Ons "spesiale ete"

  • 0

Ag, soms dink ek dat dit nie eens die moeite werd is om dit te vertel nie. Daar’s niks fênsie daaraan nie, niks duur parfuum en whiskey en ontwerpersklere nie. Dis sommer net so. ’n Skoenlapper wat geland het en my met ’n ring aan my trouvinger laat eindig het.

My man was al een keer vantevore getroud (ek’t altyd gesê ek sal nooit met so ’n onstabiele man trou wat nie eens beloftes nakom nie). Dankie tog die lewe het my so hanteer dat ek grootgeword het. Moet nooit iemand se aksies oordeel sonder dat jy die redes daaragter weet nie.

My man was toe jonk en hy is nou al baie ouer, sommer 20 jaar ouer as ek.

Met ons hele storie wat klaar anders verloop as die gewone, kies ek toe sommer ’n gunstelingwynkelder in die Breedevallei wat ’n baie goeie restaurant het. Ek boek lank vooruit, want ons beplan toe net ’n formele ete met ’n bietjie dekor, mooi woorde en sitplek by die tafel wat op sy eie is in ’n vertrek met ’n prentjiemooi uitsig . 

Toe is dit ooievaarstee bo troue. Slegs twee dae voor die tyd bel die bestuur my om te sê ons gaan ’n ander tafel kry (natuurlik met die mooiste uitsig ... na die muur). Sy het seker gedink dis ’n mooi genoeg muur vir ons ons spesiale geleentheid. Jy weet ... oor dit nou nie hierdie enorme kabaal is nie, maak ons liefde nie baie saak nie.

“Ja, dis net dat daar meer mense by die ooievaarstee gaan wees,” sê sy. Ek wonder toe wat geword het van integriteit en besef dis al weer die bankbalans bo die menslikheid. Ironies genoeg sou ons meer spandeer het, want by ’n ooievaarstee bring mense baie van buite af. Ons sou ’n vyfgangmaaltyd gevra het en ons sou troukoek deur hulle kunstige sjef laat maak het.

My man is skuins bedonderd en hy wil die mense bel en raas. Ek sê: “Los maar, die wiel draai my skat.” Ek vind toe vinnig uit oor spesiale plekke in Robertson en besluit op ’n plek wat sjampanje maak. Ek noem dat ons trou en sê almal gaan mooi formeel aantrek, maar nie uitspattig nie en daar gaan nie ’n seremonie wees nie. Die vriendelike dame daar verseker my dat hulle plek het vir ons spesiale geleentheid. “Dis als in die haak.”

Ek kry toe ’n e-pos wat vra of ek seker is dis nie ’n troue nie, want hulle doen glad nie troues nie en talle mense het al gevra waarvoor hulle nee moes sê. Ek moes wéér in my verstrooidheid iets verkeerd gesê het, want hier verander die “ja” toe na “nee, ongelukkig...” Ek’t nie eens gehuil of iets nie; ek’t mos gesê ek trou vir die belofte en nie vir die glansryke partytjie nie. Soos dinge nou lyk, gaan ons dit sommer in die tuin moet doen. Daar groei sommer reeds blomme.

Gelukkig is my man ’n vegter van formaat. Hy kry die dame op die foon en verduidelik vir haar van ons vorige teleurstelling en dat die troue wat nie ’n troue is nie, daar móét gebeur. Hy kan baie seker van sy saak wees en het iets gesê soos: “Jy verstaan nie, ons daag môre op.” Die dame het gelukkig die humor daarin gesien en hom gegroet met ’n “Dan sien ons julle hier vir die ete.” 

Saterdag daag ons op nes my man gesê het. My man was natuurlik eerste daar om te verseker ons is geboek. Die goedhartige vrou kom uit en lei my om die gebou na die versteekte hysbak. Nou is ons gedoente top secret, dink ek. Sy sê daar is ’n paar mense binne en ek moet maar in my trourok verbyloop asof dit is hoe ek elke dag aantrek. My trourok was plein ... maar dit het definitief nie gelyk soos ’n alledaagse wit rok nie. 

Die gasvrou vat ons na hulle konferensiekamer toe wat ’n vertrek op sy eie is. Sonder enige versoek of enige verwagting kry ons ’n mooi uitsig na buite (nog na wingerd ook). Nog te meer het hierdie goedhartige vrou die plek vir ons opgemaak met lap en blomme. Dieselfde veldblomme waaruit my ruiker ook toevallig bestaan. 

Dit was mooi. Dit was intiem. Dit was ’n ander tipe sprokie. Een wat nog nooit vertel is nie. Ons het ’n vingerete gehad met heerlike sjampanje, natuurlik. Nes by ’n gewone “ete” het daar ook ’n pastoor die mooiste woorde gesê. Hy was maar toevallig in die buurt en het seker gevoel hy wil sy praatjie oefen vir ’n ander troue.

Die plek het ons geseën met ’n paar bottels sjampanje asook ’n paar aandenkings. Ek wonder of ander lokale dit ook doen. Veral die regtig duur plekke – hulle behoort sommer ’n aandeel by te gee.

Sprokies is mooi en lekker om oor te droom, maar ’n mooi realiteit wen. Ek’t ’n niefiksiesprokie wat niemand nog kon skryf nie. Wat vertel van dierbare vreemdelinge asook die prag wat eenvoud bring en ’n unieke plot oor hoe net ons nog daar getrou het. ’n Storie waar die bruid en bruidegom regtig net op mekaar en hul belofte kon fokus.

Dit was ’n dag vol liefde, liefde in baie vorme. Deur die moeite van ’n vreemdeling, die mooi woorde van ’n pastoor, my familie se aanwesigheid, die band tussen my en my man, asook die oneindige liefde van die agtste gas: die seuntjie wat op ’n volle 22 weke sy ouers se troue kon bywoon vanuit die VIP-area.

Lees ook:

Wen met ’n vertelling oor jou troue!

101 nagte

Ons storie is nog lank nie klaar geskryf nie

My vyfhonderdrandtrourok

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top