Donkerdrif deur Deon Meyer: ’n lesersindruk

  • 1

 

Donkerdrif
Deon Meyer

Tafelberg
ISBN: 9780798181662

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging geskryf en aan LitNet gestuur.


Love can change history.

Deon Meyer se nuutste spanningsroman, Donkerdrif, het onlangs verskyn. Dit is sy vyftiende roman en volg op Prooi. In Prooi het kapteins Bennie Griessel en Vaughn Cupido die selfdood van Menzi Dikela ondersoek, alhoewel hul direkte bevelvoerder hul beveel het om die saak te laat vaar. In Donkerdrif word hulle geskors en afgegradeer na luitenante nadat hulle skuldig bevind is aan diensweiering in dié verband. Hulle beland op Stellenbosch.

Ons weet reeds dat Deon suksesvol in die koppe van speurders kon kom en nie huiwer om die huidige politieke klimaat in sy stories in te weef nie. Hy bring ook familie-omstandighede in om sy karakters lewend te maak. Met Vaughn se selfbewustheid rondom sy gewig kom kos deurgaans in Donkerdrif voor.

Verstaan Deon Meyer misdaad?

Soos die meeste oudgevangenes is ek skepties oor misdaadfiksie. Ten spyte van ’n sterk storielyn en kleurvolle karakters verstaan weinig krimiskrywers misdaad. Die onderwêreld is meer gekompliseerd as wat die dagblaaie uitbeeld. Die hiërogliewe waarin misdadigers upgrade, en die nommerbendes, is ’n amper onbekende wêreld wat beleef moet word voordat jy meesterlik daaroor kan skryf. En moenie korrupte polisiemanne vergeet nie.

Deon raak aan die hart van misdaad in Donkerdrif. Hy demonstreer hoe gierigheid gewone mense verander. Hy vleg oudergewoonte ’n paar storielyne inmekaar en soos ’n goeie speurder probeer jy (maar tevergeefs) die legkaartstukkies voor die twee legendariese speurders aanmekaarsit. Deon het jou egter soos ’n bloubaadjie uitoorlê.

Adjudantoffisier Milo April word helder oordag by die Kaapse Waterfront doodgeskiet. ’n Teregstelling. ’n Nota word met maskeerband op Bennie se Toyota Corolla se deurhandvatsel vasgeplak. Dit is ’n swart-en-wit foto van ’n vuurwapen. Onder die foto staan: "Ek kan net vir jou en kaptein Cupido trust. Daar is ’n adder in ons boesem. Be careful of phone calls." Vaughn ontvang ’n soortgelyke nota.

Annemarie de Bruin meld haar seun, Callie, as vermis aan. Vir medestudente is hy ’n skim en vir die polisie ’n enigma. Callie is ook ’n hacker met ’n kriminele konneksie.

As dit nie genoeg is om jou belangstelling te prikkel nie, verskyn Sandra Steenberg op die toneel. Sy is so hot "she’ll set off smoke alarms" (om Vaughn se woorde te leen). Die sexy eiendomsagent met haar eie tekortkomings moet ’n berugte korporatiewe swendelaar, Jasper Boonstra, se peperduur wynplaas verkoop. Om die pot behoorlik te kook, glo Jasper niks is verniet nie en almal het ’n prys. Hy hou van vroue met ’n mooi paar tiete en ’n goeie gat – soos sy. En natuurlik is Jasper vatterig.

Alle resensies – en hierdie een is geen uitsondering nie – is dit eens: Deon Meyer loop op water. Hy toor met woorde. Hy ken al die geheime van hoe om ’n leser vanaf die eerste paragraaf tot die laaste sin gevangene te hou. Daarvan gepraat: Donkerdrif se slotparagraaf maak dat jy agter “Erkennings” loer net om seker te maak hy het nie nog ’n paar paragrawe versteek nie.

Donkerdrif bewys dit weer eens: Net twee woorde is nodig om ’n goeie speurroman te verkoop: Deon Meyer. Jitte Krismis, maar Deon is ’n briljante skrywer.

Lees ook:

Donkerdrif: ’n onderhoud met Deon Meyer

Donkerdrif deur Deon Meyer: ’n boekresensie

  • 1

Kommentaar

  • Barend van der Merwe

    Wonderlik! Ek is self nou aan't lees aan hierdie boek. Jou kennis van misdaad ag ek baie hoog. As jy sê dis 'n goeie boek, dan is daar geen twyfel.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top