
Foto: David Mark | Pixabay
Jenny Nordberg, skrywer van The hidden girls of Kabul, sê: “Afghanistan’s history in the last decades is one example of how women – and control over them – were always at the very core of conflict.”
Steve McCurry, wat noue bande met talle gesinne in Afganistan het, deel op Instagram:
During the Taliban's previous regime, public floggings, stonings, and torture were carried out. Women and girls were not allowed to go out of their homes without being accompanied by a male relative.
View this post on Instagram
Wêreldwyd word vroueregte vertrap – kyk gewoon maar wat tans in Texas plaasvind – maar hoe het dit gebeur dat die naam Taliban so blatant gekoppel word aan grootskaalse terreur teen vroue?
’n Mediese dokter ná aan my sê gereeld oor geweld binne verhoudings: “Hurt people hurt people.” Dit verskoon nie geweld nie. Glad nie. Maar om die siklus van geweld om te keer, moet ’n mens soms gaan soek na die wortel daarvan.
1. Die geskiedenis wat gelei het tot die vorming van die Taliban
Om die Taliban te verstaan, moet ’n mens die geskiedenis van Afganistan verstaan. En om Afganistan te verstaan, moet ’n mens imperialisme onder die loep probeer neem.
1.1 Afganistan, die vertrapte land
Die streek wat vandag as Afganistan bekend staan, is al vir 2 500 jaar deur verskillende groepe onderdruk.
Darius van Babilonië het die gebied reeds 500 jaar voor die Algemene Era ingeval. Ongeveer 200 jaar later het Alexander die Grote sy stempel daar gaan afdruk.
Mahmud van Ghazni, ’n Moslem, het in die 11de eeu die streek oorgeneem en Djengis Khan het ongeveer 200 jaar later ’n nuwe bewind daar gevestig. Onder Khan was daar grootskaalse handel tussen verskeie wêrelddele en heelwat kommunikasie tussen verskillende gelowe. Teen die 1800’s was Islam reeds ’n gevestigde godsdiens in Afganistan.
Die moderne land, met die grense soos ons dit vandag ken, het toe onder Brittanje se aandag gekom, want die Britte wou ten alle koste Indië van die Russe af weg hou.
Indië en Pakistan was in daardie tyd steeds een land, en Afganistan was ’n buffer tussen Rusland en die uitgebreide Indië.
Brittanje se toetrede tot die streek was egter ’n ramp. Nie minder nie as drie oorloë het gevolg (1838–42, 1878–80, 1919–21).
Ná Brittanje in 1921 onttrek, word die land onafhanklik.
1.2 ’n Onafhanklike land
Afganistan se bevolking was brandarm en ongeletterd.
Amanullah Khan, wat homself vyf jaar later tot koning sou verklaar, het dadelik begin om verskeie sosio-ekonomiese veranderinge te weeg te bring.
Khan was egter geen ’n engel nie en het redelik hardhandig teenoor opponente opgetree.
Die arm, ongeletterde bevolking was boonop nie altyd seker of sy veranderinge by hulle geloof pas nie. Verskeie groepe begin hulself toe bewapen en teen 1929 was die wêreld te warm vir Khan. Hy abdikeer en vlug land uit.
In 1933 word Zahir Shah die nuwe koning en onder sy leierskap is daar ’n periode van stabiliteit en groei, maar reeds was daar gereeld oproer onder die verskillende kultuurgroepe.
1.3 Die Pasjtoen wys hul spiere
Die Pasjtoen, die grootste kultuurgroep in Afganistan, het in 1944 met ’n grootskaalse gewapende oorlog teen die regering begin. Die hoof van die weermag, Mohammed Daoud Khan, het hierdie revolusie deeglik onderdruk en teen 1947 was die ergste opstande oor.
In 1947 word Pakistan egter onafhanklik van Indië en Daoud Khan probeer toe ’n ander taktiek. Hy begin met die Pasjtoen onderhandel en probeer om daardie dele van Pakistan wat self groot Pasjtoen-bevolkings het, so ver te kry om hulleself te laat aansluit by die Pasjtoen in sy eie land. Die grens tussen die twee lande was immers bloot ’n Britse skepping en die Britte het geen ag geslaan op die mense wat in sekere streke gewoon het nie.
Daoud Khan se pogings het nie geslaag nie, maar het wel ‘n ongemak onder die talle ander kultuurgroepe in Afganistan veroorsaak.
1.4 Kommunisme en vroueregte
In 1953 word Daoud Khan die eerste minister.
Sy renons in die Weste maak dat hy baie oop is vir invloede uit die Sowjetunie, waaronder die Sowjet-idee dat vroue gelyke regte as mans het.
Onder hom kon Afgaanse vroue dus reeds in 1957 toegang kry tot die werksplek en selfs universiteit toe gaan.
Steeds beywer hy hom vir die hereniging van die Pasjtoen, wat lei tot ’n mini-oorlog met Pakistan in 1960.
Die Pakistani-weermag het egter Britse vegvliegtuie tot hulle beskikking gehad en daarteen het Daoud Khan se manne geen kans gehad nie. Die Sowjetunie het hierdie situasie dadelik uitgebuit deur tenks en vegvliegtuie aan die Afgane te verkoop.
Hoewel Daoud Khan baie gedoen het om die land te moderniseer, veral met vroue wat al hoe meer regte gekry het, was hy straf met enige een wat hom geopponeer het en was hy nie baie gewild nie. Hy sou uiteindelik die koning omverwerp en homself tot president verklaar van die nuwe republiek van Afganistan.
Sy aanhoudende despotiese optrede het vir vele vyande gesorg, selfs onder die kommuniste, en in 1978 word hy deur ’n aantal kommuniste vermoor.
Nur Mohammad Taraki neem die regering oor, maar teen dié tyd was talle van die ongeletterde inwoners van die land, wat nog baie pastoraal geleef het, keelvol vir die veranderinge. Vroueregte was een van die goed wat skynbaar oorgespoel het saam met die kommunisme, van laasgenoemde het hulle genoeg gehad.
1.5 Die Moedjahidien vorm
Verskeie van die kleiner weerstandsbewegings het in dié tyd begin saamstaam teen Taraki se kommunistiese regering en groot dele van die Pasjtoen, ook die grootste kultuurgroep in Afganistan, was ’n belangrike deel hiervan.
In Junie 1978 word die Moedjahidien gevorm, ’n guerrillabeweging wat die veranderinge van die kommunistiese regering op hulle landelike lewens aktief wou beveg.
Op 14 September 1979 word Taraki vermoor. Kommunisme is nou vinnig besig om te wankel in Afganistan, en op 24 Desember daardie jaar val Rusland Afganistan binne.
Die Russe stel ’n groep marionette aan om die land te regeer, maar teen hierdie tyd is die Moedjahidien reeds ’n magtige groep bestaande uit ’n losse beweging van mense wat op godsdienstige en kulturele gronde die kommunisme teenstaan.
Die land verval in chaos en teen 1982 het meer as vier miljoen Afgane reeds na Pakistan en Iran gevlug.
2. Die nuwe imperialiste
Drie diverse groepe, almal vyande van mekaar, het die chaos in Afganistan vir eie gewin uitgebuit: Die VSA het enorme hoeveelhede wapens aan die Moedjahidien verskaf en China het dus ook, want albei supermoondhede wou die Russe op hierdie manier bykom.
Die derde imperialis was veel meer genuanseerd: Uit die radikale Islam het leiers soos Osama bin Laden na vore getree om die strydende Moslems te help – skynbaar op geloofsgronde.
Waar die VSA en China net wapens gegee het, kon Bin Laden met die manne se harte praat.
Daar is verskeie beweringe dat Bin Laden reeds voor 1984 in Afganistan was, maar teen 1984 word sy teenwoordigheid deur Westerse lande bevestig. En wat doen die VSA? Hulle ondersteun hom.
Teen 1986 het die magtige Sowjetunie genoeg gehad van die ongeletterde, maar vasbeslote, Afgane, en op 15 Augustus begin van die vegtende regimente onttrek. Die stedelike gebiede was steeds onder Sowjet-beheer, maar die platteland was in die hande van die Moedjahidien.
View this post on Instagram
Tog is dit nie so maklik om gewoon weg te loop nie, want die Afgaanse regering was steeds afhanklik van Sowjet-steun – ook om staande te bly teen hulle eie mense, want die VSA het nie opgehou om die Moedjahidien te ondersteun nie.
In 1988 was die invloed van die radikale Islam groot genoeg dat Osama bin Laden al-Qaida, of dan “die basis” in Afrikaans, in Afganistan kon vestig. Sy doelwit was om ’n basis te hê wat suiwer volgens die radikale interpretasie van die Koran funksioneer om ook die VSA onder die agterent te skop. Kortom, alle vreemde invloede moes waai.
Dit is nie moeilik om te verstaan hoe al-Qaida ’n houvas gekry het onder die ongeletterde, strydende groepe in Afganistan nie.
2.1 ’n Prekêre vrede en die vorming van die Taliban
In 1989 het die Sowjetunie, die VSA, Pakistan en Afganistan vredesverdrae in Genève geteken. Die Russiese troepe sou onttrek, maar die land se regering, steeds getrou aan Rusland, sou moes bly. In reaksie stel die Moedjahidien toe hulle eie regering-in-ballingskap aan onder leiding van Sibhatullah Modadidi.
’n Ander naam sou in dié tyd belangrik word: Muhammed Omar het leiding begin verskaf aan die vegtende Moslems, en sy uitgesproke anti-Westerse sienings het ook die Moslems in Pakistan bereik.
Teen 1992 val Kaboel, want net soos in 2021 gee die regeringstroepe eenvoudig oor toe die Moedjahidien ’n ordentlike, georkestreerde offensief loods. Die VN gryp egter in en probeer om die regering te steun, wat natuurlik net meer woede teen die imperialiste veroorsaak het.
View this post on Instagram
In hierdie problematiese tyd begin die losse alliansie van die Moedjahidien verbrokkel, maar onder Muhammed Omar se leierskap word die Taliban gebore, met veral die lede van die Pasjtoen wat gretig sy radikale sienings van die Islam opraap.
Taliban beteken gewoon “studente” in Pasjtoe. Hierdie “studente” is dikwels ongeletterd, maar Omar praat hulle geestelike taal en hy deel sy siening oor die Islam op maniere wat hulle verstaan. Vroueregte, daardie kommunistiese komplot, kom ook dadelik onder skoot.
Die Taliban se boodskap was eenvoudig: Ons sal weer die tradisionele waardes van die Islam instel (wat dit ook mag beteken) en ons sal korrupsie en misdaad uitroei. Die probleem was dat Omar en sy studente gedink het vroue is ondergeskik aan mans en hulle het dit ook gesê.
Teen 1996 was die land volledig onder beheer van die Taliban. Vroue moes hulself van kop tot tone bedek en kon nêrens in die openbaar verskyn as hulle nie deur ’n manlike familielid vergesel is nie.
In 1997 verander hulle die land se naam na die Islamitiese Emirate van Afganistan en word as sodanig erken deur Pakistan, Saoedi-Arabië en die Verenigde Arabiese Emirate.
2.2 Die Taliban, al-Qaida en die VSA
Onder die beskerming van die Taliban het al-Qaida gedy. Verskeie aanvalle is teen die VSA en teen Amerikaanse burgers geloods. Die grootste, en dodelikste, het natuurlik op 11 September 2001 gebeur toe vier burgerlike vliegtuie gekaap is, waarvan twee gebruik is om die Twin Towers te vernietig en nog een om die Pentagon binne te val; die vierde het neergestort.
Op 7 Oktober 2001 het die eerste Amerikaanse troepe Afganistan binnegeval en Operasie Enduring Freedom het begin.
Die Taliban kon nie staande bly teen die doelgerigte Amerikaanse magte nie en teen Desember 2001 is selfs Kandahar weer in die hande van Westerse magte.
“Enduring freedom” was daar egter nie. Soos Abel Esterhuyse sê: “Gewapende nasiebou het nog nooit gewerk nie.”
Luister gerus na hierdie soldaat se storie. Hy was daar.
Vir 20 jaar het die VSA en sy bondgenote probeer om verandering te weeg te bring, maar dit het helaas nie geslaag nie.
Die Taliban is nou weer in beheer. Soos in 1992 was dit gewoon nodig om die Taliban te verenig, dan verkrummel die sogenaamde verdedigingsmagte van die Afgaanse regering.
3. Vroueregte
Gaan ’n nuwe Taliban-regering nuut kyk na vroueregte? Net die tyd sal leer. Tans lyk dinge nie rooskleurig nie.
Die Taliban is hoegenaamd nie die enigste wat vroueregte vertrap nie; kyk gewoon na die onverklaarbaarhede wat tans in Texas, VSA gebeur, ook rakende Amerikaanse ekstremiste se sienings oor vlugtelinge uit Afganistan. Lees ook wat News24 oor vergrype in Suid-Afrika skryf.
Maar in Afganistan is vroue tans uiters broos.
Shamsia Hassani, ’n straatkunstenaar in Afganistan, sien dit so.
View this post on Instagram
Kuns as sodanig word geproblematiseer deur ’n uiters streng interpretasie van die Koran. Kuns self is dus ’n protes, haar beelde nog meer.
View this post on Instagram
Ons het begin met woorde van Jenny Norberg, en dit is dalk gepas om met nog ’n aanhaling van haar af te sluit. Haar boek handel oor vroue wat die stelsel uitdaag deur as mans te opereer en so ongekende vryheid het. Dit staan bekend as bacha posh.
“We have an idea of how patriarchy was formed. But back then, a resistance was also born. Bacha posh is both historical and present-day rejection of patriarchy by those who refuse to accept the ruling order for themselves and their daughters.”
En dan is daar hierdie twee sinne:
“So, can a story of concession and resistance, of tragedy and hope, exist at the same time? For women, it always has.”