
Die lewe van Crystal-Donna Roberts is op 16 Maart 2025 in die Kunstekaap-operahuis gevier. Hier volg die verwelkomingsrede deur Marlene le Roux:
Crystal-Donna Roberts laat ons met ’n skatkis wat bewaar moet word en die toekoms ingedra moet word. Die skatkis is gevul met herinneringe van liefde vir familie, vriende en enige mens wat decent was en die geluk gehad het om haar iewers op hulle pad raak te loop. Die skatkis is ook ’n testament van haar harde werk en diep spore wat sy getrap het - soms spore waar die paaie eers met dorings besaai was en seer en moeilik geloop het – waar sy hierdie paaie nie net vir haarself uitgetrap het nie, maar ook vir die generasies ná haar. Verder is die skatkis gevul met die bewondering van mense wat blootgestel is aan haar kuns en liefgeraak het vir haar deur haar kuns.

Marlene le Roux en Julia Roberts (Foto: Jeffry Abrahams)
Vanmiddag verwelkom ons haar familie – haar ma, Julia Roberts, haar man en seun, Schalk en Ryan Cornelessen, haar sibbe, Philip Orren, Chayil Orren en Marco Goliath, en die res van haar familie. Dankie, Schalk en Ryan, vir julle liefde en die manier waarop julle oneindige ondersteuning in haar lewe gebring het. Baie dankie vir die manier waarop julle haar lewe verryk het en daardie skaars liefde in hierdie wêreld gebring het. Hierdie tipe liefde verryk die lewens van ander mense. Baie dankie dat julle haar met soveel mense gedeel het.
Baie dankie aan haar ma wat haar aan die kunste blootgestel het en haar altyd ondersteun het. Ons almal moet dankie sê hiervoor. Vandag het ons almal sovéél wat ons die toekoms kan indra. Haar Godgegewe talente is met almal gedeel. Deur al die produksies waarin sy was, het sy ons deur ’n spektrum van menslike emosies gedra en meer oor die menslike toestand geleer. Hierdie talente het vir haar ’n tuiste en haar kunstenaarsfamilie gegee.
Crystal was nuuskierig oor die wêreld en die mens. Sy kon kyk en verstaan wat sy in die wêreld sien. Deur haar kuns kon sy ’n ding analiseer en aan die res van die wêreld oordra op ’n manier waar ons ook iets meer kon leer. Sy het die vermoëns gehad waarvan enige kunstenaar droom. En dit is belangrik om te onthou dat haar talente wyd gelê het - versprei oor verskeie kunste. Vanaf toneelspel tot skryf, haar liefde vir ballet en soveel meer.
Crystal het geweet waarvandaan sy kom en waarheen sy op pad was. Haar voete was gegrond in die werklikheid van hierdie land en haar mense, en haar oë was gevestig op die toekoms met al die potensiaal wat ontsluit moet word. Dít is ’n lewe wat gevier moet word, wat neergepen en onthou moet word. Ons moenie die skatkis van haar lewe as halfleeg sien nie. Ja, sy was jonk en ons kan hartseer wees oor die jare wat verlore is. Maar dit was ’n vól lewe met skoonheid en dit was ’n lewe wat met uitbundigheid en energie geleef is.
Onthou haar lag, haar glimlag, die ligheid waarmee sy deur die wêreld beweeg het en die spore wat sy vir ons laat.
Meer oor die program:
Die program is saamgestel deur Stefan Lombard, Marlene le Roux en Lee-Ann van Rooi, in samewerking met die Suidoosterfees.
Kunstenaars wat opgetree het:
St Timothy’s Band, Stefan Lombard, South African Youth Choir, Jill Levenberg, Cintaine Schutte, Kay Smith, Monique Rockman, Roxanne Blaize, Melissa de Vries, Gerwen Simon, Liandé Valentyn, Dean Balie, Dean John Smith, Kescha Titus, Lee-Ann van Rooi, Willie Naude, Angelo Johnson
Sprekers:
Crystal se man, Schalk Cornelessen, Karen Meiring, Theltom Masimela, Bradley Rangolie, Lyrice Trussel, Lee-Ann Van Rooi, Marlene Le Roux
Oudiovisueel:
Ballet:
Kaapstad Stadsballet het die laaste uitvoering van Gizelle opgedra aan Crystal-Donna Roberts.

- Foto’s verskaf.

