Donkerdrif deur Deon Meyer, ’n lesersindruk

  • 0

Titel: Donkerdrif
Skrywer: Deon Meyer
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780798181662

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging geskryf en aan LitNet gestuur.

In die nuutste speurverhaal deur Deon Meyer staan die speurders Bennie Griessel en Vaughn Cupido weer gereed om die mensdom te vermaak en te laat ontvlug.

Na afloop van ’n interne verhoor word Bennie en Vaughn berispe en word hulle verplaas na Laingsburg in die Karoo. Die nuus is katastrofies vir beide die menere. So erg is dit vir Bennie dat hy dit selfs oorweeg om sy loopbaan in die polisie vaarwel te roep, en dalk ’n privaatspeurder te word. Maar hulle vonnis word uiteindelik aangepas en hulle beland in Stellenbosch, wat vir beide ’n reuse-uitkoms is – vir Bennie, met belange in Tamboerskloof, en ook vir Vaughn, wat self trouplanne koester met sy Desiree.

Studentedorp, studenteprobleme. Dit is nie lank nie of die twee topspeurders word belas met die verdwyning van Calvyn Wilhelm de Bruin, beter bekend as Callie, ’n BSc-student wat rekenaarwetenskap by die Universiteit Stellenbosch bestudeer. Behalwe vir studente is Stellenbosch ook natuurlik bekend vir ryk, magtige sakemanne, vooraanstaande families en pretensie. Maar staatskaping het sy kloue diep ingeslaan, en selfs Stellenbosch is nie ontsien nie. Dit besef min mense so goed soos die eiendomsagent Sandra Steenberg (gebore Boshof). Sandra is ’n vrou wat menige man se kop laat draai, maar sy is niemand se speelding nie. Sy is ook van nederige agtergrond, en sukkel om behoorlik in te pas in die kultuur, selfs na jare se getroude lewe met haar dosentman, wat op sabbatsverlof is en besig is om ’n boek te skryf. Om die gesin met hulle twee kinders (’n tweeling, Anke en Bianca) kop bo water te laat hou val op haar skouers, en toe die geleentheid haar te beurt val om ’n peperduur eiendom van ’n omstrede sakemagnaat te verkoop, kan sy skaars haar geluk glo. Haar skuld is reeds besig om op te hoop, en sy sukkel om haar motor en die meenthuis se paaiemente te betaal.

Baie gou is daar dus twee sentrale verhaallyne, en natuurlik moet die twee uiteindelik inmekaar vloei – dit is die patroon van hierdie soort boeke – en dit is dan ook wat gebeur, in ’n sekere sin. Nie volkome nie, maar daar bestaan ’n verband, wat mettertyd duidelik word. Oor die storielyn is al wat ek verder bereid is om te sê dat daar omtrent halfpad deur die boek, iets gebeur wat totaal onverwags is, maar wat mens so prikkel dat jy eenvoudig nie meer die boek wil neersit nie.

Daar was reeds heelwat reaksie op Donkerdrif, weer eens oorwegend positief. Ek is veral getref deur die stuk op LitNet van Stefaans Coetzee (medeskrywer van Wit wolf: Die Worcester-bomplanter se storie van bevryding, Tafelberg, 2019). Coetzee, wat self baie jare in die tronk spandeer het, merk op dat weinig misdaadfiksieskrywers werklik ’n goeie kennis van ware misdaad het, maar die teendeel is waar van Meyer.

Ook Willem Pretorius (ook op LitNet) reageer positief op Donkerdrif, maar probeer tog versigtig ’n bietjie kritiek lewer op van die karakterisering. Pretorius verlang byvoorbeeld na ’n stewige “bad guy”-karakter wat ietwat ontbreek, ’n soort duidelike, sigbare vyand. Bennie Griessel en Vaughn Cupido se bemoeienis met beuselagtighede oor hamburgers en Vaughn se gewig wat hy aansit, herinner Pretorius meer aan twee huisvroue as aan twee geharde speurders van die Valke. Hy gee egter te kenne dat hierdie dinge waarskynlik nie Meyer se deursnee-aanhanger sal steur nie.

Dat Meyer se boeke en karakters meer “glad” geword het oor die jare – mens sou kon sê meer “gepolitoer” – daaroor het ek min twyfel. Daar was altyd noemenswaardige kritiek teen die hewige vloektaal. Steeds is daar vloektaal, maar aansienlik minder as wat dit in die eerste klompie boeke die geval was. Die afwesigheid van die een groot “bad guy” word ook gebalanseer deur Bennie en Vaughn. Hulle is ’n span en sukkel duidelik om sonder mekaar goed te presteer. Dan word hulle growwe maniere ook al baie jare mooi teëgewerk deur hulle kollega Mbali Kaleni, wat hulle senior is, ’n diepgelowige vrou met ’n weersin in vloektaal en godslastering, en ook gedurig daarop uit om Bennie en Vaughn te berispe. Mbali keer ook terug in Donkerdrif, maar sy speel ongelukkig net ’n klein rol in die storie.

Die boek het ’n oop einde. ’n Ware lusmaker van ’n slotparagraaf. Maar vir eers sal ons moet asem ophou om te kan sien wat die volgende hoofstuk vir Bennie en Vaughn inhou.

 

Lees ook:

Donkerdrif deur Deon Meyer: ’n lesersindruk

Donkerdrif deur Deon Meyer: ’n boekresensie

Donkerdrif: ’n onderhoud met Deon Meyer

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top