Die stilte van ons vaders

  • 0

Foto deur Thomas Grau van Pixabay

...
Ons vaders het nie geweet hoe om te práát nie. Niemand het hulle dit ooit geleer nie.
...

Twee stories het my die afgelope weke soos ’n koue hand om my hart gegryp. Aan die Oos-Rand word liggame van vermoorde vroue gevind – die soort geweld wat so afgryslik en herhalend geword het dat ’n mens voel hoe die kollektiewe eelte op ons siele dikker word net om die oggendnuus te oorleef. En toe, ’n paar dae later, die berig uit Stellenbosch: ’n Skoolseun neem sy eie lewe. En nóg ’n paar dae later, ’n tweede seun, dié keer aan die Rand.

Laat ek dit uit die staanspoor baie duidelik maak: Ek weet nie wat in die donker hoeke van daardie Oos-Randse moordenaar(s) se kop aangegaan het toe hy sy hande om ’n ander mens se lewe gevou het nie. Ek weet ook nie watse donker gedagtes daardie laaste ure in die tienerseuns se siele gevreet het nie. Ek was nie daar nie; niemand van ons was nie. Enige poging om presies te sê waarom ’n mens tot daardie uiterstes oorgaan, is in die beste scenario bloot ingeligte raaiwerk. En mens moet uiters versigtig wees om aannames te maak. Veral as dit by die twee tienerseuns kom. Hier moet ons, ons skoene uittrek, want ons trap op heilige, stukkende grond. In my eie familie is daar gesinne wat jare later steeds hierdie spesifieke, dog onpeilbare, verpletterende pyn dra wat geen mens ooit behoort te ken nie.

Ek sukkel om hierdie gevalle uit my gedagtes te kry. Op die oog af het hulle niks met mekaar te make nie. Die een is ’n gewelddaad van ’n volwasse man na buite; die ander ’n stille tragedie van twee adolessente na binne. Maar as ek na die breër landskap van ons land kyk, voel dit vir my soos twee verskillende simptome van dieselfde onderliggende siekte: die Suid-Afrikaanse man se totale onvermoë om sy emosies te huisves.

Die refleks om die etiket te plak

Ek kan reeds hoor hoe sommige manlike lesers hul tande kners en na hul sleutelborde gryp. “Hier kom nog ’n woke akademikus wat ons wil kom vertel dat mans die wortel van alle kwaad is.”

...
Die woord woke het deesdae ’n gerieflike vloekwoord geword.
...

Die woord woke het deesdae ’n gerieflike vloekwoord geword. Ek sien hoe mense om my, vir wie ek die wêreld se respek het, dit as ’n soort muilband of gesprekdoder gebruik wanneer hulle nie wil luister na iets wat hulle ongemaklik laat skuif op hul stoele nie. Maar as ’n mens vir ’n oomblik die politieke geraas afskakel, onthou ons dat die oorspronklike betekenis daarvan gegaan het oor wakker wees, oor oplettendheid en, ten diepste, oor empatie. Om te weier om jou oë te sluit vir die pyn van ’n ander mens.

Ek stel nie daarin belang om manlikheid te beswadder nie. Ek is self ’n man. Ek ken die kultuur waarin ons grootgeword het, en ek dra self die gevolge van daardie vorming. Maar ons kan nie meer bekostig om onsself blind en doof te hou vir wat met ons seuns gebeur nie.

Agter die masker

In my eie navorsing en werk met adolessente seuns sien ek daagliks hoe swaar hulle dra aan wat die Kanadese navorser Brendan Kwiatkowski-Hartman beperkende manlikheid (restrictive masculinity) noem. Kwiatkowski-Hartman verduidelik dat seuns van kleins af gesosialiseer word om hul emosies af te sny en volkome selfonderhoudend te wees. Nie omdat hulle van nature gevoelloos is nie, maar as ’n oorlewingsmeganisme binne hul portuurgroepe. Dit raak ’n emosionele wurgjas: As jy wys jy is bang, verwerp of hartseer, verloor jy jou status as “man”. Paul Kivel was die eerste ou wat dit as “the man box” beskryf het – daardie rigiede, ongeskrewe reëls wat die samelewing op mans, en seuns, afdwing. Kivel groepeer hierdie reëls in vyf basiese groepe: Wees sterk, wees aggressief, wees emosieloos, bly in beheer en moet nooit huil nie. Sodra ’n man of seun buite hierdie reëls tree, word hulle verkleineer, gespot of geëtiketteer as ’n sissie of moffie.

Interessant, verkies Kwiatkowski-Hartman die term beperkende manlikheid bo toksiese manlikheid. Hy gebruik spesifiek die adjektief beperkende, omdat hy glo dat deur hierdie stoïsynse manier van leef mans hulself beperk om die lewe ten volle te ervaar. Manlikheid self is nie giftig nie. Die probleem is die engheid van die reëls. Dit gaan oor wat seuns ontsê word: Hulle word beperk in hul emosionele uitdrukking, hul vermoë om hulp te vra en hul vryheid om hulself outentiek uit te leef sonder die vrees vir spot of verwerping. Waar toksiese manlikheid meestal fokus op die skade wat mans aan ander mense aanrig, beklemtoon beperkend dat die seun self die eerste slagoffer van daardie wurgjas is. Dit skep ruimte vir empatie, wat noodsaaklik is as jy ’n seun wil help om sy emosionele wêreld oop te breek, eerder as om hom te veroordeel. Die term toksiese manlikheid word deur baie seuns en mans ervaar as ’n etiket wat sê hulle is as persone inherent boos, giftig of gebroke. Dit veroorsaak onmiddellik weerstand en defensiwiteit. Die term beperkende manlikheid skuif die fokus van wie die seun is, na wat die kultuur aan hom doen. Daardie gevoel van “ek is ’n slegte mens” is dikwels ’n doodloopstraat van skaamte.

Ashanti Branch van Kalifornië in die VSA, stigter van die Ever Forward Club en die dryfkrag agter die Million Mask Movement, laat seuns gereeld ’n eenvoudige oefening doen: Hulle teken ’n masker. Aan die voorkant skryf hulle die eienskappe wat hulle vir die wêreld wys: die brawe bobaas, die grapgat, die onaantasbare sportman, die daggaroker en soms selfs die blue-eyed-boy. Op die agterkant van die masker skryf hulle wat werklik binne aangaan: angs, eensaamheid, ontoereikendheid, die vrees dat mense sal agterkom hulle kry dit nie reg om “man” te wees nie.

Branch merk tereg op dat geweld dikwels bloot dít is wat gebeur wanneer mans en seuns nie weet wat om met hul emosies te maak nie. En daardie geweld het twee rigtings. Wanneer emosionele analfabetisme, vrees en ’n krampagtige behoefte aan beheer na buite ontplof, manifesteer dit as aggressie en geslagsgebaseerde geweld teenoor diegene wat swakker geag word – presies die nimmereindigende nagmerrie wat tans aan die Oos-Rand en regoor ons land plaasvind. Maar wanneer daardie selfde onvermoë om pyn te artikuleer na binne implodeer, draai die vernietiging op die self. Dan word selfdood die stil, radikale eindpunt van ’n seun wat nie meer weet hoe om sy masker op te hou nie.

Die doodloopstraat van skaamte

Mense sê dikwels: “Mans praat nooit nie.” Dit is, verskoon my, die grootste pot stront. Mans praat wel, maar slegs binne ruimtes waar hulle weet hulle is absoluut veilig teen spot, verwerping of oordeel.

Die groot struikelblok is skaamte. Skaamte is ’n doodloopstraat-emosie. Skuldgevoel sê: “Ek het iets verkeerds gedoen.” Skaamte sê: “Daar is iets inherent verkeerd met wie ek is, en dus is ek ’n slegte mens.” Skaamte isoleer jou, oortuig jou dat jy ’n mislukking is en vertel vir jou dat niemand ooit die ware jy mag sien nie. Dit is dikwels, myns insiens, juis hierdie verlammende skaamte wat mans en seuns tot selfdood dryf, die oortuiging dat die wêreld beter daaraan toe sou wees as hulle bloot verdwyn.

...
Die enigste manier om van skaamte ontslae te raak, is om dit aan die lig te bring.
...

Die enigste manier om van skaamte ontslae te raak, is om dit aan die lig te bring. Skaamte kan eenvoudig nie oorleef as dit met begrip en aanvaarding begroet word nie.

In my eie werk as mentor vir tienerseuns is daar min oomblikke so heilig soos wanneer ons in ’n sirkel sit en ’n seun begin praat oor dit wat hy al maande (soms jare) lank agter sy masker weggesluit het. Ek het dit al menigte male gesien: Terwyl hy praat en die trane onbedaarlik oor sy wange begin loop, kyk hy op na die ander seuns in die kring en sien hoe hulle knik, ’n hand lig (’n gebruik in die meeste mannesirkels wat beteken ‘ek ook’) of een wat sy eie trane wegvee. In daardie oomblik tref die besef die spreker: “Ek dog ek is die enigste een wat so dink en voel. Ek is nie alleen nie.”

Daardie vyf woorde – ek is nie alleen nie – is seker van die mees helende woorde wat enige mens ooit kan ervaar. Manlike isolasie en chroniese eensaamheid is vandag ’n wêreldwye epidemie. Ons het seuns wat digitaal met duisende mense gekoppel is, maar wat emosioneel volkome skipbreukelinge op ’n verlate digitale eiland is.

Hoe vra ons?

Hoe breek ons deur daardie masker sonder om mans en seuns dieper in hul doppe in te jaag?

As jy al ooit vir ’n tienerseun probeer vra het: “Hoe gaan dit?”; “wat gaan aan?”; of “wat is fout?”, weet jy reeds wat die antwoord is. Dit is die standaard, ingestudeerde wapenrusting: “Niks. Ek is oukei.” Die masker stewig vasgemessel. Hierdie tipe vrae is bloot te direk; dit voel soos ’n verhoor en dit aktiveer onmiddellik sy beskermingsmeganismes.

Ons moet leer om rondom-vrae te vra (nie random vrae nie, maar rond-om vrae). Moenie die voorhekkie probeer afskop nie; stap om na die sydeur of die agterplaas. Vra eerder: “Wat was vandag die lekkerste deel van jou dag?”; “wat het jou vandag laat lag?”; “wat was vandag vir jou die slegste ding wat gebeur het?”; “wat het jou vandag regtig de moer in gemaak?”

Deur die fokus van sy eksistensiële toestand (“hoe gaan dit met jóú”) te skuif na spesifieke ervarings buite homself, gee jy vir hom die geleentheid om te begin praat sonder dat hy dadelik sy volle kwesbaarheid hoef prys te gee. En die volgende oomblik mag jy jou moontlik in een van daardie seldsame goue oomblikke bevind, waar jy – reeds in die kooi – met verwondering en ’n knop in jou keel na jou seun sit en luister, waar hy op die hoek van die bed sit en sy hart vir jou uitstort.

Die einde van die stilte

Ons vaders het nie geweet hoe om te práát nie. Niemand het hulle dit ooit geleer nie. Hulle het grootgeword in ’n era waarin ’n man se waarde gemeet is aan sy vermoë om te swyg, te verduur en alles binnetoe te sluk. Ons kan hulle dit nie regtig kwalik neem nie, want hulle het nie geweet wat hulle nie geweet het nie. Maar ook kan ons nie meer aanhou om hul foute te herhaal nie.

Dit gaan nie daaroor om seuns sag of weerloos te maak nie. Dit gaan daaroor om seuns heel te maak. Dit gaan daaroor om hulle te leer dat moed nie beteken om ’n masker te dra tot jy daaronder versmoor nie, maar om dapper genoeg te wees om te sê: “Ek kry swaar.” Een laataand in gesprek met my swaer Wessel (een van die manlikste mans wat ek ken: ’n ware boerseun, kranige stoeier op sy dag, ’n oog vir ’n mooi vrou, ’n jagter van formaat, ’n gesonde humeur wat grense stewig neerlê en wat ’n tjoppie beter kan braai as enige vyfsterrestaurant) kom ons tot die gevolgtrekking: Dit vat ’n ware man om te kan huil ... Trouens, in die gesprek waartydens ek hom vra of ek maar sy naam in hierdie stuk mag noem, herinner hy my daaraan dat ons krag juis in ons kwesbaarheid lê.

As ons aanhou om emosionele opvoeding as ’n sagte luukse af te maak, gaan ons aanhou om die prys te betaal in koerantopskrifte. Dan gaan ons aanhou om ons vroue aan geweld en ons seuns aan hul eie eensame stilte af te staan.

Dit begin nie by nóg ’n beleidstuk of paneelbespreking nie. Dit begin by ’n man – ’n pa, ’n onderwyser, ’n mentor, ’n boerseun-stoeier-braaier-swaer – wat bereid is om ’n veilige sirkel te trek en te sê: “Jy is nie alleen nie.” Dit begin by die dapperheid van ’n man wat besluit dat die generasielange stilte van sy vaders by hom sal eindig.

Lees ook:

Dit is die patriargie in ons samelewing wat reeksmoordenaars baar

Grieving in the first person plural: Writing as we grieve, grieving as we write

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top