
As jy vir jou ’n trourok in Thailand soek, gaan jy na Sukhumvit Soi 55. Vir die taxibestuurder sê jy “Thong Lo”, of “Thonglor”, want dit is hoe hulle in die volksmond na die area verwys.
“Conglatulations,” sê hy, “You ah getting mallied?”
“Ja,” sê jy, met sterre in jou oë.
Daar gekom hou jy egter verby die bruidswinkels. Jy hou jou oë vasgenael op die sypaadjie om te keer dat jou blik wandel na vensters met winkelpoppe in kant en satyn. Jy vermy die versoeking om oor die drumpel van Ananya Couture te trap, jou vingers deur wit hangers te blaai, op daai ronde verhogie te gaan staan in ’n glinsterende rok met drie winkelassistente wat om jou kloek. Veel eerder deursoek jy die strate vir iemand wat doodgewoon lyk. Dalk die jong vrou wat daar, in die stegie met die kru graffiti, sweterige eiers verkoop? Miskien is sy die soort mens wat jou nie gaan oordeel wanneer jy die papiertjie in jou hand, waarop die adres staan, vir haar wys nie?
As jy uiteindelik aanwysings het, kos dit jou steeds ’n hele paar maal op en af suiker in die aangeduide straat voordat jy die onopvallende ingangetjie vind. Jy het ’n effense knop in jou maag, maar skraap tog die moed bymekaar om vanuit die sonlig die donker, naamlose portaal voor jou te betree.
Binne gaan die spasie hoog en wyd voor jou oop. Jy is in saal so groot soos die straatblok waarvan jy die omtrek so pas goed leer ken het. ’n Sagte lig skyn deur die polikarbonaat-dakplate. Tientalle vrouens sit plat op die sementvloer tussen rolle sjiffon en organza, kartelings Chantilly-kant en emmers vol krale en pêrels. Jy herken nie die woorde wat hulle uitruil nie, maar wel die geluid van swaar skêre wat materiaal knip en ’n klappertand naaimasjiennaald.
As dit toevallig vroeg in Julie 2008 is wanneer jy deur daardie deur loop, sal jy my miskien daar sien. Ek is die blonde meisie wat kaalvoet tussen die sittende donkerkopvroue staan. Ek het ’n moulose trourok aan, met ’n lang sleep waarop geblomde kant en klein kraletjies oomblikke vroeër met die hand klaar aangewerk is. ’n Jong vrou is besig om die bostuk agter my rug kruis en dwars toe te ryg. ’n Ouerige vrou hou ’n spieël met ’n groot kraak voor my sodat ek myself kan sien. Op daardie oomblik dink ek ek is mooier as die maan!
“How much?” vra ek benoud, want die vorige drie maande het ons met groot rugsakke ’n kleinerige begroting in China uitgereis. Dit was voordat ons op ’n afgeleë deel van die Groot Muur verloof geraak het. Sy gee my die antwoord in baht. Die rok kos my vyf honderd rand.
’n Fyn, vroulike Thai-pastoor van ’n sendingkerkie in Phuket trou my op ’n strand in my vyfhonderdrandrok. My sussie, asook my man se beste vriend, vergesel ons en ons vaar op ’n seiljag tussen eilandjies en duik saam met skilpaaie. Die Australiese skipper en sy Thai-vrou, ’n sjef, bedien ons heeldag met seekos, besaai met blomme en bruisende skemerkelkies.
In 2018 neem ek die rok, my man en my drie seuns saam Knysna toe. My man ryg die rok vir my vas op die strand by Brenton-on-Sea, en ons poseer voor Castle Rock vir die fotograaf wat ek uit Plet gehuur het. Dan lê ons in die skuimende water terwyl sy foto’s uit die lug met haar hommeltuig neem. Daarna laat ek die rok professioneel was, en adverteer dit op Facebook Marketplace: “Gratis trourok. Uit dankbaarheid vir tien jaar se mooi huwelik. Please pay it forward.”
Vandag wonder ek oor die persoon wat ná my in my vyfhonderdrandrok getrou het. Het sy soos ek gevoel die eerste keer dat sy dit aangetrek het? ’n Bietjie bang? ’n Bietjie onseker? Vol hoop en geloof? Dalk het sy ook al teen hierdie tyd ’n klomp kinders. Miskien is die rok intussen weer aangegee, weer in getrou. Of dalk lê dit iewers vol motte, vergete in ’n pandjieswinkel. Miskien lê daar nog iewers, verborge in die kantwerk, ’n korreltjie sand uit Knysna. Dalk nog enetjie van ’n strand in Thailand.

