Die wimperlose bruid

  • 0

Goeiedag

Hiermee deel ek graag die storie oor my, Elzette, en my man, Charles, se aanloop tot ons huweliksdag. Dit is vir ons ’n baie spesiale storie. Ek hoop die leser geniet dit terdeë.

Ons troustorie begin in Desember 2018. Dit was ’n goeie familiefeestyddrama. My kêrel het besluit dat Oukersaand, terwyl almal al halfpad deur die heerlike ete en die nagereg is, die perfekte oomblik is om my pa se toestemming te vra. My pa, wat altyd hou van ’n bietjie opwinding, raak sommer ekstaties en sê: “Man, doen dit vanaand! Die hele familie is hier – hulle soek nog ’n rede om te huil!” Of dit nou blydskap of hartseer was, sou net hulle weet.

Charles vra toe, ek sê ja, die familie gil soos ’n rugbystadion, en ek sweef natuurlik soos ’n tienermeisie in ’n romantiese fliek. Alles was mooi, blink en vol beloftes. Ek was boonop swanger met ons eersteling – 'n verrassing wat die lewe sommer stil-stil in die mengsel ingeroer het.

Maar drie dae later word die hele perfekte prentjie verpletter toe ek ’n miskraam ervaar. Op 27 Desember, nog in die hospitaalbed, sit ek en my verloofde en begin ons troue beplan. Ja, want hoekom wag as die lewe jou wys dat niks gewaarborg is nie? My ma, arme, arme vrou, het amper haar tong ingesluk toe sy hoor ons wil in Augustus 2019 trou. Volgens haar was dit “letterlik môre”.

April kom, en daarmee saam een van die swaarste dae van my lewe. Op 28 April 2019, op my ouers se huweliksherdenking, sterf my pa. Die man wat my by die kansel sou weggee, die een mens wat ek absoluut daar moes hê, het die tydelike met die ewige verwissel. Dit het my heeltemal onderstebo gegooi. Om ’n troue te beplan, voel skielik soos bergklim in pantoffels.

Maar die lewe het nog ’n skerp draai vir my en Charles gemaak: Twee weke ná my pa se begrafnis vind ek uit ek is weer swanger. En nogal 14 weke! Ek was amper seker die dokter is besig met iemand anders se sonar. Toe hoor ek dis ’n seuntjie. My hart het op daardie oomblik geweet: My pa sou in die wolke gewees het. Sy eerste kleinkind was op pad.

Toe breek 9 Augustus 2019 aan – ons groot dag. Die oggend begin perfek: grimering, hare, foto’s, lag, chaos, iemand wat skielik besef sy moes haar skoene voor daardie dag probeer inloop het, en natuurlik ’n glasie niealkoholiese sjampanje ... alles wat mens by ’n troue verwag. Die tipe oggend wat jou laat voel jy leef in ’n tydskrif.

Maar toe dit kapel-toe-tyd is, tref die senuwees my soos ’n koue stort. Ek begin huil. My hoofstrooimeisie – lojaal en gereed met ’n plan om te ontsnap – fluister: “Ons kan by die kapel verbyloop, ek sal die kar aanskakel, ons ry.” Ek verduidelik vir haar dis nie die troue wat my bang maak nie, dis die leemte van my pa wat my hart vasdruk.

Ek haal toe asem en ons begin stap. Sy stap in op die liedjie wat ek vir die gevolg gekies het, en toe begin die poppe dans.

Ek het my ma en my broer gevra om my weg te gee. Maar voor ons instap, staan ons drie buite soos ’n huilende familiekoor. My ma raak toe so emosioneel dat sy my vals oogwimpers sommer afruk. Daai wimpers het geen kans gestaan nie – hulle het gevlug voordat enige trane nóg ’n kans gehad het. So staan ons drie: trane, liefde, rooi neuse.

En toe ... stilte. Geen troumars nie. Ons wag tien hele minute. My arme bruidegom het glo bleek geword en gevoel hoe voel warmgloede. Hy het seker gedink ek het besluit om eerder by die hoofstrooimeisie se vlugplan aan te sluit.

Toe – heel onverwags – gaan die deure oop en die musiek begin. Verligting! Ek stap in, ons sê ons beloftes, en dis die begin van ons lewe saam.

Nou, ses jaar later, met drie seuns wat elke dag sorg dat ons nooit weer ’n stil huis het nie, kyk ons terug na daardie dag met ’n mengsel van trane en lag. Ons glo nog steeds my pa was op sy eie stil manier daar – waarskynlik die een wat die troumars vir tien minute vasgehou het om seker te maak ons kry ’n oomblik om asem te skep en te onthou wie saam met ons stap. Altyd die grapjas. En elke keer as ons oor daardie dag praat, besef ons weer: Die lewe verloop nie altyd volgens plan nie, maar dit gee vir jou genoeg liefde, chaos, humor en genade om jou hele pad vorentoe vol te hou.

Groete

Elzette Buitendach 

Die wimperlose bruid

Lees ook:

Wen met ’n vertelling oor jou troue!

’n Skielike wind op ons troudag

101 nagte

Elke bruid dra ’n droom in haar hart

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top