
Elke bruid dra ’n droom in haar hart, die droom van ’n dag vol liefde, vrede en pragtige herinneringe wat vir altyd sal bly leef. Ek en my man was geen uitsondering nie. Maande lank het ons elke detail haarfyn beplan: van die blomme tot die musiek, van die tafelplan tot ons eerste dans. Alles was uitgewerk met hoop en opwinding vir die dag waarop ons ons lewens sou verbind.
Maar die lewe het ’n manier om selfs die mooiste planne te ontwrig.
Op die oggend van ons troue het dit reeds gevoel asof iets nie klop nie. My man se ma het van vroeg af ’n houding gehad; kortaf, koud en oorwegend negatief. Waar al die ander betrokkenes opgewonde en vrolik was, het sy soos ’n donker skadu staan en kyk. Ek het probeer positief bly, vas aan die idee dat sy dalk later sou ontspan en die dag saam met ons sou geniet. Maar dit het net erger geraak.
Sy het openlik ontevrede gelyk oor alles: die ruimte, die reëlings, die sitplekke. Sy het selfs geweier om saam met my en my man aan dieselfde tafel te sit. Op die dag toe ons wou hê almal moet as een gesin saamkom, het sy doelbewus afstand geskep asof sy nie deel wou wees van ons vreugde nie. Ek het gehunker na ’n beeld van ondersteuning, liefde en trots van haar kant af ... maar dit het nooit gekom nie.
Die grootste hartseer het gekom toe ek besef sy wou nie eers foto’s saam met ons neem nie. Daar waar ek in my trourok staan, die oomblik waarop elke bruid graag haar “familiefoto’s” wil hê, het sy eenvoudig weggedraai. Nie ’n glimlag, ’n warm woord nie, nie eens ’n poging om deel te wees van ons herinneringe nie. Ek het gevoel hoe ’n sagte stuk van my hart breek, nie omdat sy my skoonma is nie, maar omdat ek gehoop het sy sou my as deel van haar familie aanvaar.
Daarby het my man se seuntjie, toe net drie jaar oud en baie bederf op daardie stadium, die dag nog meer uitdagend gemaak. Hy het byna die hele tyd vloermoere gegooi; groot tantrums, huilbuie en skree-aanvalle. Elke keer wanneer ek of my man probeer asem skep het, was daar ’n nuwe uitbarsting. Ek kon sien hoe gespanne my man raak, hoe hy tussen my, sy ma en sy seuntjie probeer balanseer. Dit het my hart seergemaak, want ’n troue is nie ’n dag waarvoor ’n mens so wil baklei om net ’n oomblik van kalmte te kry nie.
Die spanning het só opgebou dat ek en my man uiteindelik nie eens ons eerste dans gehad het nie. Die oomblik waarvan ek jare lank gedroom het, net ek, hy en musiek, het verdwyn in die chaos, die teleurstelling en die emosionele uitputting. Ek het gevoel asof ek langs my eie troue staan en kyk hoe dit verbygaan sonder dat ek ooit regtig deel daarvan was.
Daar waar ek in die onthaal gestaan het, omring deur mense, het ek nog nooit só eensaam gevoel nie. Nie omdat ek spyt was oor met wie ek trou nie, nooit dit nie, maar omdat ek gehoop het die dag sou ’n plek van eenheid en liefde wees. In plaas daarvan het ek tussen spanning en koue kyke gestaan, en ’n skoonma wat met elke houding gewys het dat sy nie deel van my vreugde wou wees nie.
Maar tog, te midde van die teleurstelling, het ek en my man iets waardevols gevind: mekaar. Ons het daardie dag geleer dat liefde nie net bou op mooi oomblikke nie, maar op die moeilike oomblikke waar jy kies om saam te bly staan.
As ek eendag die kans sou kry, sou ek graag my troue wou oor doen, nie my huwelik nie, maar die dag self. Ek sou dit oor doen om die foto’s te hê, die dans te hê, die vrede te hê wat ek nooit gekry het nie.
Ons troue was nie die sprokie waarvan ek gedroom het nie, maar dit het ons sterker gemaak as ooit tevore.
Vriendelike groete
Jodine Jacobs

