
Boekomslag: Die skuld wat bloed betaal deur Sandra Skinner (Naledi, 2025)
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
Titel: Die skuld wat bloed betaal
Skrywer: Sandra Skinner
Uitgewer: Naledi (Mei 2025)
ISBN: 9781067234416
Wat ’n heerlike leeservaring! Die debuutroman van Sandra Skinner, Die skuld wat bloed betaal. Aanvanklik het ek in my gedagtes gedink: Ag, net nie nog ’n boek oor kinders en vroue wat mishandel is nie. Sterk en aggressiewe bewusmaking is beslis nodig om hierdie euwel in ons samelewing uit te lig. Maar ek moet erken dat ek so ’n bietjie voos gelees is aan biografieë van vroue en kinders wat mishandel is. Stenig my met liefde, maar sommige van hierdie boeke is een droewige klagte na die ander. En as die skrywer eers sê dat sy nie jammer gekry wil word nie, is dit vir my asof dit net die teendeel is. Jy mag met liefde van my verskil; dit is jou volste reg.
Met hierdie negatiewe ingesteldheid het ek die boek begin lees, en wat ’n verrassing was dit nie. Ek kon dit nie neersit nie. Dit is vars en vol humor. Die seer en hartseer is nie versuiker nie, maar dit laat jou nie skuldig voel omdat jy nie deur dieselfde trauma is nie. Sandra Skinner se boek begin amper by Oom Daantjie in die kallerhok en verduidelik sodoende waar die wortel van die kwaad geplant is. Sonder om jou te verveel, trek jy saam oor die berge van die verlede, al verloor ’n wa ’n wiel in die proses.
........
Met ’n narratief wat elemente van ware gebeure insluit, weier hierdie roman om die ongemaklike waarhede van ons geskiedenis te versag. Dis soos ’n eggo vanuit ons verlede wat bly weergalm: Hoeveel Karoolse en Madelees is nou nog in ons midde?
........
Die skuld wat bloed betaal is ’n rou en eerlike storie van twee lewens wat deur die nalatenskap van apartheid en generasies van geweld gevorm is. Madelee, die onverskrokke dogter van ’n enkelouer-pa, en Karools, wat die seun is van ’n ma wat ’n huiswerker is op ’n plaas. Hulle word albei groot in dieselfde plattelandse gemeenskap, maar hulle wêrelde word gevorm deur baie uiteenlopende omstandighede, tog deur dieselfde donker erfenis.
Sandra Skinner verweef hierdie twee kinders se verhale met ’n skerp bewustheid van hoe bloed en beendere van die verlede die grond van die hede deurdrenk. Sy skroom nie om jou te konfronteer met die sirkelgang van gesin en geslagsgeweld nie. Haar taalgebruik is beeldryk en laat letsels op jou emosies. Die kruising van Madelee en Karools se lewens is ongenadig, en die wonde daarvan herinner dat die skuld van bloed nie maklik gedelg word nie.
Met ’n narratief wat elemente van ware gebeure insluit, weier hierdie roman om die ongemaklike waarhede van ons geskiedenis te versag. Dis soos ’n eggo vanuit ons verlede wat bly weergalm: Hoeveel Karoolse en Madelees is nou nog in ons midde?
Die skuld wat bloed betaal is nie ligte leesstof nie. Dis ’n boek wat jou laat stil word en laat dink. Miskien selfs ongemaklik laat voel. Presies wat goeie literatuur behoort te doen. Sonder om smartvrate van die karaters te maak. Dis ’n hartstorie van twee onskuldige kinders wat die prys betaal van sekere van ons voorouers se hardegatgeit en eiegeregtigheid.
Lees ook:
Preacher, let my people go deur Zakhe Mazibuko: ’n lesersindruk
Die moord op Deveney Nel deur Julian Jansen: ’n lesersindruk
François Loots se Twyfelbos is ’n Pierneef-skildery: ’n lesersindruk