Drake deel nooit deur Nicola Kinnear: ’n resensie

  • 0

https://www.nb.co.za/en/view-book/?id=9780798183130

Drake deel nooit
Nicola Kinnear
Human & Rousseau
ISBN: 9780798183130

Human & Rousseau publiseer Drake deel nooit geskryf en geïllustreer deur Nicola Kinnear. Die oorspronklike titel, Dragons don’t share, is deur Green Books, ’n druknaam van Scholastic Children’s Books, uitgegee. Jaco Jacobs het die sagtebandprenteboek, wat oor mededeelsaamheid handel, in Afrikaans vertaal.

Die storielyn is heerlik verbeeldingryk: ’n Baie soet, hardwerkende maar eensame draak genaamd Rissie volg elke reël in die “Reëlboek vir Drake” uiters stiptelik en getrou – natuurlik tot die ander diere se groot konsternasie, want hulle trek dikwels aan die kortste end. Maar op ’n dag verloor Rissie die belangrike reëlboek en omdat drake vergeetagtig is, kan sy glad nie meer onthou by watter reëls drake veronderstel is om te hou nie. Is dit dalk die diere se kans om die baie kwaai en vreesaanjaende draak te bevriend of nie? Hulle vindingryke plan sal kinders laat glimlag, want soos dit alle goeie stories betaam, het hierdie een ook ’n gelukkige einde.

Kinnear, wat illustrasie en animasie aan die Universiteit van Kingston gestudeer het, se werk word grotendeels deur die natuur en volksverhale geïnspireer en sy inkorporeer ook graag magiese elemente. Die lekkerte van Drake deel nooit se besonderse mooi illustrasies is dat dit nie net kleurvol is nie, maar ook gedetailleerd en vol verrassings. Kinders en volwassenes sal dit baie geniet om na elemente van bekende sprokies en kinderstories te soek. Aladdin se towerlamp en -tapyt is daar. Ook ’n pampoenkoets, goue harp en spinwiel. Om nie eens te praat van kiste vol goue munte, skeepsankers en swaarde nie. Daar is ook geliefde en minder-geliefde karakters wat deel vorm van die luisterryke agtergrond. Hierdie boek is ’n ontdekkingsreis op sy eie en behoort kinders nuuskierig te maak oor die stories agter die elemente en karakters. Dit skep ruimte vir gesels tussen ouer en kind – ’n kosbare interaktiewe en kreatiewe ervaring.

Die openingsinne lui: “Eendag lank gelede, hoog bo-op ’n eensame berg, het ’n klein drakie ’n groot klomp skatte bymekaargemaak. Haar naam was Rissie, en sy wou haar skatte met niemand deel nie. Dit klink dalk vir jou ’n bietjie gemeen, maar Rissie was maar net besig om die reëls in die Reëlboek vir Drake te volg – soos elke goeie draak behoort te doen.” Hiermee dek Kinnear die spreekwoordelike tafel vir ’n fassinerende storie.

Die betowerende woorde, “Eendag lank gelede”, is die teken vir kinders om reg te skuif vir ’n lekkerleessessie en hulle ore te spits. Die drakie bly op ’n eensame berg. Woorde soos “drakie” en “eensame” wek onmiddellik die kleinspan se simpatie. (Daar word nie weer na haar as ’n “drakie” verwys in die res van die storie nie.) Watter kinders is ook nie dadelik geïnteresseerd as hulle van ’n “groot klomp skatte” hoor nie?! Dit prikkel die verbeelding, want waaruit bestaan die skatte, waar het die drakie daaraan gekom, en wat maak sy daarmee? Maar o wee, dan sien ons die drakie wil hierdie skatte met niemand deel nie – ’n groot “nee” vir kinders wat reeds op hierdie ouderdom doelbewus geleer word om mededeelsaam te wees.

.............
Maar net sodat die lesertjies darem nie hulle nuutgevonde simpatie met die drakie verloor nie, leer ken hulle haar (baie gepaste) naam én hoor dat sy eintlik maar net draakreëls volg. Daar is dus wel ’n rede of verskoning vir haar optrede. Ons lees dan op die volgende bladsye meer oor wat hierdie draakreëls behels. Kinders sal, nes die ander karakters in die storie, hierdie reëls aaklig vind, maar net as ons wil-wil sleg dink van Rissie, lees ons weer watse harde, eensame werk dit is om ’n goeie draak te wees en skatte op te pas.
..............

Maar net sodat die lesertjies darem nie hulle nuutgevonde simpatie met die drakie verloor nie, leer ken hulle haar (baie gepaste) naam én hoor dat sy eintlik maar net draakreëls volg. Daar is dus wel ’n rede of verskoning vir haar optrede. Ons lees dan op die volgende bladsye meer oor wat hierdie draakreëls behels. Kinders sal, nes die ander karakters in die storie, hierdie reëls aaklig vind, maar net as ons wil-wil sleg dink van Rissie, lees ons weer watse harde, eensame werk dit is om ’n goeie draak te wees en skatte op te pas.

Die doel van die storie is om kinders meer te leer oor die belangrike beginsel van deel. Skrywers word gewoonlik gewaarsku dat dit ’n doodsonde is om ’n les in ’n kinderstorie in te werk, maar die groot geheim is om dit só te doen dat jy nie jou lesertjies se intelligensie onderskat en boonop prekerig oorkom nie. Die les moet op ’n heel natuurlike wyse onontbeerlik deel van die storie vorm.

...........
Die doel van die storie is om kinders meer te leer oor die belangrike beginsel van deel. Skrywers word gewoonlik gewaarsku dat dit ’n doodsonde is om ’n les in ’n kinderstorie in te werk, maar die groot geheim is om dit só te doen dat jy nie jou lesertjies se intelligensie onderskat en boonop prekerig oorkom nie. Die les moet op ’n heel natuurlike wyse onontbeerlik deel van die storie vorm.
..............

Elisma van der Watt skryf in ’n artikel: “[D]ie lees en vertel van kinderverhale [skep] ’n platform om goeie maniere by kinders in te skerp. Die meeste kinders vereenselwig hulle immers met sekere sprokieshelde en volg hulle voorbeeld van regte en verkeerde optrede.”[1] Kinders moet die les uit die storie aflei sonder dat dit aan hulle uitgespel word. Kinnear kry dit baie goed reg in Drake deel nooit.

Die subplot suggereer dat ’n mens nie iemand summier op sy baadjie (of optrede) moet takseer en veroordeel nie, maar dalk eerder agter die kap van die byl moet probeer kom. Wat motiveer iemand om iets aakligs aan ’n ander te doen? Dit gaan ook daaroor om ’n gaping raak te sien en tot jou voordeel te gebruik – om plan te sien en hande te vat vir almal se onthalwe.

In Drake deel nooit besorg die diere Rissie se reëlboek aan haar terug nadat hulle dit in ’n stroom van draaktrane gevind het. Die draaktrane het egter die reëls in die boek uitgewis en Rissie kan nou niks daarmee doen nie. (Onthou, sy is so vergeetagtig soos Liewe Heksie en kan nie eens ’n enkele reël onthou nie.) Maar die diere maak ’n plan. Hulle stel voor dat Rissie haar eie reëls opmaak en in die reëlboek skryf. Natuurlik bied hulle ewe geredelik hulle hulp aan met die reëlmakery – tot hulle eie (én Rissie) se voordeel darem. In dié geval het die doel die middele vir seker geheilig.

Ek het nie enige noemenswaardige vooroordele oor Drake deel nooit nie; dit is goed en slim geskryf. Die gebruik van alliterasie hier en daar en klanknabootsing maak die lees- en hoorervaring ook heel opwindend. Kinders leer ook wat “bo-op”, “onder”, en “binne-in” beteken. Ek is seker dat kinders dié lekkerleesboek sommer lank sal onthou. Dit vergelyk goed met boeke soos Die knorrige kwêvoël (Donaldson en Rayner), Grotbaba (Donaldson en Gravett), en Die Goorgomgaai, sowel as Die Goorgomgaatjie (Donaldson en Scheffler).

[1] https://skole.co.za/die-waarde-van-sprokies-in-n-kind-se-lewe/

Lees ook:

Omstredenheid en kleuter-, kinder- en jeugliteratuur

Miniseminaar: Kinder- en jeugboeke vir ’n nuwe era

Miniseminaar: Antjie Somers, ons oudste gender-bender

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top