Ons troudag was besonder mooi en lekker. Daar was wel ook hartseer, aangesien my pa vroeër daardie jaar oorlede is en my man se ma ’n paar jaar vroeër.
Dit was dus ’n baie emosionele dag vir my as bruid. Ek het wel my moeder gevra om saam met my die paadjie kansel toe te stap.

’n Foto van die spoedstap, met Ma agterna.
Toe die kapeldeure oopgaan, is daar ’n skielike wind wat my sluier afgepluk het. Ek gee een groot gil van skrik en bars toe uit van die lag. My ma hol agterna om dit te vang. Sy was gelukkig vinnig genoeg en kon dit toe weer terugsteek in my kapsel en weer oor my gesig drapeer. In my kop dink ek toe: “Dankie Pappa, ek weet dit was jy wat my wou laat lag!”
Met al die lag en chaos vergeet ek toe skoon dat ek stadig op die troumars, wat my man se nefie op die elektriese kitaar speel, moet stap. Ek spoedstap skoon lag-lag tot by die kansel. Ma kom agterna en sukkel om by te bly.

Die bruid en bruidegom
Hierdie was een van die onthou-oomblikke van die dag. Dit het al die emosies gelig en almal kon so ‘n bietjie lag.
- Fotograaf: Jana Strydom
- Trouruimte: Kralinberg, Ermelo

