My troudag

  • 0

Foto: Johan Stander

...
Boonop is die dominee wat die trouseremonie moet waarneem, ook die heelagter vir Maties. (Ons sosiale lewe het beslis om rugby gedraai.)
...

“Dis tyd dat jy jou hare gaan was,” sê my beste vriendin en steunpilaar-te-alle-tye toe ons nog lekker sit en gesels in die sonkamer van die plaashuis waar haar man die wynmaker is.

Nettie bly, tot vandag toe, die persoon op wie ek in alle omstandighede kan staatmaak. Ek het juis die man van my drome op haar troudag ontmoet, in die hotel op Malmesbury waar hulle onthaal was. Met “Ek kan nie juis dans nie, maar kom ons dans” het hy my voete onder my uitgeslaan. Dit het ook gehelp toe ek hoor hy is ’n oud-Wilgenhoffer – die plek waar my geliefde broer (en later ook my seuns) van hulle lekkerste jare deurgebring het.

Na my hare gewas is, klets ons verder oor alles wat toe vir ons belangrik was in die lewe. My eenvoudige trourok en my bruidsruiker is veilig in oom Herman en tannie Maria se huis op die dorp.

...
“Jou hare lyk treurig, my kind,” is my ma se enigste kommentaar toe ek by die kerk aankom.
...

My ruiker was oorrompelend mooi – ’n bossie lenteblomme – bloedrooi en persblou ranonkels en anemone, met spierwit magrietjies tussenin. ’n Kleurfoto in die Sarie Marais van die trouruiker van die destydse premiersvrou van Kanada, Margaret Trudeau, het my onmiddellik getref – so moet my trouruiker lyk! Gewapen met die foto is ek na ’n bloemiste in Kenilworth, ’n suidelike voorstad van Kaapstad, waar ek gewoon het as jong onderwyseres by die Hoërskool Zwaanswyk. Steeds dink ek die ruiker was die heel mooiste iets op my troue – behalwe natuurlik my aantreklike bruidegom.

“Ons moet nou ry! Onthou dit neem presies sewe minute van die plaas tot op die dorp.” Toe ons buite kom, staan Nettie skielik doodstil. “O gaats! Die mansmense is weg met ons motorkar!” Oeps ... hulle speel mos vanmiddag op Nuweland! Die troue moes juis eers 19:00 plaasvind, sodat hulle eers die “game” kon afhandel. Boonop is die dominee wat die trouseremonie moet waarneem, ook die heelagter vir Maties. (Ons sosiale lewe het beslis om rugby gedraai.)

Wat nou? Ons kan tog nie met ’n trekker inry dorp toe nie! “Die groot lorrie!” onthou Nettie gelukkig. “Ek dink hy’s in die skuur langs die wynkelder.” Die sleutel is gelukkig in die vragmotor en die klein, fyn Nettie klim agter die stuurwiel in. Haar kop is ongeveer gelyk met die stuurwiel. “Oukei!” stem ek opgewonde en verlig in. “Dan staan ek sommer agterop. My hare kan dan lekker in die wind droog word!”

So gesê, so gedaan! Daar is ek, agterop ’n groot lorrie op pad na my troue in die Moederkerk op Stellenbosch met die wind wat my hare droogwaai.

“Jou hare lyk treurig, my kind,” is my ma se enigste kommentaar toe ek by die kerk aankom.

Sy is darem tevrede dat die bruidegom met ’n graaf kan spit. My pa is dankbaar dat een van sy ses dogters met ’n rugbyspeler gaan trou. Ons het altyd gespot dat ons “knit one, slip one” gaan wees met mankry. Ek was een van die slip-ones...

My enigste teleurstelling van my troue was dat Mendelsohn se troumars nie daardie tyd gespeel is in die Moederkerk nie. Boudewijn Scholten, die orrelis, het skynbaar gemeen dit is heidens. My ant Kate, met die pragtige altstem, het darem “Still wie die Nacht” van Carl Bohm gesing. Wat ’n besonderse dag...

Lees ook:

Wen met ’n vertelling oor jou troue!

’n Dag vol hoop en liefde

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top