
...
Al gebeur dit dalk nooit weer nie, sal ek altyd hierdie wete koester; vir my het die doringvoëltjies in die Karoo gesing.
...
Anschen Conradie skryf op Facebook:
Dis eintlik alles Stefaans Coetzee se skuld. As ek my sin kon kry, het ek waarskynlik steeds heel tevrede met ’n boek in die hand agter ’n geslote deur gesit en net uitgegaan om melk te koop. Of nie. Ek drink nie melk nie, maar dis ’n lekker voorbeeld. In 2023 het hy my oortuig om minstens ’n kleintoontjie in die water van boekfeeste te steek en Klerksdorp was my eerste. Dit sal oordrewe wees om te sê dat die ark nou oop is, maar dit was wel die begin.
Vroeër vanjaar sien ek op sosiale media dat Hannes Barnard ’n prosa-skryfskool gaan aanbied as deel van die 2025 Etienne van Heerden Veldsoirée in Nxuba (Cradock), en ek begin wonder; as ek die arrogansie het om oor andere se skryfwerk kommentaar te lewer, moet ek dan nie moeite doen om meer van die proses daaragter te verstaan nie? En dalk, selfs belangriker, om nooit te vergeet dat daar ’n mens agter die geskrewe woorde is nie. Dit sou ook vir my ’n groot bonus wees as ek Etienne van Heerden kon oortuig om my eksemplaar van Gebeente, ’n boek wat my bykans van woorde beroof het omdat enigiets wat ek kon sê, afbreuk aan die skoonheid daarvan sou doen, te teken.
Dis nou reeds twee weke sedert my tuiskoms en ek het deurentyd geworstel om woorde te vind om die ervaring te beskryf. Heelwat is reeds daaroor geskryf, soveel beter en vollediger as wat ek kan droom om te doen. Herhalings is in elk geval vervelig. Daarom is my poging om die naweek tot woorde te reduseer gefokus op my belewenis van die mense self; nie hulle woorde of selfs dade nie, maar die warmte en passie daaragter.
Omdat ek geen rangorde wil toeken nie, is my waarnemings derhalwe ook nie chronologies nie, maar ’n herinnering wat onmiddellik by my opkom. So is Jo Els se hartlike verwelkoming met my aankoms. Sy liefde vir sy Blondie, wat ongelukkig siek was en nie die gesprekke kon bywoon nie, loop soos ’n goue draad deur die hele naweek. Jo se groot hart het daarvoor gesorg dat sy deur middel van foto’s en video’s ook deel van alles kon voel. Ek dink dis hoe liefde lyk.
Dis ook Jo wat my aan Philip Jonker voorgestel het. En dis Philip wat my gewys het hoe ware dapperheid lyk. Want dis nie die afwesigheid van vrees nie, dis om die vrees te voel en steeds voort te gaan. Toe daardie introvert agter die mikrofoon inskuif, het ’n ridder begin praat.
Dit troos altyd as mens darem iemand ken op ’n andersins vreemde plek. Ek en Izak de Vries het al ’n hele paar kilometer saamgestap – en gery – en vir Alwyn Roux het ek ook al by ’n vorige geleentheid ontmoet. Dis toe nou nie altyd so ’n goeie ding nie, want hy verklap toe my skandalige verhaal oor die Thorn Birds, die roman deur Colleen McCullough. Terugskouend was dit egter besonder gepas, hierdie aanhaling in die besonder:
There is a legend about a bird that sings just once in its life, more sweetly than any other creature on the face of the earth. From the moment it leaves the nest it searches for a thorn tree and does not rest until it has found one. Then, singing among the savage branches, it impales itself upon the longest, sharpest spine. And, dying, it rises above its own agony to out-carol the lark and the nightingale. One superlative song. But the world stills to listen...
Soms is die klein dingetjies die groot dinge. Luan Staphorst se passie vir mitologie wat ons almal, al is dit vir net twintig minute, na ’n wêreld verplaas het waar alles moontlik is; Luna Paige wat woorde laat dans, Anthony Akerman wat bobotieresepte uitdeel, Bernard Odendaal se warm glimlag en handdruk, Heindrich Wyngaard se ooglopende liefde vir sy vierjarige dogtertjie, AJ Opperman se aansteeklike vreugde om in sy heimat te kan wees, die opregtheid van ’n spontane drukkie deur Riana Scheepers, die goedige pret van ’n faux pas gedeel met Frederik de Jager, die voorreg van ’n nuutgevonde vriend gebied deur Douw Steyn, Chris Spies wat my persoonlike koffie-engel was, Nolwazi Mahlangu wat ons herinner het dat ons by almal iets kan leer, selfs by kinders, Selwyn Milborrow en Clinton du Plessis wat my my die vryheid gegee het om ’n randfiguur te mag wees – en vreugde daarin te vind, die gevoel van tuiskoms wat my uiteindelike ontmoeting met Mpush Ntabeni my verskaf het, Andile Bhali wat singend berg-af in my geheueboksie sal bewaar word, Ena Jansen se potloodwoorde wat met permanente ink in my hart geskryf is, en die vertroue wat Elsabe Brits in my gestel het.
Darryl David het my geld gekos – en dis ook nie die eerste keer nie. Ek het al dikwels boeke gekoop na aanleiding van sy aanbevelings. Sy passie oor die skryfwerk van Wilma Stockenström het my met ’n skok laat besef dat twee van haar werke op my rak ontbreek. Daardie oorsig is intussen reggestel, teen ’n prys, natuurlik.
Einste Stefaans was ook die oorsaak van ’n erge voorbarigheid aan my kant. Ek kry ’n WhatsApp van hom: “Andries Bezuidenhout. Wow. Foto!” Goed dan, ek is nou op hierdie mal perd, laat ek dan nou maar Andries tegemoet galop en vra vir ’n foto. As hy dink ek is van my trollie af, hoef ons mekaar immers nie weer te sien nie. En nou moet ek vir Stefaans dankie sê, ek sou Andries nie ontmoet het as dit nie vir sy versoek was nie. En dan sou ek armer gewees het.
Al gebeur dit dalk nooit weer nie, sal ek altyd hierdie wete koester; vir my het die doringvoëltjies in die Karoo gesing.
Lees ook:
Andile Bhali shares his favourite photographs of the Etienne van Heerden Veldsoirée.
Die LitNet25-skrywersberaad en die Etienne van Heerden Veldsoirée 2025 in ’n aantal kiekies verbeeld

