of gaan ek die teendeel soek? Ongeag watter weg ek inslaan, dit is onmoontlik om sy skrywe uit my geheue te verban. Al kan ek nie al Amid se foute onthou nie, het ek aanvanklik besluit om Leon van Nierop se Droomjagter te vermy. Te veel boeke, te min leestyd.

Toe val die Penguin-publikasie op my lessenaar as ’n resensiekopie. Dêmmit!

Ek is bekend met die 71-jarige skrywer weens sy filmkritiek, sy films en radiodramas. Watter radioluisteraar ken nie Wolwedans in die skemer nie?

Geen van Van Nierop se boeke pronk egter op my jaarlikse wil-leeslys nie. Weens tyd, is ek uiters krities oor wat ek lees.

My groot vrees met “ou hande” is dat hulle bykans enigiets kan skryf en dit gedruk sal word, bloot omdat hulle name boeke by die duisende verkoop. Is die verkoopsyfers nie al wat tel nie? David Morrell het immers in sy trio kortverhale, The architecture of snow, gesê dat bemarking deesdae belangriker is as inhoud.

........
My groot vrees met “ou hande” is dat hulle bykans enigiets kan skryf en dit gedruk sal word, bloot omdat hulle name boeke by die duisende verkoop. Is die verkoopsyfers nie al wat tel nie?
........

Ek het dit nog nie in Afrikaans teëgekom nie, maar wel by sommige internasionale skrywers. Mens wonder dan of so ’n boek ooit publiseer sou word, indien iemand anders dit sou voorgelê het.

En dit is die eerste klippie in my skoen met Van Nierop se boek. Dit word op die agterblad bemark as “’n erotiese spanningsverhaal vol kinkels wat jou vir meer as een rede uitasem slaan”.

In ’n Suid-Afrikaanse konteks is Lapa se eerste Stoom-romanza, Die kontrak geskryf deur Erla Diedericks, vir my die dwarslat waaroor skrywers met erotika moet spring. Sy het dit hoog gestel en dit is goed so. Internasionaal het die Fifty shades of Grey-trilogie deur EL James en Sylvia Day se boeke vir my die standaard gestel. Reg of verkeerd. En hier het die skrywer van Droomjagter vir my gefaal.

Elsa Winckler wat Diedericks opgevolg het, se Stoom-boek fokus eerder op die emosies as die daad – selfs hier het Van Nierop my teleurgestel.

Verder lig Anschen Conradie tereg in haar resensie uit dat die newekarakters in Droomjagter se obsessie met seks oordryf word.

In die spanningskonteks is ek die laaste paar jaar bederf met die land se beste skrywers se nuutste boeke op my tafel. Was dit nie dat ek hierdie boek moes klaarlees vir hierdie indruk nie, sou ek lankal ’n ander boek nadergetrek het. Met Duiwelsroos het die skrywer tog gewys dat hy spanning kan skep. In Droomjagter is daar nie genoeg spanning om hierdie leser vasgenael te hou nie.

........
Hoekom die boek enigsins klaarlees? Dit is mos makliker om die resensie van die hand te wys.
........

Hoekom die boek enigsins klaarlees? Dit is mos makliker om die resensie van die hand te wys.

Van Nierop se jarelange ondervinding as skrywer van radiodramas slaan klokhelder deur. Hy weet presies hoe om klank in te span om sy gehoor gevangene te hou. ’n Kiewiet roep, bobbejane koggel. Die storie speel voor jou oë af; as dit ’n klankboek was, het ek dit met vyf sterre beloon.

Tweedens kry die skrywer dit reg om sy lesers in die bosveld te anker. Tarentale, ystervark, duikertjie, naaldekokers neem die lesers vanuit die gemaksone van hul slaapkamers en gooi hulle in die veld.

Droomjagter in ’n neutedop: Lucas Jordaan se verloofde verdwyn onder raaiselagtige omstandighede naby Hoedspruit. Ons lees hoe vroue se bene jellie word in sy teenwoordigheid. Maar – daar is altyd ’n maar – niemand bly langer as ’n dag nie (bl 38). Die reisskrywer, Renske du Toit, daag op sy lodge op, met haar oog op hom en ’n storie.

Hoofstukke word oor sy voorkoms geskryf. Op bladsy 14 lees ons dat hy aantrekliker is as op sy foto’s. Dat sy gesig rustig, kalm is, nie soos dié van ’n serial killer nie. Net op die volgende bladsy word hy weer beskryf. Van sy plat maag tot sy hare wat onder sy naeltjie ruier raak voor dit in sy kakiebroekie verdwyn. Net in die daaropvolgende paragraaf borduur Van Nierop voort: “’n Screensaver vir jong meisies wat op die internet boer. Die eerste prentjie wat hulle wil sien wanneer hulle hul rekenaar soggens aanskakel om ...” Dit is duidelik dat ’n sterk redigeerhand hiermee kon help.

Ander print-duiwels slaan ook toe:

Op bladsy 66 is daar ’n spasie tussen die punt en aanhalingsteken.

Esté se van is Malherbe. Op bladsy 47 is dit Badenhorst.

Ek is gewaarsku om te waak teen te veel vergelykings, maar Droomjagter is deurweek met “soos”: “Ek’s hier so alleen soos ’n velletjie wat op koffie dryf” (bl 10); “Ignoreer dit soos taxi’s die verkeersreëls” (bl 10); “Helmut Wentzel krap soos ’n skoolseun wat ...” (bl 12), ensovoorts.

Vir hierdie nog-nat-agter-die-ore resensent en wannabe skrywer, wat met radiodramas aan Van Nierop se lippe hang, is Droomjagter ’n teleurstelling. Vir sy sexyste roman nóg moes hy gefokus het om die standaard wat hom so geliefd gemaak het, te handhaaf, want ek’s nie seker of hierdie boek uitgegee sou word indien ’n ander naam op die manuskrip gestaan het nie.

Lees ook:

Debat is goed vir boekverkope

Stefaans Coetzee gesels met Nicole Engelbrecht oor Sizzlers: The hate crime that tore Sea Point apart

Kortliks met Stefaans: 22 Julie 2024

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top